pienaarstraat 551 1952 - 1963 - boompies.com 551.pdf · 2 ons drie en n vriend voor ons huis. twee...
TRANSCRIPT
1
PIENAARSTRAAT 551 1952 - 1963
In die begin van 1952 het ons gesin van die huurhuis in Duncanstraat na Pienaarstraat 551, Brooklyn in
Pretoria, getrek. Ons nuwe huis was op die hoek van Olivier- en Pienaarstrate, twee blokke oos van wat
destyds bekend gestaan het as die Brooklyn Sirkel. Dit is tot waar die munisipale busdiens vanaf
Kerkplein en die middestad die suidoostelike voorstede bedien het. Die woongebied Waterkloof, wat
aan die suidekant aan Brooklyn gegrens het, is deur die sogenaamde Peri-Urban bestuur.
Bo: Brooklyn Onder: Waterkloof Links: Nieu Muckleneuk Regs: Menlopark
Ons het op ‘n groot hoekerf gewoon, wat ongeveer 100 x 100 meter (10000 m2) of 1 Hektaar groot was.
Die huis is in die dertigerjare gebou en die vorige eienaar was ‘n mnr Williams. Die huis het kenmerke
van die koloniale era gehad. Ek het baie jare later gewonder of die huis op Grabouw wat op die
voorblaaie van Deel I en Deel II van my boek is
, ’n rol gespeel het in my ouers se keuse van dié huis ? Aan die noordekant was ‘n groot rooi
gepolitoerde oop voorstoep met vier wit ronde pilare. Vanaf die stoep was die voordeur, wat in ‘n
voorportaal geopen het. Vanaf die stoep het ook ‘n dubbeldeur na die sitkamer geopen asook ‘n deur
na die eetkamer. In die voorportaal was ‘n telefoontafel met die telefoon. Ons telefoonnommer was
78-4946. Uit die voorportaal was ‘n deur na die hoofslaapkamer en ‘n gang met deure na die ander
twee slaapkamers en ‘n badkamer. Uit hierdie gang het ‘n tweede gang regs afgeloop na ‘n
agterportaal, wat na die spens, die kombuis en my pa as se studeerkamer gelei het. Aan die agterkant
van die huis was ook ‘n onderdak stoep wat na die agterplaas gelei het. Ek weet nie wat die huis se
vloeroppervlakte was nie, maar in daardie jare was alle vertrekke redelik groot.
Die huis se buite mure was gepleister met ‘n growwe afwerking. Die vensters was van hout en het op en
af geskuif. Daar was hout horkies of luike aan die buitekant van al die vensters. Die dak was van sink en
rooi geverf. Die vloere was van hout wat aan vloer kappe vasgeslaan was. Die vloere is gereeld
gepolitoer. Die kragvoorsiening was van die straat pale met oorhoofse kragkabels. Saans het die
sinkdak gekrimp soos dit afgekoel het en dan het die dak gekraak. Ook die vloere het snags gekraak en
toe ek kleiner was het hierdie gekraak my bang gemaak en ek het my baie keer verbeel ‘n dief loop in
die huis rond !
2
Ons drie en ‘n vriend voor ons huis. Twee van die vier pilare op die stoep is duidelik sigbaar, asook die
dubbeldeure na die sitkamer (links) en die deur na die eetkamer (regs). Let op die hout skuifvensters en hortjies.
Die draad reëling agter ons was vir my ma se pronkertjies !
3
Die huis ná die stoep toegebou is en in ‘n noorde sonkamer omskep is. Van die glasvensters het soos louvres
oopgemaak. Baie modern in daardie tyd ! Hier het ons graag in die winter gekuier en tee gedrink en “toasted
cheese” brood geëet wat onder die “griller” in die oond gerooster was !
Die huis het in die middel van die groot erf gestaan. Aan die voorkant was ‘n groot grasperk met ‘n
groterige roostuin aan Pienaarstraat se kant.
Boompies vanaf die roostuin. Links is ‘n groot Hibiscus boom met rooi blomme. Die kamer links voor met die
venster met horkies was my ouers se slaapkamer.
4
In die agterplaas teen die suide grens was die buitegeboue, wat bestaan het uit ‘n enkele garage, ‘n
stoorkamer en twee bediende kamers, verbind met ‘n stoep en wasgeriewe. Langs die bediendekamers
was ‘n afdak vir my pa se sleepwa, of die “trailer”, soos ons dit genoem het. In die agterplaas was ook
steen geboude houers vir hout en steenkool. Steenkool is van die Spoorweë bestel wat dit met sulke
groen spoorweg lorries in goiing sakke kom aflaai het. Die swart manne wat die sakke gedra het en in die
steenkool houer kom gooi het, was nog swarter van die steenkool en net die wit van hulle oë was sigbaar !
Aanvanklik was daar ‘n Aga koolstoof in die kombuis, voor dit later met ‘n elektriese stoof vervang is. In
die agterplaas was ook twee kompos gate wat met steenmure uitgebou was.
Daar was baie bome en struike op die erf. Aan die Olivierstraat grens het my pa ‘n laning Populierbome
aangeplant net voor die draadheining op die sypaadjie. Hulle het later massief groot geword. Omdat
ons ‘n hoekerf gehad het, het ons ‘n groot oppervlakte van twee sypaadjies gehad. Van die huise met
kleiner sypaadjies het gras daarop geplant, maar my pa het nie daarvoor kans gesien nie. Van tyd tot
tyd is die sypaadjies darem geskoffel ! Aan Olivier en Pienaarstrate se kant het die erf ‘n draadheining
gehad. 'n Dubbel staal voorhek was in Pienaarstraat.
Op die twee noordelike hoeke van die erf was daar ook twee groot gevestigde Petria bome, met hulle
kenmerkende ligpers blommetjies. Aan die weste grens in die voortuin was vier pragtige Plataanbome.
In die agterplaas was die “Grootboom”, ‘n boom wat die agterplaas domineer het, saam met die
Seringboom en ‘n Jakarandaboom. Ek weet nie watter soort boom die “Grootboom” was nie. Ons het
graag in die groter bome geklim en ook ‘n boomhuis in die Seringboom gebou. Ons het ook twee
vrugtebome gehad, naamlik ‘n Appelkoos- en ‘n Perskeboom.
Net buite ons kamervenster was daar so ‘n tropiese soort boom met peule en groot sade. Ons het
gepraat van die Peulboom. Dit is onder die Peulboom waar ek my blindederm begrawe het, toe dit nie
meer snaaks was om na dié lelike patologie monster te kyk nie ! (Ek het oor die episode van my
blindederm operasie in die hoofstuk oor my hoërskooljare vertel.)
Daar was veronderstel om ook ‘n grasperk in die agterplaas te wees, maar ‘n krieketblad en ‘n grasperk
het nie saamgewerk nie. Aan die westekant was ook die “houthuisie”, waarin tuingereedskap gebêre is.
