kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2...

110
Goljuiter-reeks 1 Kronieke uit my onthou Thinus du Plessis

Upload: others

Post on 29-Oct-2020

2 views

Category:

Documents


0 download

TRANSCRIPT

Page 1: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

Goljuiter-reeks 1

Kronieke uit my onthou

Thinus du Plessis

Page 2: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

2

01- Goljuiter dra ‘n houtbroek

Kronieke uit my onthou

Marthinus Johannes (Thinus) du Plessis is in 1946 in ’n tent in die harde Transvaalse Bosveld op Groenvlei gebore.

Hy matrikuleer in 1964, studeer aan die destydse PU vir CHO en word predikant van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.

Hy begin sy bediening in Salisbury in 1972. Destyds was dit nog in Rhodesië. Daarna bedien hy opeenvolgend die gemeentes van Messina en Magalakwin (Alldays) in kombinasie, Stilfontein, Pietermaritzburg, Kempton Park en Bellville.

Later jare verwerf hy ook DLitt (Grieks) in 1983 en ThD (Dogmageskiedenis) in 1988. Iewers langs die pad het hy 'n beroepsjagterskursus afgelê en ook ’n biltongjagtersertifikaat (CHASA) verwerf. Hy en sy twee seuns, Stephan en Derik, het saam ’n gevorderde boogjagterskursus afgelê wat hulle magtig om die groot vyf met pyl en boog te jag. Tinus du Plessis is ’n Bosvelder in murg en been. Hierdie bundel sketse is ’n versameling herinneringe uit sy kindertyd en later jare voor hy die houtbroek (ou woord vir preekstoel) begin

aantrek het. Fyn humor en erns word in sy eie styl saamgesnoer in sketse wat jou laat lag en ook diep laat nadink. Omslag

Illustrasie deur Derik du Plessis Ontwerp deur Jaco Erasmus Gedruk en gebind deur Shumani Mills Digital

Page 3: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

3

Voorwoord

Al hierdie sketse handel oor dinge wat op Ellisras (deesdae Lephalale), Messina en Alldays afgespeel het. Sommige dinge kom uit my skooltyd. Sommige dinge handel oor mense en karakters voor my bedieningstyd. Die storie oor die Van Wykskaiings het ek by my pa gehoor. Dis ’n storie uit sy jong jare wat glo in die Drieviersboom-gemeente afgespeel het.

Die eerste klomp sketse gaan oor my goljuitertyd. Goljuiter is my oorlede oom Niek se woord vir

’n jong knaap. Daar is ook drie sketse in oor my droogmakery toe ek prakties gedoen het in ’n gemeente terwyl ek nog op Teologiese Skool was. Dis die tyd toe ek die houtbroek begin aantrek het – houtbroek is mos ’n ou woord vir preekstoel.

Daarna volg die sketse redelik kronologies die verloop van my lewe. Eerste Salisbury. Daarna Messina en Alldays. In die werkie wat op hierdie een volg, beskryf ek dinge uit Stilfontein en Pietermaritzburg se jare.

Ek skryf oor mense wat is soos ek is – of dalk moet ek liewer sê ek is soos hulle is, want ek is na die voorbeeld van hulle almal gevorm.

Ek weet daar is mense wat dink ons Bosvelders was maar terug-in-die-koor-mense. Vir hulle het ek nuus. Ek dink nie so nie. As almal wat deesdae so snobisties is en neersien op my geslag en die een voor my, onder dieselfde omstandighede sou lewe, weet ek dat hulle baie swakker sou vaar. Na bykans 40 jaar in die bediening kan ek met groot vrymoedigheid voor die Here en alle mense sê dat die grootste snobs onder die mense juis dié is met die minste innerlike kwaliteit.

Ek skryf oor mense wat karakter gehad het. Mense wat my helde sal bly solank as wat ek lewe.

Geniet die werkie.

Matiempaan – alias Thinus du Plessis

2010

Page 4: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

4

Inhoudsopgawe

1. My eerste herinneringe ........................................................................ 5

2. Tussen die plaas en die dorp .............................................................. 8

3. Die tyd op Thabazimbi ....................................................................... 11

4. Modderpan .......................................................................................... 15

5. Thabazimbi se hond-episode ............................................................ 18

6. Goljuitertyd .......................................................................................... 21

7. Skooltyd se dinge ............................................................................... 23

8. Sandpunte en die Yanmar ................................................................. 25

9. Op die Limpopo se wal ...................................................................... 30

10. Deur ander se brille ............................................................................ 32

11. Die Figuur en sy papiersak!............................................................... 35

12. Tant Serlot en die plaastoilet ............................................................. 39

13. Die gemeente eet Van Wykskaiings ................................................. 41

14. ’n Man uit ’n vrou gebore ................................................................... 43

15. Koffie in die koperkan ........................................................................ 45

16. Die koppie se oor ............................................................................... 47

17. My beroep Salisbury toe .................................................................... 48

18. Ons trek raak weg .............................................................................. 51

19. Ek bedien die Doppers in Malawi ..................................................... 53

20. Hy het my opgelei .............................................................................. 56

21. Tant San is uit melk uit ...................................................................... 59

22. Die diaken klem en die ape kaak ...................................................... 60

23. Messina se jare: 1975-1978 .............................................................. 62

24. My beroep Messina toe – 1975 ......................................................... 65

25. Honderd koeie se voer ....................................................................... 69

26. Die spookhek maak self oop ............................................................. 70

27. Oom Niklaas en tant Betta ................................................................ 71

28. Die pap diafragma .............................................................................. 74

29. Oom Matewis skiet sy donkie ............................................................ 76

30. Koninkrykspaaie ................................................................................. 78

31. Magalakwin-onthou ............................................................................ 80

32. Eiesinnig met sy slang en Bramaanbul ............................................ 83

33. Die slegte Hamman............................................................................ 85

34. Uit een hout gesny ............................................................................. 87

35. Doopsondag ....................................................................................... 89

36. Op Kopbeenpan ................................................................................. 91

37. Gilbert se zebra .................................................................................. 93

38. Wederregtelik gevonnis! .................................................................... 95

39. Die gedig ............................................................................................. 98

40. Amper reg! ........................................................................................ 100

41. Kuier op Kopbeenpan ...................................................................... 103

42. Telkomdienste .................................................................................. 105

43. Die eerste Sondag ........................................................................... 107

44. Bosveldwaatlemoene ....................................................................... 109

Page 5: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

5

1. My eerste herinneringe

Die eerste herinneringe wat ek van my bestaan het, is waar ek op die stoep van ons eerste huis sit. Dis ’n huis wat my oorlede pa vir hom en my ma gebou het op die plaas Tierkloof.

Daar het ’n tweespoor-grondpaadjie voor ons huis verbygeloop. Ek het baie keer op die stoeptrappie gaan sit en kyk na alles wat in die pad verbykom. Ek weet nie waar die pad vandaan gekom het nie. Ek kan net onthou dat daar ’n entjie verder met die pad aan mense gebly het wie se van Van Tonder was. Hulle het ’n bruin kar met groot ligte gehad wat weerskante van die enjinkap uitgesteek het. Die kar het onder ’n afdak gestaan wat agter teen die huis vasgebou was. Die kar was altyd met streepsakke toegegooi.

Nadat ek en die Generaal al verloof was, het ek eenkeer met my ouers oor daardie eerste huis en die werf gepraat.

“Jy kan niks van daardie huis onthou nie, want jy was maar agtien maande oud toe ons daar uitgetrek het en hoër op teen die berg gaan bly het,” het my pa gesê.

“Gee vir my ’n skoon stuk papier,” het ek gevra. My ma het toe haar skryfblok gaan haal. Op die eerste blaai het ek vir haar en my pa die huis geteken met al sy vertrekke. Ek het ook vir hulle die buitegeboue op die werf geteken.

By die agterdeur was daar ’n los gebou wat twee vertrekke gehad het. In die eerste een het my pa se trekdiere se tuie gehang. Ek weet glad nie wat in die tweede vertrek was nie. Aan die agterkant van die twee vertrekke was daar ’n sinkafdak waaronder my pa se windwielwa gestaan het. My pa het ook nog ’n ossewa gehad waarmee hy op die plaas gewerk het. Ek het baie saam met hom op die wa rondgery as hulle in die veld gaan pale saag en daarna op die wa gelaai het.

Daar was ook nog ’n rondawel wat so skuins agter die huis gestaan het. Daarin het hulle altyd die vleis bewerk wanneer daar geslag is. Ek kan tot onthou dat my pa eenkeer, toe hulle ’n vark geslag het, die ding se blaas vir my opgeblaas en toegebind het sodat ek dit soos ’n bal kon skop!

Nog verder agtertoe – veld se kant toe – was daar ’n dam met ’n krip. In daardie dam was daar ’n paar groot karpvisse. Ek kan onthou dat my ma die kastrol waarin sy pap gemaak het, daar uitgespoel het. Dan het die karps opgekom en die stukke pap kom vreet! Die honde het eenkeer by daardie krip ’n groot koedoebul gevang en vasgedruk. My ma het gou die .22-geweertjie gaan haal en die yslike koedoe net daar doodgeskiet.

Daarna het sy die groot geweer gaan haal en twee skote in die lug geskiet sodat my pa dit in die veld kon hoor en huis toe kom! Hy was baie bly oor die gawe stuk vleis wat sy vrou vir ons in die hande gekry het.

My ouers was baie verbaas toe ek al die dinge vir hulle sit en vertel. Hulle het nie gedink dat ek iets van die dinge sal kan onthou nie, want ek was te klein!

“Ja,” vertel ek hulle toe, “ek onthou dat Ma nie ’n likkewaan doodgeslaan kon kry wat die eiers opgevreet het nie. Ma het die ding met ’n stuk draad aan die afdak se paal vasgemaak sodat pa dit kon doodslaan as hy by die huis kom!”

“Ja wragtag,” het my pa gesê. “Ek onthou daardie ding ook nog!”

“Wat kan jy nog van daardie huis onthou,” wou my pa weet.

“Nie veel nie. Ek onthou dat ek eendag ma se naaimasjien se slinger gedraai het en dat die naald my deur die vinger gesteek het. Toe sit ek daar in die naaimasjien vas en ek skreeu dat dit bars!” Ek kan nou nog onthou hoe seer my vinger was!

“Ja, sê my pa. “Ons het toe jou vinger in die paraffien gedruk om die bloeding te stop!”

“Ja, ek onthou dit alles,” het ek gesê.

Page 6: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

6

Een van die ryk mense – die ou se naam was Tony – het daardie jare al ’n vliegtuig gehad. So eenkeer in ’n tyd het hy laag oor die huis se dak gevlieg. My ma het dan uitgehardloop na buitekant toe en op ’n oop stuk veld gaan staan. Die ou het dan sy draai gemaak en weer laag teruggekom en oor die plek gevlieg waar my ma gestaan het. Dan het hy ons pos in ’n wit sakkie uitgegooi. So het my ouers daardie jare hulle pos gekry, want hulle was ver en afgesonder van beskawing af!

Ek skryf maar die dinge neer, want ek kom agter dat ek noudat ek ouer word, party van die dinge begin vergeet. Dalk is dit eendag belangrik vir iemand om al die dinge te weet.

Vir ’n rede wat ek nie weet nie, het my pa ’n ander huis hoog op in die Tierkloofberge gaan bou. Dit was ’n rooi baksteenhuis. Daardie huis het misvloere gehad. My ma en een van die swartvrouens wat by ons gewerk het, het een keer per week die vloere met vars mis gesmeer. Hulle het die vloere die mooiste patrone gesmeer. Ek moes dan buite speel totdat die vloere droog is.

Langs die stoof het ’n houtkas gestaan. Dit was ’n vierkantige kas wat van Laurel-paraffienkas-planke gemaak was. Die bokant was oop. Saans het my pa hout gekap en die kas vol hout gedra. Deur die dag het my ma die hout in die kas gebruik om die vuur in die stoof te stook sodat sy die kos aan die gang kon hou.

Eendag was daar ’n slang tussen die hout in die kas. My ma het nie die slang gesien nie. Dit was ’n kobra. Hy het haar in die oë gespoeg toe sy hout uit die kas gehaal het om die vuur mee te stook. Dit was baie pynlik. My ma het uit die huis uitgestorm en geskreeu van pyn. Die swartvrou het my ma se oë vol beesmelk gegooi. Op dié manier het haar oë weer reggekom.

Terwyl ons in daardie huis gebly het, is my broer Nico gebore. Vir dié geleentheid het my pa my ma na my oom Piet Roets toe gevat op Ysterpan. Die plaas is naby Groenvlei en daar was ’n kraamsaal. Toe die tyd daar was, is my ma in kraamsaal toe en BroerNico is gebore. Ek en my pa het toe by oom Piet en tant Mina gebly. Smiddae het hy my met ’n kussing onder my boude voor op die fiets gelaai en kraaminrigting toe gery sodat hy vir my ma en my broer kon gaan kuier.

My oom Haddon en tant Drien het toe op Groenvlei gebly. Oom Haddon het op die laerskool skoolgehou. Daar was destyds – dalk vandag nog? – net ’n laerskool. Die groter kinders wat verder wou leer, moes Thabazimbi toe gaan vir hulle hoërskoolopleiding. Daar het hulle deur die week in die hoërskool koshuis gebly.

Julle Bosveldvriendjie groet julle uit die eerste jare van sy menswees.

Al op die baaisiekel en tussen die kobras deur

Matiempaan

Terugantwoorde

Dagsê

Ek het op ’n plaas Zonderwater 15 km van Ellisras grootgeword; ek onthou ook nog van kleintyd en ons eerste huis op Shotbelt wat vandag nog bestaan. Hierdie huis was op klip gebou en staan langs die pad na Oranjefontein waar Dewald Hattingh grootgeword het. Vanaf die klipplaathoogte tot by die loop van die Magol was dit seker 1 km. Toe ek klein was, het ek ’n haas gehad as troeteldier wat dood is onder die yskas. Seker van verlange. Die rivier was eenkeer so vol dat die hoogwater tot by die stoep gekom het. Dewald se ouma het aan die oorkant van die rivier gewoon laer af na Oranjefontein. Die enigste manier om by haar uit te kon kom was om met ’n boot oor die rivier te roei. Dit was altyd scary. Ek moes ook baie klein gewees het – nog nie in die skool nie.

Die slange en koedoes op ons voorstoep is eendag ook deur die honde huis toe gebring. Klink of ek en jy saam grootgeword het.

Ek onthou ons huise op die plaas baie goed. Lekker om van lang oud te onthou.

Sampie van Staden

Liewe Dominee

Page 7: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

7

Ek kan nie glo dat jy al die detail kon onthou en jy was so jonk nie. Ek kan slegs goed onthou vandat ek vier jaar oud was. Jy onthou dit in soveel detail.

Awesome

Lekker slaap

Erna

Thinus

Vroeër jare het jy so ’n dun plastiek gekry wat sag was. Dit het die mense as ’n kleedjie oor die kombuistafels gegooi. My pa en sy broer het bees geslag op Middelburg Kaap. Die bees is gedeel en dan het my pa met sy helfte teruggery Fraserburg toe. Die plastiek (soos hierbo) is dan in ’n Laurel-paraffienkas gesit en die vleis daarin gepak. Daar is dan ’n soutwatermengsel oor die vleis gegooi. Op dié manier is daar soutvleis gemaak. Elke 14 dae is die mengsel vervang om te keer dat die vleis smetterig word. So is vleis bewaar. Ek kan nie onthou van biltong nie.

Soos ek gesê het, die mense het planne gemaak om met min geld siel en liggaam aan mekaar te hou. Ons as kinders het nooit honger gely nie of koud geslaap nie en Fraserburg kon koud word.

Sout van die aarde

Groete

Hannes

Page 8: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

8

2. Tussen die plaas en die dorp

Dis mos nou in die jongste tyd my doel om my geskiedenis van kleintyd af neer te skryf. Nou doen my BroerNico presies dieselfde – waaroor ek bly is. Dis duidelik dat ons dieselfde dinge onthou, maar dat ons dit verskillend onthou. Dis logies dat dit so sal wees, want ons was bitterlik klein toe die dinge gebeur het waarvan ons al twee deesdae skryf.

Hy skryf in sy brief onder andere die volgende:

Nou wil ek graag vir julle vertel van hoe ver ek kan onthou.

My heel eerste onthou was dat ons langs ’n treinspoor gebly het, of gekuier het in sulke groen rondawels ’n ent buite Thabazimbi, maar dit was nie lank nie. Die mense het stry gekry omdat ons daar was en ons kon nie lank daar wees nie. Dit was naby die plek waar die karre oor die spoorlyn ry. Die plek was behoorlik met sifdraad toe. Ek kon nie uitkom na die treinspoor toe nie. Die treine was vrek groot, maar ek het die wete gehad hulle kan nie na my toe kom nie, hulle sit vas op hulle spore, hulle moet net daar ry en toe was ek nie meer bang vir hulle nie, maar hulle kon vreeslik, vreeslik fluit.

Die plek waarvan BroerNico skryf, was oom Joël Fourie se plaas.

Omdat ek letterlik van geboorte af ’n sieklike outjie was, moes my pa plan sien om naby ’n dokter te kom. Ons ouers was destyds arm – eintlik vrek arm. Wanneer hulle van Tierkloof af moes inry na Thabazimbi toe, het hulle maar die twee muile voor die karretjie gespan en pad gevat dorp toe. Ek kan onthou dat die een muil se naam Swartjie was. Die ander een se naam het ek al vergeet.

As hulle vir die een of ander rede nie met die muilkarretjie kon ry nie, het hulle elkeen op ’n fiets gery. BroerNico was toe omtrent al een jaar oud. Ons ouers het dan vir my en Nico in die kinderwa (oftewel ’n prêm soos dit destyds genoem is!) gelaai. Die stootwaentjie se wiele is

voor die tyd uitgehaal en behoorlik dik ghries gesmeer en weer teruggesit. My pa het die handvatsel van die stootwa agter aan sy fiets se saal vasgemaak. So is die twee dan op die grondpad in na Thabazimbi toe met die twee kinders agter in die kinderwa.

Iewers is daar ’n foto van my en BroerNico in die waentjie. Vreemde mense was so verbaas oor die arm mense wat so sukkel, dat hulle eendag langs die pad ’n foto daarvan geneem het. Hulle het die foto later vir my ouers gestuur.

As ek vandag so terugdink, weet ek dat ons geslag geen rede vir kla het nie. Daardie geslag het gely om te kon oorleef en om ons kinders die lewe te kon instuur.

Ek kan onthou van ’n groot ongeluk wat gebeur het voor BroerNico se geboorte. Daar was daardie jare ’n smal enkelbrug oor die Krokodilrivier. Dit was aanvanklik ’n brug wat geen relings gehad het nie.

My pa was al so halfpad oor die brug toe daar ’n motor van die ander kant af gekom het. Die motor se remme was onklaar. Die mense van daardie tyd het gesê die kar se brieke het gefyl!

Ek was al groot voordat ek geleer het dat dit eintlik remme was wat onklaar geraak het.

Die motor se bestuurder het een van twee keuses gehad: óf hy moes die wal af – en dit was ’n bitterlike hoë en regaf wal – óf hy moes maar in die muile injaag. Hy kies toe die laaste opsie.

My pa vertel later dat hy maar vinnig moes dink. Hy het my en my ma van die muilkar afgegooi en maar net die Here gevra dat ons lewendig onder sal kom. Daarna het hy die muile van die brug afgeruk en met die muile en die kar afgeval in die rivier in.

Soos my ma my op haar skoot houvas het, so het ons twee onder in die vlak water geval. Die wonderlikheid van die Here se genade was in daardie dag se dinge so duidelik te sien. Ons twee het niks oorgekom nie.

My pa het gelukkig weg van die muilkarretjie af geval sodat die muile en die kar hom nie lat val nie. Hy het glo net ’n seer rug en ’n klomp blou kolle gehad. Die muile het seergekry, maar later al twee heeltemal herstel. Die karretjie was glo ’n hele disaster! Die wiele het van die onderstel

afgebreek en die disselboom het ook afgebreek. Dis dalk juis dit wat die muile se lewens gered

Page 9: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

9

het!

Die motoris het ’n ent verder tot stilstand gekom en kom help. Hy het glo diep om verskoning gevra. Daardie tyd se mense was gelukkig nie haatdraend nie. Hy het toe met my ouers teruggery waar hy vandaan kom sodat ek by die dokter en die hospitaal kon uitkom. Daarna het hy my pa weer by die rivier gaan aflaai sodat hy die twee muile kon teruglei na sy plaas Tierkloof toe.

Ek weet nie wat van die karretjie geword het nie.

Die gebeurtenis het gemaak dat my pa toe besluit het dat hy en my ma liewer maar dorp toe moet trek met die sieklike kind. Hy het toe by Yskor gaan werk soek. Hy het werk gekry as ’n verkoopsman in die destydse Iscor Utility Stores se Naturelle-afdeling.

Hulle kon aanvanklik geen mynhuis kry nie. Alle huise op die dorp was daardie jare mynhuise wat aan Yskor behoort het. Toe huur hulle ’n buitekamer by oom Joël Fourie op ’n plaas naby Thabazimbi.

Elke dag het my pa met die fiets ingery na Thabazimbi toe om te gaan werk. Teen skemer saans het ons hom meestal by die treinspoor gaan inwag. Dan kon ons die laaste entjie op die fiets saamry tot by die huis.

Die plaas was by ’n plek wat destyds bekend gestaan het as Vlieëpoort. Tsetsevlieë het daardie jare gemaai onder die mense se beeste. Die wat dan met hulle waens van Rustenburg en Pretoria af gekom het, het hulle osse daar uitgespan en in kampe laat staan. Dan het hulle by die swartmense osse gehuur waarmee hulle verder noord getrek het. Die swartes se vee was gesout teen die tsetsevlieë.

Dis daardie huis van die Fouries waarvan BroerNico skryf. Hy is tussen die brugongeluk en die trekkery na die Fouries toe, gebore. Hy is heeltemal reg. Die trein se spoor het ongeveer honderd meter van die huis af gelê. Elke keer wanneer die trein daar verbygegaan het, het dit gefluit dat hoor en sien vergaan.

Die Fouries het ’n mak aap gehad. Die ding het los rondgeloop en my en BroerNico gereeld gebyt. Die dekselse aap was inderdaad een van die hoofoorsake wat gemaak het dat my ouers daarvandaan af weggegaan het.

Gelukkig het my pa juis toe ’n mynhuis op die dorp gekry. Die adres was Bergstraat 5. Later het my ouers hoër op teen die berg ’n huis gekry in 6de Laan 29. Daar het ons gebly tot November 1959 toe my pa-hulle Ellisras toe getrek het.

Julle Bosveldvriendjie groet julle – hy is nou al amper groot genoeg om skool toe te gaan.

Van huis tot huis

Matiempaan

Terugantwoorde

Beste Thinus

Dis is merkwaardig wat ons ouers deurgemaak het om ons groot te kry. Tye het darem vreeslik verander. Ek het ’n rukkie net na die rekenaarskerm gestaar nadat ek hierdie verhaal gelees het.

Groete

Nico van Niekerk

Liewe Dominee

Dit is baie lekker om jou kleintydstories te lees. Wag vir die volgende episode.

Liefde

Erna

Page 10: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

10

Thinus

Ek het so pas jou skets gelees; ons geniet natuurlik die sketse oor jou kleintyd baie. Dit laat my ook ver terugdink. Die deel van jou en broer Nico in die 'prêm' het my aan klein Ruben laat dink wat sy ouers verlede week so in die verleentheid gehad het. By die winkelsentrum naby hulle, teen skemertyd, het ’n man in ’n rolstoel gesit met ’n donasieblikkie in sy hand. Ruben het ’n R2 gekry om in die blikkie te gooi maar voordat hy dit ingooi besluit hy die geld moet eerder in sy eie spaarbussie kom waarop die man toe heerlik lag. Toe hulle uit die winkel kom is die man nog steeds daar en herken hy vir Ruben, vryf hom op die kop en sê hy moet lekker slaap. Ewe kontant antwoord die knapie die man “Lekker slaap oom in jou prêmpie.” Nodeloos om te sê dat sy ma en pa nie geweet het wat hulle getref het nie.

Dus, lekker slaap julle ook.

Groete en liefde

Annatjie

Thinus

Ek sê die anderdag vir ’n ou wat vir die ou SAS&H (hoeveel mense ken die afkorting?) gewerk het, dat baie mense wat in die ou rooibaksteenhuisies van die Spoorweë gewoon het, kinders die lewe ingestuur het as dokters en ingenieurs en wat nog. So was daar baie ander mense wat die sout van die aarde was, edel van inbors wie se kinders met vreugde en trots kan terugkyk.

Die groot nadeel vandag is dat die geskiedenis geskryf word met halwe waarhede en leuens om ’n saak te bewys. Die waarheid word vergeet.

Groete

Hannes

Page 11: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

11

3. Die tyd op Thabazimbi

Kleintyd is mos die romantiese tyd van mens se lewe. Dinge was dan mos verskriklik groot en alles was erger as wat ons dit vandag as grootmense ervaar. So was kleintyd op Thabazimbi ook.

My pa het sy eerste kar gekoop terwyl ons in die eerste huis in Thabazimbi gebly het. Dit was ’n 1938 Chevrolet. Die kar was groen en het groot ligte gehad wat langs die enjin vas was. Nou wonder ek meteens of die ligte nie dalk op die modderskerms vas was nie – dit wys hoe oudword jou beelde begin uitvee en die twyfel laat posvat.

Al wat ek van daardie huis kan onthou was dat my pa probeer het om matriek te slaag. Hy het saans na werk gesit en studeer. Hy het die een of ander kursus deur die pos probeer volg. Ek en BroerNico moes dan baie stil wees, want my pa kan nie leer as ons raas nie.

Die huis het sulke blink gepoleerde rooi vloere gehad. Agter in die erf het altyd ’n groot hoop hout gelê. My pa het dit opgekap sodat my ma die houtstoof daarmee kon stook. Ons plaasfamilie het altyd die hout gebring en kom aflaai. Van wie die hout gebring het en hoe dit afgelaai is, het ek geen idee meer nie. Iewers het ’n huilboom gestaan waaruit ek en BroerNico gereeld geval het. Ons het die boom geken as ’n huilbosboom.

Wat ek wel baie goed onthou, is dat my hospitaaltyd in daardie jare begin het. Ek kan nou nog die binnekant van Thabazimbi se hospitaal en elke vertrek baie goed onthou. Daardie jare was die hospitaal die gebou in die dorp wat die heel hoogste teen die berg op gebou was. Die dokters se twee spreekkamers en al die administratiewe kantore was op die onderste vloer.

Op die boonste vloer was die mansafdeling aan die een kant en die vroueafdeling aan die ander kant. Die trappe wat van onder af boontoe gegaan het, het die twee afdelings van mekaar geskei. Daar was soms selfs beddens op die hospitaal se stoep uitgestoot as daar te veel siekes was vir die paar sale.

Die dokters kon nooit mooi agterkom wat ek makeer nie. My gewrigte het geweldig opgeswel. Alles het gepyn dat ek later nie meer kon loop nie. Uiteraard het ek baie, baie skooltyd gemis as gevolg van die siekte.

Toe ek in standerd twee was, het die dokters my na Pretoria se spesialiste en hospitale toe gestuur. Daar het ek eers vir baie lank in die Beatrix Hospitaal gelê. Nog later het ek na die Andrew McColm Hospitaal toe geskuif. Daar het ek letterlik vir maande gelê sonder om my ouers te siene te kry. Hulle was te ver en te arm om gereeld na my toe te kom. Vriende van my ouers, oom Andries en tannie Elsa Fourie, het my maar altyd in die hospitaal besoek.

My pa het besef dat hierdie seuntjie van hom baie dom gaan word en akademies heeltemal gaan uitsak as hy nie iets daaraan probeer doen nie. Hy het toe met Damelin College kontak gemaak. Niemand sal weet wat dit hom in geld gekos het nie, maar ’n sekere mevrou Visser het elke dag hospitaal toe gekom en vir my kom skoolhou.

Een van die verpleegsters, Nellie Venter (ek wonder wat het van haar geword?), het nog vir baie jare nadat ek uit die hospitaal ontslaan is, met my gekorrespondeer. Staff Nurse Van der Woude het eenkeer met ’n ambulansman gereël dat hulle twee my na die Voortrekkermonument toe neem. By die hospitaal het hulle ’n rolstoel in die hande gekry en my die hele wêreld vol gestoot. My gewrigte was toe nog steeds so geswel dat ek nie kon loop nie. My arms kon ook nie op daardie stadium buig of reguit maak nie. Dit was op ’n hoek van negentig grade vasgeswel! Tydens die uitstappie het die twee weldoeners vir my roomys gekoop en my op elke manier probeer bederf. Dit was die lekkerste toer van my lewe!

Middel standerd vier is ek uiteindelik finaal huis toe. Ek het nog allerhande behandelings gekry tot ek in standerd agt was. Daarna was ek maar so ’n gesondheid-sukkelaar tot vandag toe. Maar, al loop ek net op drie silinders, loop ek dieselfde spoed as almal rondom my!

My ouers het al ’n hele ruk in 6de Laan 29 gebly voordat ek finaal huis toe en terug skool toe is.

Dit was ’n lekker tyd. Ek kan onthou dat ’n hele paar van die familie se seuns by ons kom bly

Page 12: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

12

het om hulle skoolloopbaan of hulle tegniese opleiding te voltooi. As ek reg onthou, het Lafras ’n rukkie by ons ingewoon voordat hy na die “Mes” toe verhuis het. Hansie van oom Tienie en Pieter van der Walt het ook ’n ruk daar by ons gebly.

Vir Pieter het ek altyd die grootste bewondering gehad, want jonk soos hy destyds was, was hy so sterk soos ’n leeu. Een aand het daar ’n inbreker aangekom. Toe hy nog dink hy breek in, het Pieter en Hansie hom opgeskraap. Hulle het hom dwarsdeur die dorpie gejaag tot naby die destydse lokasie. Hulle kon hom net nie gevang kry nie.

BroerNico onthou ook die tyd. Hy skryf daarvan die volgende:

Later kon ek onthou van ons huis in Thabazimbi en die groot kampe tussen die huise waar ons sprinkane gevang en gebraai het en die skuins rooi walle, waar ons op ons boude teen afgegly het en my ma en haar hoenders en die hokke se geskoonmaak en die haan wat ons geskop het en hoe ek en my ouboet hom vreeslik geveg het en geslaan het. Die slang wat kleintjies gekry het en die blikkie vol slangetjies wat ek gevang het en hoe kwaad my ma was. Die mense oorkant die pad se hond het die hoenders gebyt. My pa het hom met iets gevang, maar hulle was baie kwaad vir my pa.

Ek het nogal gedink dis slim van die Iscor plek om die mense nie teen mekaar te laat bly nie, die dat hulle sulke oop erwe tussen die huise gemaak het. Later het ek gesien die geweldige groot kampe tussen die huise was net twee treë breed. Die mense het mekaar altyd vreeslik beskinder, ooee ...

Ja, my ma het altyd iewers vandaan dagoudkuikens bestel. Ons het geglo die kuikens kom van Australië af. Golden Australorps? Waar kom kinders tog aan al hulle nonsens! Die jong hane is geslag en het een-een die pad gekry pot toe. Die mooiste haan is dan deur my ma uitgehou sodat die henne kan lê”! Vandag dink ek darem baie diep oor daardie stukkie van my ma se geloof. Dalk wou sy maar net nie dat die henne afgeskeep voel nie – of so iets.

Daardie hane het almal die een of ander tyd begin skop. Ek en BroerNico moes elke Saterdag die hoendermis onder die hoenders se slaapstellasie skoonmaak. Een van ons twee moes mis bymekaarmaak en die ander een moes die haan slaan. So het ons om die beurt die werk in die hoenderhok gedoen.

Natuurlik was my ma so heilig op die ellendige haan dat sy ons gereeld geklop het as ons die haan seergemaak het. Eendag het ons twee ons kans met die haan gekry. My ma was weg iewers heen. Ek en BroerNico het elkeen ’n lekker dik stuk swart tu inslang in die hande gekry. Met hierdie wapens is ons twee in die hok in.

Die haan het ons dadelik bestorm. Ons moes onsself verdedig – toe slaaaaat ons daai blêddie haan. Hy het later in een van die neste gaan probeer wegkruip, maar ons looi hom! Hy het nooit weer met ons gesukkel nie, want hy het kort daarna gevrek.

Die probleem was net dat die ding se kop taamlik dik geswel was toe my ma tuiskom. Hy het toe nog gelewe! Sy was nogals slim, want sy het dadelik gesnap watter ellendes die haan oorgekom het. Ek moet konstateer dat sy ons twee toe behandel het soos ons die haan behandel het. Ek het later by myself gedink: “Haantjie, wag vir ons. Ek en BroerNico is op pad saam met jou!”

Julle Bosveldvriendjie groet julle met die beeld van die geswelde hoenderkop helder voor sy geestesoog!

Van hoender tot hoender

Matiempaan

Terugantwoorde

Goeienaand Thinus

Ja man, in die 38 Chev het ek ook maar saamgery; oorle Pa-hulle het die two-seater gehad. Hy het ’n agtersitplek ook gehad wat soos die latere bagasiebak oopgemaak het. Die twee kopligte het op die modderskerms gesit en sy “bonnet” het weerskante oopgemaak en dan opgeklap. Die “starter” het in die middel van die kar gesit in ’n

Page 13: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

13

halfmaanvormige yster met ’n rubberknop op in die middel. Jy moes die kar altyd in “neutral” sit op om hom te “start” en die handrem was so ’n blink yster met ’n “lever” wat jy dan agtertoe moes trek sodat die kar staan, en wat jy ingedruk het as jy die handrem wou losmaak.

Die agterste lig het aan die regterkant gesit wat ook dan die nommerplaat verlig het. Die linkerkantse modderskerm het twee oulike trappe gehad soos jy nou opgeklim en dan in die bagasiebak, sal ek nou sê, gaan sit het. Die sitplek was ’n lieflike swart kussing en rugkussing gewees. Dit was altyd lekker om daarin te ry, maar as dit gereent het of in die winter was dit beslis nie lekker nie. Die ruitveërs het op die inlaat van die vergasser gewerk; as die kar nou lekker gelyk loop dan werk hulle dat hulle bars en as die kar trek teen ’n bult op of daar word vet gegee dan het hulle maar so stadig gewerk dat jy jou voet van die petrolpedaal moes haal. Langs die kante van die kar het hy so ’n trap gehad.

Ons ry eendag Carolina toe en net voor jy die dorp inkom staan daar toe die spietkops. “Vandag is daar pêre,” sê my pa.

Die man stop ons; hy sê: “Oom, ek wil net die handbriek toets.” Die man was lank. Nou moet my pa ry en dan die rem aantrek. So gedoen! Die man val amper van die trap af!

“Ou maat,” seg hy toe, “julle kan maar ry.”

Toe ons weg is, so 100 voet van die ou af, sê my oorle pa: “As hy korter was sou ons boete gekry het vandag.”

My ma vra: “Nou hoe dan?” My pa sê: “Ek het die briek ook getrap!”

Ja, daardie ou ligte het mos ook gewerk van die “generator” – as die kar ry dan is die ligte nogal skerp, maar as hy staan en “idle” dan was ’n paar kerse helderder as die ligte. Ons ou kar was pikswart, maar dit was ordentlike verf daardie tyd.

Later jare het my pa toe agter die sitplek voor in die kar so ’n bankie gemaak waarop ek kon sit; dit was toe heel lekker. Ek was in die laerskool – as ek reg onthou standerd vier – en ons was op pad huis toe terug van die kerk. My pa hou stil. My ma vra: “Wat is dit nou?”

Hy loop om die kar en sê vir my: “Ry, man.” En daar trek ek toe heel goed weg en verander die ratte van “first” na “second” en dan na “top” en hou so spoed van 30 myl per uur op die grondpad. My ma, ewe verbaas, wil net weet wie het my geleer. So droogweg sê my pa: “Maar ek het gesien die kind kyk altyd wat ek doen.”

Daardie Maandagoggend toe my neef en ek met die trappie skool toe ry, toe kan die man darem lekker “brag” by die ander seuns dat ek my pa se kar bestuur het.

Nou ja, ou Thinus, so gaan die tyd en pad verby en voor ons weet dan lê ons op onse rug en rus vir ewig. Baie groete daar by die huis en jou kinders so ver.

Koos van Memel

Goeienaand Martiens

Vandag was dit weer oumensdag op Vivo. Behalwe vir oom Gert en Hettie was ons voltallig. Dit was oom Gert-hulle se eerste byeenkoms wat hulle sou bywoon nadat hulle oudste seun Klein Gert met ’n geweer verongeluk het. Die hele Bosveld was in rou oor sy tragiese dood. Ons bos is ook al byna leeg gekap, want ons was net elf. Ek en die vrou is gelukkig dat ons ook op Dendron betrokke is. Piet Steyn en Ina is ook daar en ons gesels oor onse pa’s en hulle portuur en oor die wonderlike reënjaar. Party plekke het sedert Februarie 800 mm reent gehad.

Sê Piet: “Hier langs die berg, net anderkant Mara, het oom Koos Wallice gewoon. Nadat hy die polisie gelos het, het hy daar gaan woon. Hy het ’n dorsmasjien gehad wat kafferkoring kon dors. Beleefdheidshalwe noem ons dit maar graansorgum. Dit was ’n hele operasie om daardie masjiene aan die loop te kry. Die enjin was ’n Suiderkruis wat seker driekwart ton geweeg het maar net ses perdekrag gehad het. Dan was dit ook nog baie lui perde. Die enjin het ses honderd revolusies per minuut geloop. Was pikswart van die olie en het swart en blou gerook afhangende van hoe vinnig die dorsmasjien gevoer is. Die masjien het ’n “sigaret” met die gloeikant by die inlaatkant gekry – om die inlaatlug bietjie warm te maak. Nou word daar slinger gedraai en aan die dryfband getrek. Elke keer as hy oor kompressie gaan dan “ghoef” hy en spoeg so ’n blou wolkie rook in die oggendlug in. Maar spoed vang hy nie. Hou jy op trek, sê hy net: Ghoef ...ghoef...ghoef...ghoef...toeng... soos hy in sy binneste skop. Dan draai daar so ’n blou wolkie rook op sy uitlaatpyp wat in die stil oggendlug stadig wegdryf. Teen die tyd dat almat natgesweet is en die sigaret klaar gerook is, sê hy: Kedoef...kedoef...kedoef... doef...doef..doef, doef-doef – ritmies en gelyk asof hy nooit gestaan het nie.

Baie oggende is die koring wat op ’n hoop gery is nat gedou en aangeklam, dan kan ons nie vroeg begin nie. Dan sit ons voor die stoof en warm maak en koffie drink, en dan het oom Koos tyd vir sy stories. Selfs my sussie verlaat haar warm bed om te kom luister:

“Toe ek nog ’n polisieman was, het ons hier van Mara af gepatrolleer tot by Kloppersfontein waar vandag wildtuin is om te kyk dat daar darem nie te veel gepoutsj (daar kan tog nie ’n ander woord bestaan nie – wildsteel val nie reg op die oor nie) word nie. Die safari het uit polisiemanne, helpers en meelopers bestaan. Pakdonkies, muile en die sersant ry op ’n gesoute perd. (’n Gesoute perd het perdesiekte oorleef.) So ’n safari het maande geduur. By Kloppersfontein vang ’n leeuwyfie een van ons donkies. Ek skiet haar toe. Maar ons sien dat sy melk in haar spene het. Baie spyt dat ek haar geskiet het, soek ons daar rond en kry drie klein welpies, nog nie twee weke oud nie. Ons vleg toe ’n mandjie van mopanielote en -bas en sit hulle daarin. Ons haas ons toe na Mary Coock se plek toe om beesmelk vir die klein leeutjies te kry (seker vandag se Sibasa). Dit was ’n hotel, losieshuis, eetplek of drinkplek vir verbygangers en transportryers, want dit was op die roete na Lourenco Marques toe.

Page 14: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

14

“Daar gekom wag ons om kos te kry. Die welpies lê daar in hul mandjie en wag vir die aand as daar gemelk word. Mary Coock het so ’n langbeen, langstert, langbekhond gehad. Die Ingelse het mos altyd ’n soort “pedigree”-hond gehad wat volgens hul uitsprake alles wat voorkom sal verskeur en opvreet. Lê die hond daar en kry hy ’n reukie wat sy instink vir hom gevaar voorspel. Hy staan op, vou sy stert tussen sy bene in dat die punt op sy nael druk. Rys sy hare. Strek sy bek so ver moontlik vorentoe en stap voetjie vir voetjie snif-snif, snif-snif, na die mandjie. Toe hy oor die rand loer, spoeg een kleintjie “tsjiii” soos ’n kat. Die hond vlieg daar weg en die laaste wat ek van hom gesien het, was sy portret wat hy in die gaas van die stoep gehardloop het soos hy gevlug het!”

Die koring was droog en ons kon begin masjien draai.

Groetnis. Ons 2 D+W

Liewe Thinus

...van silinders gepraat. Ek kan dalk net byvoeg dat jy selfs baie vinniger loop as ouens wat veronderstel is om vier, ses of selfs agt silinders te hê.

Liefde

Nora Rossouw

Liewe Dominee

Dit was nou oulik. Ek kan dink hoe snaaks dit moes gelyk het wanneer julle daai hok bekruip. Ek het die rol van boervrou baie geniet, behalwe vir die hoendervoerdery. Ek kon dit nie hanteer as hulle op die voeremmers spring en hulle vlerke klap, terwyl ek dit vashou nie.

Om vir sulke lang tye so siek te gewees het en nog alleen te wees was seker erg. Dink dit is hoekom jy soveel deernis vir die siekes het.

Liefde

Erna

Page 15: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

15

4. Modderpan

Die eerste plaas wat my pa gehad het, was Tierkloof. Dit was naby Northam – tussen Thabazimbi en Rustenburg. My oupa het die landmeter van Rustenburg af laat kom om die plaas vir my pa af te meet. My pa wou mos gaan leer. Ds DN Kotzé het ook met my oupa gaan praat en probeer oortuig dat my pa verder moet gaan studeer. My oupa het egter vas geglo dat die antichris deur geleerdheid kom. Hy het geweier dat sy kind ook deel word van die antichristelike magte (ha-ha-ha!)! Toe het hy vir my pa die plaas gegee dat hy kan werk en uit die kwaad uitbly. Soms kan ek my voorsate se koppe en die werking daarbinne regtig nie verstaan nie!

Nadat my pa en ma Thabazimbi toe verhuis het sodat ek naby ’n dokter kan wees, het hy sy plaas Tierkloof verkoop en ’n ander plaas gekoop. Ek dink hy en oom Tienie het die plaas Modderpan saam gekoop. Oom Tienie het die een gedeelte gehad en my pa die ander gedeelte. As ek reg onthou (daarvoor moet ek diep in my kindergeheue wat na grootmensgesprekke geluister het, rondgrawe!) was my pa se deel 500 morg.

Naweke het my pa dan uit die dorp uitgekoers na die plaas toe. Ek weet nie presies wat alles daar aangegaan het nie, want daardie tyd was ek die meeste van die tyd in die hospitaal wanneer hulle daar gaan werk het.

BroerNico het in ’n brief die volgende vir my geskryf:

Verder kan ek van Modderpan onthou en baie dinge op die plaas, van houtkappers, van diep uitgetrapte bees-paadjies en van die weerlig wat sewe van my pa se beeste by die een boom doodgeslaan het. Van die drein vir die huis en die vreeslike groot pampoenranke en die slang in die ranke. Ons het elke naweek soontoe gegaan en my pa het vir my ma ’n huis gebou en toe ’n draad tussen ons en oom Tienie se huis gespan, maar die kleigat was in oom Tienie se grond waar ons klei vir die kleiosse kon kry. My pa en oom Tienie se trekker moes hulle altyd met die donkies aan die brand trek, klomp donkies – hulle was sommer so lang tou. Die trekker het twee wieletjies so styf teen mekaar gehad voor, ’n rooie, maar die plate wat die enjin moes toemaak was stukkend.

Ek weet my pa het ’n klompie beeste daar aangehou. Ek kan ook onthou dat die hele spul eens op ’n tyd stywe-siekte gekry het! Dit was toe as gevolg van die klomp visse wat in die dam was waarvandaan die krip drink-water vir die beeste gekry het. Dit was ook ’n klomp ellendes om al die visse uit die dam te kry. My pa moes maar later die dam laat leegloop.

Dit was ellendes! Ek was daardie keer daar! Ons moes die slik en gemors in emmers opskep en oor die wal uitgooi. Daarna moes ons die dam skoon was met borsels. Dit was byna ’n hele week se werk om dit alles gedoen te kry. Ek was saans so vies vir my eie lyf wat met die slymerige en vaal gemors besmeer was dat ek iets wou oorkom. Alles het niks gehelp nie – ek moes maar my beskeie deeltjie gaan bring.

