week 6 oorwin die bose - ngkmiederpark.co.za · slegte dinge waarvan desensitasie een is. en veral...

9
WEEK 6 Oorwin die bose

Upload: others

Post on 12-Sep-2019

2 views

Category:

Documents


0 download

TRANSCRIPT

 

 

 

WEEK 6                  Oorwin die bose 

 

 

Hy was van die begin af ’n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen. (Johannes 8:44) 

’n Middelslag mannetjie oortrek met lang, stekelrige, swart hare. Geniepsige horinkies op die kop. Hoewe waar jy voete sou verwag. ’n Gevaarlike vurk in die hand. En natuurlik ’n vieslike stert. ’n Ware aapskeloeder. Die duiwel van my kindertyd. Reg uit die Sprokies van Grimm. Ek sou hom sien aankom. Genoeg tyd om hard en aanhoudend om hulp te skreeu. En as die engel in sy goue glorie verskyn, ’n swart roetstof wat ruik na vrees en nederlaag. 

Hmmm… Na ’n paar jaar op aarde is ek nou bietjie slimmer. Eintlik ontnugter. Hy besoek my in ’n heel ander kleed. Soms net ’n fluistering in die wind. Sagte gedagtes van aanmoediging. Of miskien ontmoediging. ’n Briesie wat sade van twyfel, mismoedigheid en wanhoop fluister. En dikwels vind hierdie sade ’n vrugbare lêplek in my siel. Hy kom soms in die kleed van my eie gedagtes. En sy stem het sterk oortuigingsvermoëns. Dit klink so al asof dit die waarheid kan wees… Maar hy was en is en bly die donker vader van die leuen. Boos en wispelturig. Daar is geen waarheid in hom nie. Al kleur hy die leuenkleed hoe mooi in. Hy saai angs, wanhoop, ongeloof, vrees, moedeloosheid, haat, onvergewensgesindheid, jaloesie. Alles wat boos is. 

Wie is die Satan? Hy is ’n swart, hopelose boosheid wat oor die donker vermoëns beskik om mense saam met hom die afgrond in te trek. ’n Stuk negatiewe energie. ’n Parasiet. Hy is ’n hartseer realiteit. En hy teer op mense se ongeloof in God. Hy teer op die vrugte van die sade van boosheid wat hy saai. 

Hy is die vyand en hy werk met ’n spesifieke, weldeurdagte plan. 14 En geen wonder nie! Satan self doen hom voor as ’n engel van die lig. (2 Korintiërs 11)  

Satan en sy trawante het uit die hemel geval. Uitgeskop. Tot op die aarde. Wat ’n plek om te land? Ons sit nou met hom en moet leer om sy planne te verstaan. Ons moet ons vyand ken! 

Jesus Christus het hulle ontwapen en hul nederlaag in die openbaar vertoon (Kolossense 2:15). Maar onkruid vergaan nie. En veral nie onkruid wat verneder en kwaad is nie. Christus se vernedering op aarde het vir Hom oorwinning gebring. Maar Satan is nie tot iets positiefs in staat nie. En definitief nie tot berou en bekering nie. By hom het vernedering ’n ewige, skryende behoefte aan wraak gebring. Wraak en haat. En die uiterste bevrediging? Om soveel moontlik aanhangers met hom saam te neem warmplek toe. Die hel is ’n aaklige werklikheid waarmee ons almal moet saamleef. 

En steeds is daar selfs Christene wat sy bose bestaan ontken! Ons moenie die duiwel onder elke bos probeer uitkrap nie, maar ons moet die vyand ken! Sy grootste moderne wapen is dat ons hom nie meer sien nie. Hy het homself so in die wêreld ingewurm dat hy deel geword het van ons daaglikse bestaan. Hy is op ’n baie gerieflike plek. Hy het nes geskrop. Sy mag het gegroei. Hy het verskans geraak in ons lewens. In die dinge wat ons teëkom. Hy teer op slegte dinge waarvan desensitasie een is. En veral die desensitasie van Christene. Hy teer ook op paranoia of vervolgingswaansin. 

Hy is die GROOT oëverblinder. Die GROOT leuenaar. Die GROOT versoeker.  

Ken die vyand! 