Later toe ons ‘n tweede motor gekry het, het my pa ‘n hout afdak ook aan die westekant laat bou, met
‘n lang oprit vanaf die nuwe hek aan Olivierstraat se kant. Hier het ons gereeld vir my ma haar motor
uitgetrek, tot by die hek en terug. Ons kon darem gewoonlik net-net in tweede rat kom voor ons weer
onder die afdak was !
5
My ma by haar Renault Dauphine in die lang oprit na die motorafdak
Omdat daar so baie bome en struike op die erf was en my pa in die Departement van Bosbou gewerk
het, het hy ons huis “Boompies” genoem. Hy het ‘n koperplaat laat maak, wat aan die voorhek in
Pienaarstraat aangebring is.
Hierdie plaat het later, toe die huis verkoop is, orals saam met my pa en ma getrek, tot op George, waar
hulle afgetree het. Die “(VERPLANT)” het hy laat aanbring na die eerste verhuising na ‘n woonstel in
Sunnyside. Daarna is die plaat Saasveld toe en toe na die George dorpshuis, Victoriastraat 95. Toe die
George huis verkoop is, het die Boompies plaat na ons vakansiehuis in Outeniquastrand verhuis en het
6
ons vakansiehuis eindelik ‘n naam gekry ! Ek en Johanna het ook ons Selfsorg Gastehuis “Boompies”
genoem.
Op skool toe ons in Boompies gebly het het ons al drie fietse gehad. Dit was jou vervoermiddel skool
toe en wanneer jy by maats gaan kuier het. Ons het soms later, toe ek ‘n 26 duim fiets met ‘n “Sturmey
Archer three speed” gekry het, selfs tot in die stad met ons fietse gery as ons iets by Darts, die
stokperdjie winkel, nodig gehad het. Darts se eienaar was Montie, en almal het hom geken. Bedags het
ons die fietse agter teen die huis se muur parkeer, maar saans in die stoorkamer toegesluit. Omdat die
erf so groot was, kon ons om die huis met ons fietse ry. Ons het dus ook ‘n fietsresies baan om die huis
gehad. Soos ons die baan beter leer ken het, kon ons later die “laps” al hoe vinniger ry ! Charl het
onlangs opgemerk dat my pa en ma ons seker maar laat begaan het, ten spyte daarvan dar ons haar tuin
hier en daar verwoes het !
Ek was seker so in standerd 1 of 2 toe my pa vir ons ‘n duiwehok gebou het. ‘n Kollega van hom, oom
Gert du Preez en sy twee seuns, wat ouer as ons was, was kranige posduif boere, wat ook aan duiwe
wedvlug kompetisies deelgeneem het. Die hok was van kreosoot behandelde dennehout gebou, met ‘n
plat sinkdak. Daar was eintlik twee hokke met ‘n area in die middel waar die hokke se deure was. Die
vloere van die hokke was van sement.
Arend Nel, ‘n skoolseun van George, wat saam met ons op Heroldsbaai vakansie gehou het en my pa op
sy hengel togte vergesel het, het die sementvloer ingesit. Hy het een Julievakansie vir ons in Pretoria
kom kuier toe hy ‘n eerstejaar Bosbouer student op Saasveld, George, was. My pa het hom ook daardie
vakansie gevra om ons appelkoosboom te snoei. Tot groot ontsteltenis van my pa het hy die boom byna
verwoes. Gelukkig het dit weer mooi uitgeloop en weer baie appelkose gedra !
Ons het elk ‘n broeipaar by oom Gert du Preez gekry. (Seker dié wat nie so goed in die wedvlugte gevaar
het nie !). Teen die agterste mure is kaste gebou waarin sand gevulde erde bakke geplaas is waarin die
duiwe kon nes maak. Ons het vir hulle van die Seringboom se takkies wat afgeval het in die hok gegooi,
waarmee hulle neste gemaak het. Op die vloer was ‘n kosbak vir mielies en ‘n bak vir water. Beide
hierdie was so ontwerp dat die duiwe nie daarin kon mors nie. Vóór skool was dit ons drie se
verantwoordelikheid om die kosbak vol mielies te maak en vars water in die waterbak te tap. Saterdae
oggende moes ons die hokke skoonmaak, wat behels het dat al die duiwemis met ‘n troffel van die
sementvloere afgeskraap en opgevee moes word. Deur die duiwe dop te hou het ons ure se plesier
gegee. In die middel tussen die twee hokke was ‘n houtblad waarop ons kon klim en dan binne in die
neste sien. Ons was baie opgewonde toe die duiwe eiers gelê het en die kuikens uitgebroei het.
Ongelukkig het die duiwe boerdery tot ‘n einde gekom toe ons moes begin Kaap toe gaan.
Toe ons op Stutterheim in die Oos Kaap gebly het, het ‘n Xhosa vrou, Eunice, by ons gewerk. Haar
tweede taal was Engels en op ‘n stadium kon Francois net Engels praat. Sy het saam met ons George toe
gegaan en ook saam na Pretoria gekom. Toe ons in Pienaarstraat gaan bly het, het sy ook by ons gewerk
en ingewoon. Soos meeste swartmense van daardie tyd het sy ook bakstene onder haar bed se pote
gesit om die bed hoog van die grond te lig. Hulle was bang vir die Tokkelossie, ‘n klein slegte mannetjie
wat jou kon kwaad aandoen as jy slaap. Maar as jou bed hoog is, kan hy jou nie bykom nie ! Na ‘n jaar
of drie is sy terug Transkei toe. Op daardie stadium het Johannes Sete ook al by ons gewerk. Hy was die
tuinman. Toe Eunice vertrek, het my ma besluit om Johannes as kok en binnenshuis werker op te lei.
Johannes se broer, Isak, het toe in die tuin kom werk. Johannes het baie jare by ons gewerk en het later
7
ook toe ons in Mouillepunt gebly het, saam Kaap toe gegaan. Hy is later met die trein vooruit en as ons
in die Kaap aangekom het, het Johannes reeds alles onder beheer gehad.
Ons kinders het ‘n goeie verhouding met ons huisbediendes, soos hulle toe bekend gestaan het, gehad.
Hulle het ons geleer om ons fietse en “punctures” in die binnebande met “patch” en “solution” reg te
maak. As ons vir Johannes gevra het hoe hy nou dit of dat gaan doen, was sy antwoord altyd net “Mooi !”.
Tot vandag toe sal ons drie so ‘n antwoord gee as iemand ons iets irrelevant vra ! Johannes en Isak het
beide hulle eie fietse gehad as vervoermiddel. Die swartmense was lief om allerhande goed aan hulle
fietse te hê soos spieëls en lugdrade !