BroerNico is vier jaar jonger as ek. Die klein klits het die hele tyd net probeer om die visse te vang wat in die vlak water rondgespartel het. Die spul vissies het my ma vir ons skoongemaak en sterk gesout. Daarna het sy dit in ’n pot warm (letterlik kokende!) varkvet gebraai totdat dit droog en krakerig was. Ons het dit dan geëet soos wat mens deesdae se kaaskrulle of Simba tjips eet!

Dit is juis by die krip langs die dam waar die beeste kom suip het, waar daar eendag byna groot marakkas was. By die bopunt van die krip was daar so ’n dik kol groen gras. Die welige gras was natuurlik omdat die krip daar ’n lekplek gehad het en die grond vir die gras lekker klam gehou het.

Ek en BroerNico was weer eendag daar aan die visvang in die krip. Ons het so ’n ou visnet gehad wat ons gebruik het om heen en weer deur die krip te sleep. Ons het nogal werklik van die visse gevang gekry en vir my ma aangedra om te bak. Ek was toe so elf jaar en hy was sewe jaar oud.

Hy het later moeg geword van al die stanery in die son as ek hom nie genoeg beurte gegee het

Page 16: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

16

om ook met die net te probeer vang nie – toe gaan sit hy maar plat op sy boude daar op die groen gras.

Gelukkig kom my pa en ma toe net daar aan.

“Iets roer hier onder my,” sê BroerNico.

“Moenie roer nie! Sit doodstil!” sê my pa en hy gaan vinnig na BroerNico toe.

My pa het gesien wat aan die gang is. In daardie pol gras het ’n pofadder opgekrul gelê. BroerNico het bo-op die slang gaan sit. Hy het die slang eintlik heeltemal plat gesit. Een van die kronkels het losgekom onder een van die outjie se boude uit – en dis wat my pa toe gesien roer het! BroerNico het die slang se kop so vas gesit dat die ding nie kon pik nie!

My pa het die mannetjie aan die hand gegryp en met een pluk van die slang afgeruk en sommer baie ver van die slang af vir die eerste keer laat grondvat. Natuurlik het die slang toe sy Moses raakgeloop, want my pa en ma het hom so gou doodgeslaan dat hy skoon vergeet het dat hy ooit gelewe het! Ons het almal gevoel dat dit ’n noue ontkoming was.

Destyds het my pa ’n man gehad wat vir hom gewerk het. Sy naam was Andries. Hy het ’n stywe heup gehad van ’n donkie wat eendag sy heup afgeskop het. Die ou het so ’n maer hond gehad.

Eendag stap hy en my pa deur die omgeploegde land. Daar spring toe ’n haas tussen die kluite uit en hardloop dat dit bars oor die los grond. Ou Andries se maer hond skraap dadelik die haas op, maar hy verloor die reisies heeltemal. Die haas hardloop skoon onder hom uit en verdwyn aan die kant van die land in die lang gras in.

“Sies, Andries,” sê my pa, “jou hond is te sleg om ’n haas te vang!”

“Nee,” sê die ou, “die oubaas is nou glad nie reg nie. Daar is ’n groot verskil tussen my hond en daai haas. My hond het gehardloop vir sy brekfis, maar daai haas het gehardloop vir sy lewe!”

Dis wraggies hoe die lewe ook is. Party draf net saam om hulle mae vol te kry en ander veg vir oorlewing!

Julle Bosveldvriendjie groet julle uit die nat koue reën wat nou al drie dae lank hier in die Kaap val.

Van dam tot dam en van brekfis tot lewe

Matiempaan

Terugantwoord

Martiens

Dankie vir jou briefie. Eintlik het ek gereken dat ek jou nie met onnodige pos wou belas nie. Maar aangesien dit by jou welkom is, sal ek “maar so voort doe”. Dit gaan vir my daaroor dat daar baie stories oor Suidwes, Noord-Kaap, Boesmanland en Namakwaland is. Oor ons eie Bosveld wat teen Mosambiek begin en teen Botswana in die weste eindig, is daar net soveel en kostelike stories. Maar dis nêrens geskryf nie. Die omstandigheid en gebeure sal nooit weer wees nie. Ek het dit vir jou gestuur met die hoop dat dit iewers sal vashaak. Nou lyk dit my jy maak iets daarvan. Dankie.

My sussie Nakkie vanaf Windhoek kuier hier vir ’n paar dae by ons. Sy laat val iets en skrik en sê: “Hiert jou Oertel!” Dit is ’n woord wat ek net by die Roetse gehoor het. Het jou ma dit ook gebruik?

Wessel van tant Mina was maar ’n woelige knaap en sy het hom altyd gedreig met: “Wessel, jou Oertel, ek trek nou-nou jou gatvelle af.” Wat maar al die jare net ’n liefdesdreigement gebly het.

Oom Niklaas, later het hy Niek geword – ook maar iets met die naam-geëry van die vrouens te doen – was een van die jong ooms in die familie wat vir my baie groot en sterk en dapper was. Hy was altyd opgeruimd en het sing-sing agter die koeie of kalwers geloop. Altyd lagplooie om die oë. Lag in sy oë. Spitsvondig op sy eie manier.

Vertel my pa, het hy een winterskoolvakansie vir hulle op Leeudrif aan die Krokodilrivier kom kuier. Sit hulle in die tent, met die tentflap toegeryg, dit was maar koud. Tant Driena was ook daar. Aangesien hy die jongste was, stuur hulle hom om ’n graaf vol soetdoringkole te gaan haal. Die kole staan in die middel van die tent in ’n konka. Toe hy so buk om by die tent uit te gaan, spring daar ’n knor by sy broekspyp uit wat die tent laat bewe. Spring hy op en kyk tant Drien aan en sê: “Aits, hoe poep hierdie merrie, ek sal haar môre moet sny (kastreer).” Vir die res van die aand

Page 17: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

17

moes hy maar buite by die vuur hom sit en warm maak. Sou tant Drien hom in die hande gekry het, het sy hom nek omgedraai.

As jy mooi dink en oplet, sal jy sien dat die werfhoender soos ’n goue draad saam met die Roets-familie loop. Pap en gebakte eiers vir more-ete. Gekookte eiers met toebroodjies. Roereiers met vark-kaiings in die winter. ’n Lekker vet gekookte hen vol eiergele met geel kerriesous en klein aartappeltjies en stampmielies vir Sondag. Die koue hoender as mens langs die pad stilhou om te eet. ’n Roets en werfhoender was voorwaar sinoniem.

My wêreld het destyds by Thabazimbi begin en oor Groenvlei by Leeudrif geëindig. By ooms Piet, Andries, Wiltjie, my pa en oom Hans de Jager (de Jaaer) was oom Niek as Knewel bekend. Eintlik het ek hom as oom Knewel leer ken. Kuier hy weer by ons maar hierdie slag by die huis. Sit ons aan die eettafel toe skreeu die hen wat onder ’n knoppiesdoringbos broei. Pa gryp die lantern en daar gaan hy met Ma agterna. Aangesien die vertrek toe donker is, is die volgende oom Knewel, dan ek en dan sus Petro agterna. Daar gekom lê die slang met sy kop onder die hen – seker besig om nog ’n eier in te sluk. My pa krap hom met besem, wat hy in die verbygaan gegryp het, onder die hen uit en slaan hom dood. Oom Niek besluit om te voel hoeveel eiers daar nog onder die hen oor is. Met dié dat hy sy hand onder die hen insteek, sê my pa vir hom dat hy moet pasop daar kan net sowel nog ’n slang onder die hen wees. Net gesê, pik die hen hom op sy hand. Hy skrik en ruk sy hand weg. Stadig vorm daar bloeddruppel-tjies op twee ewewydige skrapies op sy hand. Almal besluit dis ’n slang wat hom gepik het. Ons haas huis toe. Sit oom Niek se hand in lampolie om die gif uit te trek. Ons almal kry suikerwater en moet ’n draaitjie gaan loop. Oom Knewel is bleek en die sweet slaan hom uit. Ons almal sit en wag dat oom Niklaas moet doodgaan. Niks gebeur nie.

Naderhand sê my pa: “Knewel, gee bietjie jou hand hier laat ek sien. Nee man, hierdie krapmerk is deur die knoppiesdoring gemaak. Die twee merkies is gans te naby aan mekaar. Bowendien, hoekom swel jou hand nie?”

Oom Niklaas sit die hand so en bekyk en sê net: “Wragtag.”

Almal begin gelyk te lag en te praat. Die paar minute wat oom Niklaas besig was om dood te gaan was voorwaar die benoudste paar minute in ons lewe.

Groete van ons 2

D+W

Page 18: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

18

5. Thabazimbi se hond-episode

Tussen die huis en die straat aan die agterkant van ons huis in 6de Laan, in Thabazimbi, het my pa vir my ma twee hoenderhokke gebou. In die eerste hok het sy die kuikens en die jong hoenders aangehou en in die tweede een was die groot hoenders – dis nou die henne wat moes lê en die haan wat hulle moes aanspoor om eiers te lê.

As ek nou so terugdink, dan wonder ek of daar in daardie jare ooit iets soos ’n gesondheidsinspekteur was. Ek weet van absoluut geen gesondheidsreëls wat daardie hoenderhokke moes nakom nie. Vandag sou die higiëne wat daar geheers het, groot opslae gemaak het. Dit was ook algemene gebruik dat mense hulle eie hoenders aangehou het. Feitlik elke tweede huis het sy hoenderhok tussen die huis en die straat gehad.

Mens moet mos verwag dat al die verskillende mense se soorte troeteldiere ook nie noodwendig in die grootste vrede met mekaar moet saamleef nie. So het my pa-hulle een nag wakker geword van hoenders wat skreeu en tekere gaan. Teen die tyd dat hulle by die deur uitgekom het met genoeg klere aan, was die koeël klaar deur die kerk.

By die hoenderhok was daar chaos. Die hoenders het die hele hok vol gefladder. Oral waar die flitslig se straal rondgeskyn het, het vere rondgedwarrel in die naglug. Op die grond onder die stellasie was daar twee dooie hoenders en een hoender was skoon weg! Die rower is daarmee vort.

Nadere ondersoek is gedoen. In die draad het iets ’n gat gemaak – ’n groot gat – sodat daar ’n hond kan deur.

Die volgende dag bespreek my pa die saak met die buurman oorkant die straat. Die ou se van was Dicks. Hy en my pa het saam gewerk. Hy het so ’n kort, swaar en stewige wit hond gehad. Die hond het so ’n rooi kol oor sy een sy gehad. Daardie hond was regtig pedigree, want hy het die bloed van letterlik alle soorte honde wat daar destyds in Thabazimbi rondgeloop het, in sy are gehad.

Die meneer Dicks was eintlik ’n Engelsman. Hy het my pa verseker dat my pa hoegenaamd nie sy hond van hierdie gruweldaad mag verdink nie. Sy hond is goed opgevoed en hy kry genoeg kos. Hy staan persoonlik daarvoor in dat die hond elke nag die heel nag by die huis bly. Sy hond is die beste waghond wat daar in die hele dorp is.

My pa het die gat reggemaak en daardie hele sy van die hok ook nog versterk teen die ongedierte wat die gat deur die sifdraad gemaak het. Die oefening was eintlik tevergeefs, want daardie nag was dit dieselfde storie. Die hoenders het laat in die nag begin skree en fladder. ’n Paar vrektes lê in die hok rond en een hoender is weg. En my pa was weer te laat om die hoenderdief te vang.

Die situasie het krities geraak, want die nagtelike verskrikking het gemaak dat die hoenders opgehou het om te lê – en daarby is hulle getalle ook aansienlik uitgedun.

Omdat my pa en die buurman saam gewerk het, is die hoenderdiefstal vanselfsprekend weer bespreek. Die buurman bied toe vir my pa sy leeuslagyster aan. My pa sê nogals vir die ou hy moet liewer maar daardie nag sy hond goed toemaak, want die dier wat in daardie slagyster gaan beland, gaan wraggies seerkry! Die slagyster is daardie aand laterig met die grootste sorg opgestel en liggies met droë gras toegemaak. My pa het die veld mos geken en geweet hoe mens die soort van dinge doen!

Net na middernag is daar meteens ’n geraas wat klink soos gille van smarte wat deur die dorpie se naglug klief.

Die gille of skreeue of watse geluide dit ook al was, was glo die ergste wat ooit daar rond gehoor is. Almal in die buurt het toe al van die hoenderdief gehoor, want my ma het dit wyd en syd uitgesaai. Sy het vir almal wat wil hoor en nie wil hoor nie vertel dat daar iemand is wat nie sy hond kan oppas nie en dat my pa daardie hond nog gaan vang en doodmaak.

Dit was dus niks ongewoons dat feitlik almal wat in daardie buurt woon binne minute in hulle

Page 19: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

19

nagklere by ons hoenderhok gestaan het nie. Meneer Dicks was eerste daar! Almal het gesien en gehoor hoe die wit hond met die rooi vlek hopeloos in die leeuslagyster vassit en skreeu van angs en pyn.

Die situasie was so erg dat die buurman sy hond sommer net daar in die slagyster doodgeskop het, so kwaad was hy! Hy is met sy dooie hond en sy leeu-slagyster huis toe. Dit was die einde van die vriendskap tussen hom en my pa. Hulle werkspanning was dan ook een van die redes waarom my pa daarna na Ellisras toe verhuis het.

Die leeuslagyster was ook nie weer nodig nie, want daarna was daar nie weer iets wat die hok gebreek en hoenders gesteel het nie! Wil jy nou meer.

Dit het die geskiedenis my geleer: As jy nie jou diere kan oppas nie, gaan jy nie in jou onmiddellike omgewing goeie vriende maak nie.

Julle Bosveldvriendjie groet julle uit die Kaap waar sy bure se katte hom verpes, want hulle is orals op sy erf – terwyl ek juis geen kat aanhou nie omdat die Generaal dodelik allergies is vir kat- en hondehare.

Van slagyster tot slagyster

Matiempaan

Terugantwoorde

Hallo Thinus

Dit wil my byna aan Haman en Mordegai laat dink. Pleks die man vir homself kwaad is, haal hy dit toe op jou pa uit. Sy kop het kwaai geraas!

Groetnis

Geert

Liewe Dominee

Die man was seker erg verleë. Dit sê nie dat jy nie ’n ou boelietjie kan leen om die lastige katte skrik te maak nie.

Lekker middag. Ek geniet die reën op die sinkdak. Laat my verlang na die plaasdae as ek die reën so oor die veld sien aankom in sulke vlae.

Liefde

Erna

Hallo Martiens

Oulike hoenderstorie. Vertellings uit die verlede laat altyd half vergete gebeure weer ontwaak. So 20 treë van ons agterdeur op Ysterpan was daar ook ’n saamgeflanste hoenderhok wat ook maar opgeslaan was om net sy doel te dien om skuiling vir die hoenders te gee gedurende die nag, want in die dag het die hoenders op die werf rondgeloop. Dit was ook nogal ’n kuns om die eierneste te kry waar die henne lê. Omdat min van die henne in die hok se neste eiers gelê het, het die meeste onder maretla(kruisbessie)- en doringbosse gaan nesskrop. Die ou mense het dit weglêneste genoem en dit was ons kinders se taak om hierdie neste te kry, want as die hen genoeg eiers gelê het, begin sy broei en kom nie vir die nag in die hok slaap nie en word uiteindelik jakkals- of ratelkos.

Ek was seker so 5/6 jaar oud toe daar een nag ook hoenderalarms in die hoenderhok afgegaan het. Ons het almal versigtig na die hok gestorm, want op Ysterpan het jy nooit geweet wat regtig in die donker aangaan nie en met donkermaan kan dit baie donker wees, jy kan regtig nie jou hand voor jou oë sien nie. My ma ook versigtig aan die voorpunt met die lampolie-lantern want die flits (toorts) se batterye was pap (dood) – het ook nie meer gehelp om die batterye in die oond op te warm nie. Die batterye-in-die-oond-bakkery het partykeer gehelp dat daar weer ’n bietjie lig is.

Tog verbasend hoeveel lig ’n lantern kan maak met donkermaan, maar die sigafstand is nie veel treë ver nie.

My ma probeer in die lanternlig om te sien deur die sifdraad wat in die hok aangaan; ons hou maar veilige afstand want die gedoente klink nie goed nie. Ma sien toe niks van buite nie en besluit om in die hok in te gaan. Ma was daardie dae goed gebou en moes so dwars deur die hek skuifel. Ons staan ’n paar treë terug toe ma in die hok verdwyn. Skielik is daar ’n vreesaanjaende gil bo die gekekkel en rumoer van die hoenders. Voordat ek nog kon omdraai om weg te hardloop toe sien ek hoe Ma die hekpale oopstorm en met die hek half oor haar een skouer aankom met die lantern steeds in haar hand vasgeklem en, die lang gil “Slaaaaaang!” sal ek nooit vergeet nie.

Page 20: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

20

Wie eerste op die agterstoep was weet ek nie. Dit was toe ’n bakkop/rinkhals, ’n grote natuurlik vir my op daardie stadium. Die slang het na my ma gespoeg, gelukkig teen die lantern wat sy voor haar gehou het. Die slang se beweegbaarheid is ook gekortwiek deur die drie eiers wat hy alreeds ingesluk het. Die broeihen wat op die eiers gesit het, is deur die slang gepik en daaraan dood; een haan en nog twee henne is ook doodgepik. Die slang is natuurlik doodgeslaan nadat die groot skrik so ’n bietjie bedaar het. Dit was nie so moeilik nie omdat die slang nie so lekker kon beweeg met die eiers wat so knoppe gestaan het in sy maag nie.

As ek weer so voel vertel ek jou meer van al die ander nagtelike eskapades en ervarings met ratels onder die hoenders, springhaas-, ystervark- en koedoejagtery.

Groete

Niekie

Page 21: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

21

6. Goljuitertyd

Elke kind het seker maar ’n oom en ’n tannie wat effens nader aan hom is as die ander ooms en tannies. Ek was geen uitsondering op hierdie reël nie. Oom Niek en tant Anna – oftewel Tanna, soos ons kinders haar genoem het – het naby Groenvlei geboer. Later jare het die plek ’n nuwe naam gekry. Almal het dit toe vir ’n rede wat ek tot vandag toe nog nie weet nie – Sentrum genoem.

Die twee het nie kinders gehad nie. Daar was ’n hele paar van ons familiekinders wat hulle maar as ons tweede stel ouers aangeneem het. Onder die familie van Tanna se kant af het ek en Rudi en Irma groot dele van ons kindertyd by oom Niek en Tanna op die plaas deurgebring.

Hy het ’n woord gehad vir ’n jong knaap – soos wat ek aan die begin van my hoërskooltyd was. Hy het ons goljuiters genoem. Ek weet nie waar hy aan die woord gekom het nie en ek weet

ook nie wat dit beteken nie. Ek moet ook eerlik wees, hy was nie die enigste grootmens wat dié woord vir ons jongmanne gebruik het nie.

Soos dit was, het ek gereeld by hulle op die plaas gaan kuier. Heel aan die begin het ons op Thabazimbi gebly. Dan het my pa my met sy groen 38-Cheffie na oom Niek-hulle se plaas toe gevat en na die skoolvakansie weer kom haal.

Saans is daar vir my bed gemaak reg onder die groot horlosie wat in hulle sitkamer teen die muur gehang het. Ek het altyd snags gelê en luister hoe die horlosie die kwartiere met drie opeenvolgende deuntjies afspeel en elke uur die hoeveelheid slae slaan. Iewers het die reëlmatige tik-tak van die horlosie my droomland toe gestuur.

Vroeg smôrens kon jy Tanna hoor psalms sing terwyl sy die stoof skoonmaak en vuur maak vir die nuwe dag.

Daarna het sy die werf gevee met ’n takbesem terwyl die water kook en die pap gaar word. Dis asof hierdie stukkies onthou baie ver terug lê.

Oom Niek het my leer perdry. Soms op die harde manier. Sal ek ooit die dag op Hermansdal vergeet toe ek en Kolhaas op ’n donkie gery het en oom Niek die donkie met die perd opgeskraap het. Hy het die heeltyd sy sweepstok in die donkie se agterent ingedruk. Natuurlik het die donkie gehardloop dat hy vrek en gespring en ge-“backfire” en wat als – totdat ek en Kolhaas uiteindelik al twee afgeval het. Dit was vir oom Niek ’n baie groot grap.

Die kerk was maar ver en motorvoertuie was nie volop nie. Oom Niek en Tanna het so ’n kortpad deur die plase gehad vir die perdekarretjie. Ek moes elke keer afspring en hek oopmaak. So regdeur oor al die plase was die kerk op Matlabas nogal nie te ver nie.

Die ander Sondae is daar huisgodsdiens gehou. Oom Hans het altyd die leeswerk gedoen. Dit was oom Niek se pa. Hy het ’n baie diep en swaar stem gehad. Party plekke het hy maar stadig gelees. Hy het veral die naam Jerusalem baie lank gerek en ernstig met sy swaar stem voorgedra. Natuurlik moes ek aandagtig luister, want na die diens moes ek vertel wat ek onthou van die preek!

Een Sondag het daar ’n landmeterwurmpie op ’n soetdoringtak voor die venster verbygestap terwyl oom Hans ’n preek voorgelees het. Die landmeterwurmpie is so ’n lang, dun groen wurmpie met ’n aantal doringrige voorpootjies. Oor die hele lengte van sy lyf het hy geen pote nie. Aan die agterkant van sy lang lyfie het hy dan weer sulke rubberagtige pootjies gehad.

Die landmeterwurmpie het ’n baie besondere manier van loop aan hom. Hy hou met sy agterpote vas en dan stoot hy sy voorlyf met ’n boog deur die lug – so ver as wat hy kan. As hy dan met sy voorlyf op die takkie afkom, hou die voorpote weer vas sodat hy sy agterent kan optel en met ’n boog naderbring. Dan gryp hy met sy rubbervoete reg agter sy doringvoete vas en herhaal die hele proses. Hy tel weer sy voorlyf op en daar gaan hy weer aan.

Dis juis omdat die wurm sy stap so ver en lank afgetree het, dat dit die naam landmeter gekry het.

Page 22: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

22

Daardie Sondag het ek as klein kind gedink die wurm luister ook na die preek. Elke keer as oom Hans Jerusalem gesê het, het hy die woord lank en stadig uitgerek: “Jeeeruuusaaaalêêêm...” Elke keer wanneer die oom met sy diep stem “Jeeeruuuu...” sê, het die wurm sy voorlof hoog en biddend opgetel en ’n hele ent vorentoe neergesit. Wanneer oom Hans dan “...saaalêêêm” sê, het die wurm sy agterent opgetel en agter sy voorpote neergesit.

So het die wurm die hele diens deur op elke Jerusalem aangestap totdat kerktyd verby was. Toe is hy voor die venster verby en ek het alleen agtergebly en diep in die moeilikheid verklaar dat ek net kon onthou van Jerusalem.

Later jare het ek ’n paar keer op Vrydae wanneer die skool sluit my fiets gevat en in die pad geval na oom Niek-hulle toe. Natuurlik met my pa se toestemming. Ek het getrap dat dit bars om voor dit donker word deur Inkerman se drif te kom. Ek het as kind altyd geglo dat daar verseker ’n spook sal wees – dis nou te sê as die ding van spoke waar is!

Inkerman se drif is ’n deurgang deur die Matlabasrivier. Daar was nie op daardie plek ’n brug oor die rivier nie. Droogtetyd of wanneer die water laag genoeg was, het die mense wat daardie pad gebruik het, met hulle motors op dié plek die rivier gekruis. Dit was heelwat korter as om met die grootpad om te ry.

Dit was gewoonlik al ’n hele rukkie na donker wat ek by oom Niek hulle aangekom het. Ek het daardie jare ’n Humber fiets met ’n dubbelvoorvurk en dik wiele gehad. Dit was breë

bande wat die fietse se wiele opgehad het sodat ons in die dik sand kon ry. Dun wiele het in die sand vasgeval en dan moes jy maar die fiets stoot of dra.

Ek het ook ’n lekker sterk generator op die voorvurk gemonteer. Wanneer jy dan die lig wil aanskakel, het jy net die generator se knip gedruk en dit het teen die wiel vasgespring. Wanneer jy dan ry, het die wiel die generator gedraai en die hele tyd krag opgewek. Hoe

vinniger jy gery het, hoe helderder was die lig. As jy begin sukkel het, was die lig voor die fiets maar taamlik geel en flou!

My fiets se koplamp het nogals ’n dim en ’n bright gehad. Op die bokant van die lamp was daar

’n skakelaar wat mens kon heen en weer swaai. Na die een kant toe het die lig dan ver en op vol sterkte geskyn – dit was bright. Na die ander kant toe het die lig naby en direk voor die wiel geskyn.

Ek dink daardie jare was werklik wonderlike jare!

Oom Boet Theunissen was my held. Ek het altyd geglo dat hy die sterkste man is wat ek ooit geken het. Hy het as jong man altyd woes met sy perd gejaag. Sommer bloots. Ek het vas geglo dat hy beter kon perdry as enige cowboy!

Saans het hy die koplamp gevat en dan het ek en hy ’n springhaas vir die hond gaan skiet. Die volgende dag het ek die haas afgeslag en vir die hond gekook. Die haas se vel het ek ingesout en droog gemaak.

Later het ek die klomp droë haasvelle mooi vierkantig gesny. Nadat ek dit lekker sag gebrei het, het ek vir my daarvan ’n kortbroek gemaak wat ek soms vir die snaaksigheid gedra het. Dit was ’n baie simpel broek, maar vir my was die ding, sentimenteel gesien, baie werd. Ek weet nie eers meer wat van die broek geword het nie.

Julle Bosveldvriendjie groet julle met die herinnering van die wurmpie wat die hele lewe so met lang treë aflê totdat hy uiteindelik almal agterlaat en self ook in die vergetelheid wegraak.

So tussen die wurms en die donkies deur moet ek nou weer begin preek maak.

Matiempaan

Page 23: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

23

7. Skooltyd se dinge

Oor die eeue was skoolkinders niks anders as skoolkinders nie. Vir hulle was onderwysers ook maar net onnies met hulle eie bekwaamhede en dwaashede – dinge wat eie aan hulle spesie is.

Aan onkruidsigheid of “vêrsiendheid” het dit kinders ook nooit ontbreek nie. Om dit te demonstreer is die volgende voorval baie tipies.

Van tyd tot tyd breek daar mos maar in die skole ’n luisplaag uit. Dit gebeur gewoonlik wanneer een van die onderwyseresse die gediertetjies in haar eie hare ontdek. Soms gebeur dit wanneer iemand baie versigtig en beskeie navraag doen oor die wit puntjies wat daar aan haar kort nekhaartjies vassit waar sy nie kan sien nie.

Dan bars die bom. Geen grootmens wil luise hê nie. Dis aaklig en vuil en dit dra pes. Wat alles kan histeriese vrouens nie nog alles uitdink nie?! Die volgende dag word al die kinders in die skool dan ook aangetree en deursoek. Iemand moet die skuld kry dat die juffrou luise het. Die goggatjies kan glo tot drie meter ver van ’n kind af op ’n mens (in die geval waarskynlik ’n onderwyser) spring, word vertel. Dis glo hoe die luise op haar gekom het.

Daar is gewoonlik tientalle kinders wat almal luise het as die ding eers agtergekom word. Al die besmettes word met briefies huis toe gestuur en die ouers word aangeraai om die besmetting te beveg en dat die kind weer mag skool toe kom nadat die plaag opgehef is.

Natuurlik is party kinders net so weerstandig teen luise soos die besmette juffrou. Veral die meisietjies. Hulle huil en is skaam en wil nooit weer voor mense verskyn nie. Sommige van die meisies weier om met die spesiale sjampoe gewas te word wat die ongewenste indringers die nekslag toedien, want die sjampoe ruik effens verbitterd. Dis nogal ’n reuk wat klou soos sweet op ’n warm bedompige dag.

So het dit gegaan in ’n sekere skool tot op ’n dag. Toe is daar een groepie kinders wat gereeld luise het. Geen sjampoe kry die weerstandige luise uitgeroei nie. Die ouers koop middels – later selfs erger dinge wat deur die dokter voorgeskryf is – maar na ’n paar weke is die luise volledig terug! Onverklaarbaar.

So het dit aangegaan tot eendag, toe een van die onderwysers op speelgronddiens op ’n onwettige handelstransaksie afgekom het! Die kinders het die luise onder mekaar verkoop – teen baie geld. Dit verklaar toe waarom die luisplaag nie uitgeroei kon word nie!

Meteens het die diertjies by sommige kinders ’n gesogte handelsware geword, waarvoor hulle heelwat opgedok het. Daar was ’n baie lewendige handel met luise onder die kinders! Daar is ten duurste gekoop en verkoop, want die prys was die moeite werd: Elke besmetting het ’n week se vakansie beteken, want totdat die besmetting uitgeroei is, mag hulle nie skool toe kom nie.

So word dit wat die een verag, hoog aangeslaan by ’n ander mens. Werk snobisme nie ook maar so nie? Ek wonder maar net.

Skoolkinders se inisiatief kan met heelwat meer dinge gedemonstreer word. Ek onthou baie goed dat die koshuisseuns van die skool waar ek op hoërskool was ’n tyd lank snags braaivleis gehou het. Wanneer die ligte uit was en die onnies spoedig daarna geslaap het, het ’n sekere aantal figure uit die koshuis uitgesluip. Hulle het mekaar by die stalle gekry. Daar is dan beplan en spoedig daarna was daar ’n hoender op die spit.

So het hulle hulleself vir ’n hele paar weke vermaak totdat die speurdersersant van die polisie een oggend ’n afspraak met die skoolhoof gehad het. Die man was op ’n ernstige speursoektog, want die ou dorpie se hoenderbevolking het so verminder dat die inwoners nie meer geglo het dis net die musseljaatkatte en jakkalse en ongediertes wat die hoenders vang nie.

Die ondersoek het toe inderdaad aangetoon dat die ongediertes in die plaaslike hoërskool-

Page 24: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

24

koshuis bly. So gaan dit. Dis nie net elke hond wat sy dag kry nie. Elke hoender kry ook soms sy dag en daarmee saam ook elke koshuisbrak.

Die stalle agter die seunskoshuis het natuurlik vir meer opwinding as net middernagtelike hoenderbraaie gesorg. Dit was ook die vaste saamkomplek van die manne wat almal skelm gerook het. Uiteraard het die dampies ook sy invloed gehad op die wyshede en gedagtegang van die manne wat die skywe vir mekaar gesit en aangee het, want dit was die tyd wat daar gefilosofeer is en al die antwoorde van alle bestaande probleme uit die twakrokies opgetower is.

Gelukkig het daar in ons tyd nie ’n enkele skoolmeisie gerook van wie ek geweet het nie. Daar was wel ’n paar wat baie goed kon vry, en wat elke week ’n ander ou gehad het, sodat hulle later amper die hele skool se meisies was. Maar nie een van hulle het gerook nie. Hulle het ook nooit lelik gepraat nie. Eintlik was hulle vroue om op trots te wees.

Dan was daar natuurlik ook die gevegte in die seunskleedkamer. Die manne wat mekaar nie kon verdra nie, of wat ’n saak wou besleg oor ’n meisie, het mekaar gewoonlik daar gegryp. Die ouens die naaste aan die deur was die “wagte” wat betyds moes skreeu: “Tjips, boys!” as daar ’n onnie op pad was.

Waar die klomp boerseuns daaraan gekom het dat die wagwoord “tjips” is, sal seker nooit in hierdie lewe uitgepluis kan word nie. En waarom ons nou juis “boys” was, terwyl feitlik nie een van ons kon Engels praat nie, is nog meer duister.

Nou ja, so groet ek julle van die skool se stalmure af.

Julle vriendjie uit die skooltyd uit

Matiempaan

Page 25: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

25

8. Sandpunte en die Yanmar

Daar is soveel mooi dinge uit my kleintyd wat ek vir my kleinkinders wil onthou. Hulle word in tye groot waarin my kindertyd vir hulle sal voel soos wat Wilhelm Tell se tyd vir my voel. Dalk is dit ook reg so, want die Here laat mos die tye aangaan. In die tye wat aanrol bly alles aanhoudend verander. Dit voel vir my asof die eenvoud en onopgesmuktheid van die lewe wegraak en moet plek maak vir hardheid – ’n hardheid wat soms baie plastiekerig en vals is.

Ek het al geskryf oor die stuk riviergrond wat my pa gehad het. Hy het besluit dat hy ook soos al die ander boere water uit die Magolrivier wil uitpomp en ’n ietsie onder besproeiing sit. Toe doen hy sy beplanning.

Dit moet ek darem ook van my pa sê: hy het nooit iets op klein skaal gedoen nie. Alles wat hy aangepak het, moes groter en dikker as enige ander ou s’n wees. Al het hy bokkerol gedoen, hy het dit in staail gedoen. Daarom het ons nie ’n diep put gegrawe soos die meeste ander boere nie. Nee, my pa het ’n verskriklike sloot deur die rivier gegrawe. Nadat al die sandpunte ingesit is, het ons dit weer alles toegegooi sodat dit gelyk het asof daar nooit tevore iets gebeur het nie.

Dit was (dalk gelukkig?) baie droog daardie jaar. Die rivier was droog en die watertafel was diep. Die voordeel daarvan was dat die stel sandpunte wat my pa ingesit het, in ’n normale jaar die hele tyd onder die water sou wees. Dit sou die suigwerk vir die masjien makliker gemaak het.

Hy het by iemand ’n moederpyp van fenomenale dikte aanmekaar laat sweis. Ek dink die pyp

was twaalf duim in deursnee. As ek nou so terugdink, was dit ’n pyp wat dertig treë (meter) lank was. Op die moederpyp was daar vyftig nippels waaraan daar elke halwe tree (meter) ’n pyp

van ongeveer drie duim in deursnee opgekoppel was. Die drieduimpype het ons ses meter diep regaf in die sand in versink. Ons het ’n draagbare sentrifugale pomp gebruik om elke sandpunt skoon te pomp.

Die skoonpompery was ’n groot proses. Die sandpunte is elke keer een-een op die draagbare sentrifugale pomp gekoppel. Die hele spulletjie moes dan vol water gegooi word en die pompie opgestart word.

Dit klink makliker as wat dit destyds gedoen is. Van bo af het die son ons half doodgebrand daar op die spierwit sand. Van onder af het die sand ons kaal voete half gaar gebrand. (Ek wonder nou nog hoekom ek nooit skoene gedra het nie, want ons het skoene gehad!)

Dit was elke keer ’n woeste gespook om die pompie sover te kry dat die ding die water wou vat en uitsuig uit die sandpunt uit. Maar as sandpunt eers gevat het, het die water eers met borrels en dan met ’n klomp fyn sand en dan met ’n dik straal helderskoon water by die pomp uitgespuit. So is ons deur elke sandpunt. Ons het hulle een-een begrawe en dan gepraaim en dan op die moederpyp opgekoppel.

Soms het ek en my pa saam gewerk aan die projek. Wanneer BroerNico nie met ander werk opgesaal was nie, was hy ook daar. Daar was darem ook tye wanneer ek alleen in die warm son daar besig was om die sandpunte met groot moeite te versink.

Nadat alles opgekoppel was, het ons die pyp opgekoppel met ’n reuse sentrifugale pomp wat my pa intussen bestel het. Hy en BroerNico het die uitgrou-werk en die messelwerk teen die wal gedoen. Daar het hulle ’n masjienkamer gebou en die pomp en die enjin ingebou.

Die pomp wat die sentrifugaal moes trek, was ’n verskriklike groot Yanmar-enjin. Die ding het met diesel geloop. Dit was nog een van die modelle wat met ’n slinger aan die gang gedraai moes word. Die ding het twee reuse, dik ystervliegwiele weerskante gehad.

Eers moes die ding se kompressiesleutel van drukking afgehaal word. Dan slinger jy die twee wiele totdat hulle ’n taamlike spoed het. Dan druk jy die kompressiesleutel toe sodat die wiele die diesel onder druk kan bring om te ontplof. Na ’n paar harde knalle het die enjin begin spoed optel totdat dit op die spoed gehardloop het waar ons dit gestel het.

Page 26: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

26

Ek onthou die man by die koöperasie se verstomde gesig toe my pa die dag vir hom vertel het hoe ’n groot masjien hy wil hê. Die ou kon sy ore net nie glo nie. Maar uiteindelik was die enjin bestel en afgelewer. Ten einde laaste was dit daar op die wal in die pomphuis vasgebout op sy plek.

Natuurlik het dinge nie so maklik gegaan om die water die eerste keer uit die rivierbedding te trek nie! Daardie vervlakste moederpyp moes vol water gemaak word met ’n reusetenk wat op die wal staan gemaak is. Die terugvloei van die tenk moes die moederpyp die eerste keer versadig maak sodat die groot masjien op die wal die water kon vat!

Sweet en gebed was daardie dag die wenresep. Dit was later al aand en ek het moed opgegee. My binnekant het op daardie stadium baie moer gepomp oor al die klomp werk wat ek verniet gedoen het en die son wat my verbrand het – net sodat daar niks gaan regkom nie.

My pa was ’n ander mens – BroerNico is soos hy – hy het aangehou sukkel, want hy het geglo aan die werk wat ons gedoen het.

Op die oomblik toe ek besluit ek loop nou huis toe, sê my pa: “Ouboet, draai die slinger weer!”

Hy haal toe ook sommer terstond die enjin van kompressie af en ek begin moeisaam die ellendige nuwe diesel-Yanmar slinger.

Hy het die kompressiesleutel toegestoot toe ek genoeg spoed op die enjin se vliegwiele gehad het. Die masjien het met so ’n paar blou hoese aan die gang gekom.

Eers het die masjien maar weer net lekker lig gehardloop soos elke vorige keer. Toe is dit asof iets hom aan sy keel gryp en verwurg. Die sentrifugaal het ook skielik anders gedreun – dit het sy dun singgeluid ingeruil vir ’n swaar suisgeluid. Ek dog die spul gaan ontplof of uitbrand of iets.

Eintlik weet ek nie presies wat ek verwag het nie. Dalk het ek gedink die poging sal maar weer net soos al die vorige ellendes wees wat hulle herhaal. Die volle waarheid is dat daar op daardie oomblik ’n straal pers-water uit die sesduimpyp bo-op die wal uitgespuit het soos ek nog nooit in my hele lewe gesien het nie.

Die eerste water het nog baie sand in gehad. Nadat die masjien so ’n halfuur lank geloop het sonder om wind te sluk – wat ’n bewys was dat alles goed en reg opgekoppel was – het my pa die masjien doodgemaak en die krane toegedraai dat die moederpyp nie weer terug leegloop in die rivier nie. Na ’n kwartier het ons die ding weer aan die gang gesit. Die water het op die daad en sonder enige moeite uitgespuit.

Die week daarna is ek vir die eerste keer universiteit toe. Ek onthou dat my hande van die harde plaaswerk so vereelt was soos die ander ouens se voetsole.

My eerste lewenstyd het met hierdie wisseling in my grootword en universiteit toe gaan, verbygegaan. Ek het dit nie dadelik besef nie. Dit was eers jare later wat die verlangtyd na my kleintyddinge ingeslaan het. Die slegste was die besef dat daardie tyd baie ver agter lê. Dis verby om nooit weer in my lewe staanplek te kry nie.

Julle Bosveldvriendjie groet julle van presies die ander uithoek van die land af – hier waar Tafelberg op sy vêrste van die Bosveld af is.

Van die dreuning van ’n dieselenjin op die Magolrivier se wal tot by die dreuning van die motors wat op die N1 verbygons.

Matiempaan

Terugantwoorde

Wonderlik

Groete

Hannes

Page 27: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

27

More Dominee

Ek sit vandag hier in die Vrystaat (Bloemfontein) toe ek dominee se skets ontvang van die ou dae. Dominee se skets het my ook laat terugverlang na my dae op die plaas. Ek kan so goed assosieer met die kaalvoetlopery en brandende son. Ek ruik die rooi sandgrond en voel die jeuk van die mielieblare as ons wegkruipertjie gespeel het in die mielielande, maar Dominee se skets het my werklik laat dink oor hoe die wêreld verander het!

Soos Dominee weet, werk ek by Departement van Waterwese en dit is juis die rede waarom ek in Bloemfontein sit. Die Minister van Waterwese het opdrag gegee dat alle watergebruikslisensies wat al jare agterstallig is nou skielik binne ses maande afgehandel moet word. Projek LETSEMA is bekend gestel. Behalwe dat dit baie geld kos en mense lang tye van hul tuistes wegneem is die betekenis van die projek – “Helping your neighbour”.

Dominee wonder seker nou waarom ek hierdie inligting deel, maar dit was vir my so ironies dat Dominee vertel van die slote en gate wat in die rivierlope gegrawe is en die massiewe pompe wat geïnstalleer is. In vandag se tyd sou Dominee se pa ’n hele klomp lisensies nodig gehad het voordat die water uit die rivier gepomp mag word.

Terwyl ek die skets gelees het, kon ek ’n hele klomp watergebruike in terme van die nuwe waterwet identifiseer. Soos byvoorbeeld enige verandering binne die rivierloop aan die beddings, wal of vloei-eienskappe, asook enige obstruksie in die rivier. Die slim wetenskap-likes beskou die area langs die rivier tot ’n maksimum van waar ’n moontlike 1:100 jaar vloed sal kom ook nog as deel van die rivier waarvoor ’n watergebruikslisensie uitgereik sou moes word. Vir die pomp sou ’n lisensie nodig gewees het en ook vir die tenk op die wal.

Met die verandering van die tye en reëls kry ek vandag se boere en nog meer die ouer geslagte baie jammer. Hulle moet probeer boer en ook voldoen aan al die nuwe reëls wat op hul grond geld! Wou net vinnig my gedagtes deel. Lekker dag en groete vir Carin!

Hester Lyons

Liewe Dominee

Dit klink my asof die Bosveld jou vandag weer ’n bietjie roep.

Toe ons getroud is, was my skoonpa nog op die plaas en hy kon so ongeduldig raak as iets nie gewerk het nie. Sy sê-ding was altyd: Die ding het nie ’n ma of pa nie, hy sal maak soos ek sê en dan het hy dit sommer met ’n hamer bygekom. Daarna het sy planne in elk geval nie gewerk nie.

Nou weet ek hoekom jy soveel kennis en geduld het met jou boorgatpompe. Dit kom ’n lang pad.

Nog net een slapie dan is julle kinders daar. Julle moet hulle geniet en op kuier. Hulle kan weer rus as hulle by die huis kom.

Groete

Erna

Liewe ds Thinus

Vandag se onthou van die mooi dinge uit jou kleintyd is baie spesiaal en het my gedagtes ook op ver paaie laat terugloop.

Ek het op 3 Maart weer teruggekom in Suid-Afrika, nadat ek vir die hele warm Februariemaand by Karen (ons jongste dogter) in Londen gekuier het. Danksy ons moderne tegnologie het ek ook daar weekliks u skrywe geniet.

Karen kon ’n hele maand verlof neem en sodoende kon ons ook in Europa toer. As gevolg van die resessie in Engeland en ook die res van die wêreld, is haar oortydwerk op hierdie manier vergoed. Sy is ’n mediese skrywer by PAREXEL INTERNATIONAL in Londen en bly in die dokterskwartiere by die hospitaal Northwich Park waar hulle kantore is, wat so 10 myl noordwes van die middestad van Londen is.

Hennie het tuis gebly; sy werk, noudat hy met vroeë pensioen moes gaan, is weer dié van sy oorspronklike ambag, draaier, by ’n klein ingenieursfirma wat herstel en regmaak van skaapskeermasjiene en wolperse doen. Hy sien ook nie kans vir die 10 en ’n half ure se direkte vlug nie, as gevolg van rugprobleme, en verder kan hy glad nie ’n gedrang van mense hanteer nie. So hy het huis opgepas en die honde versorg.

Karen, nou 31 jaar oud, en ek het baie tyd gehad vir gesels en ook sodoende weer die bande met die verlede en die voorgeslag opgetel. Sy geniet Europa en is baie tuis daar, maar sien nie kans om altyd daar te bly nie, daarvoor verlang elke Afrika-kind te veel na die sonskyn en mooi blou lug! Sy erken ook dat die ondersteuningstelsel van die familie wat daar ontbreek ’n groot gemis is. Sy het ook as student ses maande in België studeer, so ek dink sy weet waarvan sy praat.

Met die vertel van my kinderjare het dit soms vir my gevoel of gister en vandag langs mekaar kom lê – soos twee foto’s wat mens oor mekaar skuif. Die plaasherinneringe van my, wat ook langs ’n standhoudende rivier grootgeword het en weet van gesukkel met sentrifugale pompe en pype en rivier wat in vloed afkom en alles wegspoel. Met ons woonhuis aan die voet van die berg en die rivier in vloed, sonder dat daar destyds ’n brug oor was, was ons soms tot twee weke of langer afgesny van dokter en dorp, totdat die rivier sodoende gesak het dat daar, met ’n kort ketting agter aan die trekker, die bakkie deur die rivier getou kon word.

Page 28: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

28

So onthou ek, het my pa my arm self gespalk, en in baie pyn in die aande, want toe ons uiteindelik by die dokter op die dorp kom, was die arm al aangegroei. My pa is oorlede, toe ek 10 jaar oud was, aan een massiewe hartaanval wat hom onmiddellik laat sterf het. Hy was 50 jaar oud.