Dit was gebruiklik in daardie dae dat die bediendes van werker uniforms voorsien is. Vir die tuinwerkers
‘n ligbruin tipe safari pak met kortbroek met rooi bande om die kort moue en hals en broekspype. Vir
die binnewerkers dieselfde, net in wit. In die winter seker uniforms met langbroeke en lang moue. Ek
dink dit was vir hulle ‘n statussimbool om ‘n wit uniform te kon dra. (Ek dink nie sulke “koloniale”
gebruike sal nou meer werk nie !)
Soos meeste kinders het ons ook waterpokkies en masels gekry. Na ons in die bed was, moes ons in
kwarantyn bly vir ‘n week en kon nie skool toe gaan nie. My ma het ons besig gehou deur ons te leer
brei en kruissteek borduur lappies te laat uitwerk. Die agterkant van die lappie het jou werklike talent
hiervoor verraai !
In ons dae op laerskool het Lego boublokkies nog nie bestaan nie. Ons het geleer om dinge te bou en
aanmekaar te sit met TinkertoY en Meccano en Buidings Sets. Tinker Toy was sulke ronde hout
wieletjies met gate in die kante, waarin houtstafies ingepas het. Jy kon allerhande konstruksies
daarmee bou.
TinkertoY
8
‘n Meccano Set het bestaan uit metaal stafies, plaatjies, wiele en asse, skroewe en moertjies, ens,
waarmee jy allerhande goed kon bou. Skroewedraaiers en spanners was deel van die gereedskap.
Meccano Set
‘n Building Set het bestaan uit plastiek vloere met gaatjies waarin metaal stafies ingepas het, muur
blokke, deure, vensters, dakke, ens, wat tussen die stafies ingegly het, waarmee jy huise en geboue kon
bou.
Building Set
Wanneer een van ons drie broers verjaar het, het ons graag een van bogenoemde stelle gekry. Ek dink
dit het baie bygedra dat al drie van ons baie prakties in en om die huis was en nie vyf duime aan elke
hand het nie !
In die laat vyftigerjare het my pa vir ons gesin ook ‘n stel boeke gekoop, bekend as “Die Skatkis.”
Destyds was daar net 8 volumes van stories en gediggies, sommige klassieke verhale. “Die Afrikaanse
Kinderensiklopedie” het uit 10 volumes bestaan en was destyds ons bron van inligting vir skooltake.
Vandag se “Wikipedia” !
9
Die Skatkis Deel 1 van die Afrikaanse Kinderensoklpedie
Seker in ‘n poging om ons meer Engels te laat lees het ons ouers elke week by die CNA die “Eagle” en
“Swift” gekoop. Dit was strokiesprente wat in Engeland gedruk is. Ek onthou nog vir Dan Dare, wat toe
al ‘n ruimtereisiger was ! Daar is ook ‘n Eagle en Swift Annuals aan die einde van die jaar uitgegee. Ek
het toe geleer ‘n "annual" beteken ‘n jaarboek of jaarliks !
10
Meeste van ons direkte bure was Jode of Engelse. Langs ons in Olivierstraat het die Andersons gewoon.
Mnr Anderson was ‘n apteker. Hulle grensmuur aan Olivierstraat se kant was ‘n klipmuur in die vorm
van ‘n blombak met pragtige “Christ Thorn” vetplante daarin. Hulle het twee dogters gehad wat
omtrent ons ouderdom was. Ons het soms by hulle gespeel. Eendag het hulle vir ons lekkers gegee op
voorwaarde dat ons dit nie voor middagete mag eet nie ! Ons het ons nie daaraan gesteur nie en
sommer dadelik die lekkers geëet. Hulle was hoogs verontwaardig dat ons so stout kon wees en het ons
met ‘n “Ja ja dee, Ja ja dee” toegesing en met hulle vingers geswaai om te wys in watter groot
moeilikheid ons toe was !
Langs ons in Pienaarstraat het die Ettons gewoon. Mnr Etton was ‘n besigheidsman. Hulle het twee
seuns gehad. Die oudste seun, Leon, was ouer as ons en het hom nie veel aan ons gesteur nie. Ons het
dikwels met die jonger seun, Martin, gespeel. Later jare het Charl en Francois hom weer in Pretoria
raakgeloop toe hulle nog daar gewoon het.
Oorkant die Andersons in Olivierstraat het die Goodmans gewoon. Soos die Ettons was hulle ook Jode
en familie van mekaar. Mevroue Etton en Goodman was susters en hulle kinders was “cousins”.
Oorkant ons in Olivierstraat het die Clarks gewoon. Ook hulle was Jode. Hulle het ook ‘n groot erf
gehad wat tot teen die parkie in Nicolsonstraat gestrek het. Hulle het ‘n privaat swembad gehad, ‘n
rariteit in daardie dae. In die somer het ons oor die muur in Pienaarstraat geloer en die mooi blou water
gesien en heimlik gewens ons kan daar swem !
Oorkant ons in Pienaarstraat het ‘n ouer Engelse egpaar gewoon. Hulle was nogal welaf, want elkeen
het met sy eie groot Amerikaanse motor gery. Hulle het ook elke winter na “Mother England” toe
gegaan vir die Britse somer. Regte Souties ! Ek kan ongelukkig nie hulle van mooi onthou nie, maar ek
dink hulle van kon dalk Foot gewees het.
11
‘n Entjie op in Olivierstraat het die Wesselse gewoon. Dr Louis Wessels was ‘n Internis en sy vrou
Engelssprekend. Hulle seun, ook Louis, was ouer as ons en het na Pretoria Boys High toe gegaan. Hy het
twee mooi jonger susters gehad. Susan was so oud soos ek en Elizabeth bietjie jonger. Hulle twee was
in Pretoria Girls High School. (Louis Wessels Junior het ook medies op Tuks geswot en toe in
Neurochirurgie gespesialiseer. My en sy paaie het jare weer later in die Departement van Anatomie op
die Tygerbergkampus gekruis !).
Twee huise verder op in Olivierstraat 280 het oom Dantie en tannie Bettie Marais en hulle drie kinders
gewoon. Hulle was baie goeie huisvriende van my ouers en ons as kinders het ook dikwels saam gespeel
en gekuier. Oom Dantie was ‘n Siviele Padkonstruksie Ingenieur en tannie Bettie het vroeër as ‘n Suster
verpleeg. Oom Dantie het vroeër vir die Transvaalse Provinsiale Administrasie as Konstruksie Ingenieur
gewerk, voor hy en ‘n vennoot hulle eie Padkonstruksie Besigheid, De Wet en Marais, begin het. (Geen
familie van ons nie). Oom Dantie was so tien jaar jonger as my pa. Hy was ‘n motor entoesias en ons
het dikwels saam met hom na Grand Central Renbaan, en seker later ook na Kyalami toe gegaan. So in
ons hoërskooljare het die Marais ‘n swembad laat bou. Dit was vir ons baie lekker om daar te gaan
swem. Laatmiddag het om Dantie dikwels ook kom swem en ons uitgedaag om te probeer om sy kop
onder die water te druk ! Ek het ook baie van tannie Bettie gehou, ten spyte daarvan dat sy baie reguit
en kwaai was. Hulle oudste seun, Danie, was saam met my op laer- en hoërskool in dieselfde standerd.
Hy het platvoete gehad en het aanvanklik stewels gedra. Hy was nie sportief nie en het eerder geteken,
veral vrouerokke ! Ek dink oom Dantie, wat op sy dag ‘n kranige hekkiesatleet was, was nogal
teleurgesteld. Jeanne, hul oudste dogter, was so ‘n jaar jonger as Francois. Sy het haar later as Kliniese
Sielkundige bekwaam. Christine, hul jongste dogter, is in 1955 gebore toe hulle reeds in Olivierstraat
gebly het en ek reeds 9 jaar oud was. Oom Dantie het sy pa op ‘n jong leeftyd verloor en ek dink dinge
was nie in sy jong dae maklik nie. Hy het altyd gesê elkeen kry sy deel van swaarkry en sukses. (Francois
het onlangs vir ons ‘n ander weergawe vertel hoe oom Dantie aan hom beskryf het hoe jy jou swaarkry
moet hanteer !) So was hy ook dan aan die einde van sy loopbaan baie suksesvol. Hy is ongelukkig op ‘n
betreklik jong ouderdom in sy vroeë sestiger jare aan 'n hartaanval oorlede.
Die grond tussen Olivier-, Rupert- en Nicolsonstrate en die parkie het aan die Kirkness familie behoort.
Hulle groot herehuis het na Olivierstraat gefront en was direk langs die Marais. In die laat vyftiger en
vroeë sestiger jare het die klei steengroef en baksteenfabriek by die Fonteine Sirkel aan die Kirknesse
behoort. Toe die groef uitgewerk is en die baksteenfabriek gesluit het, is Unisa se gebouekompleks daar
gebou. Later jare het die staat die Kirknesshuis gekoop en gebruik as ‘n ampswoning vir
kabinetsministers. Onder andere het mnr FW de Klerk op ‘n stadium daar gewoon.
Net bokant Rupertstraat het die Derksens in ‘n groot huis gewoon. Prof Chris Derksen was professor in
Chirurgie by Tukkies se Geneeskunde Fakulteit. Hulle was vroeër van Kroonstad en my ma was saam
met sy vrou op skool in Eunice High School in Bloemfontein. Hulle het ook ‘n swembad gehad en op
hoërskool in matriek het ek laat middae op hulle uitnodiging soms daar gaan swem. Toe ons ouers in
die Kaap was het hulle ons ook een of twee keer vir Sondagmiddagetes genooi. Hulle oudste seun was
Kerneels. Hy was ouer as ons en ook medies gaan studeer. Hulle dogter, Nelmarié, was saam met Charl
in die standerd. Hulle jonger seuns was Chris en Anton, wat na Menlopark Hoërskool toe is toe dit in
1963 geopen het.
Drie straatblokke bo ons huis was ons kerk op die hoek van Olivier- en Stellastrate. Dit was die NG
Gemeente Suid-Oos Pretoria. Ons predikant was ds Kotie du Toit (met sy mooi welluidende stem) en
12
later het ds WJ Annandale (met sy rooi gesig) bygekom. Ons het daar Sondagskool toe gegaan (daar was
toe nog nie so iets soos kategese nie !) en kerkdienste bygewoon. Ek het in 1963 onder leiding van ds
Annandale gekatkiseer.
Ek het in ‘n baie huislike en geroetineerde omgewing grootgeword. Op daardie stadium van jou lewe is
jou ouerhuis eintlik jou hele wêreld en sekuriteit. Soggens so sesuur het Johannes in die kombuis
ingekom en koffie (en later tee) gemaak en vir my ouers en ons kinders gebring. Dit was eintlik maar die
teken vir opstaan. Johannes is terug kombuis toe om solank te gaan pap maak vir ontbyt. Ons drie het
een groot kamer gedeel. Drie beddens en twee klerekaste (“Wardrobes”). Ingeboude kaste het toe nog
nie bestaan nie. Ons huis het net een badkamer gehad, wat my pa soggens gebruik het om te skeer en
te bad. Ons kamer het ‘n wasbak gehad, waar ons gesig gewas, tande geborsel en hare gekam het. (en
Brylcream, vir die kuiwe, later aangesmeer het). Ons seuns het saans voor slaaptyd gebad. Alhoewel
die huis se badkamer ‘n stort gehad het, het niemand toe gestort nie.
Vir ontbyt het ons pap geëet. Slap mieliepap of Jungle Oats (nie Tiger Oates nie) of Maltabella pap, met
melk en suiker. In die winter moes ons ‘n teelepel “Popeye” eet. Dit was so ‘n dik, taai stroop wat ons
moes weerbaar maak teen die winter siektes. Ons het dit “Popeye” genoem want my ma het gesê dit
maak ons so sterk soos “Popeye, the Sailorman”. ( Daar was ‘n oorproduksie van spinasie in Amerika en
om dit te bemark het hulle die karakter “Popeye (Poepoog) the Sailorman” uitgedink. As hy ‘n blik
spinasie geëet het, het hy baie sterk geword !)
Na skool het ons altyd Kellogg’s Corn Flakes of Rice Krispies geëet, met melk en suiker. Ek het eers later
uitgevind dat hierdie “Cereals” eintlik ontbytkos is. In die winter as dit koud was het my ma darem
gewoonlik lekker warm sop gemaak.
As kind is jy baie lojaal aan wat vir jou belangrik is of soos dit in jou huis gebeur. Ons het Bovril verkies,
nie Marmite of Oxo nie. Ons het Supercream melk afgelewer gekry en nie PUD (Pretoria United Diaries)
nie. Ons het Black Cat peanut butter geëet en nie Yum-Yum nie ! Colgate tandepasta en nie Kolynoss
nie ! My pa het ‘n Buick gehad van General Motors, wat ook Chevrolet gemaak het, so ons was nie Ford
mense nie !
Saans het my pa en ma ‘n drankie gedrink wat hulle ‘n doppie genoem het. Brandewyn, water en ys. Ek
het dit ook geproe en kon nie verstaan dat hulle sulke slegte goed kan drink nie. Wanneer my oupa kom
kuier het, het my pa Coca Cola in sulke klein glasbottels gekoop. My oupa was van Delareyville en in die
Wes Transvaal het die mense Coca Cola saam met hulle brandewyn gedrink. Daar het altyd so ‘n bietjie
in die bottel oorgebly en ons het beurte gemaak om die laaste bietjie te drink !