Tog kan ek baie onthou, want ek was soos ’n stertjie altyd by hom en wou ook eendag boer. Hy het ook die gawe gehad om te weet as iets groot en ontwrigtend gaan gebeur. So het hy vir ons vertel, die Sondagmiddagete aan tafel, dat ons nie weer die volgende Sondag so saam sal verkeer nie, en ook die Maandagoggend toe hy ons dorp toe neem vir skool, dat hy ons nie weer Vrydag sal kom haal nie. Toe die telefoon die Donderdagaand teen halfnege lui, by die Tannie waar ons geloseer het, en sy dadelik begin huil, het ek geweet hy is oorlede.

Dit was baie moeilik vir my ma (42 jaar oud) en twee dogters om die twee plase te hanteer. So het die romantiese sy van boerdery gou by my plek gemaak vir die werklikheid en geldsake van die dag. Baie min mense wil glo as ek vertel dat ek van st 8 af die inkomste-belastingopgawe vir my ma gedoen het, danksy ’n uitstekende boekhou-onderwyser. Sy het pot aan die kook gehou om gedurende die week op die dorp plaaskinders te loseer, meestal Engels-sprekend, en met ’n voorman op die plaas dan net naweke na die boerdery om te sien. Kontantvloei was altyd ’n probleem en met arbeiders wat nie na ’n vrou wou luister nie, het ons baie drama beleef en met ’n voorman (nie ’n baie sterk karakter) het die werklikheid van boerdery baie vroeg tot my deurgedring. Veral ook toe die werkers op allerlei maniere probeer het om te kyk of my ma nie die boerdery wou staak nie.

Die grootste hartseer was toe hulle (nadat ons al die ander perde asook my ryperd verkoop het) en net my Pa se ryperd gehou het vir ons op te ry, hom met ’n klip gegooi het sodat sy een oog heeltemal uit die oogkas gepeul en en net aan die senuwees en spiere gehang het. My swart speelmaat van kleintyd het laatmiddag met melktyd vir my kom vertel. Daardie tyd was hulp van ’n veearts iets baie ongewoon. Ek en my ma het die oog afgeknip en skoon-gemaak en ontsmet na die beste van ons vermoë en kon eers die Maandag medikasie op die dorp kry om sodoende inspuitings toe te dien vir die nodige herstel.

Daarna was dit nogal moeilik om hom te ry, want omdat hy net aan die een kant kon sien, het hy maklik vir die geringste beweging aan die blindekant geskrik en weggespring. Jy moes jou sit behoorlik ken en net nooit jou waaksaamheid verslap nie. Gelukkig was hy, na hierdie nare ondervinding, baie slim en het niemand toegelaat om hom te vang om te ry nie. Ek alleen kon hom roep en vang en nadat ek hom vasgevat het, kon die klonkie wat met die toom agter sy rug staan, dit vir my naderbring, en kon ek dit oor sy kop sit en kon ons hom ry. Tog het ons baie pret saam beleef en heerlike tye in die natuur gedeel.

Die arbeiderprobleem is opgelos deurdat ons ’n swart toordokter (bossiedokter) in diens geneem het. My ma het volgehou met die boerdery totdat ek al op universiteit was. Sy het toe die plaas verhuur, maar die plaashuis uitgehou vir ons vir ’n vakansiehuis. Sy het toe ook die loseerdery van kinders gestaak en in die ouetehuis as nagverpleegster begin werk.

Die groot ou dorphuis is later verkoop en sy en die destydse maatskaplike werkster het inwoningreg gekry in die ouetehuis.

Sy het so nagskofte gewerk totdat sy later self ’n inwoner geword het en is in 1999 op die ouderdom van 82 jaar oorlede.

So het my en my sussie se kinders darem ook die vryheid van die plaaslewe kon geniet vandat hulle klein was. Die buurman het later die plaas gekoop en ons het, net voordat Karen oorsee begin werk het in 2007, weer die plaas besoek. Die geboue verval, maar die omgewing bly altyd dieselfde.

En dit is mos maar so, waar jy grootgeword het, bly jou hartsplek! Ek dink mens moet ook die mooi dinge van mens se kindertyd vir jou kinders onthou. Ek kan nog nie saampraat oor die vreugde van kleinkinders nie. Maar my ma het altyd gesê dat jou kleinkinders twee maal jou kinders is!

Verlede Saterdag met die Sustersaamtrek hier by ons in die Suid-Vrystaat was die musikante twee broers. Een lied wat hulle saam gesing en gespeel het, op panfluit en mondfluitjie, was pragtig. Ek kon my net indink hoe heerlik en mooi moet dit wees om ’n mond-fluitjie-en-orrel-uitvoering te hoor.

Seënwense en goeie gesondheid word u toegebid.

Trix de Bruin (van Merrivale)

Liewe Thinus

Dit was so goed om weer ’n skets van jou te lees. Jou herinneringe aan jou grootwordjare en die sandput wat julle gesink het, het my nou ook laat onthou van my tye op Mara Proefplaas. Die pomp van water uit die Magol wat jul twee jongmanne en jul pa prakseer het klink na ’n ingenieursprestasie vir daardie tyd. Julle het voorwaar geweet hoe.

Ek kan onthou as jong dogter op die plaas was ons huis reg langs die enorme groentetuin wat aan al die inwoners groente moes voorsien. Die plaasdam moes vol water wees sodat die ou jong kon natlei. Die pomp wou nie altyd saamwerk nie. So het ek menigmaal my pa gebukkend oor die pomp in die masjienkamer gekry. Agter die pomp in die muur was daar ’n opening waardeur ’n band gehardloop het wat weer van ’n wiel gekom het wat agter die masjienkamer gestaan het. Wanneer my pa die slinger draai en die pomp vat, is dit so ’n lawaai dat ek net ore toedruk en uithardloop. Het net nooit gevra of self gelees wat se pomp dit was nie. Dis eintlik snaaks want ek wou net lees en skryf – het myself voor skool leer skryf deur die woorde op my pa se twaksak na te maak.

Page 29: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

29

Jy het nie skoene gedra nie, want so het ’n ware Bosvelder grootgeword. Ek dra nou nog nie skoene nie, net voor mense! Dis tye wat onherroeplik verby is maar die herinneringe sal altyd bly, soos jy dit so mooi gestel het, Thinus.

Die seisoen is ook besig om te draai, die koel luggie voel pure herfs alhier. Dis die mooiste tyd van die jaar en selfs die woordjie ‘herfs’ het sy eie bekoring.

Hoop dit gaan nog goed met julle en dat jy elke dag sterker word en mooi herstel. Kyk mooi na jouself!

Liefde en groete van ons

Annatjie

Beste Thinus

Die ietwat nostalgiese stukkie: Net nog ’n briefie oor jou jeug in kontras met jou Pa se oudag het tot my en Chris gespreek. Chris se kommentaar was: “Ons leef so elke dag daarmee saam.” Ek wou ook sê dit is die “algemeen menslike” met begrip gegryp.

Die afdraai van die Marken-pad het my laat wonder, suid of noord waar julle water gepomp het t.o.v. die brug? My swaer EL Grové het ’n tyd lank grond entjie met die Beska-pad aan die rivier gehad wat hy later aan ’n Dewald de Beer verkoop het. Ek het al daar meermale gaan lusernbale koop.

Hartlike groete

Bouke en Chris

Page 30: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

30

9. Op die Limpopo se wal

Op die Limpopo se wal groei daar ’n kol hardekoolbome (Combretum Imberbe). Geweldige

bome. Hierdie groepie bome is nie sommer gewone bome nie. Hulle is almal ongeveer sewentien tot twintig meter hoog. Hierdie groepie bome verdwerg die plaashuisie heeltemal. Die stamme van sommige van die bome is so dik dat ’n man hulle nie sal kan omvat nie. Selfs die sterre kan nie in die nag deur hulle blare geskyn kry nie. Die nagte is so dik van die donker soos die binnekant van ’n steenkoolmyn.

Dis op die plaas Hermansdal waar ek as hoërskoolseun naweke by Kolhaas Erasmus gaan kuier het en waar ek saam met oom Niek en Tanna in die winter beeste opgepas het. Dis waar die Du Plessis’s se huis staan waar ons een jaar, terwyl ons in Bellville gebly het, op vakansie was.

Op die binnewal van die rivier groei daar apiesdoring-bome wat net so groot is. Van hulle staan al vir ’n paar eeue daar! Hulle het ’n hele paar regerings in die lande weerskante van hulle sien kom en gaan: sowel Botswana as Suid-Afrika. Dis asof hierdie bome almal getuig van die onveranderlikheid van God se Raad, en van sy Almag wat dinge bly beheer en altyd in ’n noodwendige gehoorsaamheid voor Hom laat buig!

Dit het mooi gereën die afgelope aantal seisoene. Daarom staan die gras op die rivierbank byna ’n meter hoog weerskante van ’n patrolliepaadjie wat al langs die grens af loop. Eertyds is dit deur die weermag gebruik. Nou gebruik die polisie dit om so van tyd tot tyd daar af te ry en die lyndraad te “inspekteer”! Ek is nie seker wat hulle “inspekteer” en wat hulle sal of wil sien nie.

In hierdie paadjie het ek en die Generaal elke dag twee keer gestap – vroeg in die oggend en dan weer laat in die middag. Verkyker in die hand het ons gekyk en gekyk na God se skepping! Elke keer het ons in ver-wondering voor God se almagtige werke vasgesteek.

Daar staan baie groot miershope al langs die rivier af. Ons het probeer aftree hoe groot die goed is. Die basis van die wat direk langs die rivier staan, is maklik so groot soos twee kleinerige vertrekke. Dit is dan ongeveer drie keer (en meer) van my lengte hoog – en ek is byna twee meter hoog.

Die miershope wat dieper in die veld in staan, is helderrooi van kleur, terwyl dié direk langs die rivier gryskleurig is. Die miershope wat dieper in die veld in staan, is ook kleiner as dié wat langs die rivier staan. Wat ook opvallend is, is dat daar op elke miershoop in die veld ’n Matloppie (witgatboom) of Mpiepie (stinkwitgatboom) staan.

Daar is ’n hele klompie bosbokke wat in die ruigtes op die rivierbank bly. Ons het hulle ook gereeld raakgeloop. Omdat dit ’n skamerige boksoort is, het ons hulle meestal net gesien vlug.

Die voëllewe is iets besonders. Daar is troppe kwêvoëls wat in die blinkblaar-wag-’n-bietjiebome sit en bessies vreet. Dit is te mooi om die spulletjie dop te hou. ’n Hele paar keer het daar kleinerige troppe bosveldpapegaaie oor ons koppe gevlieg. Enkele kere het ’n paartjie in ’n droë boom gaan sit sodat ons hulle kon dophou.

Daar was ’n paar swerms van verskillende voëls wat die werf elke dag besoek het – bruin katlagters, bontkatlagters en kakelaars. Ek het baie gewonder waarom ek moes oud word voordat die voëls vir my besonders geword het. Miskien is dit omdat mens (ek) dinge waaraan ek gewoond is, nie werklik waardeer nie. Wat ek daarmee bedoel, is dat ek daar grootgeword het. Ek het hierdie voëls almal elke dag van my lewe gesien – maar dit was maar net voëls.

Nou sien ek hulle weer vir die eerste keer in baie jare. En ek sien hulle anders. Destyds was hulle net daar – nou is hulle voorwerpe wat die lof van God verkondig. Hulle manier van bestaan is so reëlmatig en presies – ons mense s’n so chaoties in die ghetto’s van ons sondes. Is dit waarom God vir hulle die mooie van die bome en die rivieroewer as blyplek gegee het en vir ons die besoedel-de lug en vuil strate waarin ons eie sondes ronddrywe?

Elke dag gaan kyk ons vir die krokodille. Oraloor in die rivier staan daar kuile water. In hierdie

Page 31: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

31

kuile bly daar baie krokodille, waterskilpaaie en waterlikkewane. Ons bekruip hulle en bekyk hulle met die verkyker. Die oomblik as hulle ons gewaar, verdwyn die krokodille en die likkewane geruisloos in die groen water in.

Dis net die waterskilpaaie wat sommer net in die water infoeter met ’n groot plons en afjaag in die vuil dieptes in. Hulle bly ook nie baie lank onder water nie, dan steek hulle hulle nekke bokant die water uit om agter te kom of die gevaar al verbygegaan het.

Daar is sulke mense ook wat maar stinkerig deur die lewe gaan en wegduik vir alles en daarna langnek kyk waaruit hulle nou weer voordeel kan trek.

Die ape was natuurlik lastig. Die eerste dag al het hulle ons papajas gesteel terwyl ons nog besig was om af te pak. Ons kon eers nie agterkom wat aan die gang was nie, omdat dit so ruig was. Hulle sit net ’n paar meter van jou af en wegkruip. Sodra jy jou rug draai, verskyn hulle net en steel ons goed van die tafel af.

Eendag het daar ’n trop bobbejane verbygewei. Hulle het die dag omtrent die kleintjies gekarnuffel, want die kleingoed het aanmekaar geskree. Later het ek agtergekom dat die bobbejane die bome aan die agterkant van die huis betrek het. Een van hulle het om die hoek van die huis geloer.

Ek het toe besluit om te gaan kyk wat gaan aan. Ek bekruip hulle toe ook en vlieg vinnig om die hoek van die huis. Bo in een van die apiesdoringbome sit daar ’n reuse bobbejaansmannetjie. Hy lyk eintlik so groot soos die Generaal. Hy skrik homself sommer in ’n ander aap-soort in toe hy my hier onder hom gewaar. Hy spring van waar hy sit – omtrent vyftien meter bokant die grond – na ’n droë tak toe wat ’n ent laer af aan ’n ander boom is.

Die tak waarheen die ou toe spring is maklik vyf meter laer as hy, maar nog steeds ongeveer tien meter bokant die grond. Hy het ook nie sagkens na die tak toe beweeg nie. Vanweë sy angs het hy die droë tak met geweld bespring en op die vêrste punt van die tak afgekom.

Sy landing daar was katastrofies. Die tak het onder sy gewig padgegee sonder om sy vaart te breek! Die twee is saam in volle spoed die laaste ent af grond toe. Met alle respek, die ou het geval dat hy bars! Maar soos dit met daardie deel van die bevolking van ons land gaan, was sy besering nie te ernstig nie. Hy is kruppel-kruppel en skel-skel daar teen die rivierwal af en deur die rivier Botswana toe. Ek weet nie by wie het hy daar gaan kla nie.

Miskien sit daar ’n les in hierdie reusesprong en -val. Mens behoort nie in ’n situasie te kom van waar jy skielik moet abdikeer en as gevolg van nog meer onberekende foute wat jy in jou haas maak, jou eer net so hard soos jou boude op die aarde neersmeer nie!

Elke dag het daar twee berghane gejag. Eendag het een van hulle ’n aap gevang en hom reg bokant ons in die kruin van die hardekoolboom gesit en verskeur. Dit was nogal iets om te sien.

Ek sal weer skryf en vertel van die twee bywoners op die plaas. Al twee se naam is Aaron. Hulle het nogal baie te vertelle gehad oor hoe witmense is en oor hoe ’n mens na diefstal behoort te kyk.

Vir eers groet ek julle uit die lang gras uit.

Julle bosvriendjie

Matiempaan

Page 32: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

32

10. Deur ander se brille

Die twee bywoners op Kleintydsplaas, die plaas langs die Limpopo, is Tswanas. Al twee se naam is Aaron. Die een is ouer en die ander een is jonger. Die een is gelerig en die ander een is swart. Die een wys min tande as hy lag. Die jong swarter een het ’n sterk stel tande. Die een se stem is versigtig. Die ander een s’n is rasperagtig soos ’n radio wat net-net van stasie af is. Die ouer een praat baie. Die jonger een die minimum en hy verdwyn elke keer so vinnig as wat hy kan.

Die oudste Aaron het baie uitgevra en baie gepraat. Dit blyk toe uit die gesprek dat hy my ouers geken het. My pa het jare terug ’n winkel op Ellisras gehad waar al die swartmense maar hulle inkopies gedoen het.

Uit Aaron se pratery blyk dit toe dat hy baie mense ken wat ek ook ken. Toe begin hy sy wêreld oor die wittes oopvou. Ek het met verbasing gesit en luister. So in die stilte het ek gewonder of ek ooit vir enige van die wittes respek kon hê as ek hy was. Inderdaad het hy dit duidelik gemaak dat daar maar min wittes is vir wie hy respek het!

“Ken jy So-en-so?” vra hy. Hy noem ’n naam van een van die manne wat destyds saam met my ’n skoolseun was.

“Ja. Ken jy hom ook?”

“Ja, baie goed. Ek het by sy pa op die plaas gewerk. Hy was ’n regte bliksem.” Hy vloek nie. Die Tswanas praat maar so.

“Hoekom sê jy so?”

“Sy vrou is ’n Mojerman en sy het altyd met my geraas en my ore getrek. Hy was baie kwaai en het my pa gemoer totdat hy weggeloop het.”

Mojerman is natuurlik die Tswanas se manier om na die Duitsers te verwys. Ek weet die ou

tannie was ’n weerligstraal met ’n losbandige missie. Ons het ook altyd gedink sy is so kwaai dat sy ten minste die duiwel se eie sussie of sy sekretaresse moes wees. Die oom was ook maar moeilik.

Aaron vertel toe dat hy nooit kon skool toe gaan nie omdat sy pa baie geld by die witman geleen het en toe daarmee weggeloop het. Sy ma moes toe jare werk om die skuld terug te betaal. Op dié manier het hy ongeletterd gebly. Of die storie waar is of nie, maak nie saak nie, want dit gaan niks aan die swartman se gevoel en waardering (of die gebrek daaraan) vir witmense verander nie.

“Ken jy sy seuns en sy dogter?” vra Aaron.

“Ja, ek ken hulle almal goed. Ons was saam op skool.”

“Hulle was almal sleg,” sê hy.

Ek verbaas my oor alles wat die swartman begin vertel. Die een seun was tegelykertyd met twee vrouens getroud. Hy is toe as gevolg daarvan vervolg. Die uiteinde was dat hy homself in ’n motor vergas het.

Ek het niks van die dinge geweet nie, want dit het alles gebeur nadat ek al weg is universiteit toe. Ek het ook nooit weer teruggegaan na my grootwordplek toe nie. Maar wat verstommend is, is dat die swartes al die dinge weet en jare later nog steeds daaroor onder mekaar rondpraat!

“Ja, hy en sy broer het ’n paar keer probeer om my te versuip,” vertel Aaron verder.

“Ek het nie water geken toe ek jonk was nie. Hulle het. Dan vang hulle my en swem met my tot in die middel van die plaasdam. Hulle het my dan op die bodem vasgedruk en op my gestaan totdat hulle gedink het ek is vrek. My maag was dan altyd blink en rond van al die water daarin!”

Ek kry skaam oor die stories en ek sit maar net en luister.

Page 33: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

33

“Ja,” gaan hy aan, “julle witmense dink mos ons swartes praat net ***!” sê hy.

“Soos wanneer?” vra ek.

“Soos toe die rivier afgekom het. Die army het vir ons gevra waar bly ons. Ons sê toe ons bly langs die rivier. Toe sê hulle ons moet vir ons mense sê hierdie rivier gaan so vol word tot daar by ons huis.”

Die huis staan seker so ’n kilometer van die rivier af as my skatting reg is! Ek dink dis bietjie ver.

“Het julle toe gebel?” vra ek.

“Ja, ek het een van die plaasmense gebel. Toe sê hy die army praat ***. Maar hy het tog gekom en ’n bietjie van die goed uit die huis weggery. Die res het hulle in die huis gelos en die water het dit toegemaak.”

Hy vertel dat die water geweldig hoog en sterk in die rivier gevloei het. Hulle het selfs van tyd tot tyd seekoeie in die rivier gesien. Hy vertel dat hy hom verbaas vir die witmense. Hulle is baie snaaks.

“Daai anner man is mal,” vertel hy.

“Toe die water so sterk is, toe kom hy met daai deng (en hy roei met sy hande langs hom om te beduie dat hy praat van ’n kano) en hy en sy pêl hulle klim op die water. Hy het amper gevrek, want daai deng het omge****. Gelukkig was daar ’n boom naby en hulle het aan die takke gehang totdat hulle reggekom het.”

Hy het baie respek vir die familie aan wie die plaas behoort. Ek het die aanvoeling gekry dat hy trots is om met hulle geassosieer te wees. Hy vertel dat hy baie versigtig is vir die twee oudstes van die seuns.

“Hoekom?” vra ek.

“Nee, hulle raas nie en hulle word nie kwaad nie. Hulle sê net hulle hou nie van iets wat ek verkeerd doen nie.”

Ek kom toe agter uit sy gesprek dat dit hom baie ontsenu, want hy is gewoond dat die wittes raas en slaan as hulle kwaad word, maar die mense van die plaas doen dit nie. Dit maak dat hy nie presies kan agterkom wat gaan in hulle gemoedere aan nie.

Eendag praat Aaron oor die politiek van die land. Ek het verwag dat hy niks van iets sal weet nie, want hy bly omtrent anderkant nêrens. En dis toe net daar waar ek my vasloop. Die plaasmense het vir hom ’n TV gegee! Hy luister elke dag nuus. Hy weet presies waar alles in die wêreld watter dinge gebeur – al weet hy nie waar hierdie plekke is nie.

Ek kom agter dat hy nie van die polisie hou nie. Hy glo hulle is sy vyande en hulle sal enige iets doen om ’n mens te laat “ry”. Die “ry” beteken dat hulle hom agter in die polisievoertuig gaan laai en wegry vir ondervraging. Hy het nie lus om te “ry” nie, sê hy.

Sy opmerking oor diefstal was baie vreemd. Ek kla toe oor al die motorkapings en die mense wat vermoor word. Daarmee het hy saamgestem: Dis verkeerd. Maar diefstal is nie verkeerd nie, want ek moenie sê die mense steel nie!

“Waarom nie, hulle steel dan?” verweer ek.

“Nee,” sê hy, “die mense steel nie. Hulle vat net!”

By hierdie standpunt het hy gebly: Hulle steel nie, hulle vat net.

Al die dinge het my baie diep laat dink oor ons wittes en ons gewoontes. Veral na een besondere stukkie vertelling wat hy uit sy eie gedoen het. Hy het weer uitgevra oor sekere witmense en of ek hulle ken. Ek het bevestig dat ek die man en sy ouers geken het.

Hy vertel toe hoe die betrokke man se vrou agter haar man se rug hoereer met die manne van die buurt. Hy noem selfs sommiges van hulle se name. Hy vertel van al die skandes wat daaruit

Page 34: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

34

voorgekom het!

“Julle witmense is darem baie snaaks!” merk hy op.

En ek kry diep skaam. Is dit hoe ons wittes vir die swartes lyk? Ons wat dink niemand weet as ons droogmaak nie – terwyl die plaasmense dit wyd en syd oorvertel aan vreemdes! Ons wat die morele en godsdienstige waardes moet stel, stel dikwels die slegte voorbeeld waarteen die apostel Paulus al gewaarsku het!

Die stories van Aaron van Kleintydsplaas het my net weer laat besef dat ’n mens diep na jouself moet kyk – en bly kyk! Want die wêreld sien jou! Dis dalk waarom die Bybel vertel dat die dinge wat ons in die donker doen, van die dakke af (of tussen die Bosveldbome deur?) verkondig sal word.

Julle skamerige vriendjie groet julle so tussen die plaasmense se mense deur. Pasop vir die bostelegraaf!

Matiempaan

Page 35: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

35

11. Die Figuur en sy papiersak!

Elke plek het sy uitstaande figure. In my grootwordplek was daar ook so ’n karakter waarvan daar net een deur die Skepper se hande op die aarde beland het. Die oom sal ek liewer in my skets maar net Die Figuur noem.

Hierdie man was eksentriek en vindingryk. Ek was daardie jare nog ’n kind, maar in my oë was hy bietjie wild. As ek moet eerlik wees, was ons almal eintlik maar so effens in die bos in, want ons het nie eers almal telefone gehad nie.

Almal het ook nie al die moderne geriewe geken nie. Ek onthou een spesifieke omie wat naby Ellisras gebly het wat gereeld met sy vrou agter op sy Ferguson-trekkertjie ingekom het om inkopies en dergelike dinge te kom doen.

Daardie jare was daar nog baie mense wat met donkiekarre en muilkarre rondgery het. Dit was in die goeie tyd toe donkiekarre met twee wittes op nog nie ’n skande was nie.

Van Nylstroom af na Pretoria se kant toe het die aarde bekendgestaan as die voorwêreld. Net

die mees belese onder ons het dit tot daar gewaag, want in daardie deel van die wêreld is daar robotte en stopstrate en baie karre met ouens wat vinnig en roekeloos ry. Kortweg: Daardie jare was dit ’n uiters gevaarlike gebied vir enige ordentlike mens uit ons kontrei. Die meeste van ons het net in die uiterste gevalle soontoe gegaan.

Ons gesinnetjie moes nogals gereeld pad vat in die voorwêreld in, want met alles wat ons kinders kort-kort oorgekom het, moes my oorlede pa gereeld injaag Nylstroom of Pretoria toe met ’n verongelukte kind en my biddende ma op die agtersitplek.

Daar was egter ander redes ook wat gemaak het dat mense soms voorwêreld toe gedwing was. Een so ’n geleentheid was veroorsaak omdat die boere se beeste altyd by die vendusiekrale opgelaai is na die slagpale toe in Pretoria of Johannesburg. Al wat die boere weer van hulle beeste gehoor het nadat hulle getrok is, was die swak pryse vir die vleis wat aan hulle uitbetaal is.

Natuurlik was sommiges van hulle nie eers seker dat die geld wat hulle kry, inderdaad hulle eie beeste se geld is nie! Hulle kon nie gaan toesig hou of onderhandel of kyk waarom hulle beeste se vleis dan nie van die beter graderings behaal nie.

So moes Die Figuur se beeste by geleentheid slagpale toe. Die slagpale was vir ons Bosvelders geleë in ’n gebied wat as dubbelrooi gevaarlik geklassifiseer kon word: Johannesburg. Dapper soos wat Die Figuur was, kon net die dood self hom hokslaan om te gaan kyk waarom sy pryse nie altyd goed is nie, en of dit sy beeste is wat sommer maklik derde graad geklassifiseer word. Ek meen, ’n mens het geld nodig, al bly jy in die Bosveld.

Hy het die saak van sy groot uittog na die slagpale toe onder andere met my oorlede pa bespreek. Hy het beplan om na afloop van die vendusie reg agter die beestrok aan te ry. Sy doel was om die plek te kry waar die beeste geslag word. Hy wou gaan kyk hoe hulle die verskillende boere se beeste uitmekaarhou sodat daar nie later ’n deurmekaarspul met die slagtery gebeur nie. Hulle moes ook baie mooi vir hom verduidelik waarom sekere vleis eerste graad en ander selfs derde graad geklassifiseer word.

Hy het ’n voertuig gehad. Dit was ’n rooi DKW-paneelwa, met ander woorde die voertuig het geen vensters gehad nie – dis nou die voorruit en die twee voorvensters uitgesluit.

Later het Die Figuur aan ons ander Bosvelders verslag gedoen van die resultate van sy uittog en terugtog. In Johannesburg het dit uiters ellendig gegaan. Iewers beland die oom in hewige verkeer. Uit nood en selfverdediging was hy later in die verkeerde baan. Die verkeer druk hom so vas dat hy by ’n robot langs die beestrok beland pleks van reg agter hom.

Gelukkig onthou hy darem dat die rooi lig beteken dat hy moet stop. Hy het vertel dat die presiese plek waar sy bussie gestaan het, agterlangs by die beeste was. Hy het inderdaad ook dalk te naby aan die vragmotor stilgehou. Die voordeel daarvan was dat die beeste darem ’n paar bekendes in die vreemde wilde wêreld was.

Page 36: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

36

Vandag ry almal met styf toegedraaide motorruite rond, want ons is veiligheidsbewus. Oop ruite gee grypdiewe steelgeleenthede. Ons word geleer dat oop ruite glo ook ’n aansienlik hoër brandstofverbruik veroorsaak.

Destyds het ons almal met wyd oopgedraaide vensters gery. Die motors het nie een enige vorm van lug-versorging of lugverkoelers gehad nie. Dit was iets wat eers baie jare later na vore begin kom het! As die ruite nie oop was nie, het ons in ons motors gaargebraai.

Daardie dag het die ongeluk Die Figuur baie sterk ingehaal. Beeste kry ook behoeftes – maar volgens die natuur – nie volgens maniere nie. Dit is toe waar-om die een koei met haar boude teen die tralies gepers daar van bo af deur die oom se DKW -venster lostrek. Daar was nie tyd vir venster toedraai of enige vorm van selfverdediging nie. Dinge het tot op sy skoot beland!

Dit is in sulke tye dat mens se geloof moet wys van watter stoffasie dit werklik gemaak is. In daardie tye tel net geduld en aanvaarding van die dinge waaraan geen mens iets kan doen nie. As jy nie die oorsaak is dat jy daarin trap omdat jy nie kyk waar jy loop nie, dan ry jy maar daarmee op jou skoot rond.

Terwyl die slagtery aan die gang was, moes Die Figuur die tyd verbykry. Een manier om tyd verby te kry is om te eet. Teen daardie tyd was die oom al baie uitgedun van spanning. Om in hierdie soort van doodsverkeer te bestuur, was nog nooit enige man se maat nie. Dit vat aan jou.

Hy het diep en ernstig gedink aan wat die stadsmense eet en wat hy kan bestel. As ek vandag so terugdink, kan ek die oom se probleem as’t ware my eie maak, want ek het tot vandag toe ’n doodsvrees vir ’n spyskaart as ek in ’n vreemde plek moet gaan eet. Enige mens wil tog ook soos enige ordentlike mens sy eer beskerm en voorkom as iemand wat iets van die lewe weet.

Daardie dag, so het die oom ons vertel, was die enigste moderne eetgoed wat in sy verwysingsraamwerk kon opkom, “fiesh en tjieps”. Almal van ons het meestal op pad voorwêreld toe iewers lang die pad “fiesh en tjieps” gekoop. Dit was vir my die mees gesogte lekkerny waaraan ek destyds kon dink!

’n Blok of wat van die plek af waar die oom sy DKW-bussie geparkeer het, was daar ’n kafee waar die nodige kos bestel word. Die Griek agter die toonbank het die “fiesh en tjieps” goed gesout en genoeg asyn vir die spysvertering oorgegooi. Die hele spul word in waspapier toegedraai en toe in ’n groterige bruinpapiersak gestop.

Waar eet ’n mens nou? Nadat die oom die omgewing goed deurgekyk het, is hy terug na die paneelwaentjie toe – dit was al uitweg. In die donkerte van die agterruim het die oom homself veilig en gemaklik gemaak.

Eerbiedig dank hy vir die vis met bybehore. Net om weer veilig onder die Bosveldhemel by sy huis uit te kom, vra hy daarvoor ook. Hy eet.

Intussen het die slagtery nog rustig voortgegaan. Die oom kon nog nie gaan kyk hoe sy vleis gegradeer word nie. Hulle het vir hom ’n tyd gegee wanneer hy weer moet kom kyk of hulle al

reg is dat die inspekteur die gradering gaan doen.

Beeste en mense verskil in een opsig nie veel nie. Wat bo in, moet onder uit. Met Die Figuur was dit nie anders nie. Met sy vol maag het hy na ’n rukkie dieselfde behoeftes as die koeie op

die trok.

Dis veral in sulke oomblikke wanneer die hewige verskil tussen mense en diere na vore kom. Diere doen wat hulle moet doen net waar hulle is – hulle het geen respekte vir enige privaat

dinge nie.

Die oom besef toe dat hy homself nie soos ’n koei kan vermom en sy boude deur die tralies druk nie. Hy sal ’n baie groot plan moet maak.

Om maar heeltemal eerlik te wees, hy het totaal en al nie geweet waarheen hy moes gaan nie. Hy kon ook nie dink hoe doen dorpsmense die ding as hulle nie by hulle huise is nie, want hy sien geen maretla-bosse waaragter mens kan skuil nie. Die nodige afveemiddels

Page 37: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

37

soos droë gras vir normale geleenthede of mieliestronke vir ’n grênd geleentheid soos ’n

stadsbesoek was ook nie vir hom beskikbaar waar hy in sy verlore nood vasgevang was nie.

Soos wat die reël van die lewe vir ’n christenmens is, het die nood hom ook daardie dag leer bid. Hy het die verhoring van sy gebed ook ervaar. Sy oog val op die leë papiersak waarin sy kos was. Dit is net die ding, besef hy dadelik!

Versigtig stryk hy elke vou weer terug in totdat al die kreukels uit die papiersak uit is. Hy blaas die ding mooi vierkantig oop en sit dit heilig in die middel van die gangvloertjie van sy voertuig neer. Hy maak die agterdeur van die paneelwa toe en trek sy broek af. Hy balanseer hom soos ’n sweefstokartieste bokant die opening van die papiersak en korrel in die senter in.

Nadat alles suksesvol gebeur het, staan die nuwe probleem soos ’n ontydige swangerskap voor hom. Wat maak hy nou met hierdie papiersak? Hy kan dit tog nie saam terugvat huis toe nie. Versigtig vou hy dit toe – sodat dit van buite af presies so lyk soos toe die “fiesh en tjieps” daarin was.

Hy klim toe uit die paneelwa en stap oor die straat na die parkie toe regoor sy parkeerplek.

Waarheen nou? Hy kry geen ashoop of iets dergeliks nie. Later het hy maar moedeloos op die punt van een van die houtbankies onder ’n boom gaan sit.

Hy het letterlik elke mens wat daar rondloop en rondlê, deeglik en agterdogtig bekyk totdat sy instinkte die oplossing reg het. Hy sien wat hulle doen! Hulle laat lê hulle rommel net so en loop weg. Waarom moet hy nou met sy netjiese pakkie iets anders doen? Op ’n stil oomblik verdamp hy vinnig en koes-koes terug voertuig toe – sonder die papiersak.

Die omie was werklik ’n mooi mens en ’n ware gelowige – daarvan kan ek self getuig. Daarom het sy gewete dadelik in sy binneste begin skroei. Wat gaan van sy pakkie word?

Hy skuif weer agter sy stuurwiel in. Terwyl hy nog ’n rukkie moet wag, kyk hy deur die venster na sy papiersak op die bankie. Dit was nie baie lank nie, toe tel sy oog ’n beweging in daardie rigting op. ’n Man het die netjiese pakkie raakgesien toe hy by die bankie verbystap. Die kêrel steek net daar in sy spore vas en kyk rond.

So was mense nog altyd. As jy die kans kan kry om iets te gaps, moet jou geloof en opvoeding baie sterk wees as jy nie die geleentheid benut nie. Dit was vir die omie duidelik dat hierdie man dink dat daar vir hom wins in sal wees as hy iemand anders se pakkie kan wegdra sonder dat hy gesien word!

Die nuweling weet nie dat Die Figuur hom sien nie, daarom draai hy om en gaan sit op dieselfde plek waar die oom ’n paar oomblikke gelede opgestaan het. Na ’n rukkie is dit duidelik dat hy oortuig is dat hy die papiersakkie kan vat en wegstap asof dit nog altyd syne was.

Die Figuur kan sy oë nie glo nie. Die stadsman stap nog flink aan – toe alles meteens vinnig gebeur! So, terwyl hy loop, ondersoek die man sy nuwe vonds voel-voel. Sonder om te kyk, druk hy sy hand in die papiersak en tas rond in sy nuwe vonds...!

Uit die bussie kon Die Figuur duidelik sien hoe die man met veragting na sy vingers kyk asof hy hulle vir die eerste keer sien – en hulle in elk geval ook nie wil hê nie. Hy gooi die sakkie weg en vloek dat jy hom tot by die Bosveldlorrie kan hoor. Die man praat groot woorde, buurman, groot woorde! Hy gebruik al die tale wat geen dominee op enige kansel mag gebruik nie!

Dit wys jou nou net. As jy nie eerlik is nie, sal jy nooit uit die dinges kan uitbly nie.

Julle Bosveldvriendjie groet julle met hierdie stukkie onthou uit sy hoërskooljare. Wees liewer maar altyd eerlik. Dit betaal altyd die beste winste.

Van trok tot trok

Matiempaan

Terugantwoorde

Page 38: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

38

Skreeusnaaks, Dominee!!! Dankie, ek het dit baie geniet. Ek vertrou dat dit met u en die Generaal goed gaan!

Vriendelike groete

Nico Steyn

Liewe Dominee

Hierdie storie is een van die snaaksste stories. Kan jy dink hoe die oom gelag het toe hy sien wat voor hom afspeel. Ek dink dit het sy hele uitstappie die moeite werd gemaak.

Groete

Erna

Liewe Thinus

Ek dink dis seker die beste storie ooit!!! Jy het dit al lank terug vertel, maar om dit te lees en weer te lees, was net te lekker!

Liefde

Margo

Beste Thinus

Eric het jou skets so geniet! Ons het ons nou net slap gelag!!! Dankie weereens en ons is altyd dankbaar vir jou unieke manier van vertel en jou kosbare skryfstyl! Ons sien in ons gedagtes hoe jy jouself sit en verkneukel terwyl jy jou woorde neerpen… Jou sketse is vir ons baie dierbaar!

Groetnis

Eric en Martha

Page 39: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

39

12. Tant Serlot en die plaastoilet

Sy was ’n baie dik boerevrou. So wyd dat die vrou wat vir haar klere gemaak het haar seuntjie gevra het om die een punt van die maatband te vat en om tant Serlot te loop sodat hulle kon meet hoe groot die rok moet kom. Van al die skale in die Bosveld kon net die winkelier en die koöperasie se skale haar weeg, want dit was die enigste skale wat gebou was om iets swaarder as ’n sak mielies te weeg.

Eers het sy en haar man met ’n donkiekar gery. Later het hulle darem ’n motor aangeskaf. Die donkiekartyd was ’n groot probleemtyd in hulle lewe, want sy moes haar gewig presies op die wiele balanseer, anders het die donkies swaargekry. As sy te vorentoe gesit het, het die disselboom te swaar op die donkies se nekke getrek. As sy te agtertoe gesit het, het hulle verwurg omdat die draaghout teen hulle strotte opgedruk het en hulle keelgatte toegesmoor het sodat hulle nie kon asem kry nie.

Haar gewig was oraloor ’n probleem. Vir haar was dit meestal ’n verleentheid, maar afgesien van die skade, was dit dikwels ’n bron van innige plesier vir die gemeenskap. Eenkeer het sy ’n hele stoel inmekaar gesit en gelukkig net ’n klomp splinters in haar boud saamgeneem huis toe as getuie van die gebeurtenis.

Verder was sy baie normaal. Soos die keer toe hulle gaan kuier het by vriende en sy die kamer wou verlaat.

Kamerverlaat was in daardie jare en in ons omgewing nie soos dit vandag is nie, want spoeltoilette het nie bestaan nie. Almal het maar iewers in die agterplaas ’n “long drop” gehad. Vir baie verstaanbare redes is die geboutjie aan die onderkant van die wind opgerig. As die gesin maar klein was, het die geboutjie baie lank op een plek gestaan voordat daar behoefte was om die ding elders oor ’n nuwe gat te herbou. Net die rykes kon dit bekostig om elke paar jaar ’n nuwe een van steen en sement te bou. Die standaard was maar om sink en planke te gebruik.

Die vriende op wie se plaas die besondere gebeurtenis waarna ek nou verwys, afgespeel het, se “long drop” was standaard toe dit nog nuut gebou was. Op die betrokke dag van die kamerverlaat het die sinkgeboutjie al ’n hele stuk sabotasie ondergaan. Die rysmiere het die binnekantste planke onder die sitplekkie nodig gehad vir oorlewing.

Die plaasmense het hulle ’n rukkie later verbeel hulle hoor ’n verlangse hulpgeroep asof iemand in ’n grot is. Na ’n rukkie het hulle begin ondersoek instel of hulle hulle verbeel of nie. Hulle kon mettertyd vasstel dat die benoudheid uit die “long drop” kom.

Dit was onnodig om aan die deur te klop voordat hulle dit oopgemaak het, maar soos dit ordentlike mense gepas is, het hulle tog maar eers geklop. Wat hulle gesien het, mag mens nie presies en kleurvol beskryf nie. Hulle was eers geskok omdat iemand hulle bankie gesteel het, maar baie verlig toe hulle sien dat hulle dit net weer kan herstel, want tant Serlot het dit platgesit in die gat af.

Sy self was in ’n heeltemal ander toestand, want sy was nie kniediep nie, sy was tot onder haar arms daarin. Haar rok het soos ’n tabernakel om haar rondgespan oor al die dinge waarvan mens nie in geselskap mag praat nie.

Dit was maar net die begin van die probleme, want hulle moes haar uithaal! Dit was erg moeilik, want sy het nie net haar plek in die lewe volgestaan nie, sy het ook die hele gat volgestaan. Om haar uit te grawe sou te gevaarlik wees. Dalk kon hulle die gat van die boorgat af vol water pomp, maar sy kon nie swem en bo bly totdat die gat vol genoeg is nie.

Hulle gryp toe die huisie aan sy vier hoeke en span kragte saam. Spoedig het hulle al die sinke en gesaboteerde balke losgewikkel en toe dra hulle die hele ding eenkant toe. En daar staan tant Serlot in die helder Bosveldson. Ontbloot in al die ellendes wat teen haar saamspan.

Die volgende stap was om drie stewige knoppiesdoring-pale in ’n kraantoestel te omskep en dit oor die gat op te rig. Daarna is ’n stel katrolle bokant haar opgehang en die Algiers-trekkertjie is

Page 40: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

40

nadergebring. Die manne het vroeg al besef dat hulle te lig in die broek is om tant Serlot uit te trek. Hulle sou net hulleself in die skande steek. Daarom moes die plaaswerktuig se hulp ingeroep word om haar in haar waardigheid op te hef.

Nadat al die katrolle en toue reggemaak is, het die manne ’n tuig van streepsakke geprakseer wat sy te midde van haar toestand tussen haar bene moes deurwerk en weerskante aan die ysterhake voor aan die kabel vashaak. Na ’n diepgaande poging kon die deel van die sending suksesvol afgehandel word en toe het tant Serlot se hemelvaart uit die gat uit begin.

Op hierdie punt wou die vuurwa met sy perde(krag) haar in die steek laat, want die ou trekkertjie was maar baie klein en lig. Die oomblik toe hy tant Serlot se volle gewig voel, het sy neus opgelig en wou hy net agteroorslaan. Dit het tant Serlot laat terugval in haar ellendes.

Hierdie keer het sy nie net spatsels opgetel nie, want na al die ure was haar ou bene ook nie meer op sterkte nie. Sy kon darem weer haar asem terugkry nadat sy met haar hande haar gesig in so ’n toestand gekry het dat daar weer lug in haar longe kon in.

Boere maak altyd planne in die nood. ’n Halfuur later het hulle ’n paar sandsakke op die trekkertjie se neus gelaai, en net vir die wis en die onwis die twee donkietjies ook voor die trekker ingespan.

Die pale het hier en daar geskiet maar sterk gestaan. Die staalkabel het geblink in die son en was ’n kitaarsnaar op homself. Tant Serlot het teen die gat se mure verbygeskuif totdat sy gelyk was met die grond.

’n Hele paar knoppiesdoringpale is onder haar ingeskuif en ’n ou skuurdeur is bo-op neergesit. Tant Serlot kon staan. Sy is met die grootste versigtigheid na die kant toe gehelp en toe nog ’n ent weg dat die walle nie dalk moet ingee nie. Daar is sy op ’n halwe drom sit gemaak en met drieduim perswater skoongespuit. So kan mens met die hulp van vriende altyd weer in die vars lug beland.

Ek wonder tot vandag toe of sy ooit haar ding gedoen gekry het.

Page 41: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

41

13. Die gemeente eet Van Wykskaiings

Alle gemeentes hou gemeentebyeenkomste. Almal hou dit nie eenders nie, want elke mens se karakter is anders en sy plek en omstandigheid is ook anders as ’n ander een s’n. ’n Sekere plaasgemeente het eenkeer besluit hulle gaan ook so iets aanpak.

Almal is laat weet dat hulle op die Van Wyks se plaas moet bymekaarkom. Dit is ’n paar Sondae afgekondig. Die hele gemeente het hulle reggemaak vir hierdie groot geleentheid. Die atmosfeer was amper of hulle gaan Nagmaal vier.

Deur die loop van die dag is ’n vet os geskiet en opgeslag. Die hele bees is sorgvuldig in eetporsies opgesny. Noukeurig is sorg gedra dat daar vir elkeen ’n stukkie of wat sal wees om aan te knaag.

Dit was ’n soel Bosveldaand. Die hele dag lank het dit hard gereën (soos wat dit nog in daardie dae gebeur het). Alles was mooi en pragtig. Dit is mos al asof die Bosveld mooier as enige ander plek kan dankie sê as die Here sy genade oor hom uitgieter.