In die winter het ons vuurgemaak in die kaggel in die sitkamer. Johannes het soggens die kaggel
skoongemaak en weer die vuur gepak met hout wat hy in kleiner stukke gekap het. Wanneer die vuur
lekker brand word steenkool bygevoeg. Ek kan nou nog die reuk van steenkool uit almal se kaggelvure
in die winter onthou. Eintlik maak ‘n kaggel die vertrek warm, maar as kinders het ons reg vóór die vuur
gestaan of op die mat vóór die vuur gelê. Wintertyd was ook biltong tyd. My pa het biltong met sy
sakmes, wat hy altyd by hom gehad het, gekerf. So het hy vir ons uitgedeel. Nie te veel voor ete nie,
want dan gaan ons nie ons kos opeet nie.
Seweuur saans het Johannes die kos opgedra. Dit was die hoofgereg vir die dag. Gewoonlik ‘n
vleisgereg, rys en groente, gekook op my ma se Engelse manier soos sy hom geleer het. Soms het ons
13
ook poeding gekry. Van die plafon het ‘n draad met ‘n klokkie-skakelaar gehang. As ons klaar geëet het
het my ma die knoppie gedruk en ‘n klokkie het in die kombuis gelui en het Johannes die borde kom
haal. In die drie slaapkamers was ook skakelaars wat gedruk kon word, sodat ‘n klokkie in die kombuis
gelui het. Wanneer ‘n klokkie gedruk is, het verkillende vlaggies in ‘n kassie agter glas heen en weer
beweeg, om aan te dui in watter kamer die klokkie gedruk is ! Tipies van die ou Engelse styl, soos in die
TV reeks Downton Abbey. Behalwe die klokkie in die eetkamer het ons nooit die klokkies in die
slaapkamers gebruik nie !
Twintig minute na seweuur was storietyd op die radio. Ons het ‘n Philips draadloos gehad wat met
“valves” gewerk het. As hy af was en weer aangeskakel word, moes die “valves” eers warm word voor
die radio gehoor kan word ! ‘n Bekende gunsteling was die “Du Plooys van Soetmelksvlei”, geskryf deur
Jan Schutte. Die karakters, soos oom Kobie en tannie Hybie, was net so bekend soos dié wat nou in die
sepies op televisie is !
Luister na die temalied wat destyds gebruik is vir die Du Plooys van Soetmelksvlei en ‘n huishoudelike
musiekstuk by luisteraars geword het.
https://youtu.be/4E7XHOotTX0.
Na storietyd het ons weer gaan huiswerk doen of leer vir ‘n toets. So kwart oor nege het ons weer tee
gedrink en het ons nog geleer of gaan slaap.
Saterdae middae het ons iets ligs soos wors en kapok aartappel en geelwortels geëet. Later het my pa
van pan gebraaide steak gehou. Op ‘n gewone Saterdag sou my pa en oom Gerald Barrie mekaar kontak
so teen twaalfuur die middag en reëlings tref om op die ou Loftus Versfeld klubrugby te gaan kyk. Dit
was die dae toe Hannes Brewis nog vir Polisie en Fonnie du Toit vir Harlequins gespeel het. Ons kon ook
soms saamgaan. Eenkeer het ons voor die heining op die veld gaan sit. Van die groter seuns het die
balle vasgehou en in daardie jare vir die vleuels gegee om die bal by die lynstane in te gooi. Ek het nie
die bal, wat ‘n speler uitgeskop het, sien kom nie en toe tref dit my in my maag en toe is my wind uit.
Toe word ons teruggejaag na die pawiljoen. By ‘n ander geleentheid was ons al drie saam met my pa en
oom Gerald Loftus toe. Ons het skynbaar nie die middag stil genoeg gesit nie, want toe ons by die huis
kom het ons al drie ‘n pak gekry!
Sondagmiddae was die hoofete van die week. Gewoonlik ‘n hoender of ‘n skaapboud vir vleis, met rys,
aartappels en groente. My ma het gewoonlik een of ander “poeding” gemaak. Voor ete moes een van
ons met ons fiets by die hoekkafee ‘n blok of “slab” (seker so ‘n liter) “Walls” roomys gaan koop. Ek het
by geleentheid sjokolade fudge probeer maak, maar toe flop dit en word net sjokoladesous. Van toe
was ek die amptelike sjokoladesous maker op Sondae !
Toe ons by Boompies ingetrek het, het ons nog net vir Otto, die worshond gehad. Die een wat die skape
gejaag het oppad Stutterheim toe. Nie lank daarna het my pa ‘n Rhodesiese Rifrug reun gekry. Sy naam
was Montie. Hulle stapelvoedsel was van die stywe mieliepap, wat die bediendes vir hulle self gemaak
het. Elke oggend het hulle darem ook ‘n rou vleisbeen gekry om te kou. Otto was die wakker een wat
alarm gemaak het as ander honde in hulle gebied gekom het en dan moes Montie aan die geveg gaan
deelneem. Otto kon nie ‘n kat verdra nie en het buite homself geword as ‘n kat durf waag het om op
ons erf te kom. My ma was maar die een wat hulle kos gegee het. Soos Montie ouer geword het was hy
my ma se skaduwee. Orals waar sy op die erf of in die huis gegaan het, het hy agternageloop en by haar
14
gaan lê. Een keer toe ons in die Kaap of op Heroldsbaai was, het ‘n ander hond Otto baie sleg gebyt en
so beseer dat hy hy uitgesit moes word. Daarna het ons vir Doempies, ‘n Bokser, gekry. Soos enige jong
hond het hy toe oorgeneem. Waar Montie nooit in die sitkamer mag gekom het nie, het Doempies hom
nie daaraan gesteur nie en my pa om sy “pote” gedraai ! Hy het later darem aanvaar dat hy net op sy
eie mat in die sitkamer mag lê. Omdat die honde snags soms teen die heining af gehardloop en geblaf
het, moes Montie en Doempies in die duiwehok gaan slaap. Dit was ‘n geweldige lang proses om
Doempies saans van die sitkamer in die duiwehok te kry. Hy het altyd baie traag opgestaan, bene gerek
en teen ‘n slakke pas duiwehok toe gestap en moes eers by elke boom stop !
Doempies Ek en Doempies. Regs is ons
voorhek Doempies groet vir Charl
Montie is later weens hoë ouderdom ook uitgesit. Toe Boompies verkoop is, het Doempies na oom
Lionel en tannie Lorna hulle se plaas by Nottingham Road gegaan. Hy is ongelukkig later daar deur ‘n
vragmotor doodgery.
Omdat ons ‘n groot erf gehad het met baie struike, bome en roosbome, was daar baie snoeiwerk. Hier
aan die einde van die winter was daar ‘n publieke vakansiedag. Ek kan nie onthou watter een op
daardie stadium nie. Seker die Koningin se verjaardag ! Met my pa vooraan met die snoeiskêr en ‘n saag
is alles gesnoei. Ons moes die takke optel en op ‘n hoop op die sypaadjie gaan gooi vir latere
verwydering. Soms het my pa ook besluit dit is tyd vir opruiming en dan is hy deur die erf en
buitegeboue om goed weg te gooi wat hy opgegaar het. Ons moes alles wat kon brand dan verbrand.
Ek onthou nog hoe Johannes agteraf vir ons gelag het by sulke geleenthede.
Twee blokke van ons af aan die onderent van Olivierstraat was die Brooklyn Sirkel. (Vandag die Brooklyn
Mall). Tot 1957 het ons net een motor gehad en kon my ma nie bestuur nie. Al haar inkopies het sy met
haar mandjies by die winkels by die Brooklyn Sirkel gedoen, waarheen sy en ons gestap het. Ook
wanneer ons moes stad toe gaan met die bus, het ons tot by die bushalte by die Brooklyn Sirkel gestap.
Weerskante van Middelstraat in Fehrsenstraat was twee geboue met winkels. Die gebou noord van
Middelstraat was ‘n tipiese winkelgebou met ‘n onderdak stoep aan die straat se kant. Ons het dit die
boonste sentrum genoem. Dit is waar mnr Molhoek sy mans haarkapper salon gehad het. ‘n Haarsny
het seker so een sjieling en ses pennies gekos. Grootmense word voor kinders gehelp. As dit amper jou
beurt is en ‘n grootmens stap in, is hy vóór jou. Toe ons kleiner was moes ons op ‘n plank sit wat oor die
haarkapper stoel se armleunings geplaas is. Mnr Molhoek het geweet wat jou pa se standaarde was wat
haarstyle betref, want my pa het ook vroegmôre voor werk sý hare daar laat sny. Dit was gelukkig nie ‘n
probleem in die Tom van Vollenhoven dae nie ! Na jou haarsny het jy ‘n lekkertjie gekry ! Later het
Danie en Kasper by hom aangesluit. Danie het ‘n BMW motorfiets met die bekende “boxer” enjin gehad
wat hy op die stoep parkeer het. Ek kan nie onthou of dit nog ‘n ketting of toe al ‘n “driveshaft” gehad
15
het nie. Mnr Molhoek het later afgeskuif na die sentrum suid van Middelstraat toe dit vergroot is. Ons
het verneem dat Kasper, wat mnr Molhoek as ‘n jong seun by hom ingeneem het en die ambag van
haarsny geleer het, met mnr Molhoek se aftrede die mans haarkapper salon by hom oorgeneem het.
Ook in die boonste sentrum was die Brooklyn Apteek. Die apteker was mister Winn. My ouers het hom
vir jare ondersteun. Daar was ook ‘n kafee in daardie gebou, waar ons ons bottels ingeruil het wat ek en
Pieter Gonin op die Tukkies kampus opgetel het. As ek reg onthou was daar ook in daardie gebou ‘n
“bottelstoor” en fietswinkel, waar my oupa my nommer 22 duim swart Rudge fiets gekoop het. In my
hoërskooljare is die boonste sentrum gesloop en ‘n moderner sentrum is daar gebou. Daar was so ‘n
ronde kafee op die boonste verdieping van die deel wat twee verdiepings gehad het. Ook nuut vir ons
was ‘n supermark in daardie nuwe sentrum. Dit was toe vir ons nog snaaks dat jy self dit wat jy wil koop
van die rakke neem en dan daarvoor gaan betaal ! Tot op daardie stadium moes ons Hatfield Galleries
toe gaan om tydskrifte by die CNA te koop. Toe kry die nuwe sentrum ook ‘n CNA, wat vir my baie
lekker was want van standerd 8 het ek Die Huisgenoot vir 15 sent gekoop. (‘n “Ander” Huisgenoot as
nou !)
Op die hoek van Middel- en Fehrsenstrate in die onderste sentrum was die hoekkafee. Feitlik al die
kafees is destyds besit en bestuur deur Portugese of Grieke. Gewoonlik was dit ‘n familiebesigheid waar
almal gehelp het; van die oupa en ouma, man en vrou, broer en skoonsuster, ens. Naweke het van die
groter kinders ook die kasregister met sy opspring vlaggies en geklingel gewerk. Die gewone ware wat jy
in ‘n kafee kry was beskikbaar. Koeldrank, roomys, lekkers soos “Niger balls” (vier vir ‘n pennie),
kougom (wat my pa ons verbied het om te kou ), drop (waarvan ek tot vandag toe nie van hou nie),
lekkers in sulke glas toonbanke wat hulle vir jou afgeweeg het), ens. Dan was daar natuurlik ook ‘n
Jukebox (met 78 opm plate) en ‘n Pinball masjien. Vir beide moes jy munte insit om te speel. Seker ‘n
tiekie of ‘n sikspens ! Soos jy Pinball speel, gaan daar ligte aan en af en maak die masjien allerhande
geluide, afhangende hoe ver jy met die “flippers” en die balletjie vorder. As jy ‘n sekere aantal punte kry
“tilt” die masjien en dan kry jy ‘n “free game”. Ek kon nie eintlik Pinball speel nie en het gedink dit is net
vietas wat in die kafee rondhang wat goed kan Pinball speel. Nog ‘n belangrike ding wat jy by die kafee
kon koop was “Comics”. Daar was Dell Comics wat Walt Disney se strokies soos Donald Duck, Mickey
Mouse gepubliseer het, asook Harvey Comics met Jughead en sy mense. Little Lotta, Tubby en Lulu, ens.
Daardie tyd al het die grootmense gesê dis gemors van Amerika en dat die kinders nooit gaan leer om
ordentlike boeke te lees nie !
Verder af was die Jood, mister Ginsberg, se “Grocery” winkel. Hier het jy nog op die ou manier
kruideniersware gekoop; by die toonbank en op die boek. ‘n Ouer ou in ons skool se ma het daar
gewerk. Sy was mev Grobler. Wanneer sy ‘n kliënt bedien gaan haal sy die kliënt se boek, skryf met ‘n
potlood die datum op ‘n nuwe bladsy en skryf dan die kruideniersware wat jy wil koop onder mekaar
neer, asook die prys aan die regterkant. Sy ken al die pryse uit haar kop, want daar was nog nie so iets
soos inflasie nie en die pryse bly lank dieselfde ! As hulle nie iets het nie, sal sal sy vir jou so sê. Dan sit
sy die potlood agter haar oor en gaan haal sy al die items van die rakke agter die toonbank en pak dit in
jou mandjie, wat jy saamgebring het. Dan tel sy die totaal op en skryf dit onder neer. Aan die einde van
die maand kry jy ‘n rekening wat jy dan betaal. Volgende maand koop jy weer op die boek !