Goggas van alle soorte het in die lug rondgehang en hulle vlerke het soos liggies in die lug geblink teen die ondergaande son. Dit het werklik gelyk asof elke beskikbare vlieënde insek opgekommandeer was om te verskyn. Die vlieënde rysmiere en bruin besies het getallegewys die oorwig gehad. Hulle het ook dankie gesê vir die reën.

Terwyl die lig nog rooierig op die horison rondgehang het, het die manne met hardekool en rooibos ’n vuur aanmekaargeslaan wat vir niks geskrik het nie. Die dominee sou dit as ’n voorbeeld van die hel kon gebruik in sy preek. Net na donker het daar groot hope rooi gloeiende kole reggelê om die ete te berei.

Die ding het gebeur toe braaivleis nog nie in die vorm gegiet was waarin ons dit vandag ken nie. Die manne het groot seeppotte oor die kole getel en die bees se vleis daarin gegooi. Seeppotte was groot potysterpotte waarin die boervroue in daardie jare seep gekook het. Die buurt se potte is skoongemaak en vir die vleisbraai-geleentheid saamgebring. Ek meen, vir die kerk bring mens mos enige offer.

Die manne het elkeen ’n stewige stuk hout in die hand gehad waarmee hulle die vleis omgeroer het dat dit nie in die potte vasbrand nie. So het hulle maar gebraai en gesels en gekuier. Hulle het gemmerbier en koffie gedrink totdat al die vleis gaar was.

Dit gebeur baie dat die kar voor die perde gespan word wanneer die een of ander taak uitgevoer was. Selfs al organiseer baie mense dit. Daardie dag was dit ook so. Toe die vleis gaar was, kom die klompie gelowige manne agter dat hulle eers die pap moes gemaak het.

Die vleis is in groot erdeskottels uitgeskep en die huis ingedra. Die susters het daarop aangedring dat die potte eers uitgewas moes word, maar die manne het geredeneer dat die vleissous en kaiings wat in die potte agtergebly het, die pap net lekker kan geur. Hulle wou nie die potte was voordat hulle pap maak nie.

Die potte het elkeen ’n klompie water in gekry en die vure is weer gestook en spoedig kon mens die wolke stoom in die flou lanternlig sien uitslaan uit die potte uit. Sout en meel is ingeroer en baie laat die aand het die gemeente heerlik in die halwe maan se lig gesit en eet.

Die hoeveelheid kaiings in die pap was opvallend. Eintlik was dit vir ’n paar van die vrouens hinderlik. Kort-kort het iets in die pap gekraak. Dan was daar ’n opmerking. Die manne het elke keer droogweg geantwoord dat dit van die kaiings was en dat dit vir hulle baie lekker was.

Byna vroegoggend is almal huis toe. Die familie waar die byeenkoms gehou was, het daarop aangedring dat die potte net so vuil gelaat moes word. Hulle sou die volgende dag hulle bediendes aansit om die potte te was.

Die bediendes het die pappotte net een kyk gegee, hulle koppe diep en ernstig geskud vir die snaakse gewoontes wat die witmense soms het. Waarom gooi hulle hulle pap vol besies as hulle ’n bykos by die pap wil hê?... want die kaiings was inderdaad honderde besies. Elke keer

Page 42: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

42

as hulle in die stoom van die kokende water en pap ingevlieg het, het hulle hulle vlerke toegemaak en in die pap geval.

Dit wys jou net, as daar enige iets anders as engele tussen die Doppers rondvlieg, kan jy moeilikheid verwag.

Page 43: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

43

14. ’n Man uit ’n vrou gebore

’n Mens bly nou maar eenmaal ’n mens. Party van ons is net meer mens as ander. Dit het ’n ouderling my geleer tydens die heel eerste huisbesoek wat ek saam met ’n ouderling gedoen het.

Dit was reg van die begin af my gebruik om elke jaar deur die hele gemeente te gaan met formele huis-besoek. Daaronder verstaan ek dat ek en die ouderling, en as dit kan ook die diaken, saam deur die wyk gaan. Dan vermaan, bemoedig en lees en bid ons by elke huis.

Die ouderling was ’n vermaarde persoon. Lank en half stillerig. Op sy manier ’n denker – soos dit ook duidelik sal word uit hierdie skets. Hy het al die afsprake met al die lidmate gemaak. Hy het vir almal vertel dat hy die dominee saambring, want hy ken mos niemand nie. Die ou is nog nuut en so aan. Na al sy verduidelikings en wat alles nog het net die lees en bid oorgebly, het ek gedink.

Een afspraak wou hy nie maak nie. Hy het volstrek geweier. Van dié een het hy net gesê: “Dominee, jy maak hom self.”

Ek wou weet waarom.

“Jy sal later self verstaan,” het hy gesê.

Nadat hy nog ’n paar sekondes gedink het, het hy bygevoeg: “’n Man uit ’n vrou gebore, is dik van vel en hard van ore.”

Later het ek uitgevind dat die “man” van wie hy gepraat het, eintlik ’n vrou is.

Wel, ek het die plaasfoon opgetel en die slinger gedraai. Die telefonis het my dadelik na die Du Plessis’s toe deurgeskakel. Die oom het geantwoord.

“Naand, oom Jors.”

“Naand. Wie praat?”

Ek verduidelik die hele storie. Hy maak net hmm-geluide. Hy sê op niks ja of nee nie. Hy klink so asof hy agter die dik gordyn van die voorhangsel staan en nog nie kon deurbreek in die lig in nie.

Ek maak seker: “Is dit nou reg dat ek Oom-hulle môre-oggend sien?”

“Ja.” Toe is alles stil.

Die ouderling sê niks. Hy het die hele gesprek gehoor. Maar dit is al asof niemand iets gesê het wat hy gehoor of gesien het nie. So is ons uitmekaar vir die nag. Ek sou die anderdagmôre vroeg by hom wees.

Na al die huise toe praat hy baie. Behalwe na die een besondere huis toe. Hy bestuur net sy lorrie en sê kort-kort: “Ja nee, ’n man uit ’n vrou gebore, is dik van vel en hard van ore.” Ek was later oortuig dat daar met sy brein iets verkeerd geloop het, want dikvelligheid het duidelik op sy ore toegeslaan.

In hierdie toestand het ons by die huis aangekom. Daar was ’n hewige heining om die huis gespan. Aan die buitekant van die huis het ’n stuk of ses woeste kwaai en aggressiewe honde rondgehardloop en die hele plek op horings gehad.

Hier klim ek wraggies nie uit nie. Dit is nie dat ek bang is vir die dood en die hiernamaals nie, maar daar is darem ’n manier en ’n manier waarop mens soontoe kan gaan!

Duidelik het die ouderling die nodige ondervinding gehad. Hy trek die bakkie so dat die passasiersdeur teen die voorhekkie is. Daar is geen manier waarop die hekkie oopgemaak kan word nie.

Die honde gaan vreeslik tekere, maar niemand verskyn om ons te verwelkom nie.

“Wat nou?” wil ek weet.

Page 44: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

44

“Klim uit en gaan klop.”

“Maar ek kan nie uit nie. Die deur kan glad nie oop nie.”

“Moenie dom wees nie, dominee. Draai die ruit af en klim deur die venster bo-oor die hekkie. Anders gaan die honde jou byt.”

Ek was nog besig toe staan sy in die deur. Kennelik die hoof van die huis. Gewapen met ’n besem.

“Wie dink jy is jy en waar dink jy gaan jy heen?” skree sy.

Ek bly kalm. “Ek is die nuwe dominee en ek is op huisbesoek.”

“Nee. Jy is nie welkom nie, want jy het nie ’n afspraak gemaak nie,” sê sy.

Ek beduie dat ek het. Gisteraand.

“Met wie nogal?” wou sy weet.

“Met die oom. Met oom Jors, om die waarheid te sê.”

“Die ellendeling het my niks gesê nie. Loop haal hom. Hy is op die land.” Sy is terug in die huis in en ek is oor die hekkie en deur die venster terug in die lorrie in.

Oom Jors het daar eenkant langs die land gestaan. Die trekker was besig om te ploeg. Hy het kennelik gelyk soos een wat deur die weer raakgeslaan is. Hy het bedeesd by ons in die lorrie geklim en ons is huis toe.

Die tannie se oë het vertel dat daar moeilike tye vir oom Jors voorlê. Sy lyftaal het teruggepraat en vertel dat hy deur sware smart bewoë die lyding onder dwang sal moet opneem.

Soos die gebruik daar was, het elke huisbesoek so verloop: Na ’n gesprek word daar gelees en gebid. Dan sing almal saam ’n psalm en die dominee en die ouderling ry onmiddellik. Die betrokke huisbesoek dié môre was redelik vinnig, want hulle het nie gepraat, bespreek of teruggepraat nie. Niks.

Toe ons by die slotpsalm kom, mik ek met my gesig na oom Jors se kant toe. Toe let ek vir die eerste keer op dat die ouderling so gaan sit het dat die twee huismense hom nie maklik kan raaksien nie. Uit hierdie posisie gee hy die nodige leiding. “Moenie vir Jors vra nie,” beduie hy. “Vra die ou vrou.”

Ek doen toe presies so.

“Terwyl Tannie kennelik die sterker persoon in hierdie huishouding is, sal Tannie nie vir ons ’n psalm opgee nie?”

Ek moes iets dieps geroer het.

“Ons sing Psalm 100,” sê sy.

Ek trek my longe vol om sommer in te sit dat die besigheid kan verbykom. Die ouderling voel kennelik nie so nie. Hy beduie dat dit bars dat ek nie moet insit nie. Sy moet.

“Sal Tannie asseblief vir ons insit?” Ek was maar erg nederig.

Sonder instemming of afkeur val sy op Hollands weg: “Prijs den HEER met blijde galmen...”

Iewers was iemand met iets deurmekaar, maar ek was net dankbaar dat ek nie met ’n gejuig begin het toe sy aan die prys geraak het nie. Dit sou ’n groot gemors afgegee het, al is die twee familie van mekaar.

Halfpad deur die vers staan sy op en stap uit die vertrek uit. Ek en die ouderling sing alleen, want oom Jors was nie ’n sanger van formaat nie. Hy het net so hier en daar bygekom, en dan was dit ook nog met ’n noot wat tot op datum nog nie ontdek was nie. Toe ons by die deur uitstap, sê sy hard uit die kombuis uit: “Dis in Hollands net die helfte so lank as in Afrikaans.”

Die feit dat ek nou, ses en twintig jaar later nog steeds huisbesoek doen, wys dat ek ook maar soos oom Jan se spreekwoord is: ’n Man uit ’n vrou gebore, is dik van vel en hard van ore.

Page 45: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

45

15. Koffie in die koperkan

Ek was nie altyd nederig nie. Dit is swaar om dit te erken, maar dit is waar. Daarom kan ek met ’n rein gewete getuig hoe prakties die Vader windgatgeit uit ’n mens kan uitknyp.

Ek was besig om my prakties te doen by die een of ander vername dominee. Daardie jare moes ’n teologiese student aan die einde van sy voorlaaste jaar ’n paar weke prakties gaan doen by ’n dominee van wie die vermoede bestaan het dat hy weet wat hy doen – as so iets moontlik is. Dit was vanselfsprekend iewers teen die einde van Desember en die begin van Januarie. En dit was behoorlik warm.

Die dominee het my opgekommandeer: “Ons gaan môre ’n plaaswyk besoek. Ons ry vroeg. Waarsku jou huismense dat hulle weet dat ons eers laat gaan terugkom.” So was dit. Alles het goed gegaan en ons het oor baie dinge gesels wat ek vandag nog onder die erediens doen.

Ons het middagete misgeloop, want soos dit ’n goeie predikant betaam, het hy gesorg dat ons oor etenstyd iewers op die pad was tussen twee plase. Dit het my laat dink aan iets wat my pa altyd vertel het. Sy storie gaan so: As jy oor etenstyd by iemand kom, is dit sy christelike plig om jou te nooi vir ete. Al het hy nie vir jou kos nie. Maar dit maak ook nie saak of hy kos het of nie, want dit is jou christelike plig om te sê: “Nee dankie, ek het klaar geëet” – al het jy nog niks geëet nie.

Die probleme het egter vir my begin blom by die volgende huis. Kyk, julle moet weet, ek is ’n weerligopvanger, want ek is gemaak vir moeilikheid. Ek is, sover my kennis strek, die enigste mens wat die gawe ontvang het om professioneel van myself ’n gat te maak. Die professionaliteit van die saak maak dat die verleentheid wat ek veroorsaak opsigtelik die maat oorskry. Op sy beurt laat dit die gemors langer hou.

Toe ons by die huis instap, het ek die plek opgesom. Daar was in die sitkamer ’n “rubberteck”-tapyt op die vloer. Dit is van die ou soort wat aan die bokant allerlei paisleypatroontjies opgehad het en aan die onderkant iets soos teer. Daardie jare was hierdie tipe vloerbedekking uiters gewild. Hierdie soort tapyte het enige iets wat daarop geval het soos ’n kanonskoot laat klink.

In die middel van die vertrek was daar so ’n gegote staander met ’n groot koperpot daarop. Die koperpot het sulke eweredige ronde knoppe daarop uitgeklop gehad. Die koperpot was opgevul met sand, en in die sand was daar allerhande soorte plastiekblomme.

Ons is baie gasvry ontvang. Die vrou is dadelik kombuis toe om vir ons te gaan koffie maak. Die probleem was dat waar ek gesit het, ek skuins deur die deur kon sien wat in die kombuis aangaan. Ek sien toe presies hoe die vrou warm kry en met die klam vadoek oor haar geswete skouer vee. Dit is nou met die vadoek waarmee sy daar staan en ons koppies uitvee.

Terstond het ek besluit dat daardie drinkgoed op geen enkele manier deur my keel getrek gaan word nie. Om te sien is genoeg. Ek sal liewer sterf van alle soorte dors en ontvogting en wat nog alles met ’n gebrek aan water te doen mag hê, maar daardie drinkgoed gaan ek op geen manier inkry nie.

Die vrou het met die skinkbord ingestap gekom. Die dominee het dadelik met sy oë gewys dat die student die skinkbord moet neem – so asof my ma nie maniere in my ingefoeter het nie! Elkeen het sy deel van die drank uit die toekomstige bedienaar se hand ontvang. Ekself ook.

Ek het niks gedrink nie. Die dominee het oor allerhande sake gepraat en die gesprek in die rigting begin stuur dat daar gelees en gebid moet word. Ek moes dit natuurlik doen om by voorbaat die nodige geestelike oefening op te doen vir die jare wat daarna op pad was. Maar die koffie het bly veg met my, want ek was nie bereid om hierdie koppie in my hand te neem en myself die inhoud toe te eien nie.

Gelukkig het die suster opgestaan en iets in die huis gaan doen. Soos blits het ek die beste uitweg waaraan ek toe kon dink in werklikheid omgeskep: ek het die koffie in die koperbak vol sand omgekeer. Dis nie aldag dat iemand plastiekblomme met iets vogtigs voed en laaf nie.

Page 46: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

46

Die suster het opgedaag en die lesery het begin. Ek was pas besig met die Woord toe die skande van my lewe (of ten minste een van die ergste skandes) hom begin bekendstel. Die koperpot se boom was deurgeroes... en soos die koffie deur die sand afsyfer tot by die boom, begin dit uitdrup op die “rubberteck”.

Daar is geen woordeboek wat kan beskryf hoe dit voel as koffie begin tip tip tip op ’n stuk tapyt wat elke druppel soos ’n aanklag uit die oordeelsdag aan die hele huishouding verkondig nie. Die plegtige geleentheid van ’n oomblik tevore word so vreeslik skielik bloedrooi tye! Dit was asof my liggaam heelwat te min bloed het vir al die bloos.

Die aanklag op die paisleypatroontjies het sterker geraak soos die Skriflesing verder gegaan het. Die gedrup het al vinniger geword, en uiteindelik was dit ’n dun straaltjie wat reguit afgeval het tot naby die vloer. Net voordat dit die tapyt tref, het dit in baie druppels opgebreek wat soos masjiengeweervuur op die “rubberteck” afgeskiet het.

Toe ek Amen sê, was daar al ’n redelike plas koffie op die vloer. Die plas het soos ’n oorloopdam begin wegkoers na die een kant toe.

Ek kan nie eers meer onthou hoe die suster gereageer het, en wat die dominee daaroor te sê gehad het nie. Ek weet net dat ek daardie dag geleer het dat dit beter is om geswete koffie deur jou keel te trek as om jou eer deur die modder te sleep.

Page 47: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

47

16. Die koppie se oor

Elke mens, hoop ek, het maar dinge wat vir hom lekker en sleg is. Ek is in elk geval so. Daar is ’n paar dinge wat vir my sleg is. Koffie en tee was nog nooit vir my lekker nie. Dit was (en is) vir my erg sleg as ek nie iets wil doen nie en iemand verplig my om dit te doen.

Nou is dit so dat ’n krisistoestand gewoonlik jou swak plekke laat uitlek en jou daarna alleen los om jou wonde te lek soos ’n muishond wat homself raakgedinges het.

Iets in dié lyn het my eendag oorgekom op huisbesoek. Ek was die dag weer so ongeduldig met myself en met almal. Dit is ’n ding wat ek verloor-verloor tot met gebede probeer besweer. Tot nou toe het enige sukses nog weggebly.

In elk geval, op die betrokke dag het ek iemand gaan besoek wat diep in pyn en twyfel was oor iets. Ek kan nie meer presies onthou of dit haar kinders was wat haar al die ellendes en geloofsvertwyfeling in die hand gestop het nie.

Dit is in elk geval so dat sekere mense se geestelike wiele se rimme maklik buig en dan slingerspore trap. Die probleem is net dat ek soms sonder enige hulp slingerspore deur die lewe maak – soos daardie dag.

Nadat ons gepraat en gelees en gebid het, bied die vrou vir my koffie aan. Ek bedank beleefd met al die valse verskonings wat ek maar altyd het, soos byvoorbeeld dat dit te naby aan ete is. ’n Koppie drinkware sou dan my eetlus bederf en watse twak ek nog alles kon uitdink.

Die suster het egter vas besluit dat die dominee koffie gaan drink of hy dors is of nie en sy is weg kombuis toe. Nou moet ek sê dat party mense mos so erg is oor aardse besittings dat tot rommel vir hulle ewigheidswaarde het.

Die suster was ook iets in die lyn. Ek kon dit aan haar skottelgoed sien. Die koppie waarin sy vir my koffie geskink het, het so ’n hap uit die rand van die koppie gehad. Van die hap af het so ’n kraak al langs die oor verby tot onder oor die boom van die koppie soos ’n swart garingdraad gelê. Aan die ander kant kon ek die krakie duidelik sien opwaarts beur.

Dit is in sulke tye wat ek so onversigtig raak en die sonde kans kry om my te wurg. Ek het aan baie planne gedink wat uitvoerbaar sou wees om van die koffie ontslae te raak. Maar in my ywer het ek nie gedink aan die brose toestand van die koppie nie. Toe die gasvrou se aandag weer eenkeer elders was, skiet ek die koffie deur die venster.

Ek was op daardie oomblik van baie rampe gespaar, want die venster was oop – so daar was nie ’n ruit in die pad nie. Ek het gelukkig ook nie die gordyn raak gegooi nie. Baie dankbaar moet ek konstateer dat daar ook nie muskietgaas was nie, want anders sou die suiker seker wit gesit het teen die draad.

Die een ramp waaraan ek nie gedink het nie, en wat onomkeerbaar was, was dat die helfte van die koppie saam met die koffie verder getrek het en ek net met die oor en die agterste stukkie van die koppie in my hand bly staan het.

Ek hoop maar die suster sal in die hiernamaals die humor van die insident kan insien. Daardie dag het sy nie.

Ek het ’n les geleer: as iets eers ’n hap en ’n kraak weg het, moet jy nie daarmee wegmik en dink niemand gaan jou skerwe sien nie.

Page 48: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

48

17. My beroep Salisbury toe

So deur die loop van my universiteitsjare het daar tye gekom dat ek bitterlik ernstig gewonder het of ek ooit reg doen as ek ’n predikant word. Eenkeer het ek van kursus gaan verander. Ek het vir BJuris gaan inskryf – ek wou liewer in die regte ingaan. Daar het ek nogals beter punte behaal as met die klassieke tale!

Op ’n dag het oorlede oom Joggie Hattingh my ingeroep na sy kantoor toe. Ek kan nie meer die naam van sy posbeskrywing onthou nie, maar hy was onder andere die adviseur van die studente.

“Wat sien ek op hierdie kaart hier voor my?” wou hy weet.

“Nee, hoe moet ek nou weet. Ek sien dan net die rugkant van die geel stuk karton!” ’n Student is mos altyd so wys dat die duiwel vir hom bid!

Die kwinkslag het oom Joggie niks van stryk af gebring nie. Hy het my reguit in die oë gekyk en vir my gesê: “Jy het universiteit toe gekom om jou as predikant te bekwaam. Jy maak eers jou BA klaar! Daarna kan jy gaan Regte studeer. Ek gaan nie toelaat dat jy jou pa se geld mors nie!”

Daar voor my oë het hy die geel vorm opgeskeur en ek is summier teruggestuur in die Grieks en Hebreeus en Latyn en ek weet nie wat nog alles in nie.

Nog later het ek as nagraadse student gehelp om Grieks te doseer. Aanvanklik het ek gedink dat dit nou die uitkoms is waarop ek gehoop het. Die Here werk egter anders. Daar het ek ook uitgeloop – die keer deur die Generaal, nogals!

Teen daardie tyd het ek en sy al vas uitgegaan. Sy was nie baie beïndruk daarmee dat ek nie die teologiese studies wou voltooi nie.

“Jy maak eers klaar waarmee jy begin het!” Sy het sterk aangedring daarop.

Toe is ek maar ná die honneursjaar Teologiese Skool toe.

In my finale jaar het ek baie getwyfel oor die predikant-weesding. Hoe gaan ek dit regkry om

die heeltyd met probleme van ander mense te werk? Waar gaan die wysheid vandaan kom?

Na ons laaste eksamen moes ons aansoek doen by die Partikuliere Sinode waar ons vandaan kom om deur hulle ondersoek en ondervra te word oor ons roeping en ons bekwaamheid as toekomstige predikante. Omdat ek van Ellisras af gekom het, moes ek dus by die Partikuliere

Sinode Noord-Transvaal aanmeld.

Die keer is ek vir raad na wyle prof Christie Coetzee toe. Ek het baie vertroue in hom gehad. Hy

het my lank en ernstig gesit en beluister. Hy was nie iemand wat onnodig gepraat het nie.

“Tienie, my voorstel is dat die Here self vir jou leiding gee,” was sy woorde.

“Doen aansoek om geëksamineer te word. Kry by hulle die tekste waaroor jy vir hulle preke moet voorberei en gaan dien dit in. Daarna sal die Here vir jou wys watter kant toe die dinge

moet loop.”

So doen ek toe ook. Ons moes drie preke indien – ’n Kategismuspreek, ’n Nuwe-Testamentpreek en ’n Ou-Testamentpreek. Die eksaminatore van die Partikuliere Sinode het

vir ons die tekste en wat alles voorsien waaroor ons ons preke moes maak.

Ek en Bertie Pretorius was die enigste twee uit ons klas van veertien kandidate wat van Noord-Transvaal af gekom het. Ons is opgeroep om op die laaste Dinsdag van November 1972 in die

Gereformeerde Kerk Pretoria-Oos voor die Sinode te verskyn om ondervra te word.

Saam met ons het daar ’n Hollander ook aansoek gedoen om ondervra te word. Hy het niks gestudeer nie, maar hy het geglo dat hy vanself al die nodige gawes het om ’n predikant te kan wees. Daarom het hy onder artikel 8 van die Kerkorde aansoek gedoen om toegelaat te word.

Page 49: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

49

Ek het die man daardie dag regtig jammer gekry. Die heel ou dominees – wat ook die eksaminatore was – was baie kwaai en moeilik met die arme ou. Die teks uit die Ou Testament waarvan hy sy preek moes maak, was iets uit Deuteronomium 14 – as ek reg onthou. Die preek moes gaan oor die woorde: Julle mag geen aas eet nie; vir die vreemdeling wat in jou poorte is, kan jy dit gee, dat hy dit eet, of jy kan dit aan ’n uitlander verkoop.

Vanselfsprekend het die ou moed opgegee. Hy het darem eers met ons kom praat en gevra van watter tekste ons preke moes maak. Ons tekste was natuurlik baie makliker as syne.

Hy is van ons af reguit na doktor Klaas van Wyk de Vries toe. Al was hy heelwat ouer as ons twee jonges, het hy ook sy hand sleg oorspeel, want hy het die verkeerde man sommer tromp-op geloop.

“Kan u van hierdie teks ’n preek maak?” wou hy baie opstandig van doktor Van Wyk de Vries weet.

“Nee, broeder, ek kan nie.” Die antwoord was so reguit as jy dit maar kan kry.

“Nou waarom moet ek daarvan ’n preek maak as u nie kan nie?” wou die Hollander weet.

“Omdat jy sê jy het besondere gawes. Ek het nie besondere gawes nie – daarom kan ek nie daarvan ’n preek maak nie. Maar as dit waar is dat jy besondere gawes het, moet jy dit kan doen!”

Die ou is toe huis toe.

Een van die afgevaardigdes op daardie besondere Partikuliere Sinode was oom Fanie van der Merwe. Hy het my baie uitgevra oor my bereidheid om ’n beroep na Salisbury toe te oorweeg – as hulle my sou beroep. Ek was maar versigtig om nie ’n beroep te aanvaar voordat ek beroep is nie. Ons is daarteen gewaarsku.

Daardie Sondag direk na die Partikuliere Sinode-sitting het ek twee beroepe gekry. Die een was na Mafeking toe en die ander een na Salisbury toe. Die beroep na Mafeking toe was vir heelwat meer geld as die beroep na Salisbury toe.

Dit was ’n Sondagaand toe oom Sarel Coetzer van Darwendale af gebel het om te sê hulle het my die oggend beroep. Ons het kuiermense gehad. Die Generaal het die foon geantwoord.

Sy het skoon verward in die geselskap teruggekom: “Waar is Darwendale? Maak gou, daar is iemand daarvandaan wat met jou wil praat!”

Terwyl ek en oom Sarel gepraat het, kom my seun Stephan met ’n totaal bebloede gesiggie by ons in die geselskap ingestap. Hy was toe net oor ’n jaar. Hy het my skeermes in die hande gekry en probeer skeer! Hy het letterlik al die velle van al twee wange afgesny.

Die arme kind. Eintlik moet ek sê: arme ek, want ek wil die kind help en dokter, maar ek wil hom sommer foeter ook en ek moet nog met ’n vreemde ouderling praat oor my eerste beroep en al die dinge wat belangrik is en daar sit mense in die sitkamer. Hoe maak mens nou?

My skoonouers was baie opgewonde oor die beroep na Mafeking toe, want dit was baie naby aan hulle. Maar in my binnekant het ek anders gevoel oor die saak.

Ek was maar altyd dwars van geaardheid en seker maar ook die meeste van die tyd verkeerd in dinge wat ek gedink en gedoen het. Ek het toe gedink dat dit nou vir my duidelik geword het dat die Here my in die bediening wil hê. Dan doen ek maar die ding behoorlik. Ek gaan begin my bediening by die gelowiges in die verstrooiing.

Twee van Salisbury se ouderlinge het my gebel. Oom Giel Smuts en oom Sarel Coetzer. Oom Giel Smuts was destyds die skriba van die Gereformeerde Kerk Salisbury. Hulle het baie by my gepleit dat ek asseblief die roeping moes opvolg. Hulle het vertel hoe groot hulle nood aan bediening is omdat hulle so wyd van die naaste gemeentes in Suid-Afrika af is waar predikante geredelik beskikbaar is.

Niemand van Mafikeng het met my geskakel oor die beroep nie – behalwe deur die beroepsbrief wat ’n week later opgedaag het.

Page 50: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

50

Ek het toe gedink dat ek dan maar eers my deel vir die gelowiges sal doen wat ver en in die boendoes bly. Later kan ek dan weer ’n beroep aanvaar na ’n gemeente in my eie land en hier kom werk – as die Here dit so wil.

Julle Bosveldvriendjie groet julle van waar hy spoorsny op die paadjie wat hy geloop het totdat hy is waar hy vandag is.

Van beroep tot beroep

Matiempaan

Terugantwoorde

Liewe Dominee

Dankie tog jy het jou teologiestudies voltooi. Jy sou dit dalk nie in die regte gemaak het nie. Jy is te eerlik daarvoor. Dink net as jy dalk Zuma of Malema moes verteenwoordig. Iesh!

Groete, Erna

Liewe Thinus

Dit was baie interessant om te lees van jou beginjare as predikant in Salisbury. Het dit baie geniet en terwyl jou gedagtes so op ver paaie gaan kan jy ons dalk nog meer vertel van jou bedieningsjare?!

Dit gaan goed hier met ons, Thinus. Nico was vir ’n paar dae olik. Hoe gaan dit met jou, en ook met Carin? Pas jul mooi op asseblief!

Baie seën vir julle

Liefde en groete van ons hier

Annatjie

Page 51: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

51

18. Ons trek raak weg

Nadat ek die beroep Salisbury toe aanvaar het, was daar ’n groot opgewondenheid in my. Dit was ’n opgewondenheid wat nie deur almal gedeel is nie. In my jonkheid was ek daardie jare so voortvarend dat ek nie in staat was om ander mense en hulle gevoelens ook in berekening te bring nie.

Stephan was toe al gebore. Albei stelle grootouers was baie erg oor hom. Destyds was ek nog heeltemal te dom om die gemis aan ’n kleinkind te verstaan. Ek het ook nog niks verstaan van die spesiale band wat daar tussen ’n kleinkind en die grootouers is nie. Om die waarheid te sê, ek verstaan dit nou eers, noudat ek self ook daar is.

Ek kan nie meer onthou watter maatskappy ons trek vervoer het nie. Ons moes self alles in groot kartonne pak – nie dat ons as ’n studente-egpaar baie gehad het om te pak nie! Nadat ons trek deur die maatskappy gelaai is, het ons die twee stelle ouers gegroet. In Potchefstroom het ons van my ouers afskeid geneem en daarvandaan af Zeerust toe gery en die Generaal se ouers gaan groet.

My skoonpa was bitterlik ontsteld omdat ek ’n beroep buite die land aanvaar het. Toe ons die dag groet om te ry, het hy sy groot vinger teen my bors gedruk en vir my gesê: “Ek hou jou verantwoordelik vir my dogter en my kleinseun se dood!”

So is ons vort in die vreemde land en wêreld in!

Ek dink die werklikheid van ’n beroep in die vreemde het my eers getref toe ons deur Beitbrug se doeanepos is. Anderkant die grens was dit vreemde swartmense met ’n vreemde taal wat ek glad nie kon verstaan nie. Die wittes praat almal Engels – en ek kan tot vandag toe nie Engels praat nie.

Die veld het voortdurend verander soos wat ons noordwaarts opgekruie het na Salisbury toe. Langs die pad het daar van tyd tot tyd geweldige groot rotse gelê. Dit was klippe so groot soos ek in my hele lewe nog nie gesien het nie. Sommiges van hulle was byna in die vorm van ’n rugbybal en feitlik sonder enige nate.

Die hele ent pad was dit bewolk. Dit was inderdaad ’n groot probleem – veral vir die Generaal. Omdat die son nie daar was om ons te help rigting bepaal nie, het ons later glad nie meer geweet na watter kant toe ons ry nie. Die gevolg was dat die Generaal tot die dag dat ons uit Rhodesië weg is elke dag gesien het hoe die son vir haar wes opgekom het en oos ondergegaan het!

Buite Salisbury het Willie en Joan Britz ons ingewag. Daar was nog een of twee motors vol mense, maar ek kan nie meer onthou wie hulle was nie. Ons het regtig ’n helde-ontvangs gekry en is met ’n erewag in ons nuwe stad in. Die erewag het ons na Daan en Yvonne Venter se huis toe geneem. Daar het hulle ons kos gegee. Ons het die eerste nag by hulle geslaap.

Die volgende dag het hulle ons ons nuwe huis gaan wys. Dit was ’n dubbelverdieping-pastorie. Ons het maar bietjie bleek gevoel oor ons paar ou meubeltjies wat in hierdie groot plek gaan verdwaal.

Ons bekommernis het ’n hupstoot gekry toe die treklorrie met ons meubels nie opdaag nie. Die skriba het navraag gedoen. Tevergeefs. Niemand het iewers niks geweet van so ’n Du Plessis-trek nie. Ons hele trek was net spoorloos weg.

Met dié bel ek my pa in Suid-Afrika. Kyk, my pa was nie ’n man wat van stilsit sou doodgaan nie. Hy spring toe in sy kar en ry na daardie vervoermaatskappy se hoofkwartier toe. Hulle weet ook van niks. Nog nooit het hulle van so ’n trek gehoor nie, verseker hulle hom.

Dit was nou presies die antwoord wat jy nie vir my pa moes gee nie. Dan het jy moeilikheid gekry. Hy stap toe net daar by die bestuurder verby en gaan soek self in hulle store na ons meubels. Dit was nie baie lank nie, toe kry hy die meubels waar dit gestoor staan. Ons naam en ons adres waar dit in Salisbury afgelewer moet word en als staan op die meubels geskryf.

Page 52: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

52

Toe was dit weer die bestuurder van die meubelmaatskappy wat op die rooi matjie moes gaan staan! Die saak het darem goed afgeloop, want ons het ’n week later ons meubels by ons eerste pastorie gestaan en aflaai.

Deur die loop van die eerste week het ek en die Generaal maar ons kind in die motor gelaai en by gemeentelede begin huisbesoek doen. Ons moes iets doen om die tyd om te kry. So land ons eendag by Fanie Steyn.

Die afspraak het so soort van vanself van sy kant af gekom. Dit was ongeveer vyfuur die middag toe die telefoon lui.

“Dominee wil jy en jou vrou nie julle kind oplaai en by ons kom braaivleis hou nie?”

Natuurlik was ek nog altyd ’n man vir braaivleis.

“Wanneer moet ons kom?”

“Nou!”

“Waar bly julle en hoe ver is dit van hier af?” wil ek weet.

“Ek bly net anderkant Darwendale. Dis seker so om en by tagtig kilometer van die pastorie af.”

Dit was my eerste kennismaking met mense wat bitter min respek vir afstand het! Tot op daardie dag het ek gedink tagtig kilometer is baie ver. Toe vind ek uit dis so naby dat mens sommer gou oorry en gaan braaivleis hou! Wil jy nou meer!

Daardie aand het ons onder andere vars groenmielies as deel van die braaivleis gekry om te eet. Nie gewone gaargekookte mielies soos ons in die Bosveld ook ken nie. Nee, hierdie mielies word almal op die kole gebraai. Ek onthou die vreemde kennismaking met die groot mielies wat op dié manier oor die kole gehaal is.

Iemand het gebel terwyl ons besig was om te eet. Ek kon uit die gesprek agterkom dat dit ’n vervoermaatskappy is wat op ’n vorige oproep van Fanie antwoord.

“Dis dringend dat ek dadelik ’n vragmotor moet kry om my mielies te kom oplaai!” het Fanie vir die ou aan die ander kant van die lyn gesê.

Op sy beurt het die ou toe verduidelik dat hy nie dadelik ’n vragmotor beskikbaar het nie. Die vroegste wat hy kan help was eers teen die volgende week.

“Volgende week is nog betyds!” het Fanie rustig geantwoord.

Daar leer ek toe nog ’n ding. Dringend is vir die Rhodesiërs ’n ander begrip as die dringend wat ek in die Transvaal leer ken het! Dringend beteken in die Transvaal dat dit eintlik al gister moes gebeur het. In Rhodesië het dit beteken dat dit net die een of ander tyd moet gebeur – nie noodwendig terstond nie.

Julle Bosveldvriendjie groet julle met daardie sagte gebraaide groenmielies in sy agterkop.

Van pit tot pit wat tussen jou tande vassit

Matiempaan

Terugantwoord

Hm, groenmielies op die kole! Lekkerrrr, man!!!

Ons was net vir ’n paar kilometer binne-in Zimbabwe, maar dit is verseker pragtig daar. Ek weet nie hoe dit verder lyk nie, maar die noordwestelike deel is pragtig (die ou Whankie-reservaat en die dorpie Victoria Falls).

Hoe groot was julle gemeente in Salisbury? En het jy die res van die land gesien met huisbesoeke of hoe groot was jou gemeentegrense?

Groete

Margo

Page 53: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

53

19. Ek bedien die Doppers in Malawi

Die jare toe ek die jong domineetjie in Salisbury was, het daar ’n hele paar dinge met my gebeur wat ek as geweldige skokke ervaar het – omdat ek niks van bediening geweet het nie. Veral seker omdat ek niks geweet het van die eiesoortige bediening wat die Dopperkerk in Salisbury van sy dominee gevra het nie!

As ek so terugdink, was dit dalk juis dié dinge wat my geleer het om vir enige ding voorbereid te wees en om onder alle omstandighede dienskneg te wees as jy die Here wil dien.

Ek onthou nog min of meer wie daardie jare almal op die kerkraad was. Die skriba was Fanie van der Merwe, ’n klein mannetjie met ’n reusebles en ’n hartlike lag aan hom. Sy pa was ook ouderling. Sy naam was ook Fanie van der Merwe. Vir ons jonges was die ouer man oom

Fanie.

As ek nou so terugdink aan daardie kerkraad, was daar ’n hele klomp van hulle wat familie van mekaar was, want daar was ’n ouderling met die naam Jan Jacobsz en hy het ’n seun gehad met die naam Jan Jacobsz wat ’n diaken was. Oom Jan en sy vrou Tokkie het naby Mtoko geboer – as ek reg onthou. Klein Jan het by die Peugeot-motoraanleg gewerk.

Groot Jan Jacobsz was klein Fanie van der Merwe se swaer en oom Fanie se skoonseun. Kleinjan Jacobsz se vrou Julie was nog ons orreliste ook. Dan was daar nog die Van der Merwes en die Coetzers en die Venters. Met enkele uitsonderings was hierdie families feitlik die hele gemeente!

Na so ongeveer drie maande in die bediening was dit tyd vir die tweede kerkraadsvergadering in daardie gemeente. Die dag staan Willie Brits – een van die ouderlinge – op en wys die kerkraad daarop dat daar lanklaas ’n dominee en ’n ouderling in Malawi was. Dit raak nou tyd dat daar weer broeders aangewys moet word wat soontoe kan gaan om te gaan huisbesoek doen en Nagmaal bedien.

Die kerkraad benoem toe vir my en oom Fanie as die twee afgevaardigdes wat na Malawi toe moes vlieg. Ek kan mos nie ’n erediens hou as daar nie ’n ouderling by is nie. Hulle benoem toe ook vir Willie Brits, want hy kon soort van verniet vlieg, want hy moes vir sy werk juis in daardie

tyd na Malawi toe vlieg. Sy werk het dan vir sy vlugkaartjie betaal.

Ek het my waaragtigwaar bleek geskrik, want ek het nie eers kon droom dat ek dít ook nog moet doen nie! Daardie jare was dit terroristetyd! Al wat ek daarvan verstaan het, was dat Afrika ’n bitterlik gevaarlike plek is vir ’n outjie met ’n wit vel – veral as hy nog Afrikaans ook praat! Ek is al klaar ’n ent in Afrika op en nou moet ek nog dieper in die donker gevaarlike wêreld in! Buitendien was die Generaal toe swanger met Derik!

Die kerkraad het my geen keuse gelaat nie – ek moes gaan. My werk is my werk.

Daardie jare is daar nog met ’n Viscount tussen Salisbury en Blantyre gevlieg. Dit was vliegtuie wat as die veiligste vliegtuie op die aarde beskou was, want die teorie wou hê dat hulle met net een van die vier enjins nog steeds in die lug kon bly. Of dit nou waar is, sal ek nooit presies kan weet nie.

Omdat Rhodesië en Zambië daardie jare glad nie met mekaar klaargekom het nie, moes die vlug oor die heel noordelike deel van Mosambiek vlieg om in Malawi te kom.

Uiteindelik het ons op die Chileka-lughawe geland. Die lughawe het in ’n diep krater gelê. As dit vandag nog steeds die amptelike lughawe is, lê dit nog steeds in daardie diep krater!

Wanneer die vliegtuig oor die rand van die krater gevlieg het om onder in die kom te gaan land, was ek regtig vrekbang. Dis nou as ek dit in die sagste kanseltaal mag stel. Dit het altyd vir my gevoel asof ons tussen die mense deur vlieg wat op die rug van die berg met hulle skoffelpikke gestaan en lande bewerk het. Wat daarvan as ons hulle raakvlieg? Of in die berg vasvlieg?!

Die pad van die lughawe af na Blantyre toe het destyds weerskante twee rye wit pale gehad waaraan die Malawi-landsvlag gehang het. By die ingang in Blantyre in was daar ’n reuse geel konkreetboog met die Malawiërs se landswapen op. Die landswapen was ’n pikswart hoender-

Page 54: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

54

haan wat gekraai het vir die opkomende son!

Wat vir my baie interessant was, was dat geen vrou wat ’n minirokkie aangehad het by die doeane deurgelaat is nie. Destyds was dit die tyd van die minirokke – en was sommige van daardie rokkies nie gevaarlik kort nie! Selfs ’n lang man moes soms sukkel om die son uit sy oë te hou!

As vrouens in Malawi nie ’n rok aangehad het wat tot om hulle enkels gehang het nie, is hulle op die plek in hegtenis geneem! President Banda het reguit verklaar dat hy sy mense leer om ordentlike klere aan te trek, en dat die wittes hulle dan weer leer om kaal te loop!

Om die vrouens wat minirokke aangehad het, tegemoet te kom, was daar ’n winkeltjie net voordat jy jou paspoort moet inhandig. Daar kon die vrouens verskillende groot stukke materiaal koop wat hulle dan om hulle onderlywe kon draai en vasknoop, sodat hulle tot op hulle enkels bedek kan wees!

Ons het altyd by die Suid-Afrikaanse handelsambassadeur tuisgegaan. Ons is elke keer baie hartlik ontvang. Van sy huis af het ons dan die Gereformeerdes regoor Malawi besoek. Willie Brits het al die fynere kunsies geken. Daarom het hy vir ons ’n motor gehuur waarmee ons rondgereis het.

Al op die tweespoor-teerpaaie het ons die lidmate opgesoek en by elkeen se huis vir hulle gelees en gebid. Die ongeveer dertien gesinne wat daar destyds was, was baie verspreid. Die wat die vêrste suid was, het op Succoma Nchalo by die suikerrietplantasies gebly en gewerk. Die wat die vêrste noord was, het op Lilongwe gebly. (Ek gebruik maar die spelling van die plekname soos ek dit van destyds af onthou. Dis ook al lank gelede, want dit is nou ook al byna 40 jaar terug se geskiedenis!)

Ek onthou nog hoe versigtig en stadig ons moes ry, want die pad het letterlik vol van honderde mense geloop. Kort-kort het daar ’n swaar reënbui uitgesak. Soos blits het al die mense weggeraak! Ek weet nou nog nie waarheen nie, maar dan was daar nie een op die pad te siene nie. Dan kon ons vinniger ry en goed vorder.

Sodra die reënbui na ’n paar minute verby is, het hulle uit die ruie bosse uitgepeul – sommiges van hulle met groot piesangblare oor hulle koppe om hulle teen die volgende reënbui te beskerm! Die hele pad het meteens weer gewemel van mense. Dan moes ons weer stadiger ry.

Sondagoggend het almal by die ambassadeur se huis bymekaargekom. Ons het destyds elke keer die NG Kerk se Nagmaalservies gaan leen om vir die Doppers Nagmaal te kan bedien! Kan jy dit nou dink!

Die Krugers, en later die Aues, wat toe in die ambassadeurswoning gebly het, het dan ’n keurige Nagmaalstafel voorberei en die handjievol mense het daar saamgekom vir ’n Nagmaalsdiens. Die inwoners het hulle banke en sitkamerstoele en kombuisstoele en wat als nog reggesit vir die Nagmaalgangers om sitplek te kan hê. Daar was nie musiekbegeleiding nie. Die ambassadeur moes voorsing, want die diens was in sy huis! Hy was altyd so gespanne, want hy wou vroeg al die psalms hê sodat hy dit kon oefen!

Vandag lê hierdie dinge so ver terug dat dit byna in ’n waas van onwerklikheid verdwyn! Tog dink ek met heimwee daaraan terug. Ek verlang selfs na die dinge wat destyds was. Ek is so jammer dat ek toe nog so dom met die lewe was dat ek nie al die dinge verstaan en voluit kon geniet het nie!

Julle Bosveldvriendjie groet julle met sy gedagtes op van die vêrste paaie wat hy al vir die bediening van die Here se Woord moes vlieg en ry.

Van blaar tot blaar

Matiempaan

Terugantwoorde

Page 55: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

55

Beste Ds.

Baie dankie vir al die geskrifte! Ek waardeer die humor! – Ek deel alles met my mede werkster. Sy geniet dit net so!

BAIE groete tuis!

Julie Jacobsz

Liewe Dominee

Ek kan net dink hoe bang jy was om te vlieg. Dis was nogal in die tye toe almal net alles in Afrika as woes en wreed beskou het.

Die minirok-storie is baie snaaks. Dat ’n swartman nou die witmeisies moes maniere leer. Wonder of dit vir hom gegaan het oor morele waardes?

Lekker dag

Groete

Erna

Page 56: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

56

20. Hy het my opgelei

Die eerste beroep wat ek aanvaar het, was na Salisbury toe. Deesdae is die plek se naam Harare. Daardie jare was die land ook nog Rhodesië – wat intussen ook al na Zimbabwe toe verander het.

As ek nou so terugdink aan my beginjare, sidder ek. Ek besef nou eers hoe min ’n outjie wat sopas uit die Teologiese Skool uitgekruip het, eintlik weet! Daarby was die naaste dominee aan my op daardie stadium net mooi 640 kilometer van my af. Ek het dus niemand gehad by wie ek raad of leiding kon gaan vra nie.

Die kerkraad van Salisbury wou weet wie ek graag wil hê my moet bevestig. Ek het toe gevra dat professor Bouke Spoelstra my moet bevestig. Hulle het dadelik ingewillig en dit ook so gereël.

Die teks waarmee ek bevestig is, kan ek nie meer onthou nie, maar ek onthou baie goed dat die gemeente Psalm 121 al die verse gesing het terwyl ek voor die preekstoel gekniel gestaan het. Oom Bouke se hande het op my kop gerus.

Miskien was dit al simbolies daarvan dat bitter min mense aan my vorming as predikant sou deelneem – want gewoonlik is daar ’n hele swetterjoel manne wat mens die hande kom oplê. Ek het baie min manne gehad wat die lewenskuns van predikantwees aan my oorgedra het! So het die Here ook beskik dat ek maar my pad alleen met die Bybel in die een hand en die belydenisskrifte en die Kerkorde in die ander hand moes oopveg in die bediening in.

Tog het die Here een besondere man voorsien wat die grootste gedeelte van die slypwerk aan my predikantwees gedoen het – veral aan die preekmaak- en voordraggedeelte daarvan. Daar was destyds inderdaad twee van hulle, maar die een was baie ver – dr Dion Kempff wat destyds in Potchefstroom gebly het. Die ander een was naby – oom Sarel Coetzer wat ons ouderling was.

Tydens ons opleiding het die prof wat vir ons Homeletiek gegee het, net altyd een ding in die klas te sê gehad: “Broeders, julle kan enige teks vat, maar daardie teks moet eindig by die Here Jesus Christus, anders het julle nie gepreek nie.” Hy het dan self vir ons tekste gegee en ons biblioteek toe gestuur om te gaan preek maak.

Elkeen het dan maar ’n werkstukkie gaan uitwerk soos wat hy gedink het dat dit goed was. Natuurlik het die proffie se kritiek nie uitgebly nie. Die jaar daarna moes die finalejaarstudente ons preke beoordeel wanneer ons dit in die kerkgebou van die preekstoel af moes voordra. Dit het ons ook nie juis gehelp om te kan preek maak nie, want hulle het prakties net so min soos ons van preekmaak geweet!

So is ek (en almal van ons) toe gemeentes toe. As dit van ons opleiding afgehang het, was die kerk van die Here op vernietiging afgestem! Omdat die kerk die liggaam van die Here is, bewaar Hy gelukkig self sy kerk. Hy lei sy dominees op maniere op wat dikwels met die akademie niks te doen het nie.

So het die Here vir my oom Sarel Coetzer beskik. ’n Man met bitter min geleerdheid – maar ’n man wat die Here van harte geken het.

Oom Sarel was ’n kort man. Hy was heeltemal vierkantig gebou. Elke stukkie van sy liggaam as spiere. Hy was seker die sterkste man wat ek ooit in my lewe leer ken het.

Hy het die gewoonte gehad dat hy op ’n Maandagmôre voor die pastorie kom stilhou. Vroeg. Baie vroeg. Die son was nog nie op nie dan trek sy vaal diesel-Peugeot in die oprit voor die pastorie in.

“Dominee, kry jou preke van gister en kom klim by my in die bakkie,” het hy dan altyd gesê.

Daardie jare was daar nog nie ’n ding soos ’n rekenaar nie. Ek het my preke nog op ’n tikmasjientjie getik. Dan het ek maar ewe gehoorsaam die twee preke wat ek die vorige dag op die preekstoel gebruik het, gevat en by hom in sy bakkie geklim.

Page 57: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

57

Hy het elke keer na Mazoe-dam toe gery. Daar het hy onder ’n spesifieke groot bloekomboom stilgehou.

“Preek nou weer vir my jou twee preke.” Dis al.

Terwyl hy oor die water sit en uitstaar, het ek dan maar met die eerste preek begin. Kort-kort het hy gesê: “Stop. Dominee, wat wil jy eintlik met daardie woorde sê?”

Dan het hy verduidelik dat hy iets mis of iets nie verstaan nie. Of hy vra: “Waar kom jy aan die ding wat jy nou daar kwytraak?”

Dan begin ek vir hom verduidelik. Wanneer ek klaar was, het hy dan altyd gesê: “Nou waarom het jy dit dan nie op die preekstoel gesê nie? Nou moes ons leeg uit die kerk uitgaan omdat jy nie gesê het wat jy moes sê nie!”

So het hy my geleer om deeglik navorsing te doen wanneer ek ’n preek voorberei. Hy het my ook geleer hoe ’n dominee sy preek moet voordra. Sy woorde was altyd: “Moenie vir ons preek nie! Vertel ons! Praat met ons. Ons wil luister, nie gedreig word nie.”

Met die verloop van tyd het sy kommentaar en opleiding al minder geword. Later was hy met my preke heeltemal tevrede. Die gemeente ook. Ek preek vandag nog op die voordragstyl wat die ou omie my geleer het.

Hy was altyd vriendelik. Maar ook altyd ferm. Hy het ook nie gehuiwer om elke keer dankie te sê vir dit wat ek darem reg gedoen het nie!

Hy was ook iemand wat presies geweet het hoe ’n voorsitter ’n vergadering moet lei en beheer. Ek dink nie eers hy het iets van Van Wyk en De Vries se vergadering-handleiding geweet nie. Tog het hy met jare se ondervinding op kerklike vergaderings presies geweet hoe die kerkorde en vergaderingsprosedure werk.

Soms was die Maandagoggend nie aan een van my preke gewy nie. Dan het hy my vorige kerkraadsvergadering van voor af met my deurgewerk. Hy kon hom lelik vererg as ek iets simpels gedoen het. Met diepe dankbaarheid moet ek darem erken dat hy my nooit in die kerkraadsvergaderings vermaan het nie. Hy het dit gebêre vir die bloekomboom langs die Mazoe-dam. Daar het hy sy sêgoed uitgehaal en behoorlik in duidelike taal oorvertel.

Ek het uit hierdie situasie geleer dat die Here nie geleerde manne gebruik om sy bedienaars vir sy gemeentes op te lei en bekwaam te maak nie. Hy gebruik soms iemand uit die gemeente wat geen geleerdheid het nie – soos in my geval.

Julle Bosveldvriendjie groet julle met sy opvoeding helder voor sy oë.

Van boom tot boom

Matiempaan

Terugantwoorde

So gebruik die Here mense soos oom Sarel Coetzer net soos Hy die eenvoudige vissermanne van sy tyd op aarde gebruik het.

Dit was baie lekker om weer van Salisbury en Mazoe-dam te hoor – ek mis my geboorteland natuurlik nog steeds, die plaas en alles wat daarmee saamgegaan het, en veral mis ek Mielies se teenwoordigheid en opgewekte lewenswyse.

Die Here was en is nog steeds baie goed vir ons vandat ons in Suid-Afrika gekom het in 1979 en almal hier het ons so vriendelik ontvang destyds, so ek kla nie regtig nie!

Groete, Rina Pienaar

Hallo

Wat ’n ryk verlede het jy met soveel suiwer, sielsverrykende, opbouende invloede wat deur die werking van die Heilige Gees jou gevorm het tot die buitengewone mens wat jy vandag is! Die Here het duidelik en seker ’n besondere doel met jou in hierdie lewe gehad (nog steeds!) Het ek nie al tevore min of meer dieselfde woorde gesê nie?!

’n Harde of moeilike kinderlewe vorm gewoonlik ’n verantwoordelike volwassene wat teenslae beter kan hanteer en soms ook besonder geduldig en vol liefde kan wees (ek ken ’n paar sulkes). Jy het ’n pragtige kinderlewe gehad in

Page 58: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

58

vele opsigte, maar die meeste daarvan was in die hospitaal, wat jou ook maar goed gebrei het vir die lewe. En toe weer ’n jong predikantslewe met geweldige uitdagings en wonderlike geleenthede om te groei wat jy, met die hulp van die Here, baie goed benut het.

Ek het dit so geniet om van die kleurryke figure te lees wat soveel bygedra het tot jou ontwikkeling. Die Here het jou regtig oorvloediglik geseën, Thinus! Al het jy soveel swaar tye deurgemaak, was dit al die pad Rom 8:28, 29. En ons pluk almal die wonderlike vrugte daarvan, soos al jou vorige gemeentes. Jy word net al hoe beter, soos ou wyn! En nou het jy nog die gawe om dit so beskrywend en onderhoudend oor te dra met die pen en met die mond!

Ek klink miskien oordrewe “komplimenterig” en baie ernstig, maar dis soos dit my getref het toe ek jou laaste klompie sketse so na mekaar lees. Dan het ek nog nie alles gesê wat ek voel en ervaar nie. Maar ek sal jou dit spaar.

Groete

Annatjie Dijkstra

Beste Ds

Baie dankie vir die nuusbriefies wat so gereeld deurkom! Ek het weer teruggedink aan oom Sarel, oom Martiens en oom Giel Smuts. Ag, sommer almal daar in Salisbury.

Tannie Elize Smuts lewe nog, sy kuier soms by haar suster hier in Tzaneen, dan woon sy eredienste by. Sy bly maar ’n platjie soos altyd! Sy is baie oud.

My angiogram van twee weke gelede het ’n verstopping in my regterlies-aorta getoon, maar deur die Genade is daar reeds are besig om self die bloed te omlyn, so ’n operasie is onnodig!

Genadig is ons kinders nog hier, mens weet net nie vir hoe lank nie. Skoonseun Renier het sy MBA geslaag en ek weet dat indien ’n pos oorsee beskikbaar sou word, sal hy ’n moeilike besluit moet neem.

Sterkte met die Paasnaweek vir jou en jou preke. Julle het ’n marathon-naweek wat voorlê agter die orrel. Paas- en Kersfees is mos so – al weet ons dat dit tot eer van die Here is.

Groete vir die Generaal

Seënwense

Jan Jacobsz

Thinus

Die oom het beslis goeie werk gedoen! Nou is ons so bevoorreg om te geniet van preke wat goed voorberei is en sê wat die Here sê – vermaan maar terselfdertyd getroos met die blye boodskap van Jesus Christus se soenverdienste!

Jou harde werk word opreg waardeer.

Seëngroete

Geert

Page 59: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

59

21. Tant San is uit melk uit

Sy was die baasbakster in die gemeente. Niemand het dit ooit betwyfel nie. Daarby was sy formidabel van liggaamsbou ook. Effens groterig van lyf en lank op haar stelte. ’n Plaasvrou in murg en been.

Eintlik was haar hele lyf ’n stuk kloppende humor, want haar bene was baie dun – soos stokkies. Haar boonste lip het altyd besweet gepêrel van uitputting en konsentrasie om haar bolyf op haar bene gebalanseer te hou.

Dit is ook eintlik waar die hele probleem ontstaan het – haar bolyf. Sy moes taamlik agter in die ry gestaan het toe kopligte uitgedeel is, want toe sy daar opgedaag het om haar twee gawes te ontvang, het die uitdeler vir haar twee troospryse gegee – sy het twee van die houers gekry waarin die laaste paar dosyn gekom het.

Die besondere mens ploeterstap topswaar soos ’n ou Hudsonmotor op ’n grondpad met sy hoofligte op “bright”. Haar ligte skiet so op en af en buig met elke tree om die draaie. Ek besef nou eers hoe ’n geweldige stryd die vrou moes deurgemaak het, want dit was baie jare voor Cross Your Heart die mark betree het. Dalk sou selfs dit te min gewees het om alles te stut, want twee kleinerige tentjies sou dalk beter gewerk het. Ek weet net nie van die tentpaal nie.

Een Sondagoggend naby my verjaarsdag bestorm sy my by die kerk. Ek kan aan die gewigtige manier wat sy my betree en die geweld van haar soen voel dat sy ’n offer van faam gaan bring.

“Dominee, nes ek weer in melk is, bak ek vir jou ’n melktert.”

Ek kyk teen haar moederlike vermoëns vas – want sy is nogal lank. Allerhande onheilspellende gesigte flits voor my geestesoog verby. Ek het nie geweet dis waar melktert vandaan kom nie. Ek is ook nie seker oor die vernaamste bestanddeel waarvan sy praat nie. Daar is natuurlik ook die vae moontlikheid dat hulle melkkoei dood is. Of uit melk uit geraak het (!).

Daar kom tye wanneer ’n man vinnig op sy voete moet dink. Ongelukkig werk dit nie altyd ewe goed nie.

“Ek dink Tannie moet maar wag tot daar weer ’n koei kalf,” stel ek voor.

Haar reaksies verduidelik dat ek die saak verkeerd verstaan en ook verkeerd hanteer het. Sy is kerkraad toe. Sonder melk en al.

Ek verduidelik toe maar wat ek verstaan van droë koeie wat uit melk is, en hoe die saak opgelos behoort te word. Die ouer manne was boos en die jongeres het gelag. Nes Rehabeam se verstandige en onverstandige pêlle.

Die volgende Nagmaal het al die stof gaan lê en die versoening het al die melkerigheid in die verhouding tussen ons twee opgeklaar. Haar vroulike humor het intussen bygekom nadat sy die situasie drie maande lank ver genoeg kon wegskuif om dit in perspektief te kry.

Nagmaal is agter die rug en die hele gemeente staan saam en tee drink toe sy vertroulik en so vroulik as moontlik langs my kom staan.

“Dominee,” sê sy met haar sterk manlike stem, “ek dink jy moet met my man kom praat. Ek is nog nie in melk nie.”

Page 60: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

60

22. Die diaken klem en die ape kaak

Dit is verstommend hoe ’n mens soms in ’n gedagtelose oomblik bokkerol met styl kan doen. Veral as jy dit met ’n pak klere begin doen en kaal anderkant uitkom.

Ons drie het saam grootgeword in die Bosveld. Nou dien ons saam op een kerkraad myle van ons grootwordplek af. Stefaans Kruger is ouderling, Herman Venter diaken en ek predikant. Soos ons gebruik in die gemeente is, doen die predikant en die ouderling en die diaken ten minste een keer per jaar saam huisbesoek. Hierdie wyk is aan die beurt.

Ek het in die wintermaande opgelet dat ’n sekere stuk grond tussen twee plase inderdaad ’n ou land is. Dit is doodgelyk en daar is geen klippe of slote nie. In die middel van die land het daar oor die jare drie jong Msasabome opgekom. Hulle staan styf langs mekaar en groei dun en regop.

Vanjaar het dit goed gereën en die gras staan hoër as ’n meter. Ek let meteens beweging op: koppe peul uit en duik weer weg. Oral. Dit is ’n trop ape wat deur die land beweeg. Soos ’n aap se gewoonte in die lang gras is, stap hy ’n paar treë en dan spring hy eers bokant die gras uit en kyk waar hy is en wat om hom gebeur voor hy verder loop. Dis ’n groot trop.

Nou is dit so dat die duiwel op die mees onverwagte tye met ’n man se onvoorspelbare kan karring. Ek pluk die kerkkar dwars uit die plaaspad uit in die land in en trap die petrol. Heen en weer deur die trop ape. Hulle is so verward soos muskiete op Sandy Bay. Maar hulle hardloop dat dit bars – onder andere.

Die ouderling sit langs my en die diaken agter. Hulle al twee belowe tjoklits en rooikoeldrank boontoe as hulle net bewaar bly en lewend by hulle gesinne mag uitkom.

Vyf van die jongste apies maak dit in die Msasabome in en daar sit hulle. Ek stop langs die bome. Ek vat ’n lang kans:

“Herman, sien jy nie kans om een van die klein apies te vang nie?”

Daar is altyd die verbysterende waarop geen mens voorbedag is nie. Ek meen die arme man het saam met my tussen die ape grootgeword!

“Ja, Dominee.”

Ek weet sommer. Niemand hoef jou te vertel dat jy kan weet dis dinges as jy daaraan proe nie.

Hy klim jou werklik net so met sy kerkpak en sy das en sy kerkskoene en sy netjiese bos swart baard in die Msasas in. Ongelooflik. Ek wonder of sy brein raakgesny is toe hy die dag besny is.

Herman vorder tot so twee handbreedtes onderkant die ape se sterte. Hy kan hulle net-net nie gryp en uit die boom uitgooi nie. Ek glo dat die twee aartsengele Migael en Gabriël op daardie stadium self al bietjie wyer om die bome begin sirkel het.

Die gesalfde daar in die boom maak ’n plan. Kyk, hy boer nie verniet nie, want ’n boer maak alles met ’n stuk draad en ’n tang reg – of hy skud dit. Laasgenoemde is die diaken se uitweg. Hy gooi sy 120 kilogram van kant tot kant en hy begin die Msasaboom waarin hy is wieg. Van die een kant na die ander kant en van erg na erger. Ek het nie verbeelding nodig om te sien dat hy die ape uit die boom wil uitskud nie.

Dit gaan rof, maar die ape hou. Toe gebeur die normale. ’n Aap se stressenuwees loop mos deur sy agterent. Toe stres hulle. Sulke blinkvaal strepe. Ons hoor hulle eintlik stres.

“Dominee, hier kom ’n drop!” gil Herman.

En nog... en nog baie.

Ons sien dit mos, waarom skreeu hy dit nog?!

Nood leer bid, maar Herman verstaan dit heeltemal verkeerd. Hy dink: nood leer briek. Daarmee probeer hy die bome in die teenoorgestelde rigting rem met sy groot gewig. Dit is baie

Page 61: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

61

duidelik wat hy probeer beplan. Hy wil die bome tot stilstand kry, want die takke is gevaarlik glad van die hewige stresstorm en sy soolskoene kan dalk die pad verlaat.

Sy briekpogings versleg die saak. Al wat gebeur, is dat die slap bome in die middel ’n kinkel bykry en boontoe vinniger swiep. Die ape se skyt werk nou soos haelgeweerkorrels. Dit tref in die wydte en in die rondte en in die verbygaan. Buurman, dis ’n geweldig aandoenlike skouspel.

Herman het uiteindelik weer van bo af teruggevaar en is met ons. Hy het sonder vlerke die aftog aangedurf en alles behalwe sagkens sy aardevaart aangepak. Hy rou soos ’n Israeliet van ouds met stof op sy aapmisbevlekte hoof, terwyl sy baard oordrup van blink gladde strepe wat alles behalwe na heilige wierook ruik.

Stefaans krap met ’n stokkie die ergste uit Herman se baard uit. En van sy wangbene af. Sy skouers lyk soos ’n hoenderstellasie. Ons kan die man nie in die kar laai nie. Al is die kar nie heilig nie, dis darem ’n kerkkar. Buitendien moet ons ander twee kan asemhaal ook. Herman ry voor op die enjin. Ek ry stadig en betaamlik, sodat die pas gesalfde nie verlore raak nie, tot by die spruit.

Alles word gewas. Herman se baadjie en sy hemp. Tot sy broek en sy das ook. Natuurlik word hyself onderdompel, baie meer as drie keer, om alles uit sy hare en baard te kry.

Ons ry verder. Herman sit in die middel agter. Kaal. In elke venster is iets vasgedraai om droog te waai. Die pak lyk baie ellendig, want die wasproses in die spruit was blykbaar nie so goed soos ’n droogskoonmakery nie. Die reuk herinner sterk aan die doderyk.

Naby elke huis waar ons daarna huisbesoek moes doen, het ons eers stilgehou sodat Herman kon aantrek. Beleefd en uiters nederig vra Herman vir “aftershave” en gooi feitlik alles op sy klere uit. Met tydelike sukses.

Die Sondag daarna staan my vrou naby Herman en gesels.

“Ek is seker iemand hier naby ons het ’n slegte maag, want ek kry kort-kort so ’n klankie daarvan.”

“Nee, Mevrou,” antwoord hy, “dis my klere. Ek het dit al twee keer by die droogskoonmaker ingegee.”

"Wat makeer?” wil sy ewe onskuldig weet.

“Het Dominee Mevrou nie vertel hoe hy my agter die ape aangestuur het nie?”

Nou ja, elke sport het sy beserings.

Page 62: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

62

23. Messina se jare: 1975-1978

Ons het altyd op pad na en vanaf Salisbury (destyds) deur Messina gery na ons mense toe in Pretoria, Zeerust en Potchefstroom. Ek en my vrou was daardie jare die predikantspaar van die Gereformeerde Kerk Salisbury.

Messina was vir ons ’n stilhouplekkie waar ons ons laaste vakansiegeld in ’n Suid-Afrikaanse bank inbetaal het, sodat ons vir ons ’n geldjie in die Republiek kon opbou vir as ons dit nodig sou hê.

Elke keer as ons deur Messina gery het, was die plek vaal van die stof en woedend van die hitte. Ons het gedink dat daardie plek met die sondvloed net die weerligte gesien het.

Toe gebeur die ding. Ons was juis van vakansie af terug toe ons weereens in Messina stilhou vir brandstof en banksake toe my vrou sê: “Jy moet my een ding belowe: in hierdie vuil, sweterige dorpie bly ons nooit!” Ek dink ek het my mond gehou – dit was lank terug!

Toe ons in Salisbury kom, bel my skoonpa: “Callie Coetzee van Louis Trichardt soek jou. Hy het die hele dag by die doeanepos gesit en julle het voor hom verbygery sonder dat julle hom gesien het!”

Ek bel die dominee. Ons was (en is vandag nog) groot vriende.

“Tienie, jy het ’n beroep Messina toe gekry!” kondig hy aan. Baie dinge het deur my kop geflits. Ek dink toe aan iets: Elke keer in ons hele lewe wanneer my vrou “nooit” gesê het, het dit gou daarna gebeur!

Messina was destyds in ’n groot kerklike krisis. Ek het gevoel dat enige predikant wat werklik weet wat roeping is, dadelik die roeping daarheen moes aanvaar. Ek het dit toe ook pas vir een van die dominees wat voor my die beroep daarheen nie aanvaar het nie, gesê. So het my eie voortydige oordeel reeds vir my die saak uitgemaak gehad.

Die eerste jaar daar was ongetwyfeld die swaarste en moeilikste van my hele bediening. Daar was baie vure wat doodgeslaan moes word, en ek het ’n groot gebrek aan mensekennis en ondervinding gehad, want ek was nog bitter jonk. Ek het net my vertroue op die voorspraak van die Heilige Gees en my eie krom kômmin sens gehad om te volg.

Die Here het ons en die gemeente geseën. Die jare wat ons daar was, onthou ons nou nog as die mooiste tyd van ons lewe. Ons en die hele gemeente (en Alldays se gemeente) was almal vriende en familie. Daar was maar die tradisionele spannings ook, maar dié was ver in die minderheid.

Ek onthou ’n paar insidente en mense wat daar was. Een van die kleurvolste mense (en ook mooiste gelowiges) wat ek ooit ontmoet het, was oom Niklaas de Jager. Een van die afkondigings wat ek moes lees met my intreediens was dat broeder Klaas de Jaer beroep is as

ouderling vir die wyk Mopanie.

Die volgende oggend teen skemer was daar ’n baie driftige geklop aan die voordeur. Ek was nog in die bed en my vrou was al effens aangetrek. Sy kon toe die vinnigste ’n ietsie oor haar kry en toe gaan maak sy die deur oop. Ek hoor stemme. Ek het toe al geweet hoe klink my vrou se stem as sy iemand probeer kalmeer.

Sy kry my in die gang. Ek is toe al op pad – sonder skoene.

“Die man wil jou sien, maar bly tog net kalm!” Sy kondig dit bevelend aan. Ek staan voor ’n groot stewige man en sy gaan staan reg agter hom. Sy staan seker daar om hom van agter af plat te slaan as hy my aanval, dink ek.

“Wie dink jy is jou Klaas de Jaer?” wil hy baie driftig weet. Hy swaai sy regterhand voor my heen en weer. In die hand ontbreek die middelvinger. Nou lyk sy hand soos ’n ou wat sy voortand op ’n been uitgebyt het.

My vrou sien dat ek nie ’n idee het van wie ek almal die vorige dag ontmoet het nie. Sy probeer

Page 63: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

63

help. Sy wys vir my van agter die ou grote se rug af dat dit hy is!

“Maar dis mos Oom!” sê ek.

“Nou goed,” sê hy, “Klaas de Jaer aanvaar die beroep. Ek wil sien wie die donner gaan jy bevestig, want ek is Niklaas de Jager en ek aanvaar nie die beroep nie.”

So het my bediening in Messina begin.

Ek moet ter bevestiging van die waarheid vertel dat ek en die oom Niklaas de Jager die beste van vriende geword het wat jy kon kry – al is hy nie bevestig nie. Hy en tant Betta was twee voorslae wat die onmoontlike moontlik gemaak het as ek gaan hulp vra het vir die kerk. Almal het hulle so geken ook. Hy het die boorgat agter in die erf weer skoongemaak en ’n dompelpomp daarop gesit. Ons het altyd die mooiste tuine en grasperke denkbaar gehad.

Nog so ’n juweel was oom Koos van Oudtshoorn. Sy volle naam was Koos van der Rheede van Oudtshoorn. Hy het op Mopanie op die walle van die Sandrivier met groente geboer. Ek kan onthou hoe hy male sonder tal met sy ou Peugeot-vragmotortjie vir ons waatlemoene gebring het. En tant Joey van der Walt wat gereeld tamaties gebring het.

So tussen die boere van Messina en Alldays deur het ons so baie groente gekry dat ek en Carin ’n hele paar arm gesinne uit die pastorie van kos voorsien het. Ek dink nie ons twee het destyds daardie genadedade genoeg waardeer nie. Dis eers toe ons dit nie meer gehad het nie, wat ons die grootsheid daarvan verstaan het en daarna terugverlang het.

Die kerkraad het destyds ’n vergadering met Alldays se kerkraad belê om vir my ’n ordentlike voertuig aan te skaf om mee kerkwerk te doen. Dié kerkraadsvergadering het amper spanning opgelewer, want die destydse skoolhoof van Alldays se laerskool wou hê dat hulle vir die dominee ’n Mercedes moes koop, terwyl die boere gemeen het dat hulle dalk ’n bakkie moes aanskaf. Toe die manne se sitvlakke rooi begin word van warmte soos hulle rondskuif, toe sê oom Paul Venter: “Koop vir die dominee ’n donkie. Voer is goedkoper as petrol!”

Almal het uitgebars van die lag en presies drie minute later besluit hulle hulle koop vir my ’n Volkswagenkewer. Dit was so ’n borriegeel Jeans. Daarmee het ek elke kwartaal voor Nagmaal deur al twee gemeentes huisbesoek gedoen.

Gedurende ons beginjare het ons in die skoolsaal dienste gehou. Later het ons beplan om die raamwerk van ’n skuur aan te koop en dit as ’n kerksaal te gebruik. Ons sou dit toebou en mooi groot vensters daarvoor laat maak. Wat ons toe ook gedoen het. Ons het die meeste van die werk sommer self gedoen. Om eerlik te wees, Frans Venter het die meeste van die werk gedoen. Hy was ’n mens wat enige iets kon doen, en almal het hom daarvoor gebruik.

Ons was baie trots op ons eie kerkgeboutjie. Ons het die banke in Louis Trichardt laat maak en dit aangery Messina toe. Ek kan nie meer onthou wie vir ons ’n elektroniese orreltjie geskenk het nie, maar daarmee het Saartjie Venter ons begelei. Ek kan onthou dat die orreltjie altyd ’n noot of wat afgeraak het na so ’n paar hewige warm dae.

Die gebruik was destyds dat ons elke Sondag twee oggenddienste op Messina gehad het en dan ’n middagdiens op Alldays. Elke vyfde Sondag het die program omgeruil: dan het ons twee oggenddienste op Alldays gehad en seweuur ’n aanddiens op Messina. Prakties het dit beteken dat die Volkswagentjie maar moes hardloop sodra die kerk aan die een kant uitkom, want daar was destyds 132 km grondpad wat afgelê moes word om van die een punt na die ander punt toe te kom.

Die middagdiens op Alldays het drieuur die middag begin. Ons het dus elke Sondagmiddag in die volle hitte van die dag van die een bedieningspunt na die ander een toe gery. Dit was moeilik op die heel warm dae, want die hitte was erg en die twee kinders het die ritte moeilik en uitputtend gevind. Die kewertjie se agterste sitplek het ook nie baie speelplek vir twee woelige seuntjies gebied nie! Carin het altyd maar iets uitgedink om hulle besig te hou. Met groot dank aan haar vir al die vasbyt so deur al die dinge.

Later het die twee kinders soms by tant Betta de Jager oorgebly. Ons het hulle dan op pad terug van Alldays af daar opgetel. Ek onthou nog die groot borde warm boerekos wat ons elke

Page 64: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

64

keer ingewag het! Waar sal mens weer so baie liefde kry?

Ons is daarvandaan weg na Stilfontein toe. Ek kan nog die afskeid onthou en hoe swaar dit vir ons was. Miskien moes ons toe maar meer gehuil het, want in die baie jare van bediening wat gekom het, was daar dikwels baie swaar tye wat ons laat verlang het na die mooi, ongeskonde en gelukkige bedieningstyd wat ons in Messina gehad het.

Baie geluk met u vyftigste bestaansherdenking. Die kerk beweeg nou in die tydperk van die eindfase van God se Raadsplan in. Openbaring 17 gee ’n duidelike beskrywing van die valse kerk wat op die Satan se rug ry, met die naam Verborgenheid en die groot Babilon. Die tyd stel dus hoë eise aan die ware kerk van die Here in hierdie fase – ook aan u. Mag julle volhard en ’n brandende kandelaar in die Here se hand bly! Mag die Here gee dat die jare vorentoe net so vol van sy genade sal wees soos die jare wat verby is.

Thinus du Plessis

2004

Page 65: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

65

24. My beroep Messina toe – 1975

Die Generaal het ’n staande uitdrukking: “Moet nooit sê nooit nie!” Sy glo vas (en dis al talle

kere waar bewys!) dat elke ding waarvoor ons “nooit” gesê het, baie vinnig daarna deur ons gedoen is. Ons ganery na Messina toe was een van daardie dinge.

Destyds was ek predikant in Salisbury. Deesdae is dit Harare. Dit was ’n groot en uitgestrekte gemeente. Ek moes twee keer per jaar die vliegtuig vat en na Malawi toe vlieg, want Malawi was deel van Salisbury se bedieningsgebied. Dit was hard in dié sin dat ek baie hard moes werk, maar dit was heerlik omdat die mense vir ons omgegee het en baie bly was wanneer mens hulle besoek het en vir hulle gelees en gebid het en hulle dan veral aan die genade van die Here opgedra het.

In daardie jare het daar ’n paar dinge met die gemeentetjie in Messina gebeur waaroor niemand graag meer praat nie. Dit was hartseertye. Die gemeente het verbrokkel geraak en was inderdaad besig om dood te loop. Gelukkig was hulle in kombinasie met die Magalakwin-gemeente. Die twee kerke het mekaar mooi ondersteun om deur die worstelinge te kom.

In daardie tye was ek en die Generaal met die twee seuns in Suid-Afrika. Die tweetjies was toe bitter klein. Stephan was drie en Derik was een jaar oud. Ons kon net een keer ’n jaar verlof neem. Ons moes dan ook al vier weke verlof aaneen geneem het.

Wanneer dit verloftyd was, het ons maar die kar gevat en sy neus suid gedraai – na Suid-Afrika toe. Waarheen anders sou ons gaan? Dit was waar ons familie was – ons ouers, broers en susters.

Elke keer wanneer ons teruggegaan het huis toe was Messina (nou Musina) ons laaste stop. Daar het ons dan elke keer vir oulaas vir die kinders vars kos gekoop en die motor weer vol brandstof gemaak.

Ons het van die begin af nie veel vertroue daarin gehad dat Zimbabwe (toe nog Rhodesië) se ekonomie dit op die lang termyn sou oorleef nie. Omdat ons in elk geval geglo het dat die Here ons weer na ons eie vaderland toe sal terugbring, het ons elke keer tydens die laaste stop in Messina al die Suid-Afrikaanse geldjies wat ons by ons gehad het, in ons Suid-Afrikaanse bankrekening inbetaal.

Eenkeer is ons weer deur Messina op pad terug na ’n vakansie in Suid-Afrika. Daardie dag het die ou dorpie vir ons maar vuil en stowwerig gelyk. Dit was ongelooflik warm. Die flambojante se helderrooi blomme het gesidder in die son se mirage. Die plek het my daardie dag laat dink aan die “waterlose plekke” waarvan die Bybel praat.

“Jy moet my belowe dat jy nooit in jou lewe hierheen ’n beroep sal aanvaar nie!” Dis die Generaal wat sulke roekelose dinge kwytgeraak het.

Net so onnadenkend en sonder om enige plan wat die Here mag hê te oorweeg, antwoord ek uiters dwaas en dapper: “Dit belowe ek graag. Hierdie plek lyk vir my maar simpel. Ek sal ook nie graag hier wil bly nie.”

Die Here steur Hom egter bitter min aan mense se slimmighede en waarvan hulle hou of nie hou nie. Hy steur Hom die minste van alles aan die woordjie nooit wanneer ’n mens dit gebruik. Hy weet wat Hy in sy volmaakte Raadsplan uitgewerk het – en dis al waaraan Hy Hom steur.

So gebeur dit dat ons die aand baie laat in die pastorie in Salisbury aankom. Ons stap nog in die huis in, toe lui die foon. Dis skoonpa wat uit die Republiek uit bel.

“Dominee Coetzee van Louis Trichardt soek na jou. Jy moet hom dadelik bel!”

“Waarvoor soek hy my so dringend?” wil ek weet.

“Jy is beroep na Messina toe,” sê hy.

Dit was ’n doodskoot! Ek weet mos van al die ellendes van daardie arme gemeentetjie! Ek het dadelik besef dat ek en my huwelik in ’n krisis was!

Page 66: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

66

Uit die gesprek met die betrokke dominee blyk dit toe dat hy die hele dag by die grenspos vir my gesit en wag het – maar hy het my nie gesien nie! Kan dit wees dat so ’n groot ou soos ek as ’n lid van die onsigbare kerk voor hom verby is? Of het hy as gevolg van die hitte maar net aan die slaap geraak en my daarom nie gesien verbygaan nie?

So het dit gebeur dat ek toe deur die Here teruggestuur is na my land van geboorte toe. Ons was baie bly oor die gebeurtenis. Nou was ons terug tussen ons eie mense – soveel te meer omdat dit Bosveldmense is, want ek is ’n Bosveldkind. Daar het ons van die mooiste tye van ons lewe beleef!

My bedieningstyd in Messina-Magalakwin was maar kort – van 1975 tot 1978. Dit was egter ’n baie ryk en verrykende tyd in my en my gesin se lewe.

Daardie jare was Magalakwin en Messina in kombinasie met mekaar. Die indeling was twee-vyfdes vir Magalakwin en drie-vyfdes vir Messina. Aan die begin moes ek twee weke van elke vyf weke op Alldays gaan bly. Dan het ons die Magalakwin-gemeente se lidmate besoek. Dit het prakties so gewerk dat ek voor elke Nagmaal al twee die gemeentes (Messina en Magalakwin) deurgewerk het met huisbesoek.

Omdat ek al vantevore breed geskryf het oor alles wat in die Messina-gedeelte van die

kombinasie gebeur het, skryf ek nou veral oor die Magalakwin-ervarings.

Die kerkraad van Magalakwin was baie tegemoetkomend teenoor my en die Generaal. Hulle het die moederskamer en die konsistorie omgebou in ’n woonstel. Daar is ook ’n spoeltoilet vir ons ingebou. In die woonstel het die pastoriegesin gewoon wanneer dit ons Alldays-tyd was.

Veral ons kinders het dit geweldig geniet om so in die oop vlaktes te kon speel en grootword.

Daardie jare was broeder Cor Holtzhauzen skoolhoof van die laerskool regoor die kerk. Iewers het hy toestemming gekry dat ’n elektriese draad van die skool se kragopwekker af aangelê is (onder die grond deur – ek vermoed sodat die verkeerde oë dit nie moet sien nie?) tot in die konsistorie. Op dié manier het ons ’n enkele liggie gehad waarby ek saans laat kon preek maak

of voorbereiding doen.

Elke familie se staanplek op die kerkerf was nog soort van afgebaken – soos wat hulle in die jare her gestaan het as hulle gekamp het vir Nagmaalstye. Daar was nog van die pale waaraan hulle vroeër jare hulle tente vasgemaak het wanneer hulle vir Nagmaalstyd kom tent opslaan het. Agter was daar ’n oskampie waar die osse gewei het solank die Nagmaalsnaweek aan die

gang was. In my bedieningstyd daar was dit nie meer in gebruik nie.

Feitlik die hele gemeente was familie van mekaar. Die gees in die gemeente was baie hartlik. As daar tydens ’n diens dalk iemand was wat nie opgedaag het nie, het die ander geweet waarom nie en waar daardie lidmaat was.

Die enigste ding waaroor daar ’n keer of wat gevoelens was, was oor die werk van die orrelpomper. Wanneer hy saamgesing het, het hy soms stadiger gepomp en dan het die orrel begin trek. Dit het die gemeente redelik geïrriteer wanneer dit gebeur. Tydens ’n kerkraadsvergadering het dit eenkeer tot groot vonke gelei. Daar is toe informeel besluit dat Hansie de Lange die orrel sal pomp, want hy was ’n diaken en hy het die orrel baie goed gepomp. Wanneer hy nie daar was nie, het Nols Swanepoel die orrelpompwerk gedoen.

Die enigste ander keer wat daar ’n warm vergadering was, was tydens ’n gesamentlike vergadering met die kerkraad van Messina. Daar moes ’n ordentlike voertuig vir die dominee aangekoop word om mee kerkwerk te doen. Die kerkraadsvergadering het amper spanning opgelewer, want die destydse skoolhoof van Alldays se laerskool wou hê dat hulle vir die dominee ’n Mercedes moes koop, terwyl die boere gemeen het dat hulle dalk ’n bakkie moes aanskaf. Ekself en ’n paar ander het gedink ’n taaier voertuig sou beter doen op die grond-paaie. Daardie jare was die paaie nog nie geteer nie!

Toe die manne se sitvlakke rooi begin word van warmte soos hulle rondskuif, toe sê oom Paul Venter: “Koop vir die dominee ’n poesjbaaik of ’n donkie. Voer is goed-koper as petrol!”

Almal het uitgebars van die lag en presies drie minute later besluit hulle hulle koop vir my ’n

Page 67: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

67

Volkswagen kewer. Dit was so ’n borriegeel Jeans. Daarmee het ek toe elke kwartaal voor Nagmaal deur al twee gemeentes huisbesoek gedoen. (Dis nou behalwe as ons oom Cor se wyk gedoen het. Die rede was voor die hand liggend: Hy was ’n baie groot man en kon nie in die Jeans inpas nie.)

Ek dink Alldays is vandag nog net so warm soos wat dit in daardie jare was. Ek en my vrou het menige nag op die moederskamertrappie in die oop deur op die koel sement gesit en kyk vir die duikers en steenbokkies wat om die kerk gewei het in die maanlig. Ek het selfs ’n keer of wat in die middel van die nag vuur gemaak met droë maroelahout en die vleis net so sonder rooster op die kole gebraai.

Daar was soms moeilike tye. Eenkeer het die tamatie pryse so kwaai geval dat al die boere die tamaties op ’n hoop gery het dat dit maar moet vrot. Die prys was op daardie stadium so laag dat hulle by die mark moes inbetaal nadat die tamaties verkoop is! In sulke tye het ek saam met hulle gebid en mooi gevra. Elke keer het die Here weer sy seën op sy tyd gegee.

Later jare het die bediening so vervleg geraak tussen Alldays en Messina dat die dinge wat op papier gestaan het, nie presies meer so gerespekteer was nie. Toe het ek sommer uit eie keuse elke Sondag op al twee plekke gepreek. Wanneer dit Messina se amptelike beurt was, het ek twee oggenddienste gehou. Ek het dadelik deurgery Alldays toe en om drieuur die middag ’n diens daar gehou. Elke keer was die lidmate feitlik almal daar – ongeag die weer!

Snaaks dat mense deesdae so kla oor hitte. Daardie jare was die Magalakwinners almal met pakke en al in die kerk! Die geweldige warm somersdae het hulle nie van hulle aanbidding van die Here af weggehou nie en ook nie gekeer om netjies in pakke geklee te wees nie.

Wanneer dit dan weer Magalakwin (ons het sommer altyd gepraat van “Alldays”) se amptelike beurt was, het ek twee oggenddienste op Alldays gehou en ’n aanddiens in Messina. Dit het goed gewerk – al twee gemeentes was tevrede en ek het werklik hard gewerk vir die Here. So het al twee die kerke elke Sondag Woordbediening gehad. Hulle geloof en die uitlewing daarvan bly my vandag nog by – ek vertel gereeld daarvan.

’n Gedeelte van Botswana is destyds ook deur Magalakwin bedien. George Gerhard was die ouderling. Platjan-grenspos was die deurgangpunt. Soms was die rivier in vloed. Dan kon ons nie oor die rivier kom nie.

Eenkeer het daar ’n reusevloed afgekom en ’n boom saamgesleep tot oor die brug. Die boom moes eers afgesaag word sodat ons met die bakkie kon oorgaan.

Terwyl ek skryf, kyk ek gou deur my ou foto’s. Dis hulle wat die herinneringe skerp en lewendig hou.

Op die een foto staan George Gerhard saam met ’n polisieman en kyk na die Limpopo waar ons moet oorgaan! Die rivier is in vloed. Die plek is Platjan-grenspos. Daardie polisieman het my tien minute vroeër van daardie selfde plek af weggejaag en vertel dat die krokodil toe pas sy hond daar gevang het!

Op ’n ander foto kom ons al terug van huisbesoek af. Die foto is deur oom Sakkie Coetzee se bakkie se venster geneem. Dit wys hoe ons in die middel van die rivier ry, terwyl die vloedwater omtrent ’n halwe meter bo-oor die brug loop! Hoe dwaas en waaghalsig kan ’n mens tog wees!

Ek dank die Here vir die paar jaar wat ek in die Gereformeerde Kerke Messina en Magalakwin kon arbei. Dit was ’n tyd van seën en vreugde in my (en ons gesin se) lewe.

Die Gereformeerde Kerk Magalakwin is vanjaar 75 jaar oud. Iets van hulle bestaan het ek ook deurgemaak. Mag die Here se rykste seën by en met daardie kerke wees en bly.

Die Generaal se nooit het toe ’n klomp van ons gelukkigste jare geword – jare waarin my twee

seuns vry in die ooptes kon speel en mens word volgens God se bedoeling.

So groet julle Bosveldvriendjie julle met sy gedagtes terug in die woedende somerhitte van Messina en Alldays terwyl die Kaapse reën en wind om die huis snerp – en ’n paar gemeentelede wat vandag kerk gebank en gaan berg klim het, vasgesneeu en sonder kos in

Page 68: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

68

die Ceresberge sit.

Groete

Matiempaan

Page 69: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

69

25. Honderd koeie se voer

Ek ry om ’n middagdiens te gaan hou. Dis warm. Die bome tril in Alldays se warm lug rond. Sonbesies sing soos tienduisend tandartsbore. Die hitte sweet soos nat soetdoringgom op my lyf rond.

By die kerk is net twee mense. Een getroue ouderling en oom Matewis. Natuurlik my vrou ook. Ek tel haar maar met huiwering by, want sy het die preek al vanoggend in Messina gehoor. Die hitte gaan haar gehoor saboteer sodat baie min van my stem by haar brein gaan uitkom. Ek weet, want ek is nie blind as ek preek nie.

Ons vier wag tot ’n kwartier oor die tyd. Ons word nie meer nie. Die hitte het die res van die gemeente in hulle huise toegesweis. Dis net die dominee en die gehardste gelowiges wat die moed het om soos Daniël se vriende deur die vuur te gaan vir hulle geloof.

“Miskien moet ek net ’n stukkie lees en ’n gebed doen. Dan gaan ons huis toe.”

Ek het iets soos huisgodsdiens in gedagte.

“Nee,” sê oom Matewis. “Dominee, as ek honderd beeste het en net een kom kraal toe, jaag ek hom wragtag nie weg nie.”

Sy stem mirage rond soos die warm lug. Daarmee is die saak beslis.

Oom Matewis is doof en daarom moet sy leraar dubbeld werk om hom en die evangelie aan mekaar toevertrou te kry. Elke preek word met deurslagpapier getik. Alles. Van Amen tot Amen. Die psalms, gebed en alles.