‘n Entjie onder die kruideniersware winkel was die slaghuis. Hulle het ook op 'n boek stelsel gewerk, net
‘n bietjie anders. Jou vleis word by jou huis afgelewer deur ‘n swartman met ‘n blou baadjie met wit
strepe met ‘n fiets,. Sy fiets het ‘n raam voor die handvatsels waarin ‘n kartondoos met al sy aflewerings
16
is. Hy oorhandig die vleisbestelling en die boekie vir die volgende bestelling. Niemand het toe
vrieskaste gehad nie, slegs yskaste met ‘n baie klein vrieshokkie vir ys. Vleis word dus gereeld bestel
deur die bestelling vir die volgende afleweringsdatum in die boekie te skryf. Omdat aflewerings geriewe
ook nie koud gehou kon word nie, het slaghuise soggens vier uur reeds begin om hulle bestellings op te
maak vir aflewering so gou moontlik in die oggend. Aan die einde van die maand word die rekening ook
deur die man wat die aflewerings doen, gebring. Meeste slaghuise het destyds reeds vroeg in die
middag gesluit.
In Middelstraat, effens onder die hoekkafee, was die Portugese groentewinkel. Hulle het hulle vars
groente “from the farm”, wat hulle as familie bedryf het, gekry. My ma het die Portugees in die
groentewinkel “Wots joe laaik” genoem, want as sy by die groentewinkel instap, vra hy “Wots jou laaik ?”
Oorkant die hoekkafee en die groentewinkel het daar later ‘n tak van Steyn’s Garage, wat die Ford
agente in Pretoria was, oopgemaak. Ons kon toe ook daar petrol ingooi.
Melk is vroegoggend by die huise afgelewer in een pint glas bottels met so ‘n wye bek, verseël met ‘n
karton proppie, wat met was bedek was. Dit was volroom melk en die “top cream” het bo gedryf en kon
afgegooi word. Daar was twee melkerye, naamlik PUD (Pretoria United Dairies) en Economic Dairies
met hulle Supercream. Ons het by laasgenoemde ons melk gekry en ons drie het natuurlik gedink hulle
is die beste !
Destyds was die vullisblikke van gegalvaniseerde metaal gemaak met ‘n los deksel. Een dag van die
week moes die vullisblik op die sypaadjie uitgesit word, seker deur Isak, ons tuinman. Wanneer die
vullislorrie dit kom oplaai het, het hy feitlik nooit gestop nie. Die vullis manne het gedraf met die vol
vullisblikke op hulle skouer en dit aangegee aan twee manne wat op die lorrie gestaan het en die inhoud
in ‘n hoërige bak ingegooi het. Dan weer terug met die leë vullisblik en word die deksel met ‘n groot
geraas weer opgesit. Daar was ook ‘n gedurige gefluitery en geskreeu. Die vullisblikke het ook almal
duike in gehad van die rowwe hantering wat hulle gekry het. Hulle het nie baie omgegee vir ‘n vullisblik
nie !
By die Brooklyn Sirkel was die bushalte vir die Nommer 2 Brooklyn busroete tot op Kerkplein in die
middestad. Vir sekere aankope en ander besigheid moes ons stad toe gaan. Klere by Uniewinkels,
skoene by De Bruyn skoenwinkel, boeke by Unieboekhandel. (Oom Oubaas Röder, wat met my pa se
niggie, tannie Nellie, getroud was, was die bestuurder). Ook moes ons na ons tandarts, Dr Philip
Immelman, stad toe gaan. Ook as ons gaan fliek het moes ons ook stad toe met die bus, want al die
bioskope, soos die Capital, Plaza, 20th Century en die ou Opera House was in die stad. Die Opera House
was so ou gebou en toe ek kleiner was vir my baie spookagtig. Ons het ‘n swart en wit rolprent van
Heidi daar gesien. Ek onthou sy het in haar slaap geloop en Clara se rolstoel het by ‘n afdraande in die
berge afgerol en flenters gebreek. (Ek was baie teleurgesteld toe die animasie reeks op TV nie die
rolstoel episode gehad het waar die rolstoel nie teen die berg afval nie !) Daar was darem ‘n bioskoop
by die Hatfield Galleries, wat ek dink die Monte Carlo was.
Die busse was op daardie stadium elektries aangedrewe, met oorhoofse kragdrade. Soms het die
kontakpunte, wat met stokke vanaf die dubbeldekkerbus se dak verloop het, losgekom en moes die
bestuurder en kondukteur dit met kabels wat vanaf die punte van die stokke tot veergelaaide spoele
agter aan die bus geloop het, weer in posisie kry.
17
Privaat swembaddens was in ons tyd maar raar. Gelukkig het ons naby die Hillcrest Swembad in
Duncanstraat gewoon en was die swembad op die busroete. Voor ons by Hillcrest kon gaan swem, het
my pa gelas dat al drie van ons eers swemlesse daar moes neem. Ons instrukteur was ‘n mnr Pop
Diason. Hy het langs die swembad onder ‘n sambreel aan die vlakkant met ‘n handdoek oor sy bene
gesit en instruksies gegee. Onder sy bekwame leiding het ons toe sommer gou “self” leer swem !
Swembaddens maak op die 1ste September in Pretoria oop. Of dit koud was of nie, ons moes gaan
swem. Swem by Hillcrest was ‘n groot sosiale geleentheid want almal het daar geswem. Aanvanklik het
ons met die bus soontoe gery. Een pennie busgeld swembad toe, een pennie om in te gaan en een
pennie terug met die bus. Totale onkoste vir die middag was dus ‘n tiekie ! Later het ons met ons fietse
gaan swem, so daar was twee pennies beskikbaar vir die “Tuck Shop”.
Net die Clarks se huis voor ons was tussen ons huis en die “Parkie”, soos ons dit genoem het. . ‘n Lekker
oop stuk grond waar ons kon skop met ‘n voetbal, krieket speel, ons “kites” vlieg en gaan kyk as ander
kinders hulle model vliegtuigies met handkontroles al in die rondte vlieg. Ek sien op die kaart aan die
begin van hierdie hoofstuk die parkie word aangedui as “Niemeyer Square” ! Ek weet nie of dit ‘n Nuwe
Suid Afrika naam vir die Parkie is nie.
In die agterplaas, onder die Grootboom, was daar ‘n terras waarvan die keermuur met koffieklip gebou
was. Seker nie hoër as ‘n halwe meter nie. Hier het ons ure met ons karretjies gespeel, veral toe ons
seker nog op laerskool was. Soos wafferse ingenieurs het ons bergpasse in daardie keermuur gebou.
Die karretjie speel ding was eintlik maar gewoonlik maar net om iets te bou. Ons het nie baie met ons
karretjies “gery” nie !
In die agterplaas was daar so ‘n halwe hoop skoon bakstene. Ons het hulle maar daar kom kry. Daar
was ook twee kleinerige sinkplate. Met die bakstene en sinkplate het ons ons bou tegnieke onder die
knie gekry. Ons het by die skool gesien hoe die messelaars die stene pak toe daar klaskamers aangebou
is. So het ons ook gebou (sonder sement) om ons mure stewig te laat staan. Ek het ook op ‘n keer ‘n
kaggel gebou en daarin vuurgemaak. Dit het tóe al begin.