As ek saam met die kerkraad by die deur uitkom, stap ek met die afskrif reguit na oom Matewis toe. Hy sit gelukkig heel voor, sodat hy my lippe beter kan lees. Dit is vir hom makliker om die hele diens op skrif te volg.

Ek gee vir hom die preek. Dis ’n besondere lang preek, want ek preek oor droogte en misoeste en oor volharding in die geloof en troos en hoop en alles waaraan ek kon dink wat inpas by die warm son.

Om die preek te sny, sal nie werk nie, want hy sit en lees. Hy sal nie weet wat ek uitsny en wat ek preek nie. So, ek druk deur. My stem eggo deur die leë kerk en die banke word almal bekeer. Hulle is al so heilig hulle roer nie eers nie. Buite boor die sonbesies se skril geluid asof iemand uit die hel hulle betaal.

Uiteindelik is ek op die laaste bladsy en by die Amen en alles is oor. Vir sulke dae behoort hulle my salaris op te skuif. Daar is nie baie geroepenes wat borsslag en rugslag deur hulle preke kom nie.

Oom Matewis staan meteens op. Hy lyk aggressief soos Elia toe hy die Baälprofete by Karmel keelaf gesny het. Sy eentonige harde stem walm soos reuk deur die kerk:

“Dominee, as ek honderd beeste het en net een kom kraal toe, dan gee ek hom wragtag nie almal se voer nie.”

Baie ouens het al hierdie storie vertel, want iewers het iemand dit by iemand anders gehoor wat dit by my gehoor het. Wees gewaarsku: moenie te veel op ander ouens voer nie, anders gaan die warmte jou vang. En daar is dit erg. Die sonbesies skree aanmekaar en die dowes vermaan jou.

Page 70: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

70

26. Die spookhek maak self oop

Sy is die enigste mens van wie ek weet wat met die vlieëplak sit en vlieë doodslaan terwyl ek bid. Ek is vir haar banger as vir die dood, want as ek doodgaan weet ek presies waar gaan ek heen, maar as jy met haar deurmekaar is, weet niemand seker nie. In die sement voor haar voordeur het sy ’n spreuk uitgekrap met ’n spyker: “Fools rush in where angels fear to tread.”

Ek het altyd gewonder of ek ’n “angel” of ’n “fool” is as ek kom huisbesoek doen.

Vandag is weer so. Ek en oom Paul Venter is op pad na hierdie vrou en haar lang man toe. Ons doen huisbesoek voor Nagmaal. Ek dink aan haar man. Hy is baie lank en baie dun. Sy hare is grys en deurmekaar. Praat selde ’n woord. Hy lyk soos ’n hardekoolboom wat deur die weer raakgeslaan is. Dis geen wonder nie, want die ou tannie is enige tyd erger as ’n kwaai bliksem...

Laas week se vendusie kom staan reg voor my. Sy het met hulle beestrok daar opgedaag. Reg by die klomp mans wat kom kyk het wat hulle kan aanskaf of verkoop het sy die trok met ’n paar rukbewegings en ’n groot geblaas laat stop.

Alles het vir die mans verkeerd geloop, want toe sy uitklim, haak haar rok iewers aan die deur vas – en onthou, ’n beestrok se deur sit byna twee meter van die grond af. Die ou vrou klim toe regdeur haar rok sodat sy net in haar bloemer en haar plat skoene op die aarde te staan gekom het. Haar rok het soos ’n nuwe onbekende republiek se vlag bokant haar in die warm Bosveldson gewapper.

Met ’n behendige ruk-en-pluk-beweging het sy die rok los gekry en begin aantrek, terwyl sy die mans toegesnou het:

“Julle kan bly wees ek het vandag ’n broek aan!”

As sy reg wes is, weet ek nie watter rigting is ek nie.

Die ou vrou irriteer my verskriklik. Sondagoggend het sy in die kerk gesit en kondensmelk drink terwyl ek gepreek het. Sy het nogal vir almal rondom haar aangebied ook. Tot vir my vrou en kinders. Natuurlik (of gelukkig) het almal geweier – wat baie uitsonderlik is sover dit die twee aangaan wat in die pastorie geteel is. Kliphard het sy vir my vrou gesê: “Jy is vir my bang, nè?”

Van hek tot hek dink ek so aan. Die ouderling sê niks. Hy dink ook, want hy sug kort-kort baie diep. Dis nie ’n asemhaal-en-uitblaas-sug nie. Dit is elke keer ’n stuk van sy siel wat ontsnap.

Naby die huis is die laaste hek. Ek trek die Volkswaentjie se spoed plat en kom tot naby die hek. Die ketting haak self uit en hardloop teen die pyp af tot waar dit teen die eerste dwarsdraad vaskletter. Moet my nie glo nie. Ook nie as julle eendag hierdie stukkie lees nie, want ek glo dit self ook nie. Ek aanvaar dit as ’n feit, want die hek swaai oop en gaan staan teen die sandwal.

Ek voel of ek sandwurms in my rugstring het. Oom Paul sit stokstyf langs my.

“Ry, Dominee.” Dis al.

Ek beleef hierdie hekgebeurtenis so verward soos wat ’n sekere dominee eenkeer gesê het dat hy so deurmekaar is dat hy sy hand voor sy mond hou as hy ’n wind los. Ek weet nou beslis nie waar meng die bonatuurlike met die werklike nie. Nog minder weet ek of ’n engel of ’n duiwel die hek oopgemaak het. Die grootste waarheid op die oomblik is dat ek ook nie wil weet nie. Ek het nie hiernamaalse geld om een van die twee te tip vir sy inligting nie.

Die huisbesoek gaan ook so. In die middel van die Bybellees sê sy kliphard vir haar man:

“Jy moet ’n stellasie in die veld gaan bou. Skiet een van die maer beeste en sleep dit soontoe. Ek gaan vannag met die geweer op die stellasie slaap, want ek wil ’n leeu skiet.”

Ons ry maar. Aan sekere dinge smeer ’n aardling nie salf nie. Jy werk net getrou en los die res vir die Hoërhand. Dit is dalk waarom die hek self toegemaak het toe ons deur hom terugry.

Page 71: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

71

27. Oom Niklaas en tant Betta

Party mense is karakters in hulle omgewing. Almal onthou hulle. Somtyds onthou mense iemand wat uiters berug is. Dis mense soos al dié wat met beeste gesmokkel het in ons kleintyd. Hulle het ons beeste kom steel en dit deur die grens gejaag na Botswana toe.

Daar is egter ander mense wat onthou word omdat hulle unieke mense was. Meestal mense met sterk en onwrikbare persoonlikhede. Hierdie groep was leiers van faam wat hulle name tydloos in ’n gemeenskap laat aanlewe.

Vanaand het twee sulke mense in hulle gees voor my kom staan. Natuurlik weet ek nie of hulle nog lewe nie, want ek onthou hulle uit die jongtyd van my bediening – daardie tyd toe ek nog meer kind as dominee was. Die twee is oom Niklaas en tant Betta de Jager.

Al twee se geaardhede was soos wat hulle liggame was: sterk en bonkig. Mense wat onwrikbaar geglo het aan dit wat vir God reg was. Dit het hulle gedoen en uitgeleef in elke opsig.

Hulle was ook mense wat ’n geweldige gelatenheid gehad het oor al die teenspoede van die lewe wat soms ons voete en ons emosies vasdraai. Hulle het geglo dis goed en reg soos dinge is, want dis hoe die Here dit wil hê. Ons moet net aangaan – dis al.

Die pastorie van Messina het op ’n reusagtige groot stuk kaal grond gestaan. Daar was nie ’n kerkgebou toe ons daar aangekom het nie. Die skoolsaal moes maar as saamkomplek vir die gemeente dien. Daardie saal was ook die “kerkgebou” waarin ek bevestig is.

Na ’n jaar het ons almal besluit ons wil ons eie kerk-gebou hê. Almal het help beplan en spaar en wat nog alles. Dit was arm jare – bitterlik arm jare. En die gemeente het nie ryk mense gehad nie. Ons was almal net gemiddeld aan inkomste.

Ons het ’n plaasstoor op Pietersburg gaan koop en dit op die kerkerf opgesit. Ek en Frans Venter het dit so soort van eiehandig gedoen. Eendag het ek iewers tussen die balke gesit en boute vasdraai. Frans het so ’n paar balke verder gesit en boute vasdraai.

Ons het net een moersleutel tussen ons twee gehad. As die een klaar vasgedraai het, gooi hy die sleutel vir die ander ou sodat hy weer kan vasdraai. Een van die kere wat hy die sleutel vir my aangooi, vang ek mis en die sleutel slaan my oogbank oop dat die bloed behoorlik vloei. Dit was mooi dae daardie.

Langs die destydse nuwe kerksaal was daar baie jare gelede ’n boorgat gesink. Terwyl ons die erf skoon-geskoffel het, het ons op die geweldige dik “casing” afgekom wat bo die grond uitgesteek het. Daar was ’n plat klip op die pyp om te keer dat daar nie iets of ’n kind of wat ook al inval nie.

Een oggend – ek dink dit was ’n Maandagoggend – het ek in my bed wakker geword van ’n baie woeste lawaai op die erf van die saal en pastorie. Iemand het kort-kort met ’n bulderende stem “Kasamoel!” uitgeroep. Dié Kasamoel moes allerhande dinge doen – maar uit die gebulder kon ek hoor dat Kasamoel die meeste van die dinge nie gedoen kon kry nie.

Om aangetrek te kom, het daardie oggend vir my na ’n ewigheid gevoel. Met die grootste bekwaamheid waaroor ek kon beskik, is ek later aangetrek en in die vroegoggendlig by die agterdeur uit.

Daar staan oom Niklaas in die skemer. Hy is besig om sy boormasjien bokant die ou boorgat op te stel! Die Kasamoel op wie hy so driftig raak, is die swartman wat vir hom gewerk het. Ek weet nie waar die man vandaan gekom het nie, maar hy was nie een van “ons mense” nie.

“Ek wil die gat skoonmaak en ’n pomp opsit,” sê oom Niklaas asof dit logies is dat ek dit mos kan sien gebeur.

“Oom, wie gaan vir die gat betaal? Weet die kerkraad hiervan?” wil ek verder weet.

“Nee, mens vra nie vir die kerkraad nie. Jy doen net ’n ding en kry klaar.”

Page 72: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

72

Ek het toe al by baie mense gehoor dat hy ’n ding deurdryf as hy dit in sy kop gekry het.

Daardie dag het ek my moeite gehad om die twee seuns van die masjien af weg te hou. Hulle was erg oor oom Niklaas en hy oor hulle. Maar ons het goed besef dat daardie swaar gereedskap van oom Niklaas se stampboor ’n kind middeldeur sal val as daar iets skeefloop.

Dit was ook nie lank nie, toe loop daar ’n geweldige dik stroom water. Met daardie water het ek en die Generaal tuin gemaak en een van die paradyse van ons lewe opgebou. Ek het mooi gaan vra en die kerkraad het die eerste rol pyp aangekoop. Later het ek soms self pype aangekoop en self saam met die tuinjong sloot gegrawe. So het ek eiehandig die besproeiing aangelê. Ons het die hele wêreld onder besproeiing gehad met die mooiste grasperke en blomme.

Omdat ons Sondae op Messina en Alldays gepreek het, het die twee kinders maar swaar getrek in die hitte. Daardie dae was die twee kerke 132 kilometer uit mekaar – en dit was grondpaaie! Dit was soms witwarm in die somer! Die kerkvoertuig was ’n geel Volkswagen Jeans. Die kinders was natgesweet as ons uiteindelik vir die middagdiens – wat drieuur die middag was! – op Alldays aangekom het.

Een goeie dag was ons kinders weg. Net skoonveld weg! Toe ons na die oggenddiens regmaak om Alldays toe te ry, kon ons die kinders nêrens kry nie. Ons soek nog, toe lui die telefoon: “Julle moenie na die kinders soek nie. Ons het hulle saamgevat plaas toe.”

Dit was tant Betta wat gepraat het: “Julle moor die kinders in daardie kar. Ons sal hulle kos gee en na hulle kyk. Julle kan hulle vanaand op pad terug weer optel.”

Dit het van daardie Sondag af ’n instelling geword. Elke Sondag na die oggenddiens is die twee kleintjies saam met oom Niklaas en tant Betta na hulle plaas toe. Nadat ek en die Generaal ons dinge op Alldays klaargemaak het, is ons dan na die De Jagers se plek toe om die twee seuns op te tel. Dit was darem op ons pad terug na Messina toe.

Elke Sondagagtermiddag teen skemer het tant Betta ons ingewag met ’n geweldige groot bord gekookte kos. Sy het ons al beveel om te gaan hande was terwyl ons nog in die kar was. Elke Sondag is ons uitgetrap omdat ons dan kwansuis laat sou wees! Die hele ritueel en alles wat daarmee saamgehang het, was ’n instelling totdat ons daar weg is na Stilfontein toe.

Tant Betta het die kinders gruwelik bederf. Ons het hulle verbied om kougom te eet. Sy het hulle agter ons rug dik gevoer met kougom uit haar plaaswinkeltjie.

Oom Niklaas was die amptelike boorman van daardie omgewing. Iewers het een van die stukke masjinerie sy een voortand uitgeslaan. So met die jare se boordery het die boor ook nog sy regterhand se middelvinger iewers afgesny. Hy het nogal graag met die uittandhand beduie as hy ernstig geraak het oor ’n ding.

Een keer het iets van sy kar se stuurmeganisme gebreek. Omdat hy nie ’n man was wat vir spoed groot respekte gehad het nie, het hy sy blou karretjie gerol en afgeskryf. Toe ek hom in die hospitaal besoek, was sy kommentaar: “Dominee, die motor was heeltemal mal. Dit het heen weer oor die pad gery – net waar dit wou.”

By ’n ander geleentheid het sy kortbeen Bramaan-bulletjie hom getrap. Toe lê hy ook in die hospitaal. Sy enigste kommentaar was: “Vandag was dit sy beurt. Maar gee my kans, ek sal hom kry!”

Van slegtigheid het ek met die loop van die jare kontak verloor. Ek dink nie dat hulle meer lewe nie. Tog kan niks hulle herinneringe uit ons lewens wegneem nie.

Julle Bosveldvriendjie groet julle hier waar hy sit en onthou van groot mense wat groter spore getrap het in sy lewe. Hulle was deel van die korps wat my geleer het wat dit is om waarlik mens te wees. Mag ek maar nederig en Godvresend soos hulle bly tot ek in die ewigheid ingeroep word.

Van die een stuk onthou na die ander een toe

Page 73: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

73

Matiempaan

Terugantwoorde

Martiens

Hier sit ek nou drieuur in die môre en gesels terwyl ek eintlik agter Annaré se rug in die kooi moet wees. Iets het my wakker gemaak. Miskien maar ’n drukking op die blaas. Miskien iets anders. Maar daar flikker die selfoon toe en wys my jou boodskap oor oom Niklaas en tant Betta. En ek lees dit en geniet elke woord, en ek dag toe ek skryf ook maar vir jou oor hoe ek nou voel.

Gisteraand het ek saam met julle gevoel oor die kinders se weggaan. Ek, anders as jy, sit met familiegrond wat twee vorige geslagte duidelik gesê het ek moet kry. En waarop al my oudaggeld nou al spandeer is. (Maar ek moet nog die grond erf.) Die drie seuns is nog jonk – een praat al van trou – en ek weet nie waar hulle die wêreld gaan in nie. En nou dreig die verdomde regering om landbougrond af te vat. En my onsekerheid oor wat van my in my oudag gaan word is erg. En Annaré sê gisteraand ons het al sedert die begin van die jaar R25 000 van ons mediese spaarplan op dokters en medisyne spandeer en daar is nog net R5 000 oor. Dis nou hospitaalkostes uitgesluit, wat darem nie beperk word nie.

Ek sê dié goed omdat jy dit ken en mens moet dit seker soms vir ander sê.

Die uroloog het gister langs my bed kom staan en gesê: “Kom Woensdag na my spreekkamer en dan sê ek jou wat die uitslag van die toetse is, en ek hoop ek het goeie nuus vir jou.” Jy ken daardie woorde ook goed. En ek het ’n rug- en nekseer wat my dae on-draaglik maak. Die vorm vir ’n MR-ondersoek lê ook al ingevul hier en die rugoperasie wat ek nou al amper 20 jaar lank kon uitstel, is nou onvermydelik.

Maar tog – en daardie gevoel ken jy ook – is daar daardie dae wat ek nie pyn het nie en wat die lewe ’n uitbundige vreugde is. Wanneer ek op die fiets klim en sommer net ry omdat dit lekker is om te leef. Dae wanneer ek die liefde van ander om my voel. En dan die altyd se voel van ’n baie groter Skepping om my wat aangaan sonder om deur my beïnvloed te word. Ek moet maar net opklim en saamry sonder om te kla.

Ek sluit af met ’n gedagte oor die jeug. Ek is nog só jonk, maar die lekker van dertig en veertig jaar terug kom nou al duideliker uit en ek verlang verskriklik na daardie tye. En ek is só dankbaar vir die wonderlike lewe wat ek gehad het, maar veral vir die bitter baie wonderlike mense wat ek op my lewenspad ontmoet het. En die baie met wie ek só oor die internet oor verskillende dinge kan gesels.

Vriendelike groete

Braham van Zyl

Jou stories laat my altyd nostalgies voel. Dan dink ek terug aan ons Holland-dae en die kere wat ek weer daar gaan kuier het. Tussen 1979 en 1989 was ek vier keer oor gewees, voordat ek getroud is. Die lekkerste van alles was om by my pa en ma se ou vriende te gaan kuier. Ek het dan sommer ’n dag of twee opsy gesit om vir die hele dag daar oor te bly. Toe ek laas jaar daar was, was daar niemand van die ou klomp meer oor nie, behalwe my ma se niggie wat ook haar beste vriendin was. Maar gelukkig weet ek hulle almal was kinders van die Here en hulle het mekaar weer voor die Troon ontmoet!

Nora Rossouw

Liewe Dominee

Dit was heerlik om die stories te lees. Daar is sommige mense wat dinge om hulle waarneem terwyl hulle dit leef en by sommiges gaan die dinge by hulle verby soos ’n vol bus. Ek geniet elke keer die manier waarop jy die lewe waarneem.

Ek het vanoggend die mooiste plek gesien. Die ouens het ’n huis gebou op ’n hoogte 500 meter hoër as Tafelberg. Die fynbos was uitgebrand maar dit het nie ’n verskil aan die mooiheid daarvan gemaak nie. Al wat ek weet is dat ek graag daar wil bly vir ’n nag of twee en wil skilder wat ek sien. Ek wil vir hulle ’n skildery maak in ruil vir die voorreg. Dit is asemrowend mooi. Gelukkig is hulle mense wat die stukkie aarde beskou as genade van Bo en nie beskou as hulle reg nie. Sal vir julle foto’s stuur.

Lekker aand

Groete

Erna

Page 74: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

74

28. Die pap diafragma

Alle ouderlinge is waardige manne – veral as hulle na die ou kant toe begin staan. Tog kom daar enkeles van hulle oor die jare wat heeltemal uitstaan en hulle eie merk maak. Dis daardie mense wat baie jare na hulle dood telkens weer in my gedagtes inflits oor die een of ander ding wat hulle gedoen of gesê het.

So was daar eenkeer hierdie ouderling wie se naam ek maar ter wille van die storie sal verswyg. Hy het ’n paar uitstaande eienskappe gehad. Die eerste een was dat hy effens doof was. Veral as iemand ’n sagterige stem gehad het, het hy baie moeite gehad om te kan hoor wat die persoon sê.

Daarby was hy ook taamlik swaksiende. Hy was nie altyd seker wat hy gesien het nie en dit het hom soms in die verleentheid gebring.

Hy en sy vrou was altyd verskriklik netjies aangetrek. Daardie jare het vrouens nog net rokke gedra of ’n romp met ’n bloes of so iets. Die langbroeke waarmee vrouens vandag rondloop was toe net gedra deur mense op wie die gemeenskap meestal taamlik neergesien het. Hulle het dan ook van sulke vrouens of jongmeisies wat langbroeke gedra het net die ergste in hulle gedrag vermoed!

Verder moet vertel word dat hierdie ouderling ’n werklike, waardige en opregte gelowige was. Hy was letterlik in elke opsig ’n voorbeeld van hoe vroomheid en opregtheid met waardigheid uitgelewe moes word. Ek kan nie onthou dat ek ooit ’n lelike woord oor sy lippe gehoor het nie – behalwe die een wat hy kwytgeraak het in die storie waaroor hy by die pastorie kom bieg het.

In die jare toe die ding waaroor ek nou gaan skryf, gebeur het, was motors glad nie so modern os nou nie. Deesdae is die goed so elektronies en tegnies dat jy hulpeloos is as die ding langs die pad breek. In die voorjare toe ek nog ’n jong dominee was, kon jy feitlik enige ding aan ’n kar met ’n tang en ’n hamer en ’n nommer 13-sleutel regmaak.

Een oggend so teen elfuur het hy by die pastorie opgedaag. Hy was geskok en hartseer en diep, diep vernederd. Hy het gevoel dat die lewe nou so donker geraak het dat hy nie weer sy gesig in die strate kan en mag wys nie.

So tussendeur het ek en my vrou die man kalm gekry en hom aan die praat gesit. Hy vertel toe sy storie.

Hy en sy vrou was die vorige aand op reis van iewers af na ons dorpie toe waar ons almal destyds gebly het. Taamlik laat die aand sukkel die twee deur die donker naglug voort teen ’n taamlike stadige pas. Onthou dat motors destyds nog sulke dowwerige geel ligkolle voor hulle geskyn het, want die skerp ligte wat motors vandag aan het, was nog nie eers op die boek nie. Daarby was die ouderling nie juis ’n man wat baie goed kon sien nie!

So ongeveer tien of dalk vyftien myl (destyds was dinge nog myle en nie kilometers nie!) van die huis af het hulle langs die pad ’n motor sien staan. Langs die motor het ’n kleinerige persoon wat jeans aangehad het, in die donker gestaan.

Die ouderling het besef dat ’n ware Christen nie iemand alleen in die donker laat staan as jy dalk kon help nie.

Hulle trek toe ook van die pad af en hy stap na die persoon toe.

“Wat makeer dat jy hier staan? Het jy teenspoed?”

Hy kon glo sien dat dit ’n jongerige mens moet wees wat klein van liggaamsbou is.

“Ja,” sê die mens en begin vertel dat die motor allerhande nukke uithaal. Dit ry goed, maar dan

is dit asof die ding begin krag verloor. Al hoe verder die kar ry, al hoe minder krag het die ding –

totdat jy dan nou maar stilhou en die kar van die pad aftrek.

Na ’n uur of so het die kar blykbaar sy nukke vergeet, want as die sleutel draai, vat die kar dadelik

en jy kan weer ry. So ’n rukkie later begin die kar weer sukkel om te trek. Die spoed word al hoe

Page 75: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

75

laer totdat dit uiteindelik vassteek.

Dis juis waar die persoon toe nou weer was.

“Jou petrolpomp se diafragma is pap,” sê die ouderling. Hy het ’n baie goeie kennis gehad van

karre en hulle parte en wat hoe werk en wat alles nog.

“Wat kan ek nou daaraan doen?” vra die outjie.

“Gooi dit nat!” sê die ouderling.

“Ek het nie iets met water in in die kar nie,” antwoord die ou kleintjie.

Die ouderling staan so ’n ruk en dink toe sê hy: “Al wat oorbly, is dat jy dit dan moet nat p**!” Hy

gebruik toe ’n baie ongewone woord vir water afslaan – die woord wat mens nie in geselskap

gebruik nie.

“Ek kan nie nou nie,” antwoord die klein outjie.

“Nou staan dan soontoe, dan doen ek dit vir jou!”

Daar in die donker nag knoop die ouderling sy gulp oop en piepie die ander outjie se

petrolpomp vir hom sopnat sodat dit kan afkoel.

“Ry nou huis toe. Ek en my vrou sal agter jou aanry tot naby my huis om seker te maak dat jy

veilig is.”

So ry die twee motors toe die dorpie binne en die ouderling draai af na sy eie huis toe en gaan

slaap.

Daardie oggend in die poskantoor het die gebeurtenis toe ’n angel gekry, vertel die ou my.

So ’n pragtige jong meisietjie met ’n pienk rokkie het hom gesien en na hom toe gestap.

“Oom, ek sê net weer baie dankie vir gisteraand. Ek is so dankbaar dat ek veilig by die huis kon kom!”

As ek ooit naby daaraan was om vir iemand wat aan skok sou sterf ’n begrafnispreek te maak, was dit vir daardie ouderling wat die oggend voor my gesit en huil het!

Julle Bosveldvriendjie groet julle met die verhaaltjie waaraan ek meteens gedink het.

Van kar tot kar

Matiempaan

Terugantwoorde

Liewe Dominee

Die arme ou oom. Kan net dink hoe erg dit vir hom moes gewees het.

Lekker slaap

Liefde

Erna

Klassiek!!! Ek het my nou selwers omtrent natgepiepie van die lag!!! Ek het mos geen tekort aan vrugbare verbeelding nie!

Groete tuis en lekker slaap!

Frank

Page 76: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

76

29. Oom Matewis skiet sy donkie

Hy het altyd hard gepraat. Op een toon. Oom Matewis was doof. Stokdoof. Maar hy kon praat, want hy het eers doof geraak toe hy al kon vry.

Sy doofheid is eintlik ’n storie van sy eie, want in sy rooihakskeentyd het hy van sy perd afgeval. ’n Volle nag en ’n stukkie van die volgende dag het die perd hom huis toe gesleep, want met die afvalslag het sy skoen in die stiebeuel bly steek.

Dit is eintlik nie ’n storie nie, dis ’n tragedie, want die perd het verbouereerd geraak omdat sy ruiter agter sy voete rondsleep in plaas van in die saal sit. Hy het oom Matewis baie keer agter sy kop geskop voordat iemand die perd by die huis gevang en hom ontset het.

Feit van die saak is net dat ons Bosvelders nie maklik ons lewe vir niks prysgee nie. Oom Matewis het dit gemaak en bly lewe. Hy is selfs later met die ongeluksmeisie getroud – tant Nakkie. Ek meen sy was ’n nooie Du Plessis. Tant Nakkie was stil en sag van geaardheid en die oom stil en doof.

Die twee was al vol in hulle jare toe ek hulle dominee geword het. Hulle was lidmate van die Gereformeerde Kerk Magalakwin.

Daar was ’n hele paar hoogtepunte in hulle huwelik – wat almal gedoop geraak het. Die mooie is dat ek tot op hierdie dag nog met hulle kinders en kleinkinders vriende is. Hulle is almal deel van die mense wat die jare, wat ons aktief deel was van die Alldays- en Messina-gemeenskap, mooi gemaak het.

Later het die ouderdom haar gevang en die plaasdokter het al haar tande uitgetrek. Niks kon oom Matewis meer plesier verskaf as om die tannie te verpes nie. Hy het gereeld die kuiermense met sy harde eentonige kraakstem aangemoedig om vir die tannie te sê sy moet sê: “Koffie, koffie.”

Hy het dan haar slap gefrommelde mond gekoggel, sy tong so lank as wat hy kan uitgesteek en gesê: “Kothee, kothee.” Dit was nou sy nabootsing van die woord koffie se uitspraak soos hy dit

onthou het.

Juis in dié tyd het die tannie ’n swaar behoefte aan iets souterigs ontwikkel. Oom Matewis het diep en innig gedink hoe hy sy vrou se luste kon bevredig en toe die oplossing gekry. Hy sou ’n koedoe skiet. Van die biltonge kon hy dan klein en dun sny en winddroog maak. Dan sou dit maklik wees om dit selfs poeier te stamp sodat sy daaraan kon suig.

Die kinders het beduie dat dit op sy ouderdom gevaarlik is om te gaan skiet. Hy wou niks hoor nie. Hy het as’t ware met die roer in die hand grootgeword. Wie sou hom nou vertel hoe en wat van skiet?

Sy huis het op die walle van die Magalakwin-rivier gestaan. Oom Matewis is by die huis weg en het al in die rivierbedding op koers gekry. Hy was doof, maar hy kyk mos nie met sy ore nie.

Ek was self ook in my tyd daar ’n keer of wat saam met hom in die veld. Oom Matewis het nie saggies geloop nie. Gelukkig of ongelukkig kon hy nie hoor dat hy soos ’n hele leërskare lawaai en droë materiaal loop en raaktrap nie.

Die juffrou by die skool sou hom kon gebruik om die kinders te laat verstaan waarom Jerigo se mure inmekaargeval het.

Hy was omtrent al so 800 meter van die huis af in die ruigtes in. Die hele tyd het hy deur die riete en struike op die wal geloer of hy iets kon sien wat daar in die groenigheid wei. Toe sien hy dit. Reg voor hom op die hoogte het twee pote netjies langs mekaar gestaan. Voorpote. Dit was in die skaduwee. Hulle het blou of groen of bruin gelyk. So iets. Die skaduwee het sy oë bedrieg.

Hy het roerloos gestaan en uitwerk watter dier dit kon wees. Hy kon selfs die knieë uitgewerk kry nadat hy lank genoeg gekonsentreer het deur die skemer lig. Dit moes ’n koedoe wees, het hy besluit. Nou moes hy net skiet en raak skiet.

Page 77: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

77

Hy het uitgewerk: as die knieë op daardie hoogte was, moes die ding se bors omtrent so en so hoog wees. Dan sou die kop daar iewers tussen die takke wees. Die dier het nog altyd roerloos gestaan.

Oom Matewis het aangelê na waar hy geglo het die dier se kop moes wees. Hy het selfs toegegee, want hy het besef dat hy darem kwaai opdraand moes skiet – teen die wal uit. Die knal van die skoot het in die rivier opgetrek en hy het gesien hoe die dier val. Die takke het aanhou roer. Die dier moes seker gelê en skop het voordat dit heeltemal vrek was.

Hy het teen die wal op gebeur. Al die ruie struike het hom gepla en hy het ’n paar minute gesukkel voordat hy bo was. Toe het sy vrou en kinders al langs die dooie dier vir hom gewag.

“Pa, ons het by die huis gehoor hoe pa ons enigste donkie se klok stukkend geskiet het!” het hulle vir hom beduie.

Maar nou ja, buurman, as die koeël eers deur jou donkie se klok is, is dit net so goed asof dit deur jou kerk is.

Page 78: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

78

30. Koninkrykspaaie

Ek skryf vanaand oor twee manne wat in my lewe die pad met my gekruis het. Een is ’n ou boere-omie wat al jare lank dood is. Toe ek hom leer ken het, was hy al oor die negentig jaar. Die ander een is ’n bruinman van Elsiesrivier. Hy is groot en sterk en in sy dertigs.

Fisies verskil die twee heeltemal van mekaar. Maar op geestelike gebied in die Koninkryk van God is al twee eenders, en is hulle ervarings ook dieselfde. Hulle geaardhede stem ook grootliks ooreen.

Die ouman was oom Fransie Venter van Alldays. Hy was baie tenger gebou toe ek hom leer ken het – en hy was toe al feitlik blind van ouderdom. Hy het min gepraat – en net sy eie pad gegaan met sy kierie.

Eendag het ons ’n gemeentebyeenkoms onder die afdak langs die kerk gehad. Die hele Magalakwin-gemeente het dit altyd bygewoon en wonderlike geleenthede daarvan gemaak. Oom Fransie was ook daar.

Ek en so ’n paar gemeentelede het hom gesit en uitvra oor sy jong tyd en oor hoe die kerk was toe hy ’n jongman was. Toe begin hy vertel. Al hoe verder hy vertel het, al hoe kleiner het ek geword. Ek onthou daardie dag baie, baie skerp! Daardie dag het die Here my laat sien hoe ver ek tekortskiet aan offervaardigheid en bereidheid om vir God te werk.

Oom Fransie het vertel dat hy in die dertigerjare ’n diaken was. Daardie jare was die noordelikste Gereformeerde gemeente Pietersburg. Waar Louis Trichardt en Messina en Alldays en Dendron vandag is, was destyds net een wyk – die wyk waar oom Fransie diaken was!

Mense wat nie die afstande ken nie, kan gerus ’n gebiedskaart in die hand neem en kyk hoe ver daardie plekke uit mekaar geleë is. In ons tyd is daardie gebied byna ’n provinsie op homself!

Oom Fransie het twee keer in die jaar as diaken deur sy wyk gegaan. Voordat hy met sy besoeke begin het, het hy eers twee paar nuwe skoene gemaak. Destyds het die mense in die Bosveld hulle eie skoene gemaak. Winkelskoene was baie skaars en baie duur.

Die een paar skoene het oom Fransie oor sy skouers gegooi en die ander paar het hy aangetrek. Dan het hy in die pad geval en te voet deur sy wyk gegaan. Dit was arm tye, en hy het nie ’n motor gehad om mee te ry nie. Later jare het hy ’n fiets gehad – maar die eerste jare moes hy met die voet huisbesoek doen.

Die manne wat die plase se name geken het, en wat geweet het hoe ver die afstande is, het die dag saam met my gesit en uitwerk hoe ver oom Fransie geloop het om een keer deur die wyk te kom. Omdat ek nie meer die korrekte afstand onthou nie, kan ek dit sê soos oom Fransie dit daardie dag gesê het: “Ek het al twee paar skoene gedaan geloop – dan is ek net mooi een keer deur my wyk!”

Daardie jare het die diakens ook nog die lidmate se kerklike bydraes ingesamel. So het oom Fransie van plaas tot plaas en van dorp tot dorp geloop en die mense in sy wyk se kerklike bydraes gekollekteer. Die eindbedrag wat hy dan aan die kerkraad gaan oorbetaal het was twee-en-ses (’n halfkroon)! (Vir die jonges wat nie meer die ou geld ken nie: dis vyf en twintig sent). Natuurlik was dit in daardie jare nogal taamlik meer geld as wat dit vandag werd is, want ’n skaap het toe sewe-en-ses gekos (vyf en sewentig sent).

Ek het die storie baie lank onthou. Altyd het ek vir kerkraadslede wat gekla het oor tyd en afstand en oor armoede die storie van oom Fransie vertel. Ekself het nog steeds die skaamte in my dat ek nie so offervaardig soos oom Fransie vir die Here kan werk nie.

Dié week het ek toe in ’n soort van ’n dubbelganger van oom Fransie vasgeloop. Dit het so gebeur: Ek is nou al drie jaar lank Elsiesrivier se konsulent. Elsiesrivier is ’n Gereformeerde gemeente op die Kaapse Vlakte met bruin lidmate. Ek bedien vir hulle Nagmaal. Dan preek ek ook en bedien die doop wanneer hulle dit versoek. Ek het ook al vir hulle Bybelstudie gehou en ’n lesing by hulle sustersvergadering aangebied.

Page 79: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

79

Dié week het ek weer hulle kerkraadsvergadering gelei. Natuurlik is daar ’n punt waar daar verslag gedoen moet word van die huisbesoeke wat hulle gedoen het by die lidmate. Almal van hulle doen verslag. Hulle is deur hulle wyke. Dit gaan goed met die gemeente.

Tog het veral een ouderling se verslag diep in my vasgesteek. Derick Hass het huisbesoek gedoen soos oom Fransie. Derick is ’n groot sterk man. Hy aard baie na oom Fransie. Hy is net so ’n sterk gelowige en ’n fors geloofsleier. Hy het ook nie ’n motor nie. En hy het ook ’n groot en uitgestrekte wyk.

Die wat die Kaapse Vlakte ken, sal weet hoe ver Blue Downs van Goodwood af is. Derick het besoekpunte van Blue Downs af tot in Goodwood. Hy doen ook met die voet huisbesoek. En hy is deur sy hele wyk met baie besoekpunte!

Hy is iemand wat skofte werk – wat beteken dat hy hierdie groot afstande te voet moet aflê in die tyd wat hy eintlik fisies moet rus en herstel voordat hy weer moet gaan werk. Die ouderlingamp stel dus baie hoë eise aan hom!

Sulke dinge soos dié het nog altyd die manier gehad om my binnekant heeltemal rou te maak. Die vraag wat dadelik by my opgekom het, was: As Derick en oom Fransie met so min middele tot hulle beskikking so geweldig baie vir die koninkryk van God kan doen, hoeveel meer moet ek dan doen wat meer het as hulle?

Ek skryf maar die dinge, want hierdie keer skryf ek nie ’n storie nie. Die dinge rondom die twee manne se roepingsvervulling is feite. Miskien lees my kleinkinders eendag van die twee manne – en dan inspireer dit hulle om nooit op ’n hoop te gaan sit nie. Mag die storie hulle die krag gee om groots te werk, al is daar geen krag in jou beursie nie.

Dalk lees hulle dit raak dat ek nie geskryf het dat die twee gekla het nie – want hulle het nooit gekla nie. Hulle het net altyd met blydskap vertel van die genade dat hulle vir God kon werk. Hulle moes in die proses pyn gehad het, maar dit het hulle nie oorvertel nie.

Ek groet julle so al dinkende oor ander mense wat vir God werk en nie kla nie.

Julle gestewelde vriend

Matiempaan

Page 80: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

80

31. Magalakwin-onthou

Hier in die Kaap is daar ouens wat ’n wyntjie skink as die eerste Boeing oor hulle vlieg. Somtyds drink hulle die wyn terwyl hulle bespiegel dat die Boeing mos netnou al oor is.

Kleintyd in die Transvaal was daar iets soortgelyks onder die swart kinders. As daar ’n vliegtuig oor is – dit was verseker nie Boeings nie – het hulle geskreeu:

“Tšhela mêtsi, letšatši le a fiša!” – gooi water, die son brand (ons)!

Die ding kom natuurlik daarvan dat van die oueres onder hulle destyds gedink het dat ’n ding wat so hoog vlieg, ’n god moet wees. Daarom het hulle eintlik maar net gesê wat hulle by die grootmense gehoor het: die ding daarbo moet vir hulle water uitgooi, want dis droog en die son is warm. Water sal die probleem oplos.

Die feesnaweek op Alldays het ek vir die eerste keer in baie jare weer die sêding gehoor by Annatjie Gerhard. Sy het vertel dat hulle ook kleintyd (en sy is presies so oud soos ek!) die ding by die swart kinders gehoor het – en dit ook altyd saam met hulle geskreeu het as daar ’n vliegtuig oorgevlieg het! Ek het met louter verstomming daarna gesit en luister.

Wat die verhaaltjie vir my diepte gegee het, was toe sy vertel dat hulle een Sondag in die kerk gesit en luister het na die dominee toe daar ’n vliegtuig hoog oor Alldays verbygedreun het iewers heen.

Spontaan het een van die klein seuntjies opgekyk en – terwyl die dominee gepreek het – geskreeu:

“Tšhela mêtsi, letšatši le a fiša!”

Ek het nie by haar gehoor wat daarna in die kerk gebeur het nie, maar ek kan nie dink dat daar nie ten minste ’n paar swaar onderdrukte glimlagte was nie.

Omdat alles in daardie omgewing verander het – paaie, geboue en wat als nog – bel ek op pad Alldays toe dikwels vir Ansu om te help. Uiteindelik kry haar man, Piet, ons op Louis Trichardt (wat nou Makhado of so iets is). Ons ry agter hom aan na Alldays toe.

Ja, so het die fees saam met die Magalakwin-gemeente afgeskop. Wat dit anders gemaak het as enige ander kerkfees waarop ek vantevore was, is dat daardie mense juis mense is met dieselfde kultuur en agtergrond as ek. Hulle is Bosveldkinders wat praat en dink en doen soos ek.

Hierdie mense het grootgeword met dieselfde ongeslypte kinderlike opregtheid – net met die verskil dat hulle nog steeds hierdie kinderlike opregtheid in hulle menswees en hulle geloof het. Ek het dit nie meer nie, want oor die jare leer ’n dominee heelwat skynheiligheid aan. Hy leer om sy innerlike eerlikheid dikwels te verloën ter wille van ander se sienings en ter wille van vrede. Ek is heilig jaloers op hulle dat hulle nog steeds so kan leef en kan en mag wees wie hulle werklik is.

Ek het hierdie soort van kinderlike aanvaarding die naweek daar weer gesien toe die bobbejane weer ’n keer in die mielieland was.

“Dis mos maar hoe die dinge werk,” het Bertus gesê. “Dis hulle manier van lewe. Ek moet hulle maar net uit die land uithou.”

Gelate.

Dis hoe die Here die diere aanmekaargesit het – dit kan nie anders wees nie. Hy sal ’n plan

maak.

Gilbert het ’n groot ontsag vir bobbejane. “Dominee, hulle is mekênnieks en elektrisiëns en fitters

en wat alles,” vertel hy.

“Jy kan enige stelsel opsit! Dit vat hom net ’n rukkie dan is hy beter en hy gaan in! Ons sit elektriese heinings op om hulle uit te hou. Dit vat hulle net ’n paar dae dan weet hulle presies waar kan hulle vat sonder om geskok te raak. Dan is hulle maar weer in die lande.”

Page 81: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

81

Hulle laat ons in Bertus en Elené se jagkamp bly. Dis die mooiste grasdakhuisies wat onder magtige groot bome staan. Die tuinery is iets uit ’n ander wêreld. Ek neem foto’s van die geweldige bome. Hierdie prentjie moet vir altyd in my geheue vassit, want ek wil lank hieroor mymer as ek eendag op die ouetehuis se stoep sit.

Die Saterdagaand is daar vir ons ’n braaivleis gereël. Gilbert en sy kinders (skoonkinders en

kleinkinders almal ingereken) braai en sit ’n feesmaal voor. Ons is drie predikantsgesinne wat

saam met hulle in die donker op die Limpopo se wal sit. Ons praat en kuier en geniet die tyd

saam.

Ek verstom my weer vir die prag van God se skepping. Selfs die nagapies wat al met die heining langs van paal tot paal spring, verkondig met hulle grasie die almag van ons Skepper.

Op ’n stadium was daar taamlike konsternasie terwyl die braaiery aan die gang was. Iewers

tussen die klippe waarmee die braaier gebou was, het daar ’n boomslang uitgepeul. Dit was

soos mes voordat almal vol lewe was. Dit trap en dit skop en dit spring om die slang óf dood te

kry óf om uit sy pad uit te kom.

Marius het die ding toe maar met die graaf in stukke gespit en gaan weggooi. Daarna het die vrede weer saam met die donker oor ons almal neergedaal.

Die Sondagoggend het ek weer die Nagmaalsdiens aangebied. Die ouer dominee, Flippie van

der Walt, het die Nagmaal bedien. Die jongste dominee, Cornel Nagel, het die

nabetragtingsdiens gehou. Sommer so alles aaneen totdat dit klaar was.

Ek sit die kerkraad en bekyk. Die oumense wat in my tyd die leiers van die gemeente was, is almal dood. Die kindertjies wat destyds tussen vyf en tien jaar oud was, sit nou die kerkraadsbanke vol. God se verbond gaan deur die geslagte tot Hy op die wolke kom om ons te kom haal. Tyd het iets geweldigs in hom!

Daarna volg ’n onthousessie waar elkeen wat gevra was, die verlede op sy eie manier oopgedek het. Toe het ons gaan eet.

Op die tafels in die saal het daar letterlik vragte kos gestaan. Ek en die Generaal het gedink dat die kos hopeloos te veel was vir die klomp mense wat daar was. Ons is verkeerd bewys. Die rede is ook voor die hand liggend: daar is van daardie manne wat groot is. Hulle vorm letterlik ’n muur van vleis as hulle langs mekaar staan. Toe al die bakke leeg was, het ek van voor af verstaan waarom hulle so geweldig groot is!

Toe ons groet, stop Piet en Anso ’n groot vrag Bosveldbiltong in ons hande. Ons moet eet en onthou. Hulle en Marius-hulle belowe almal dat hulle in die Kaap kom kuier. Ons hoop hulle maak so. Toe is ons van die kerk af weg.

Wat vir my die feesgeleentheid baie besonder gemaak het, was dat al my familie wat daar in die omtrek woon, spesiaal gekom het dat ons saam kon wees. Dit was dus ook ’n familiesaamtrek. Ons het lekker gekuier. Mens moet aan iemand behoort – daarvoor is familiebande daar. Ek het my kameratjie geneem en foto’s geneem.

Op die een foto staan ons vier neefs langs mekaar teen die kerkmuur. Ons vrouens sit voor ons op stoele. Dis presies soos ’n outydse foto. Die verskil is net dat op die outydse foto’s die manne altyd op die stoel sit en die vrou langsaan staan met haar hand op haar man se skouer. Verder is ons foto in kleur terwyl die outydse foto’s in swart en wit is.

Wie weet of ons mekaar in hierdie lewe weer sal sien? Tyd en lewe word nie deur ons beskik nie. Ek onderneem om vir elkeen van hulle ’n foto van ons aan te stuur – en ek het presies dit gedoen toe ek by die huis kom.

Na die fees is ons vir oulaas terug na Gilbert en Annatjie toe op die plaas. Ons kuier lekker en gesels ou dae se dinge.

Maandagoggend ry Bertus met my en Marnus deur sy plaas. Ons kyk saam met hom – met verbystering – hoe die bobbejane hulle mielies verniel het. Terwyl hulle beplan om die probleem te probeer hokslaan, pak ons ons tasse en begin terugry na Kempton toe.

Page 82: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

82

Op pad draai ons by Vivo af na neef Sampie toe. Ons kyk waar hy en Lea bly. Hy wys ons sy aartappelboerdery en gee vir die Generaal twee sakke aartappels. Hy doen moeite en gaan wys ons hoe hy die aartappels uit die grond uithaal, skoonmaak en verpak.

Hy besef nie hoeveel moeilikheid hy vir my gemaak het nie, want die Generaal het dat ek die aartappels in my aktetas en in die handsak met die dekens in versprei – maar haar aartappels moes vliegtuig ry Kaap toe! Wil jy nou meer. Hulle het ook gery en veilig hier aangekom.

Julle Bosveldvriendjie groet julle met die geur van nat Bosveldgrond in sy geheue en ’n nuwe lied in sy hart.

Van njalas wat tussen die mopanies staan tot by preek-maak agter my Kaapse lessenaar

Matiempaan

Page 83: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

83

32. Eiesinnig met sy slang en Bramaanbul

Ou Eiesinnig was ’n baie merkwaardige man. Sterk van postuur en bonkig van bou. Maar hy was koppig geskape en steeks geteel met ’n eiesinnigheid wat gesorg het dat hy alleen kon dink en doen soos hy. Sy hele lewe en al sy besittings was ’n getuienis van hoe hyself was.

Sy plasie was in die mopanieveld met baie kalkstrepe oor die veld. Dit was droogtetyd en as ek by die plaashek ingery het, het die droë blare oor die pad gedwarrel en die motor verwelkom. Die gras was so gedaan dat die sprinkane al laag moes lê om die onderste wortels by te kom. Die miskruiers het hulleself gerantsoeneer, want daar het net een Bramaanbul met ’n stuk of tien Jerseykoeitjies rondgeloop en die verskaffing van goeie sappige voedsel was dus minder as die beloftes daarvoor.

Die Bramaanbulletjie was eintlik ’n geval op homself. Net soos sy baas. Die bul was ordentlik van bou, want sy lyf sou enige skou verryk het. Maar sy bene was kort. Eintlik baie kort, want die bul se gereedskap het heeldag op die warm sand rondgesleep.

Dit wil nou nie sê dat die bulletjie so uitgebak geraak het dat hy onbekwaam was nie, want sy korrel was reg vir klein besies soos Jerseykoeitjies en hy het homself bewys met al die kallers elke jaar. Dit bewys net weer dat plesiere wat laag hang nie noodwendig onbruikbaar hoef te wees nie. Dit hang net af van die inisiatief en deursettingsvermoëns van die gebruiker en die verbruikers daarvan.

Ou Eiesinnig en hierdie bul het altyd ’n vete aan gehad. As die bul hom gesien het, het hy al begin brul en sand opskop, want daar was niks wat ou Eiesinnig meer plesier gegee het as om die bul van agter af te bekruip en met die karwats oor sy kroonjuwele te raps nie. Die bul was dan woedend en het dadelik omgevlie en gestorm. Hy het waarskynlik die idee gehad dat sy waterwerke vir ’n heelwat hoër diens bedoel was as om heeldag met ’n sweep geslaan te word.

Ou Eiesinnig het dan laat vat na die kraalmuur toe en onder die houte deurgerol en buitekant die houtpale vir die bul gestaan en lag. Meestal was hy net-net betyds, want soos hy ouer geword het, het hy al hoe stadiger geword en al hoe moeiliker die onderste paal gehaal. Tot eendag.

Alles het verloop soos gewoonlik: die bekruipery, en die klap van die sweep, dit was reg op die bul se weelde-artikel en die bul was woedend en hy het omgevlieg. Ou Eiesinnig het ook omgevlie soos gewoonlik, maar een van die koeie het agter hom ’n vreeslike hoop gemaak en ou Eiesinnig het nie daarvan geweet nie – totdat hy omgevlieg en begin nael het.

Sy groot gewig en die spoed van sy velskoen het soos waterski oor en deur die nat mis gesny en ou Eiesinnig het omtrent geval dat sy gat sê woerka. Teen dié tyd was die kortbeenbul ook daar en hy het ou Eiesinnig getrap en gestoot. Behoorlik. Asof hy presies beplan het, het hy ou Eiesinnig met die een horing aan sy sak bygekom en hom sommer so deur die kakiebroek gekastreer. Toe die bul sy horing deurpluk, lyk dit behoorlik asof hy wil kleilat gooi met die ronde bal wat aan ’n string of wat om sy een horing swaai.

Nadat die plaasdokter toegewerk het en probeer red het wat daar oor was om die herinneringe lewendig te hou, was ou Eiesinnig se kommentaar net: “Dit was sy beurt, maar een van die dae is ek weer by die huis en dan gaan ek syne uithaal en braai.”

Ou Eiesinnig se lewe het nie hierdeur baie verander nie. Sy onkruidsigheid het net vrugbaarder geword – so erg dat dit soms op hom geboemerang het wanneer hy dit nie kon bekostig nie.

Een Saterdag kom ek weer daar aan. Dis droog. Ek sien dit, maar met die gewone skynheiligheid wat eie is aan ’n predikant, vra ek maar: “Het dit al gereën?”

“Ja,” sê hy. “Hier was al ’n paar donderbuie.”

Ek weet hy lieg, maar ek kan net nie verstaan waar nie.

“Vir my lyk dit maar droog,” sê ek.

“Presies,” verduidelik hy. “Die weer pak daar saam.” Hy beduie in ’n rigting. “Dan donder hy

Page 84: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

84

doer verby na die ander plase toe. Dan pak dit weer diékant saam en dan donder dit weer verby soontoe.”

Hy het my.

Daardie Saterdag moes ek amper gaan begin werk aan ’n onbeplande begrafnispreek. Nou nie dat die ander sterftes in die gemeente werklik beplan is nie, maar mens leer darem met die tyd wanneer die “normale” verwag kan word.

Die betrokke dag het ou Eiesinnig my in sy stoor in-geroep. Hy wou my iets gaan wys. Langs die muur het hy ’n los streepsak of twee opgetel en eenkant toe gegooi en iets gemompel soos: “Waar is die ding dan heen?”

Toe hy weer ’n sak optel, het daar ’n yslike pofadder gelê. Hy was in sy noppies. Die slang het sy nek omgedraai om te pik, maar ou Eiesinnig het die slang se kop so hard geklap dat dit teen die grond vasgespat het. Toe tel hy die slang agter die kop op en druk dit in sy baadjie se een verrekte sak in.

Op pad deur toe stap ons by sy werksbank verby waar hy ’n laai ooptrek en daar lê sowaar nog ’n pofadder. Maar hierdie een se bek was met ’n dun koperdraadjie toegedraai.

Dit was asof Migael en Gabriël ou Eiesinnig gehelp het om uit sy baadjie uit te kom. Hy het nie eintlik die baadjie uitgetrek nie. Hy het net uit die baadjie uit gedisintegreer – want die slang in die laai was die een wat hy vir my koms voorberei het.

Dit wys jou net, as jy met bulle en slange deurmekaar is, moet jy presies weet wat jy doen, of jy kry dit in jou sak.

Page 85: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

85

33. Die slegte Hamman

Daar is baie staaltjies uit my bediening wat in my kop vassteek. Dikwels kom die dinge dan in my gedagtes op en beleef ek weer van die goue oomblikke. Dié van hulle wat ek kan onthou, skryf ek dadelik neer.

Een so ’n ding was die preek wat ek oor Haman gemaak het. Die twee hoofkarakters was oom Niklaas en tant Betta. Al twee was mense met ’n groot sin vir humor, maar ook vir regverdigheid!

Tant Betta was ’n Hamman van geboorte. Oom Niklaas was ’n De Jager, so sterk en so skerp as wat kan wees.

Die twee was baie lief vir mekaar. Inderdaad was die twee erg verknog aan mekaar. Hulle kon die een nie sonder die ander lewe of wees nie. Maar tog het hulle heelwat korswil en humor met mekaar gehad.

So gebeur dit toe mos dat ek eendag die preek gemaak het oor die slegte Haman – soos die Bybel die man noem. Ek het nogal alles ingesit om die man so sleg as moontlik voor te stel – ek meen nou maar net, as die Bybel leer dat die man sleg was, kan ek verseker nie genoeg aandik oor al sy swakhede nie!

Die oom Niklaas en tant Betta het altyd voor in die kerk gesit. Hulle het ’n vaste plek gehad. Elke Sondag tydens elke diens was die twee op dieselfde sitplek. Daar het hulle roerloos vasgenael gesit tot aan die einde van elke preek.

Hulle het ook nooit op enige ander plek gaan sit nie. Net hulle eie vaste sitplek was goed genoeg. Dit was ’n lang bank waarin hulle maar altyd alleen gesit het – behalwe nou as daar van hulle kinders kom kuier het.

Die Sondag toe ek van die slegte Haman gepreek het, het ek my ’n paar keer verbeel ek sien iets ongerymds in die kerk, maar ek kon nie my vinger presies op die saak lê nie. Daarom het ek maar voortgegaan om Haman sleg te maak. Kort-kort het ek dan ook spesifiek die woorde die slegte Haman gebruik!

Iewers in die preek het ek meteens agtergekom dat oom Niklaas en tant Betta nie meer in die kerk is nie! Hulle plek is leeg!

Ek het maar aangegaan met preek maar tog so tussen-deur gewonder hoe dit nou kan wees dat ek nie agtergekom het dat hulle uitgestap het nie.

Meteens het ek agtergekom dat hulle wel in die kerk is – maar hulle het toe al in die middel van die bank gesit! Hoe op die aarde kom hulle daar?

Net toe ek weer sê “die slegte Haman”, toe sien ek wat gebeur! Die oomblik toe ek dit sê toe stamp oom Niklaas vir tant Betta (wat mos ’n nooie Hamman is!) met sy elmboog in die ribbes. Dan skuif die ou haastig weg – soos in baaaaaie haastig, want tant Betta het haar hoedespeld uit haar hoed getrek en sy probeer hom dan daarmee steek!

Iewers maak die twee dan weer vrede en skuif weer ewe liefdevol nader na mekaar toe. Dit het toe so gewerk dat hulle net weer in vrede en liefde langs mekaar sit, dan preek ek weer van die slegte Haman.

Dadelik is die hele ding van voor af aan die gang. Oom Niklaas pomp haar in die ribbekas met sy elmboog en gee pad met die bank af dat sy hom nie kan raaksteek nie. Sy skuif dan later weer stadig nader tot sy weer langs hom sit. Dan begin alles maar weer van voor af.

Daar het in dié diens drie dinge gebeur:

Die eerste was dat die gemeente niks na die preek geluister het nie, want almal het die petalje daar voor agtergekom en dit met angstigheid dopgehou. Ek dink hulle het later begin wonder wanneer sê ek weer “die slegte Haman!” sodat daar weer bietjie aksie kan wees.

Die tweede ding was dat die twee oumense reg oor die hele lengte van die bank gereis het tydens my preek. Hulle het aan die een kant van die kerk ingekom en aan die ander kant

Page 86: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

86

uitgegaan!

Die derde ding was dat ek so dik was van die lag vir die spektakel hier in die voorste bank, dat ek maar later Amen gesê het – want ek was nie meer met eer daar in die kas nie.

Julle Bosveldvriendjie groet julle met hierdie Bosveld-herinnering uit die kleintyd van sy bedieningsjare toe hy nog in die Bosveld sy predikantswerk gedoen het.

Matiempaan

Page 87: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

87

34. Uit een hout gesny

Mense se wêrelde verskil darem maar baie. Ek is nou ’n regte stadsjapie. In die taal van my opvoeders: ’n softie van formaat! Ek het nou al so sleg geword dat ek nie eers meer in die warm son werk nie! Dan gaan kruip ek op die koelste plek weg. Ek wonder hoe ek deesdae op ’n trekker sal vaar?

Die vrouens hier in die stad is ook taamlik anders as die gemiddelde vrou onder wie ek grootgemaak is. Hierdie vrouens het meestal klomp grimering op. Hulle hare is gekleur – veral as hulle vermoed hulle is iewers effens grys. Hulle dra fyn klere. Alewig is daar iewerster ’n handsakkie oor die skouer of in die hand. Dis mooi en dis goed – maar dis tipies dorps.

Natuurlik is die hande soms nogal iets om te sien! Daar sit darem soms vir jou ringe aan hulle vingers wat liewerster in die bank toegesluit moes gewees het. Die naels is lank en dik geverf – nogals met die snaaksste kleure waaraan ’n man kan dink! Dis mooi en netjies, maar dis meestal naels wat aan hande vassit wat nie kan werk nie – in elk geval nie met ’n graaf en ’n geweer of die soort van werke wat vrouens op die plaas werk nie!

Ek weet nie of my ma in die jare toe ek nog in die huis was enige lipsel of sterk parfuum besit het nie. Haar hande was vereelt en haar naels was kort gewerk. Ek onthou Tanna se hande het ook so gelyk. Maar hulle hande was net so skoon en netjies soos die dorpsvrouens s’n. Ek onthou hoe Tanna op die perd was en help beeste trek het. Dit was vroue daardie wat nog van die vroue wat oor die Drakensberge gestap het, se bloed in hulle are gehad het.

As enige iemand dink dat daardie tipe vrou van faam al uitgesterf het, maak hulle ’n groot fout. Daar is nog van hulle in lewende lywe. So praat ek vandag met een van my Bosveldvriende. Hulle is vir die naweek in Pietersburg (of watter naam die plek ook deesdae mag hê).

“Wat soek julle daar?” wil ek weet.

“Nee, my ma moet môre in die hof verskyn!” antwoord haar dogter Anina.

Ek skrik behoorlik. Allerhande moontlikhede wat wissel in verskillende grade van onheiligheid vlieg deur my kop. Wat het die jeugvriendin van ons nou aangevang?

Toe kom die storie uit. Die wilddiewe vang hulle wild met draadstrikke. Dan steel hulle die vleis. Sy het toe op so ’n draadstrik in die veld afgekom. Soos daardie onverskrokke tipe vrouens is, het sy dadelik spoorgesny tot by ’n gehuggie waar sy vier wilddiewe betrap het. Die vier wat hulle wild gesteel het. Sy het hulle op die plek gearresteer! Nou moet sy in die hof teen hulle gaan getuig. Dit maak dat sy vir skelms vang ’n goue medalje op die Olimpiese Spele behoort te kry!

Moenie dink die vrou is ’n jong dingetjie nie! Sy is net so oud soos ek! Sy is al ’n ouma van ’n hele paar kleinkinders waaronder drielingseuns tel!

Watter dorpsvrou sal die geweer gryp en deur die harde terrein al met die Limpopo se wal langs spoorsny tot waar sy die wilddiewe in hulle eie nes vastrek? Ek dink nie hier is in die Kaap baie sulke vrouens nie. Dit wil gedoen wees. (Dalk moet ek erken dat ek ook die wild-diewe sou agtervolg as sý sou saamgaan! Dan weet ek ek is veilig. Alleen is ek maar ’n regte banggat!)

Daarna praat ek met Gilbert. Die man verjaar en dis nog Kersfees ook. Daarby gaan ek ’n week lank sy krag en water opgebruik. Daarom wil ek ’n ordentlike stuk gereedskap vir die man gaan koop.

“Wat wil jy hê?” vra ek die man sommer reguit. Vir ’n vreemdeling kan mens nie sommer reguit ’n vraag vra nie, maar vir iemand saam met wie jy al ’n lang stuk van die lewe se pad gestap het, kan jy maar vra.

“Man,” sê hy, “my nommer 24-sleutels is weg. Die een het weggeraak en die ander een het in die rivier geval. Nou het ek niks.”

Nou weet ek wat om te koop. Dis altyd so simpel om vir iemand iets te gaan koop wat jy nie seker is of hy dit gaan gebruik nie. Ek wil ook nie iets vir iemand koop wat hy net weer as ’n

Page 88: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

88

geskenk vir ’n volgende persoon gaan aangee nie.

Die naweek van 30 November moet ek my Sondag in hoogste rat deurbring. Die oggend doop ek mos vir Jeanté in Kempton Park. Die middag moet ek haastig vliegtuig toe, want die aand moet ek weer hier in die Kaap preek. Daardie aand is dit ook nog ons gemeente se Kersprogram.

Soos dit nou die laaste tyd gaan, moet ek ’n itempie speel met my mondfluitjie. Die koorafrigster het gedink aan iets soos Stille Nag. Dan is dit goed – ek sal dit speel. Daar kom blykbaar nog Die Heiland is gebore ook by. Dis snaaks dat ek sulke soort musieke gaan speel

(gelukkig nie tydens die erediens nie!).

Ek dink my ou Doppervoorvaders se gebeentes bewe in hulle grafte omdat hulle dominee-nasaat hom op ’n Sondag aan sulke musiek begewe. En dit nogal voor sy hele gemeente! Maar ek het vrede. Die musiek is mooi, en dis nie tydens die erediens dat ek van enige dwaalleer aangekla kan word nie. Note is note!

In my lewe is daar bitter min dinge wat vanself vlot verloop. Dié stukkie waarheid word net weer bevestig deur my een mondfluitjie. Tannie Joan het gesit en luister hoe ek op verskillende mondfluitjies speel. Ek het ’n hele sak vol van die goed. Daar is kleintjies en grotes en daarby ook nog allerhande verskillende sleutels ook. Maar almal is Hohner-fabrikate. Die ander fabrikate blaas net ’n poef en ’n paf en dan is hulle oor die muur.

Toe kies sy een. Dis ’n baaaie ou mondfluit. Die ding is al meer as dertig jaar oud. Dit is inderdaad ’n kombinasie van ses verskillende sleutels. Dis een van daardie waar die tremolo in die fluit ingebou is.

Omdat Stille Nag in die FAK in die C-sleutel geskryf is, kies sy toe die C-sleutel. Daarop sal daar

gespeel word. Maar ouderdom vreet nie net aan ’n mens nie. Dit vreet ook aan ’n mondfluitjie. So met die jare oksideer die rietjies van die verskillende note ook maar. Later speel hulle nie meer nie, of hulle speel, maar hulle speel heeltemal vals!

Dis toe nou presies wat met hierdie stuk van my mondfluitjie gebeur het. Ek het alles probeer – maar die heel hoë note het bly vassteek. Later het ek die ding met wynsteensuur uitgespoel. Dit het effens gehelp.

Die note was suiwer en het maklik gespeel nadat ek dit klaar skoongemaak en uitgespoel het met skoon water. Na ’n uur of twee probeer ek die ding weer blaas. Daardie note wat sopas netjies gespeel het, steek toe eers behoorlik vas! Toe spoel ek die mondfluitjie weer ’n keer met wynsteensuur uit. Hierdie keer het ek dit sommer lekker lank in die mengsel laat staan. Tevergeefs. Die mondfluit wil nie sy streke laat staan nie.

Sondagaand het ek maar vir Annelie (tannie Joan se dogter) mooi gaan vra of ons nie asseblief liewer in die F-sleutel kan speel nie. Gelukkig was sy baie gewillig dat ons dit doen. Vir haar is dit natuurlik meer werk, want sy moet nou die heeltyd transponeer. Sy is baie musikaal en kan dit gelukkig doen.

Julle Bosveldvriendjie groet julle met note wat vassteek en vrouens wat skelms voor die geweerloop hou.

Van bok tot noot

Matiempaan

Page 89: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

89

35. Doopsondag

Daar is nie baie dominees wat daarmee kan spog dat hulle al ’n drieling gedoop het nie. Daarom was dit vir my ’n baie groot eer toe Gilbert my in Bellville bel en vra of ek Bertus se drieling sal kom doop.

“Ja dis reg. Wanneer?” wil ek weet.

“Ons hoop dat hulle Sondag 14 Desember al almal uit die hospitaal sal wees.”

So spreek ons toe af. Die week daarna bel hulle dominee my en bevestig die diens wat ek op Alldays (Magalakwin-gemeente) moet kom hou op 14 Desember.

Mettertyd het ons verloftyd aangebreek. Ons is vort. Langs die pad slaap ons eers by Hendrik en Toors. Die volgende dag slaap ons by Piet en Wiida. Die dag daarna druk ons deur Alldays toe. Op Pietersburg (wat nou Polokwane is) gaan ons eers by Marius en Anina aan.

Die twee het vas besluit dat ons klein karretjie nie die grondpad tussen Alldays en Platjan se grenspos sal oorleef nie. Hulle het hulle dubbelkajuitbakkie plaas toe gestuur. Die ou Gerhardts sal ons daarmee op Alldays kom haal. So het dit toe ook gebeur.

Annatjie het ons op Alldays ingewag. Ek en die Generaal is eers verby na die taksidermis toe om daar te gaan wag. Na vyf en veertig minute het ons besef ons wag op die verkeerde plek.

Ons ry toe terug na ’n eetplek toe om ons solank met kos besig te hou totdat daar iemand opdaag. Met dié loop ons toe vir An raak waar sy al ’n uur lank langs die pad vir ons wag! Dit wys jou net wat gebeur as mens nie goed reël en mooi kyk nie!

Ons pak ons bagasie uit die Getz uit oor in die dubbelkajuitbakkie en daar gaan ons plaas toe. Ek bestuur en dit gaan geil. Ou bekende plekke en plase skuif langs ons verby. By die meeste hekke is nuwe naamborde met ander name op. Die meeste van die ou geslag van my tyd is al dood! Hulle name is nie meer op die plaashekke nie. Dit staan nou op grafstene in die begraafplase! Dit was nogal ’n baie skokkende ervaring om te besef hoe baie bome al uit my bos uitgekap is!

Sondag het aangebreek. Halfsewe trek ons van die plaas af weg. Gilbert en An vervoer ons orals waar ons moet wees. Dit is ongelooflik hoeveel moeite hulle vir ons gedoen het. Ons was later verleë oor al die opofferings wat hulle gemaak het. Die kamer waarin ons bly, het ’n nuwe bed, met duvet en gordyne, beddegoed en al! (Ek sal maar die goue mannetjie se huis vir hulle huur as hulle vir ons kom kuier!)

Halfnege is ons op Dendron. Die eerste preek is daar en die tweede een op Alldays. Daan en Rina is ook daar op Dendron vir die eerste diens. Almal is hartlik en gaaf. Dis so lekker om te voel dat jy weer tussen jou eie mense is. In die konsistorie word Daan aangesê om my te bedank vir die preek.

“Waar bloed nie kan loop nie, daar kruip dit!” sê hy. Hy is bly oor die preek.

Daarna is ons na Alldays toe – met al die familie en die wat nog bykom ook agterna.

Dis nou tyd vir die dooppreek en die plegtigheid met die drieling. Baie dinge en belewenisse het deur my kop gegaan. Ek het Bertus in 1976 (as ek nog reg onthou?!) hier op Alldays gedoop – uit dieselfde doopbak en in dieselfde kerk! Toe het sy oupa (oom Matewis) en ’n hele paar ander mense almal nog gelewe. Nou is hulle al almal vooruit.

Die geskiedenis herhaal homself. Soos dit gewoonlik gedoen word, lees ek die doopformulier net voor die preek. Waar Gilbert en Annatjie jare gelede gestaan het toe Bertus gedoop is, daar staan Bertus en Elené voor die preekstoel en antwoord op dieselfde vrae. Die Here het net nou die volgende geslag in sy genade voor Hom.

Ek steek my hand in my hempsak en haal drie briefies met name uit.

Dit mag vir julle eenvoudig klink, maar hier kom die dominee se krisis nou aan die beurt. Watter naam behoort by watter seun? Al drie lyk vir my net eenders! Gewoonlik hou ouers maar net

Page 90: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

90

een kind vas en gee vir my net een papiertjie met ’n naam op.

Nou lyk dinge bietjie anders! Elené hou twee van die seuns vas en Bertus hou die ander een vas. Ek wys vir hom die briefies.

“Watter een is watter een?” wil ek weet. Daar is drie van hulle. Elkeen van hulle het ’n belangrike familienaam. Ek kan nie bekostig om ’n fout te maak nie! Die familie van weerskante af en ’n klomp vriende van waar en oral af sit in die kerk! Die drie seuns se name is: Henro Theodorus, Ruan Gilbert en Jéan Savvas.

Gelukkig is die boonste briefie die een met die naam van die knapie wat Bertus vashou. Hy kry Bertus se naam. Ek doop hom sommer net daar en dan. Summier sit ek die briefie eenkant. Daardie stukkie papier moet nie weer iewers ontydig sy verskyning maak nie.

Daarna kom Elené met die twee manne wat sy in haar arms het, aan die beurt. Die boonste briefie van die twee wat oorbly, is die baba in haar regterarm. Hy kry Gilbert se naam. Die derde mannetjie kry Elené se pa se naam.

Nadat die erediens afgeloop was, roep ek Bertus – die pa van die drie – vorentoe. Namens die kerkraad oorhandig ek drie Bybels en drie Psalmboeke aan hom. Elkeen van die seuns se name verskyn in die boeke wat vir hom bestem is.

Na die diens groet ek my familie wat almal die diens kom bywoon het. Daan en Willemien is daar. Net so het Nico en Dina van Messina af moeite gedoen om my weer te hoor preek. Van Namibië af is Nakkie en Rina ook daar. Was dit nou lekker om hulle almal weer so te siene te kry!

Ons gesels en ek neem weer foto’s van die klompie van hulle. Dis te lekker. In die kerksaal is ’n groot fees aan die gang. Die vorige dag al het die Gerhardt-familie se vrouens allerhande eetgoed gebak en gemaak. Saam met al die Gerhardts eet ek en my familie die jongspan in hulle nuwe lewe in!

Na ’n rukkie groet en vertrek almal. Ons en die Gerhardts bly alleen agter. Hulle moet die gebou sluit. Ek ervaar die leegheid wanneer daar iets groots gebeur het en almal raak weer weg in hulle eie lewens in. Dis asof die oomblik dan nog om my hang soos parfuum. Maar daarmee saam ook die onverbiddelike besef dat die oomblik verby is. Wat ek nie kon vasvang nie, is nou vir ewig verby.

Ons ry terug plaas toe. Die hele dag bly gewyd. Niemand werk nie. Alles is rustig en die gebeure van die dag kry kans om in te sink. Hoe klein is ons tog? Daarteenoor is die Here se genade weer so onmeetbaar. Die een geslag na die ander kom – maar God bly dieselfde.

So weet ek dat daar ’n dag gaan kom wanneer die naambordjie by hierdie plaashek ook gaan verander. Soos by die ander plase in die omgewing sal een van die seuns (of al drie?) se naam op ’n nuwe bord pryk, terwyl die huidige geslag dan reeds die Nuwe Aarde gaan bewerk.

Terwyl die nuwe geslag hier in die son gaan ploeg en spilpunte skuif en gate in die pype regmaak wat die ystervarke invreet, sal ons geslag die Here in groot kore saam met die engele loof.

Julle Bosveldvriendjie groet julle uit die plek van sy liefde – die plek waar die visarende roep en die jakkalse mekaar snags naderskree dat hulle saam die rooiboklammers kan vang.

Van die doopbak tot by die stilte onder die groot bome se koelte

Matiempaan

Page 91: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

91

36. Op Kopbeenpan

Net voor mens met die grondpad by die Platjan-grenspos verbygaan, is daar aan die regterkant van die grondpad ’n groot kennisgewingbord met ’n kopbeen en ’n eierpan op. Daarby staan daar Gilbert en Annatjie Gerhardt.

”Gilbert, watse makabere prentjies plak jy by jou plaashek vas?” vra ek die baas van die plaas.

“Man, Marius en Anina het die bord vir ons laat maak as ’n geskenk. Die plaas se naam is Kopbeenpan!”

Daar val alles toe baie netjies in plek. Dis nogals oorspronklik om jou plaas se naam op hierdie manier aan te dui.

Bedags ry ek saam met hom in sy Nomad rond. Eenkeer sit ons in ’n sloot vas in die sand. Ek het besef dat die bloedige son ons daar gaan doodbrand as ons nie daar uitkom nie! Ek krap toe vinnig die warm Limpopo-sand met my hande voor die wiele weg. Gilbert kry die Jeep aan die gang.

Ons besluit toe dat die wal te steil is, ons sal nooit aan die oorkant kan uitklim nie. Gilbert sal maar in die sloot moet afbeweeg en plek soek waar die jeep kan uitklim. Om ons bak die son dat die warmplek daar kan kom vuur haal! Die mokkabytjies byt my oral in my nek waar ek sweet – en op daardie stadium was dit net mooi orals!

Ek stoot dat dit bars. Die wiele maal dat ek in die rooi stof verdwyn. Gelukkig bly die voertuigie beweeg totdat dit aan die ander kant op ’n soliede klipbank uitklim.

Ek geniet die plaaslewe. Hulle pomp water uit die kuile in die Limpopo. Daarmee besproei hulle hulle lande. Hulle pomp nie bietjie water nie! Dis dik strome water wat uit twee pype in die dam in spuit. Daarvandaan pomp hulle dit na spilpunte toe wat rustig op die lande in die rondte stap.

Op een plek maak hulle ’n nuwe land. Pragtig lê die rooi grond braak en oopgebreek. Ek ruik weer vir die eerste keer in jare hoe regte grond ruik! Baie emosies spoel deur my terwyl ek al die dinge sien en so saam met Gilbert tussen die bome deur ry.

Hy praat en ek luister maar net die meeste van die tyd. Dis asof woorde en geluide vir my weggeraak het. Ek luister en ruik en kyk. Dis al.

Terwyl ek hier agter hulle huis onder groot bome sit en skryf, skree ’n visvanger aanhoudend. In die een boom sing ’n bonthoutkapper aanmekaar sy rrrrrrrrrr-liedjie. ’n Spookvoël gee sy eentonige fluitgeluid aan my regterkant, terwyl ’n rooiborslaksman aan my linkerkant roep.

Hier broei ’n hele paar paradysvlieëvangers. Kort-kort is hier twee van die mannetjies aanmekaar. Hulle veg vir gebied.

Ek verluister my aan ’n oorvloed van voëlgeluide. Ek ken al die geluide van kleintyd af – maar soos ek hier sit en luister, weet ek nie meer hoe lyk al die voëls wat die verskillende geluide maak nie.

So is die lewe mos ook. Daar is dinge wat mens weet, maar wat heeltemal verstomp in my bewussyn. Later dink ek weer aan dinge, maar die volle raamwerk van die feite het al vervaag. Hoeveel van ons omgang met die Here raak nie ook so weg in die tye wanneer ons geloof in droë sandslote vasval nie? Belangriker, hoeveel daarvan herwin ons weer wanneer ons afdraaipaaie weer gaan kaart lees het en ons die regte pad weer kry?

Een oggend kom An in die stoor aan waar Gilbert die trekker regmaak. Ek staan maar net daar rond en kyk wat hulle doen.

“Die melkemmer is vandag net die helfte so vol soos gister! Gee jy nog vir die koeie van die groenvoer wat jy van die lande af saambring?”

Langs die pad keer hy die melkman voor: “Waarom is daar vandag so min melk?”

Die outjie verduidelik dat dit al melk is wat die koeie gehad het. Hy word aangesê om te sorg dat daar die volgende dag weer genoeg melk is. Snaaks genoeg – die volgende dag was die

Page 92: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

92

melk weer reg!

“Hulle steel die melk,” sê Gilbert.

Hy vertel toe dat daar een Sondagoggend ’n man deur die Botswana-grens by die huis opgedaag het. (Hulle plaas grens aan Botswana!) Die ou was baie boos, want hy het by een van die plaasmense ’n hoender gekoop. Die hoender is nie afgelewer nie, en die geld kan nie teruggegee word nie. By verdere ondersoek blyk dit toe dat die verkoper die naweek al die hoender se geld uitgedrink het by ’n bierparty op een van die ander plase.

Natuurlik was die man toe in die moeilikheid, want dit was ’n baie besondere Sondag – ’n dag waarop baie verskillende mense en sondes van allerhande soorte openbaar geword het.

Die hoenderhandel was toe al ’n hele ruk aan die gang. Dit het só gewerk: Wanneer die man die varke kosgee, vang hy die plaasvrou se hoenders wat daar kom eet aan die varke se kos. Die hoenders gaan smous hy dan aan die oorkant van die rivier – in Botswana.

Toe die ou nou agterkom dat hy diep in die knyp is, begin hy kla: “Dis nie reg dat ek in die moeilikheid kom omdat ek julle hoenders verkoop nie. Daar is ander mense ook wat dinge van die witmense verkoop.”

Sy broer werk by ’n ander boer, waar hy vis in die boer se plaaswinkeltjie vaslê. Dit verkoop hy dan ook in Botswana aan die ouens daar. Die visverkoper vertel toe van ’n ander een wat die boere se draad vaslê en verkoop. So kom daar toe die Sondag baie mense in die moeilikheid – mense wat gedink het dat die betrokke Sondag nog vir hulle ’n paar sente sou oplewer!

So is die lewe nou maar eenmaal! As jy droogmaak gaan die waarheid jou inhaal! Dit is so dat ’n leuen al halfpad om die aarde is voordat die waarheid sy skoene aantrek. Maar die feit is dat die waarheid vinniger as die leuen kan hardloop. Voordat die leuen heeltemal om die aarde gehardloop het, het die waarheid hom ingehaal – Sondag ofte not!

Julle Bosveldvriendjie groet julle van die wal van die Limpopo af met die gekwetter van baie voëls in sy ore.

Van dikmelk vir ontbyt tot by Rice Crispies en jogurt

Matiempaan

Page 93: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

93

37. Gilbert se zebra

’n Trop donkies uit Botswana swerf kort-kort oor die Limpopo in Suid-Afrika in. Hulle het ’n zebrahings tussen hulle. Die ou het sy lewe baie geniet tussen die klomp donkiemerries, want orals was daar jong donkies met strepe op hulle bene en in hulle gesigte. Dus: zebronkies.

Natuurlik het die donkies nie juis ’n baie hartlike ontvangs hier by die Gerhardts gekry nie. Daarom gebeur dit toe so dat ’n paar van die donkies en die zebrahings in die kraal gejaag word. Twee van die merries word saam met die zebrahings op die lorrie gelaai, en daar trek hulle. Gilbert gaan laai hulle so 10 kilometer verder op hulle ander wildplaas af.

Die volgende dag breek die donkies weer van Botswana af deur met nog ’n zebrahings tussen hulle. ’n Groot blydskap het homself tussen die klomp op die plaas tuisgemaak. Gilbert het al begin somme maak oor die duisende wat hy gaan bank met sy Botswana-zebras as die klomp Amerikaners die volgende jagseisoen hier opdaag.

Weer ’n keer word die klomp donkies in die kraal ingejaag. Met heelwat minder gesukkel as die vorige keer word die nuwe zebrahings saam met twee donkies getrok. Weg is hulle na die agterste wildsplaas toe.

Daar vra Gilbert die wildwagter wat hulle daar het en of hy al die vorige zebra gesien het by die suiping.

“Ja,” verseker die wagter hom. “Ek sien hom gereeld!”

Skaars drie dae later kom die trop donkies weer van Botswana af deur. Daar is sowaar nog ’n zebrahings tussen die spul merries. Die keer kry hulle die zebra sommer maklik op die trok. Inderdaad is hy getrok sonder enige merrie saam met hom op die lorrie. Hy word ook getrok na die agterste wildplaas toe.

So ’n week later roep An vir Gilbert.

“Gilbert, kom kyk! Hier staan ’n zebra in die drukgang by die kraal!”

Wraggies! Daar staan ’n zebrahings. Gilbert gryp die lorrie en trek dit reg. Die zebra klim toe sommer vanself op die lorrie. Daar gaan Gilbert met nog ’n zebra na sy agterste wildplaas toe!

Die volgende dag reën dit Die veld is pragtig en die lug is skoon. Gilbert en An vat die lorrie en daar gaan hulle Alldays toe! By die eerste afdraaipad kry hulle ’n zebra-hings wat in dolle vaart op pad is in die rigting van hulle huis op die Botswanagrens.

Dit was al asof hulle die zebra wil herken! Iets wil toe nie sin maak nie. Gilbert is reguit na die agterste wildplaas toe. Vandag gaan hy spoorsny in die heerlike vars en skoon grond. Hy wil weet waar is al die baie zebras wat op sy plaas rondloop. Hy het hulle dan persoonlik daar gaan aflaai!

Natuurlik kry hy die zebra, wat hy gister daar afgelaai het, se spoor. Gemaklik volg hy die hings se spoor tot waar dit onder deur die draad gekruip het in ’n buurplaas in. Daarvandaan is dit deur nog ’n draad. Toe is die zebra in die hoofpad af tot waar hulle hom raakgeloop het!

Die zebras wat Gilbert so byna al om die ander dag aangery het na die agterste wildplaas toe, is toe al die tyd dieselfde zebra wat elke keer teruggekom het vir nog ’n toggie op d ie bak van die lorrie!

Dink nou net! Wie sou kon dink dat mens ’n zebra so gewoond kan maak aan lorriery dat hy later sommer vanself in die drukgang kom staan dat ’n boer hom kan wegry na die res van sy merries toe – net dat hy kan sien dat dit goed gaan. Dan kom hy weer terug na sy ou trop toe.

Almal is egter nie so gemaklik soos die zebrahings nie.

Hier rond bly ’n man met die naam GertPerd. Vroeër was sy naam net Gert. Totdat sy oneerlikheid hom ingehaal het.

Bertus het vir my die ou se storie vertel.

Page 94: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

94

Hier rond op Alldays is ’n sekere tannie Riekie Steyn. Sy het altyd die jagters se vleis opgekoop – dis nou vleis van diere in die jagseisoen wat deur die oorsese jagters geskiet word. Hulle kan nie die vleis saamvat buiteland toe nie. Hulle laat net die velle opstop en voer dit dan uit. Die vleis is soms eintlik ’n probleem.

So gebeur dit dat dié Gert by die tannie opdaag met ’n zebra wat hy aan haar verkoop. Maar die zebra is klaar afgeslag! Hy bring vir haar die vleis en kry sy gawe prys. Hy laat vat dadelik huis toe.

Die aand toe die tannie se man die zebravleis begin verwerk, kom hy agter dat die gewig darem baie swaar is. ’n Gemiddelde zebra slag maar so om en by 180 kg uit. Gert se zebra is egter taamlik groter, want dit trek die skaal ver bo 200 kg.

Die oom spring op die foon en hy bel Gert: “Gert, jy het ons verneuk! Die vleis wat jy hier aangedra het, is nie zebravleis nie. Dis perdevleis!”

Dit was toe ook so. Gert se perd het gevrek en toe vat hy die kans en gaan smous dit so ewe oneerlik as zebravleis!

Die storie het natuurlik dadelik spykerskoene aangetrek en van boer tot boer gehardloop – totdat almal later van Gert se verneukery geweet het! Van daardie dag staan die verneuker bekend as GertPerd!

Die plaas is nou bitter droog. Die bome se blare staan plek-plek toegedraai van die dors. Onder die bome is dit grys en vaal – daar is geen gras nie. Die wilde diere is maer! Ons moes twee keer gaan pype heelmaak omdat die ystervarke die pype afgevreet het om water in die hande te kan kry!

In die verlede moes Gilbert al tydens sulke kwaai droogtes op die pad gaan werk om die pot aan die kook te hou. Na hy ’n ruk daar gewerk het, het hy sy eie tiplorrie gekoop. Maar omdat die padwerke later verskuif het en die tiplorrie veroorsaak het dat hy nie meer gereeld by die huis kon wees nie, het hy dit verkoop. Hy het toe ’n ruk lang by veeartsenydienste gewerk.

Ja nee, die droogtes in die Bosveld is nie enige man se maat nie.

So groet julle Bosveldvriendjie julle van Gilbert se stoep af onder die groot vyebome en nog ’n paar ander bome wat hier rond staan, tot by julle waar die Suidoos ongeduldig huil…

Van boom tot boom met die diep gebed in my hart vir reën met groot druppels wat lank sal val…

Matiempaan

Page 95: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

95

38. Wederregtelik gevonnis!

Op ’n keer is Gilbert weg van die plaas af. Dit was in die uie-seisoen. Daar was baie arbeiders wat moes uie trek en dan ook nog sny en verpak. Natuurlik moes hulle nog kos kry ook!

Daardie jare was hier nog so ’n plaaswinkeltjie wat aan die gang was. An het die ding beman.

Sy moes baie hard werk in daardie tyd. Afgesien van die winkelwerk moes sy al die arbeiders die hele tyd aan die werk hou. Saans wanneer almal van diens af gaan, moes sy nog verder werk om vir haar en al die arbeiders kos reg te maak.

Soos dit in die Bosveld gaan, wil die arbeiders altyd seshêbô saam met hulle kos hê. Seshêbô is ’n bykos wat hulle saam met hulle pap eet. Dit kan melk of vleis of so iets wees.

Eendag besluit An dat sy ’n koedoe gaan skiet vir vleis vir die werkers. Sy loop drie dae elke middag nadat almal van diens afgeval het met haar geweer. Sy loop kruis en dwars deur die plaas. Maar sy kry niks.

Die wat An nie ken nie, moet net weet dat daar bitter min mans in hierdie wêreld is wat saam met daardie vrou in die veld kan stap!

Die derde dag kry sy ’n groot koedoebul wat langs haar lyndraad staan. Toe hy nog dink hy geniet die ondergaande son, toe blaker sy hom! Hy val, maar spring dadelik weer op. Daarna spring hy oor die draad, draf oor die grootpad en spring oor die draad in die buurman se plaas in en val dood inmekaar.

Eerlikheid het soms die manier om mens in te haal. Dit gebeur toe met An.

Sy bel die buurman iewers in Pietersburg – hy was nie op daardie stadium op die plaas nie.

“Ek het ’n koedoe op my plaas geskiet, maar dit het in jou plaas gaan vrek! Mag ek dit asseblief gaan uithaal?” vra sy vir die man.

Die ou het op daardie stadium so ’n voggie of wat agter die blad gehad, maar hy was baie vriendelik: “Natuurlik kan jy die koedoe gaan uithaal.”

Daardie nag bewerk An die hele koedoe. Sy sny biltong en sy maak vleispakkies en wat alles nog. Die anderdag-oggend is sy weer op haar pos en sy werk voort asof sy net so lank geslaap het soos almal op die plaas.

Dis nou een ding van An waarvan almal wat haar ken, kan getuig: Daardie vrou kan fisies verskriklik hard werk en woel. Sy het verseker ’n mier iewers in haar voorsate, want sy sit nooit. Sy is altyd aan die hardloop iewers heen.

Twee dae later is sy daar in haar winkel besig. Daar hou ’n lorrie voor die deur stil. Twee manne van Fauna en Flora stap na An toe.

“Jy het ’n koedoe op die buurman se plaas ge-‘poach’. Ons wil jou geweer afvat en die vleis sien wat jy geskiet het!”

Kyk, julle moet my glo, as jy op hierdie manier met An praat, is jy besig om met ’n klein stokkie in ’n groot leeu se gat te grawe!

“Ek het nie ’n koedoe op ’n ander man se plaas geskiet nie,” raak sy driftig.

Net daar het die moeilikheid begin!

Later is hulle in haar biltongkamer. Sy wys vir hulle al die vleis.

“Ek gaan daardie vleis dadelik vat!” sê die man.

“Jy en wie?” wil sy weet. So ontstaan daar ’n hewige argument.

Wat die eintlike waarheid is, is dat daardie man self ’n voorste wilddief was. Hy wou net haar vleis hê. Hy is ook kort daarna vir wilddiefstal gevang en weggejaag uit die diens!

“Dan gaan ek jou geweer afvat,” sê die arrogante man.

Page 96: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

96

“Daar is twee deure wat jy moet deurgaan voordat jy in my slaapkamer kom om my geweer te

vat!” Nou is An regtig vies.

“As jy in my slaapkamer ingaan, skiet ek jou plat! Nie jy of iemand gaan my geweer vat nie. My man is weg en ek is alleen op die plaas. Waarmee dink jy moet ek my verdedig?”

Die vent bly aanmatigend en dreig haar met die polisie. Hy gaan nou die polisie bel. Dan gaan

sy ’n ding sien!

Sy bied sommer haar eie foon vir die ou aan en dwing hom om die oproep te maak.

Die polisie het die man uitgelag.

“Jy het geen reg om haar geweer af te vat nie. As jy dit doen, sluit ons jou toe.”

Toe is die ou daar weg.

Twee weke later hou daar twee manne stil. Hulle wil die plek sien waar An die koedoe geskiet het, want soos wat hulle dit verstaan, het sy die koedoe op haar buurman se plaas geskiet.

Hulle het ook al die standaarddreigemente wat hulle baas hulle voorgesê het.

“Nou goed. Kom, dat ek julle gaan wys.”

Sy roep een van die plaaswerkers wat sy kan vertrou en sê hom aan om saam met haar en die twee mans te loop. Sy gaan nie alleen met die twee vreemde mans die veld in nie.

Die een is so ’n dikke met rooi hare. Hy het nie baie lus om te loop nie.

“Kan ons nie na die plek toe ry nie?” wil hy weet.