Vandat ek kan onthou van Grabouw se dae het my pa ‘n 1948 Buick straight eight sedan motor gehad.
Soortgelyk as dié op die foto.
Buick 1948 Straight 8 Sedan
18
Ons Buick was egter ligbruin van kleur. Die motor het ook ‘n haak aan gehad waarmee ons sleepwa
getrek is met vakansies na Heroldsbaai. Met hierdie motor het ons ook vir my oupa en oom-hulle op
Delareyville gaan kuier en is ook twee keer daarmee Kaap toe en een of twee keer Wildtuin toe. Hierdie
Buick is gereeld in Pretoria by Alderson en Flitton gediens. Ek vergeet die Garage se naam in die Kaap,
maar onthou dat die vergasser verstel moes word vir die laer lugdruk by die kus. Alle petrol se oktaan
was destyds oral dieselfde !
Aan die einde van 1958 het my pa ons verras deur met ‘n Mercedes Benz 220 S by die huis aan te kom
wat hy by Haak’s Garage in Pretoria gekoop het. My pa het altyd sy motor aankope baie geheimsinnig
uitgevoer. Dalk was hy bang vir te veel raad van sy seuns, veral van Charl !
So het ons Mercedes Benz 220 S gelyk
Ons Mercedes was ook swart, maar met rooi leer bekleedsels. Daar was ‘n Blaupunkt radio geïnstalleer,
met ‘n lugdraad wat met ‘n elektriese motortjie uitgekom het as jy die radio aangeskakel het ! My pa
het hierdie motor tot ongeveer 1967 gehad tot hy ‘n motor as deel van sy vergoedingspakket ontvang
het. Hy het dit toe aan ‘n kollega, oom Mike Möhr verkoop, wat nog baie jare daarmee gery het.
Ons het nie groot geword met ‘n vleisbraai kultuur nie. Ek dink nie ek het my pa of van hulle vriende
ooit sien vleis braai nie. Miskien ook iets te doen gehad met die gebrek aan vrieskaste. Ek het eers as
student kennis gemaak met vuurmaak en vleisbraai.
Vir vyf jaar het ons die hele jaar in Boompies gebly, behalwe vir die ses weke in 1956, toe ons moes Kaap
toe gaan. Van 1957 het die situasie verander. My Pa moes nou elke jaar vir die eerste ses maande van
die jaar in die Kaap wees. Dit het ‘n probleem geskep ten opsigte van ons huiswerkers en die honde. In
die begin van 1958 was dit kort sittings en ek dink die bediendes het alleen in die huis gebly en die
honde opgepas. In 1957, 1959 en 1960 het Adv Japie de Vos en sy gesin in ons huis gebly en na die
bediendes en honde omgesien, toe ons in die Kaap was. (Hy was deel van die Staat se regspan in ‘n
Hoogverraad saak teen 156 aangeklaagdes, onder andere Nelson Mandela. Hy het Adv Oswald Pirow
vervang, wat siek geword het en in 1959 oorlede is. Alle aangeklaagdes is egter onskuldig bevind in die
middel van 1960 en die De Vosse, wat van die Kaap was, is terug huis toe).
19
Ons gesin in 1962
Francois, Charl en Pierre agter My pa en ma voor
20
Omdat Charl en ek nie meer na 1963 in die huis sou wees nie en die huis en erf baie groot was om te
onderhou, asook die probleem om dit telkens te moet verhuur, het my pa die huis aan die einde van
1963 verkoop. Na die Parlementsitting in 1964 het hulle en Francois, wat toe in matriek was, in ‘n
woonstel op die sesde vloer in ‘n woonstelblok met die naam Orchid, in Sunnyside gaan bly.
Orchid Woonstelle, Sunnyside. Let op die Uniegebou met Meintjieskop in die agtergrond.
Na my Vloot opleiding tot einde September, het ek ook in 1964 drie maande daar gebly. Van 1965 tot
1967 het ek net tydens universiteitsvakansies vanaf Stellenbosch daar gekom.
NASKRIF:
Etlike jare gelede het ek ons huis in Pienaarstraat 551, Brooklyn, Pretoria, weer besoek waar ek al my skooljare deurgebring het, toe ek by geleentheid weer in Pretoria was. Dit was die huis wat ek geken het en waarin ek groot geword het.
My pa het die huis aan die einde van my matriekjaar verkoop weens die feit dat die oudste twee kinders toe reeds die huis sou verlaat en hulle Parlementsittings moes bywoon, die huis verhuur en instand gehou moes word.
Ek weet nie wie daarna daar gebly het nie. Op ‘n stadium het ons gehoor dit is as ‘n studente commune gebruik.
Charl het op ‘n stadium ‘n artikel met foto's aan my gestuur oor ‘n groep argitekte wat die huis gekoop het en weer gerestoureer het tot sy oorspronklike dertigerjare argitektuur.
Toe ek die huis besoek het, het dit leeggestaan en ek het deur die gerestoureerde vertrekke gestap.
Die voorstoep wat deur my pa toegebou is vir ‘n noorde son vertrek is weer restoureer na ‘n oop stoep met die oorspronklike wit pilare en rooi gepolitoerde sement stoep.
21
Waar ons eetkamer en my pa se studeerkamer was, is egter toe in ‘n slaapkamer met ‘n en-suite badkamer omskep.
Ons gesin se slaapkamers was nog dieselfde. Toe ek in die kamer kom wat ons drie seuns se slaapkamer was, het emosie my oorval en het ek het gehuil ! My ouers was toe al oorlede en ek was baie nostalgies en emosioneel op daardie oomblik.
Alhoewel die huis leeg was, het so baie herinneringe my oorval. Die hoek waar my bed gestaan het, waar my lessenaar tydens hoërskool was, Francois en Charl se beddens, die 2 embuia hangkaste. Selfs die gordyne met “cowboy” motiewe wat my ma vir ons ons as seuns opgehang het met ringetjies aan ’n koper reëling, het in my gedagtes opgekom.
Daarna wou ek nie weer soontoe teruggaan nie. Op die groot erf van ongeveer ‘n hektaar, waarop die huis in die middel gestaan het, is later nog vyf wooneenhede gebou, wat dié pragtige ou statige huis heeltemal verswelg het.
Niks bly dieselfde nie !
REIS NA GISTER
“…ek reis na gister om my drome te gaan soek, wat ek gedroom het langs die pad en geskryf het in my boek. En ek staan weer voor my kamer, daar is niks meer van dit oor en ek hoor my ma se stem: Is dit die angel wat ek hoor?...” ( Jak de Priester )
https://youtu.be/8HpTh_lgmD4
Terug na Inhoudsopgawe