”Nee! Ek het geloop toe ek die koedoe geskiet het. Julle loop ook. Klaar!”

Daar gaan An. Sy loop die plaas kruis en dwars. Sy loop met die twee oor elke moontlike klipkoppie wat daar op hulle grond is. Dis warm – bitterlik warm. Die manne sweet en hulle kry swaar – maar An stap. Sy loop die twee manne heeltemal stokflou.

Later soebat hulle vir water. An is onverbiddelik. Sy is diep gebelg omdat die manne haar vals beskuldig. Sy wil hulle straf totdat hulle jammer is. Sy gee nie vir hulle water nie. Hulle stap en sweet en soebat.

An sê net elke keer: “Kom! Kom! Ek het daardie dag geloop totdat ek die koedoe gekry het. Julle soek die getuienis – so, julle loop tot by elke plek, dan kan julle sommer self al die getuienis sien.

Later is hulle by die plek waar An die koedoe geskiet het. Sy wys hulle waar haar doppie nog steeds lê. Sy wys hulle die bloedspoor tot by die grootpad waar die bok oorgespring het.

“Wat is dié?” vra die ou dik rooie terwyl hy na die grootpad wys.

”Kan jy nie sien dis ’n grootpad nie?” vra An. Nou is die twee manne eers lekker vies. Hulle voel dat hulle tot daar kon gery het. Dan kon hulle ook alles sien.

“Nee, ek het geloop. Daarom moet julle ook loop.”

Die ou dikke sê toe die dunnetjie aan om die voertuig te gaan haal.

“Daar is niks van nie. Jy sit onder geen omstandighede alleen op my plaas nie. As ek weg is, steel jy my wild! Jy stap saam huis toe en dit is dit!”

Die ou het geen kans teen haar nie. So is hulle bitterbek terug na waar hulle vandaan gekom het.

Twee weke later kry sy ’n dagvaarding. Sy moet in die hof verskyn omdat sy ’n koedoe by die staat gesteel het. Dit was ’n proses waarin die hofsaak twee keer uitgestel is omdat Fauna en Flora se manne net nie opgedaag het nie.

Uiteindelik is die saak verhoor. An het haar saak gestel – behoorlik gestel. Die landdros het uitstel gevra dat hy diep kan gaan dink oor hierdie saak.

Na ’n week het die landdros haar op die diefstal en alles onskuldig bevind. Maar hy het haar

Page 97: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

97

R150 opgeskorte vonnis vir drie jaar gegee omdat sy sonder die nodige permit gejag het.

Later het dit aan die lig gekom dat die vriendelike buurman wat haar toestemming gegee het om die koedoe uit sy plaas te gaan haal, die een was wat die Fauna en Flora op An gesit het!

Sy het hom in die koöperasie gekry en hom presies vertel hoe ’n laakbare mens hy is! In die verlede moes sy allerhande dinge vir hom op sy plaas gaan doen wanneer hy weg was. Sy het hom goed laat verstaan dat dit nie weer gaan gebeur dat hulle vir hom enige gunste sal doen nie.

Die verhaal het my laat besef hoe tipies die leemtes in die werklike lewe is! An is eers hartlik behandel. Toe van diefstal op die buurman se plaas aangekla. Toe dit nie werk nie, het hulle ’n nuwe klag uitgedink! Daarom was sy in die hof omdat sy ’n koedoe van die staat gesteel het. Uiteindelik kry sy ’n opgeskorte vonnis omdat sy sonder ’n permit in die toe seisoen gejag het!

As dit nie tipiese vervolgsugtigheid en verskuiwing van doelpale in die hoogste graad is nie, dan weet ek wraggies nie wat dit is nie! Dit maak ook dat ek hierdie verhaal juis redelik volledig en feitelik korrek neerskryf, want dit weerspieël my wantroue in die huidige reg van ons land.

Julle Bosveldvriendjie groet julle uit die Bosveld waar alles in versengende hitte en droogte vergaan.

Mag die Here asseblief spoedig hier reën gee!

Matiempaan

Page 98: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

98

39. Die gedig

Ek is nie ’n letterkundige van faam nie. Daarom weet ek ook nie te veel van skrywers en al sulke dinge nie. Tog loop ek nou en dan iets raak wat ek dink dat dit wetenswaardig is.

So ry ons die anderdag naby Alldays by ’n plaas verby.

“Hier het AG Visser gebly. Dit was lankal sy plaas!” vertel die mense my. (Ek het ’n lewenskets van AG Visser gelees en nêrens het hy of sy ouers ’n draai in die Bosveld gemaak nie!)

Ek het nog altyd gedink dat al ons groot digters iewers in die Kaap of waar ook al gebly het. Waarom het ek so gedink? Ek weet nie. Dis was maar net ’n persepsie wat by my vasgesteek het.

“Ja,” vertel Annatjie, “ons moes die volgende gedig van hom uit ons koppe leer. Die hele skool moes dit ken.”

Sy sê toe die gedig op. Op my versoek het sy dit die aand gaan neerskryf, want ek ken dit glad nie en het dit ook nog nooit gehoor nie!

Die Lokstem van die Bosveld

Langer kan ek hier nie rus – Rus of duurte kry nie: Nag, wat alles wieg en sus, Sus nie meer vir my nie. Drome wenk my in die nag, Stemme fluister deur die dag: “Hier is nie te bly nie.”

Na die Bosveld lok my droom – Droombeeld nooit verlore Waar Magalakween nog stroom – Stroom soos vantevore. ’k Hoor die môrewind se lied En die rietbok in die riet Aldeur in my ore:

Daar’s ’n wêreld wyd en vry Anderkant Tatsjanie, Waar die grootwildtroppe wei Tussen die mopanie; Waar die groen maroelas staan; Waar oor gramadoelas gaan Geen gemaakte baan nie.

’k Sien die berge deinsig blou – Blou-pers rotsewande; ’k Sien die kremetartboom hou – Hou nog steeds die hande Seën-uitsprekend oor die woud As die dag in louter goud Breek oor bosse en rande.

’k Groet u glorie, Grote Son – Songoud uit u woning –, Ligtelaaie lewensbron – Bron en glans-bekroning –, Heil u strale mild en bly! Vlaktekinders wild en vry Ken geen ander koning.

By die kampvuur met my roer, Roerloos deur die duister, Sien ek wilde oë loer –

Page 99: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

99

Loer met wilde luister; Maar ek staar die sterre aan Tot ek die geheim verstaan Wat die nagwind fluister.

Na die Bosveld moet ek weer – Weer my siel tot lawing; Want ek walg en wil nie meer – Meer genotverslawing. Weg voor! Hier begin die tog, Weg van blinkerige bog . . . Noem dit dan . . . beskawing!

Uit: Rose van Herinnering en ander Gedigte – AG Visser

Geert van Jaarsveld het hierdie boekie vir my taalkundig en tipografies versorg. Terwyl sy dié skets se taalgebruik nagegaan het, skryf sy die volgende briefie vir my: Hallo Thinus

Ek kry “Rose van Herinnering en ander Gedigte” in my boekrak (1939 gedruk) en raai wat? Daar kry ek “Die Lokstem van die Bosveld” op bladsy 59! Dis nogal opgedra aan “my vriend Pierneef”!

Ek het sommer dadelik die weergawe in jou skets gaan verander volgens die oorspronklike. Visser praat nog van die Magalakween.

Is dit nou nie oulik nie?! Dié digbundel kom nog uit my oorlede ouers se boekrak.

Groetnis

Geert

Dit blyk toe dat An een versie uitgelaat het. Ons het toe die gedig presies soos AG Visser dit aan sy vriend Pierneef opgedra het, opgeneem. Wat ook interessant is, is dat daar geen historiese dokumentering is dat AG Visser ooit by die Magalakwin-rivier gebly het, of op Tatjane (Alldays!) nie. So dink ek tog dat An se vertelling iets byvoeg wat min mense weet!

Page 100: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

100

40. Amper reg!

Ons is amper reg om pad te vat Noorde toe. Die mense waarsku ons dat ons maar koel moet aantrek. Dis vandag glo 40 grade Celsius in die skaduwee op Alldays. Dink net hoe gaan ons spook om in die hitte te leef en asem te haal nadat ons nou hier in die Kaap die hele tyd koud kry – is dit vanjaar al ons vierde winter?

Die hele week was ons dogter Mirinda (wat in Nieu-Seeland bly) hier by ons. Dit was ’n heerlike week van lekker kuier. Sy het maar saamgery orals waar ons gegaan het. Sy het twee dae saam met my hospitaalbesoeke gedoen. Ek sal later hoor wat het sy daarvan gedink en hoe sy dit belewe het.

Vandag het ons afgery see toe en gaan kyk hoe die son oor die water sak by Bloubergstrand. Dis die plek waarheen ek en die Generaal gewoonlik gaan as ons na ons mense verlang.

Ons het vandag gesit en kyk na die wrak wat ongeveer drie maande gelede reg in die baai op die sand geloop het. Mens kan net nie verstaan dat dit gebeur het nie! Alles is so oop en duidelik. In elk geval, die skip lê so ongeveer tweehonderd meter in die see in. Dit is klaar bruin geroes. Die verbittering van die dood en vernietiging straal uit die ding uit.

Dit het my laat dink dat ons ook so is en maar dieselfde prosesse ondergaan. Gelukkig hoef mense nie daarteen vas te kyk nie, want ons roesproses gebeur onder die grond.

Terwyl ek die skip so sit en bekyk, wonder ek waarom haal hulle nie ten minste die krane wat op die boot is af nie? Hulle kan dit sekerlik verkoop? Daar moet dinge op wees wat afgehaal en gesmous kan word. Dalk – net dalk – dryf die ding dan weer. Dan kan hulle dit mos in die diepsee gaan sink.

Later ry ons en gaan sit ’n ent verder noord langs die strand. Dit val my op dat die water nader aan die strand is – al is dit laagwater (!) en dat daar heelwat meer rotse bokant die sand uitsteek as wat daar ’n paar maande gelede uitgesteek het toe ons ook hier was. Ek wonder toe maar net of dit alles deel is van die aardverwarming en van die stygende seevlakke? Iemand het my ’n rukkie terug vertel dat die seevlak hier by ons met 15 cm gestyg het. Of dit so is, weet ek nie – maar dat die strande anders is, is duidelik.

Ons ry deur Melkbosstrand terug huis toe. Die natuur is mooi. Alles is groen en die verskillende heides lê soos ’n dik groen mat oor al die sandduine. Dis so anders as waar ons nou heen gaan.

Tuis eet ons en ek maak seker dat my preke vir môre se Nagmaal en ook vir 6 Desember as ek terug is, reg is.

Dink net, oormôre gryp hierdie twee Filistyne die plaaslike Hyundai-lugredery se groter vliegtuig en daar gaan ons Bosveld en Oos-Transvaal toe! Omdat ek nie goed is in die lug nie, sal ek maar al bokant die grootpad vlieg.

Hier is ons vakansiebeplanning – as die Here dit ook goedkeur!

Ons gedagte is (DV) om die 16de die aand op Colesberg te slaap. Dit gee ons 800 km om op die eerste dag af te lê. As alles goed gaan, slaap ons die aand van die 17de op Pietersburg. Ons moet dus die tweede dag 1 000 km reis. Ons behoort teen sononder of net daarna in Pietersburg te wees.

Die volgende oggend (Woensdag 18 Nov) wil ons my neef Wouter en Dollie Roets groet op ons pad verder aan. Ons kan sommer by hulle kantoor aangaan en hulle dagsê as dit moontlik is. Die idee is dat ons deur die loop van die dag ook by twee ander neefs, Daan Erasmus en Sampie Roets, uitkom. Ons slaap die aand op Kopbeenpan by die Gerhardts.

Gilbert het van hierdie groot lande wat met sirkelbesproeiing natgemaak word. Dit is direk op die Limpopo se wal. Dis baie mooi. As kind het ek hoërskooljare winters op die Limpopo se wal veekrale gestaan saam met my oom Niek Theunissen. Daardie plaas is net ’n ent hoër op teen die rivier. Dit behoort nou aan HendrikWetsgeleerd.

Page 101: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

101

Gilbert-hulle het kwaai elektriese heinings van drie meter hoog al om die lande. Dit moet die bobbejane en die olifante uithou. Tog leer die bobbejane om tussen die elektriese drade deur te klouter en baie skade aan te rig.

Gilbert het my uitgenooi om saam het hom in sy land te gaan sit en ’n waatlemoen te eet. Hulle lande is nou vol waatlemoene (hulle het ander lande met allerhande ander gewasse ook op). Dis nie enige ou wat 2 000 km reis om so ’n uitnodiging te aanvaar nie! Eintlik is dit net iemand wat nie weet hoe lekker soet ’n waatlemoen is wat deur die woedende Bosveldson ryp gemaak is nie, wat sal dink my brein het ’n gat in sy sump.

Die dag daarna ry ons na Derik toe in Ohrigstad. Ons wil daar heelwat werk doen. Carin het ’n groot erf daar wat ons wil probeer onderverdeel en op die een vir ons ’n vakansiekaja opsit. My vakansie is net oor die twee weke. Ons gaan dus baie ry. Daarom probeer ons om baie in te pas in ’n kort tydjie.

Die hele week kon ek geen Gerhardt op Kopbeenpan in die hande kry nie. Net toe ek dink hulle moet nou maar sien as ek voor die hek staan en die toeter druk omdat ek bang is vir daardie kwaai honde! – toe bel An. Nou is elke ding in sy plek.

Julle Bosveldvriendjie groet julle van voor sy Nagmaalpreek af.

Van tafel tot tafel

Matiempaan

Terugantwoorde

Liewe Dominee

Dit klink vir my na ’n heerlike reis. Baie ver maar lekker.

Ek is baie mal oor ver ry. Ons het altyd beurte geneem om te bestuur wanneer ons so ver gery het. Ek is natuurlik ook te nuuskierig om te slaap wanneer ek ’n passasier is en ek maak seker almal sien alles raak.

Julle moet dit geniet en lekker saam met die Fielies en Amce kuier.

Groete

Erna

Hi Thinus en Carin

My lyf is sommer by voorbaat seer as ek dink aan die afstande wat julle teen die son en hitte gaan optrek Noorde toe. Dis hoekom ek nie kans sien om in die Kaap te gaan kuier nie. Soontoe dink ek dis darem nog afdraande, maar om terug te kom! Ek wens julle in elk geval ’n heerlike vakansie toe en hoop vir seën op alles wat julle beplan. Ons was self bietjie vasgekluister hier in Pretoria oor die afgelope paar maande en ek kan net praat oor die groen van ons Jakarandastad. Hoop julle vind die Bosveld so mooi soos net daardie wêreld kan wees as die Heer sy genade daarop uitgiet.

Vandag het ons voorbereiding. Onse Doom, Christiaan Jooste, was die afgelope drie weke met verlof en behoort vandag terug te wees. Die Sondae van sy afwesigheid het ons emerituspredikant ds Nardus Droomer van GK Kandelaar soggens gehad en saans ds Petrus Venter van GK Pretoria. Ken julle Ds Cornel Nagel wat tans op Musina is? Hy was vir jare my ouers se predikant in Potgietersrus. Ag, nou kuier ek sommer weer by al die predikante wat ek so deur die jare in ander gemeentes leer ken het. Toe Pappie in Desember 2004 oorlede is, was Cornel reeds weg met verlof en moes ek ds Ronald Bain kry vir die begrafnis. Met ek en Willem se troue het ons aan die hooftafel ’n hele kordon van predikante gehad soos wat ons hulle met ons saamgesleep het deur die jare. Willem was sy lewe deur op elke kerkraad en ek het ’n affiniteit vir predikante, so ons telefoonboekie is amper voller as die Almanak met predikantname. En soos wat julle ouer word, word ons ook en hou kontak met almal wat nog duskant die graf is. Dierbare ds Wouter de Vos, Lourens Aucamp wat my twee keer moes trou en ds Daan Fouché. Weet jy hy is ook baie siek? Nou dink ek sommer ons moet vanmiddag weer vir Ina bel om te hoor hoe dit gaan. Ek is die trotse besitter van ds Daan se Kanselbybel wat hy vir Pappie gegee het. Hoe vloei die waters van die tyd nie deur mens se gedagtegang en onthou nie. Het julle nog enige kontak met Jan Carel [nefie] Erasmus van Zeerust? Met my studiejare op Potch was ek ingetrek in hulle klein kringetjie – Dirk Laufs, Ferdie Postma, Neels Smit en het weereens, soos in Thomie se geval, met hulle saamgedrentel, die gatgogga in die agtergrond.

Skoondogter Ina Kotze van Nylstroom sê hulle is baie gelukkig met Innes Nagel [Cornel se seun] wat die beroep vanaf Phalaborwa aangeneem het. Die kerk raak amper ’n familiesaak. Kort voor ek weg is uit Oos-Moot, het Faantjie Smit [ons familie-noemnaampie] die beroep aangeneem soontoe toe ds Abie Pelser geëmeriteer het. Intussen het hy verhuis na Pietersburg-Noord waar ander skoon-dogter Mienkie is. Nou ken ek vir Faantjie, dis skoonsus Ewouda se neef, ken ook sy oorle pa Hendrik van die Springbokvlakte. Nou, ek sit nie in hogere

Page 102: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

102

vergaderings nie, maar my oor is op die grond as dit by my Dopperkerk kom. Laat ek my betoog staak en net sê: we watch you closely. Julle wat in die amp staan, moet julle werk goed doen. Aan julle is menige siele toevertrou en ons sal elkeen moet rekenskap doen van elke penning waarmee ons moet woeker. Uit al jou skrywes moet ek erken, ek sien en hoor waarmee jy besig is. Mag dit waarvoor ons staan, nooit verflou nie. Jou pa sal met reg op jou kan trots wees.

Uit ’n warm Pretoria groet ek julle. Die sweet drup alreeds so vroeg in die oggend. Mag die waaiers in die kerk waai!

Liefde en seën met julle tog. Waai maar as julle hier naby op die N1 verby spoed. My vibes is uit.

M

Page 103: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

103

41. Kuier op Kopbeenpan

Ek het die eerste keer kans gekry om te skryf toe dit al Woensdag was. So teen tienuur die oggend. Die lug is donker. Buite is dit kwalik meer as skemer. Dit reën. ’n Ent van die huis af skreeu ’n patrys die pragtige roep: “Wieletrekker! Wieletrekker! Wieletrekker!”

Dinsdag is ons uit Pietersburg uit – deesdae Polokwane. Daar gaan ons tuis by Marius en Anina du Preez en hulle twee kinders. My ou skoolvriend Dewald Hattingh en sy vrou Sarie kom ook oor vir die aandete. Ons kuier die wêreld uitmekaar uit. Teen twaalfuur die nag ry Dewald en Sarie. Vir my het dit gevoel of ons op daardie stadium eers regtig aan die praat begin raak het.

Die volgende oggend is ons na Wouter en Dollie Roets toe. Wanneer laas het ek dié neef en niggie van my te siene gehad? Ons sit die oggend en kuier alte lekker by hulle. Soos dinge is, moet ons iewers in die pad val.

Daarvandaan ry ons by neef Daan en Willemien Erasmus op Dendron aan. Dis altyd vir my lekker om hulle te siene te kry. Ek ry as ’n bekommerde man by sy hek uit op pad na neef Sampie en sy vrou Lea (ook Roets) toe. Daan lyk vir my baie moeg en moedeloos. Ek gaan vir hom spesiaal in my gebede voorspraak by die Here doen.

Sampie is ’n groot man. Hy is altyd nugter en beredeneerd – maar tog vriendelik. Lea is die ene vriendelikheid en hartlikheid. Ons wou net gou ’n koffietjie agter die blad kry en dan verder wegkoers na Alldays toe. Toe ons uiteindelik in die pad val, het ons ’n stewige middagete agter die blad. In die kar lê twee sakke aartappels.

Woensdagnamiddag was ons op Kopbeenpan by Gilbert en An. Hulle is hartlik soos altyd. Ons kuier ’n barshou. Ek ry saam lande toe. Ons staan by die een land en kyk uit oor die waatlemoene wat nou begin ryp word. Te mooi. Ons pluk sommer drie wat ons saamry huis toe.

Daarna ry ons na sy pampoenland toe. Die pampoenstoele begin rank. Hulle staan na ’n maand byna so hoog soos my knieë.

“Die kenners meen ek sal een pampoen per stoel oes,” vertel Gilbert my.

Ek tel die wyfieblomme wat aan elke plant sit. Daar sit meestal twee of drie wyfieblomme aan elke rank – en natuurlik hope manlike blomme – en die goed is nog besig om te rank! Dis vir my duidelik dat hierdie vriend van my ’n paar baaaie groot lorries sal moet kry om al die pampoene weg te ry wat op daardie land gaan rondlê.

Daarvandaan af ry ons na sy mielieland toe. Die mielies staan ruig en hoog. Dis te pragtig. As die Here sy seën nie vir die een of ander rede gaan onttrek nie, gaan hier mielies van hierdie land af geoes word soos min.

Later gaan ons na die jagkamp toe waar Bertus en Elené met die drieling bly. ’n Oorsese jagter het ’n reusagtige groot krokodil geskiet (met die nodige permit). Hulle is toe juis op pad na die taksidermis toe op Alldays om hierdie krokodil te gaan versorg. Ek neem ook ’n paar foto’s van die geweldige dier.

Krokodille wissel elke jaar mos hulle tande. Van Meimaand af tot Oktober vreet hulle niks. Dan wissel hulle. Hierdie geweldige ou grote het vanjaar baie laat gewissel, want hy het nog net drie klein tandjies aan elkeen van sy onderkake. Dit lyk nogal snaaks om die geweldige groot dier te sien wat so tandeloos daar lê.

Ons speel met die drieling. Eers slaap twee. Later al drie. Nog later is al drie wakker. Hulle is omtrent bedrywig.

Ek stap ’n paar keer uit op die dek. Die Limpopo se water lê baie meters wyd en bruin van die dek af tot teen die oorkantste wal. Aan die onderkant van die jagkamp is daar ’n groot kuil waarin daar vyf seekoeie bly.

Daarby is die hele plek vervuil van die krokodille. Grotes en kleintjies. Ek staan diep en dink oor

Page 104: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

104

hoe die bewarende hand van die Here sal moet help om hierdie drie seuntjies groot te kry

sonder dat een van hulle deur die ongediertes gevang word.

Ek geniet elke oomblik tussen die bome en in die veld. Ek en die Generaal stap saam met An

padlangs na hulle lande toe. Ons wil sommer so loop en die natuur geniet en ook saam met

haar na al die oeste kyk. Toe begin dit reën. Groot nat druppels reën.

Daarna begin die een vlaag sagte reën na die ander. Onophoudelik val die Here se genade in die water uit die hemel op ons af. So stap ons druipnat terug deur die veld tot by die huis.

Die reën val dringend op die aarde vir drie dae aanmekaar. Alles juig. Die bome is groen en die voëls raas in die bome. Ek dink daaraan dat Adam en Eva se blyplek nie werklik mooier kon wees as hierdie stuk van die aarde hier langs die Limpopo nie!

Vrydagoggend moet ons ry. Eers moet al die vleis ingepak word. Van die grootste gedeelte van twee koedoes is maalvleis en wors gemaak. Daar is ook kookvleispakkies. Dit is nie minder as drie koelhouers vol gevriesde vleis nie. Dan ook nog ’n wildsboud wat Anina gegee het. Ek kry

regtig skaam vir alles waarvoor die mense geen betaling wil hê nie.

Ons groet. Terwyl die modder onder teen die kar opspat soos ons die eerste twintig kilometer op die grondpad terugkoers teerpad toe, wonder ek of dit dalk die laaste keer gaan wees dat

die Here my die geleentheid gaan gee om weer hier in die werklike Bosveld te mag wees.

Ek besef ook hoe ’n skok dit was toe ek nou meteens agterkom hoe min liggaamskragte ek in my lyf oorhet. Dit was werklik seer om tot die volle verstaan daarvan te kom dat daardie tyd van my lewe afgehandel is.

Ons ry moeilik, want die reën lê die hele wêreld vol tot by Derik en Drien op Ohrigstad.

Julle Bosveldvriendjie groet julle uit ’n pragtige groen Noorde. Oral lê water en deurentyd bly dit van Bo af op ons en alles om ons neersif.

Matiempaan

Terugantwoord

Ds en tan Carin

Dit was ’n groot plesier om jul hier te kon hê en iets saam te kan gee dat jul aan ons sal dink elke keer as jul van die

vleis eet. Geniet dit en verlang so bietjie na ons hier in die Bosveld.

Ek is bly die boek het sy pad teruggekry na waar hy moet wees. Het hier gesoek en kon nie verstaan dat ek dit nie

kan opspoor nie. Die huis is net so groot. Baie bly. Tan moet lekker lees.

Ons het so amper 50 mm reën gehad. Was baie lekker. Ons so dankbaar dat dit oor groot dele van die droë

Limpopo ook gereën het. Tan San sê hul het 180 mm in Louis Trichardt gehad.

Ja my pa-hulle het gedink daar val ’n bom op hul toe hul Saterdagnag die slag buite hoor. Ander bure het die lig ook

gesien. Dit blyk nou die astronot te wees wat hul gesien en gehoor het. Was blykbaar ’n skudding wat die venster

ens. laat tril het. Bertus se kliënt het na hul kamer gehardloop en wou ’n geweer hê, gedink die oorlog is daar.

Geniet die kinders, kuier lekker

Liefde

Ons

Liewe Dominee

Dit klink asof julle lekker kuier. Dit is altyd lekker om tussen jou mense te wees.

Ek het nooit geweet dat krokodille wissel nie. Dis nou die tyd wat jy op die wal moet staan en hulle roep. Hie-hie.

Dan kry jy dalk een wat sê: “Het jou katvis!"

Die natuur is seker blougroen in Ohrigstad. Dit lyk mos altyd groener wanneer dit nat is.

Ons het heerlike somerweer hier.

Liefde

Erna

Page 105: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

105

42. Telkomdienste

Kyk, op sekere plekke in die Bosveld is ’n telefoon nie sommer net ’n telefoon nie. Bosveldfone is baie spesiaal, want dit werk net wanneer jy dit nie nodig het nie. So gaan dit met Gilbert en Bertus-hulle se fone.

Waarom hulle hoegenaamd telefoonhuur betaal, weet niemand nie, want die goed werk vir die grootste gedeel-te van die jaar glad nie. Elke paar weke word al die kabels gesteel deur mense wat dit verkwansel om uit die koper ’n inkomste te maak. Wat die diefstal ook makliker maak, is omdat die telefoonlyn al langs die Limpoporivier loop. Vir die oningeligtes verduidelik ek net dat die Limpoporivier die grens is tussen ons en Botswana.

Die kabelstelery is al ’n baie gespesialiseerde werkie. Die ouens wat die kabels steel, knip tot soveel as vyftig paallengtes se drade af in een nag. Natuurlik is dit baie duur om dit elke keer te vervang. Tog het Telkom nog nooit iets gedoen om die probleem finaal op te los nie.

Die mense moes lankal almal van radiofone voorsien gewees het, want hulle lewe in ’n baie gevaarlike gebied. Die Zimbabwiërs is oraloor. In teenstelling met wat wie ook al vertel, het ek met my eie oë die teendeel daarvan gesien. Hulle het Gilbert al gedreig dat hulle hom gaan doodmaak as hy hulle nie meer vergoed as waarvoor hulle in diens geneem is nie.

Hulle steel ook geweldig baie. Een van hulle het die afgelope paar weke 211 sakke suikerboontjies uit die stoor gesteel. Dis ongeveer R60 000 in geldwaarde.

In daardie gebied van die wêreld is daar geen selfoonopvangs nie. Met telefone wat nie werk nie, kan al hierdie mense uitgemoor word sonder dat iemand dit sal weet. Daar is wel burgerbandradio verbinding tussen die boere, maar Gilbert s’n is ook al ’n ruk buite werking. Die maatskappy wat dit moet herstel, kom ook nie tot daar nie.

Die week voordat ons Bosveld toe is, is die telefoonkabels baie vinnig gespan. Vir twee of drie dae was daar telefoon kontak. Terwyl ons daar was, het die telefoon die hele tyd net lawaai, maar as mens dit optel, is dit óf dood óf dit raas net oor die gehoorstuk. Wanneer die wind waai of as dit reën, is dit dood. Dis ’n probleem wat die hele tyd met die telefoon saamkom.

Bertus en Elené het intussen al vir hulle ’n satellietfoon laat installeer. Dis ook soort van tevergeefs, want die ding is ook al weke buite werking. Terwyl ons ’n draai by die drieling gaan maak het, het daar ’n man van Telkom met die naam van Patrick opgedaag om die satellietfoon reg te maak. Later is hy weg met die sendereenheid – dié is glo stukkend. Nou moet mens maar wag en kyk wanneer en of indien die satellietfoon reggemaak sal word.

Dis verstommend hoe die herstellers van die telefone kan lieg. Gedurende die tyd dat ons saam met die Gerhardts op die plaas is, het die mense wat gestuur is om die foon te herstel, gerapporteer dat hulle van die plaas af weggejaag is! Ek dink daardie mense gaan ’n paar ekstra warm kole kry in die lewe na hierdie een.

Ek het vantevore al by DirkSeeredder gekla oor die mense wat so kontakloos daar in die bos woon. Hy is ’n hoge man in die Telkomlewe. Hy het van sy kant af onder ’n hele klomp mense vuur gemaak toe ek by hom gaan kla.

Hy het vir iemand in die kabelspanafdeling die onderstaande brief geskryf:

Soos telefonies bespreek:

Gilbert Gerhardt en sy seun Bertus besit albei plase in die Limpopo-distrik.

Gilbert-hulle bly op ’n plaas, Kopbeenpan, teen die Limpoporivier en sy seun ’n entjie weg.

Die SA grenspos Platjan (na Botswana) is ook op Gilbert se plaas.

Oor die laaste jare word hulle telefoonlyne gereeld gesteel en dit neem baie keer maande voordat hulle dienste weer herstel is – ook nie vir lank nie! Gedurende dié tyd het hulle geen kommunikasie nie, want daar is ook geen selfoonontvangs in die area nie – heeltemal te afgeleë.

Sy seun Bertus bedryf die Dumukwa Safari’s vanaf sy plaas en met al die kommunikasie-onderbrekings wat hy het om besprekings te bekom het hy vir hulle ’n Telkom satellietfoon

Page 106: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

106

gekry. Die is ook buite werking vir die laaste ses weke en Telkom sê dis nie hulle probleem nie, maar niemand kan hulle verder antwoorde gee nie.

Telefooninligting:

Gilbert Gerhardt – 015 575 1161 Bertus Gerhardt – 015 575 9941

Soos jy gesê het – wanneer telefoondienste meer as drie keer deur diefstal onderbreek word – verskaf Telkom ’n alternatiewe diens soos Radio Telefoondiens.

Die vraag is hoekom is dit nog nie met die mense bespreek nie?

Waar is die naaste sentrale waarvandaan so ’n diens verskaf kan word?

Wat gaan dit kos en hoe lank gaan dit neem om die diens te beplan en te installeer?

Watter addisionele koste sal Gilbert-hulle moet betaal?

Laat weet my indien jy nog inligting benodig.

By voorbaat dankie

Groete

Dirk

Op sy aandrang is die lyn binne drie dae herstel – terwyl hulle die mense langs die Limpopo verseker het dat die herstel van daardie telefoonlyn glad nie eers ’n prioriteit is nie.

Dirk se aandeel word baie hoog waardeer. Maar steeds is daar geen telefone wat konstant werk nie. Die boere het al kontak gemaak met ’n ander maatskappy wat vir party boere reeds radiofone opgesit het. Volgens Gilbert kon hy tot op datum nog nie met daardie ander maatskappy regkom nie omdat daar by hom geen sein is nie.

Ek dink baie oor mense wat sukkel. Mense wat sukkel omdat die lewe so bitterlik moeilik kan word as hulle nie meer met die wêreld om hulle kan kontak maak nie. Bertus moet juis oor ’n maand na Amerika toe gaan om weer jagters te gaan werf. Hy kan nie kontak maak met die ambassade om sy visum in orde te kry nie. Hy moet inry na Alldays toe om sy vliegkaartjie te bespreek en te bevestig.

Julle Bosveldvriendjie groet julle terwyl hy wonder in watter wêreld ons bly – en hoe lank hierdie wêreld wat mooi en leefbaar is, nog so gaan bly?

Van langs die Limpopo groet ek julle tot in die Kaap (en in watter ander klein plekkies julle mag bly, soos Amerika, Nieu-Seeland en Rusland of so iets).

Matiempaan

Page 107: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

107

43. Die eerste Sondag

Die eerste Sondag van ons verlof woon ons die erediens in Ohrigstad by. Ek sit my en verstom

vir die gemak waarmee my kollega, Abel Steyn, sy ding doen. Nêrens haak hy vas of raak hy

verdwaal nie.

Elke psalm is waarskynlik in sy teks afgedruk, want hy lees elke vers voor. Later doop hy ’n

babatjie. Met die grootste gemak lees hy die gebed na die doop uit sy brailleboek wat hy teen

sy maag vasdruk. Ek sit met verstomming en kyk en luister na alles wat hy doen.

Die middag rus ek. Pas nadat ek wakker geword het, bel een van die lidmate wat ’n groot

probleem met iets het. Net daar besef ek die dwaasheid daarvan dat ek nie tydens my

vakansietyd my selfoon totaal afskakel nie. Daarna is ek en die Generaal vir ’n dag of wat

omgekrap oor die probleem.

Ek dink baie keer dat dit juis dié soort ongerieflikheid met mense is wat maak dat ek met alles

uitsien na my aftrede. Ek wil die evangelie verkondig. Dis my lewe. Maar ek weet my lewe lank

dat daar in die kerk ’n hele klomp verdwaaldes sit. Hulle het net nie almal die moed van hulle

oortuiging om vir hulle dwaalleer uit te kom nie. Wanneer hulle wel oppervlakte toe kom, ontstel

hulle talle gemeentelede en veroorsaak geweldige onrus in die gemeente. Vir daardie soort van

gevegte het ek net mooi niks meer lus nie.

Saterdagaand teen halfelf was daar meteens iets soos ’n geweldige helder lig oor Ohrigstad.

Dit was asof iemand met ’n skerp lig by die vensters van die huis inskyn. Dit blyk toe dat dit iets

is soos ’n verskietende ster (is meteoor dalk die regte woord?) wat oor die gebied trek. Die

rigting waarin dit gegaan het, was noordwes.

Die lig wat dit afgegee het, was vir ons oog helder wit. Nadat dit oor die berge in die rigting van Tzaneen verdwyn het, het daar nog vir ongeveer dertig sekondes ’n rooi spoor in die lug bly hang.

Die anderdagoggend bel ek vir WilhelmGrootbreins. Hy weet altyd alles van hierdie soort van dinge af. Sy vrou Gera antwoord die foon. Ek vertel haar van die ding wat hier oor die dak is. Sy weet toe ook van niks maar belowe om te laat weet sodra sy iets uitgevind het. Teen die agtermiddag laat weet sy dat dit waarskynlik ’n meteoor was. Nog later skryf sy ’n e-pos – natuurlik omdat ek weer te lui was om terug te antwoord:

Dagsê,

Het jy ons boodskap gekry? Dit is/was blykbaar ’n meteoor wat deur die lug getrek het. Dink net as dit sou val? Dit was toe vanaand 6-uur oor die nuus. Ons sal kyk wat die koerant daarvan sal sê.

Geniet julle vakansie

Geertje

Ek skryf toe terug:

Gera,

Dankie, ek het jou boodskap gekry. Dit was nogal skrikwekkend. Die kinders dink weer dit was die mooiste ding wat hulle nog gesien het. Dalk sit daar nog te veel van die Bybelstudie oor Alsem (Openbaring 8:11 – 1953) in my kop vas. Ons gaan vandag Sudwala-grotte toe. Sal maar sien wat die dag oplewer.

Daarna kry ek ook nog weer ’n brief van Anina. Sy skryf dat die ligkol ook oor Kopbeenpan gevlieg het:

Ja, my pa-hulle het gedink daar val ’n bom op hul toe hul Saterdagnag die slag buite hoor. Ander bure het die lig ook gesien. Dit blyk nou die astronot te wees wat hul gesien en gehoor het. Was blykbaar ’n skudding wat die venster ens laat tril het. Bertus se kliënt het na hul kamer gehardloop en wou ’n geweer hê, gedink die oorlog is daar.

Page 108: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

108

An verjaar. Ons vat ’n kans en bel haar om geluk te wens. Sy vertel ons toe dat die ding bokant hulle ontplof het. Die plaashuis het geskud dat die sinkplate gekletter het. Hulle het aanvanklik gedink dat iemand hulle stoor opgeblaas het om boontjies te steel!

Sy vertel ook dat die spul Amerikaners wat daar is om te jag, almal gedink het dat die groot oorlog in Afrika nou uitgebreek het. Hulle het glo net gewere gesoek en reggemaak om te skiet en te veg! Nogals aan ons kant!

Derik en Drien gaan kyk toe op die internet of hulle daar iets wyser kan word. Werklik! Daar is ’n webblad wat al hierdie dinge aangee. Daar is blykbaar ’n hele groep van die meteore wat in hierdie tyd oor Suid-Afrika aan die val is. Op daardie webblad kan jy sommer sien watter en hoeveel meteore nog almal aan die kom is. Dit gee selfs aan op watter dag en hoe laat hulle op die aarde gaan neerplons.

Ons het eenkeer afgestap na die Generaal se erf toe. Ek moet in hierdie dae uitvind of ons die erf dalk kan onderverdeel en wat dit ons uit die sak gaan jaag.

Ek moet ook by plekke uitkom wat houthuise oprig en kyk wat boukoste vir ’n klein woonhuisie gaan beloop. Ons het juis klaar sulke planne reg. MarkusDeLeeu het dit vir ons opgetrek.

Ons was gou na die Sudwala-grotte toe. Ons was jare gelede ook daar. Dinge is maar sterk gekommersialiseer. Orals is water en modder. Ek het besluit om nie in al die gate in te kruip nie, want my maag is deesdae net te groot daarvoor.

Daarna is ons na die Dinosourus Park toe. Dis interessant, maar die stukkie oor die mense se ontstaan stem ek niks mee saam nie. As ons van diere af kom, het die Here Jesus nie vir ons gesterf nie. Hy het vir mense gesterf – nie vir diere nie.

Daarna is ons vir ete en inkopies na Nelspruit toe. Moeg en dankbaar was ons die aand weer tuis.

Julle Bosveldvriendjie groet julle uit gate en onder goeters wat snags ligtend rondvlieg.

Van knal tot knal met hoop op Blywende Lig

Matiempaan

Page 109: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

109

44. Bosveldwaatlemoene

Nou eendag bel ek die Kopbeenpanners. So in die loop van die gesprek vra An vir my of ek weet waar die Boeremark in Kaapstad is.

“Nee, ek het nog nooit daarvan gehoor nie!” antwoord ek haar.

Ek weet wel van die groot mark wat hier in Epping is, maar ek weet nie presies waar dit is nie. Ek weet daar-van omdat ek al daarvan gehoor het.

Sy vertel my toe dat hulle ’n vrag Bosveldwaatlemoene op pad het daarheen. Ek moet uitvind waar die plek is en vir my ses waatlemoene gaan haal.

Ek val amper op my rug van blydskap. Sommer dadelik begin ek by almal wat die Kaap al jare ken, navraag doen oor waar die Boeremark is. Niemand weet nie. Later gee An my die nommer van die meneer Chris le Roux wat die agentskap daar bedryf. Ek bel hom. Hy bly op Saldanha. Maar hy het ’n man op die vloer by die mark. Dié man se naam is Wellington.

Ek en WillemAdvokaat spring in die kar en ry na die mark toe by Epping. Daar sukkel ons omtrent om by die regte hek te kom waarmee mens die Boeremark kan bereik. Na baie navraag en taamlike gesukkel, vind ons toe uit dat daar ’n Boeremarkagentskap is. Dis op die

Aartappelvloer.

Na nog ’n klomp navraag, en nadat ons by die “gate with the crushed bins” (so het een van die hekwagte beduie) ingedraai het, het ons by Wellington uitgekom. Ons het sommer die eerste ses waatlemoene opgelaai en huis toe gegaan.

Om daardie waatlemoene te eet is net lekkerkry! Hulle is so soet as wat kan kom. Dis ongelooflik. Ek bel dadelik om dankie te sê. Net vir die wis en die onwis skryf ek nog weer ’n dankiesêbriefie per e-pos na Bertus toe ook:

Dag aan almal van julle op die plaas en op die rivierwal!

Baie baie dankie vir die ses waatlemoene wat ek vandag by die mark gaan optel het. Daardie mark beslaan ’n stuk grond wat seker so groot is soos wat julle twee gesinne se huise van

mekaar af staan! Maar nadat ek ’n rukkie gesoek het, het ek die plek gekry.

Ons het die eerste waatlemoen dadelik by die huis opgeëet – net ek en Carin alleen. Dit is

heerlik en so soet soos suiker. Ek is seker die kunsmis en dinge het dit veroorsaak – maar ek is seker die krokodilmis en seekoeimis in die water was die laaste stukkie ekstra kunsmis wat

veroorsaak het dat daardie waatlemoene so lekker is.

Ek moet eerlik wees: Dit was nogals emosioneel om te dink dat julle die goed gister nog

hanteer het en opgelaai het en vandag is hulle tweeduisend kilometer verder hier by ons!

Dit was so lekker om iets van julle af hier te hê – veral toe daar nog vars rooi grond van julle

plaas af aan die een vassit! In hierdie wêreld is geen grond nie. Hier is net suiwer seesand. Die

seesand bestaan ook nog uit 60% skulpies wat oor die eeue fyngemaal is.

Nou wag ons dat julle kom kuier. Die lekkerste tyd is natuurlik April en Meimaand. Ek weet net nie of dit volgende jaar goed sal uitwerk met die sokker wat ook hier gaan wees nie.

Ons wil julle dan sommer kasteel toe vat en met die kabelkarretjie opvat Berg toe. Maar die

probleem is dat hulle sekere dele van die stad gaan sluit vir verkeer. Dan kan ons nie met ons

eie vervoer daar uitkom nie.

Wat van Augustus dalk? Want die sokker is dan mos verby. Ons ontvang julle almal hier en vat julle orals-oor rond.

Mag dit met julle baie goed gaan. Ek het netnou ’n troue. Ek weet nie hoe lank ek gaan preek met al hierdie klomp waatlemoene in my binnekant nie. Dan sal ek maar gou eers my eie heildronk moet gaan instel!

Baie dankie nogmaals en baie groete

Page 110: Kronieke uit my onthoupublikasiesthinusduplessis.com/wp-content/uploads/2019/...2019/05/01  · 2 01- Goljuiter dra ‘n houtbroek Kronieke uit my onthou Marthinus Johannes (Thinus)

110

Thinus en Carin

Eintlik wil ek darem net sê dat ek op my oudag eers gehoor het dat daardie groot groen eetbare soort karkoer ’n waatlemoen is. Van kleintyd af het ek geleer dat dit ’n wartlemoen is. Hoe dit

ook al sy, wartlemoene het nou ook polities korrek van naam verander. Voortaan is hulle waatlemoene – maar ek eet nog al die tyd wartlemoene!

Dit was nie die einde van die hoogtepunte nie. Op dieselfde dag bel my neef Lafras Engelbrecht ook nog! Ek het al baie oor hom geloop en wonder. Wat sou van die man geword het? Ek wou hom al baie bel. Ek het net nie geweet hoe en waarheen nie. Daarom is ek so bly dat hy nou kontak gemaak het.

Vandag het ek ook nog ’n troue gehad. Twee Suid-Westertjies. Na die troue is ons saam onthaal toe. Dit het op Bloubergstrand gebeur. Die onthaal was keurig en mooi. Die kos was heerlik. Die vrouens het alles sommer self voorberei.

Buite het daar ’n wind begin waai – al hoe erger en woester. Dit was tipies soos wat die Suidoos (oftewel Sedoos!) maar tekere gaan van nou af tot vroeg in volgende jaar. Hy raak eers stil as die wind omswaai en die Noordwes die reëns begin uitwaai.

Die wind het so tekere gegaan vanaand dat alles later begin ruk en skud het.

Iewers op elke troue begin mense mos dans. Ek is nou nie iemand wat deur dans opgetrek word nie. Buitendien moes ek nog weer my preke vir Sondag kom deurgaan. Ons het by die gasvrou gaan verskoning vra en koers gekry.

Ons het huis toe gery met ’n kar wat deur die wind geruk en geskud word. So het die dag ook sy einde gekry.

Julle Bosveldvriendjie groet julle met ’n stuk Bosveld-waatlemoen in die mond en soetigheid in sy tande.

Van pit tot pit

Matiempaan

Terugantwoord

Liewe Dominee

Die waatlemoene moes sekerlik ’n heerlike verrassing gewees het. Ek glo ook nie dis die dansery wat julle huis toe gestuur het nie, dit was eerder die waatlemoene wat julle geroep het. ’n Mens kan mos nie verby ’n yskas loop wat lekker koue waatlemoen bevat nie.

Groete

Erna