Niemand van ons wil te veel aandag aan die Satan gee nie. Maar dit is tog belangrik om iets te weet van hoe hy te werk gaan hier op aarde. Gesels oor julle beeld van die duiwel en hoe hy werk in die wêreld. Ons moet hierdie week aanhoudend bid dat God ons teen sy aanslae sal beskerm!

  Sondag  8 September KEN DIE VYAND 

 

 

Ek het my rug gehou vir dié wat my slaan, my wang vir dié wat my baard uittrek. Ek het my gesig nie weggedraai toe ek bespot en bespoeg is nie. (Jesaja 50:6) 

Om ’n mens te wees, is nie maklik nie. Ons maak met swaarkry ’n bestaan uit die aarde. Ons werk hard. Ons liggame word elke dag ouer en hou na ’n ruk op met werk. Word siek – soms baie siek. En elkeen van ons moet die moeilike, onbekende skuif tussen lewe en dood maak. Vroue bring met groot moeite kinders in die wêreld en almal weet dit is nie maklik om hulle groot te maak nie. Haar man heers oor haar. Die sonde en die hartseer wat ons bestaan op aarde bring, kruip altyd iewers in die agtergrond weg. Die wêreld en sy heerser toon geen genade nie. Ons word gedurigdeur onderwerp aan versoeking, pyn en lyding. 

Die lewe is vol swaarkry. Om ’n mens te wees, is nie maklik nie. Dit is in vele opsigte vernederend. 

En tog het Jesus Christus in gehoorsaamheid aan sy Vader mens geword. Ons hou van bevordering en verhoging, maar Hy het ’n afgradering na die laagste moontlike posisie aanvaar. Die posisie van mens. 

Maria – swanger buite die eg en Josef saam met haar in die sop. Die voorgeboorte rit op die donkie om gehoor te gee aan die onderdrukkende Romeinse keiser se versoek om sy onderdane te tel. Die eerste geboortepyne en nêrens om te rus nie. En dan die geboorte in ’n stal. Met kleinvee en skaapwagters as getuies. Grootwordjare in Nasaret. “Kan daar uit Nasaret iets goed kom?” (Johannes 1:46) Later jaag 

hulle Hom uit die dorp en wil Hom van die kranse afgooi. Die mense voor wie Hy grootgeword het. 

Nie eens sy dissipels het altyd sy woorde verstaan nie. Nog minder die mense wat kom luister het.  

 20 Jesus sê vir hom: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ’n rusplek vir sy kop nie.” (Matteus 8) 

Sy familie het op ’n stadium gedink Hy het van sy kop afgeraak en die Skrifgeleerdes het Hom daarvan beskuldig dat sy gesag direk van die Satan af kom! 

En dan die verdere vernedering van sy verhoor. Die verraad deur een van die Twaalf. Petrus se pynlike ontkenning. Die arres en géseling. Van Annas na Kajafas na die Joodse Raad na Pilatus na Herodes. En terug na Pilatus. Die volk wat aandring op sy kruisiging. Gedwing om sy eie kruis te dra, maar net te swak. Die Via Dolorosa. Vasgespyker tussen twee misdadigers. Die laaste asem. Dood. Verneder. 

Maar… 

Uit die vernedering is ’n heilige, wondersoet oorwinning gebore! En daarvoor sê ons met respek en erkenning dankie. Elke dag. 

Paulus skryf in Romeine 12:21: Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie. 

Al wat ons kan doen, is om dankie te sê dat ons hulp tot ons beskikking het om die versoek uit te voer. Al die hulp wat ons moontlik mag nodig hê. Jesus Christus het reeds die kwaad oorwin! Met die goeie! 

 Maandag 9 September    DIE GROOT OORWINNAAR 

Ons Here Jesus het die stryd namens ons gewen! Die duiwel is oorwin! Maar Hy het gewen deur Homself te verneder. Lees saam die gedeelte hierbo en gesels oor hoe moeilik dit vir Jesus was om aarde toe te kom en verneder te word.

Sê met lofprysing en aanbidding dankie dat Hy deur hierdie 33 jaar op aarde geworstel het om ons te kom red.

 

 

12Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in, 13waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het Hom versorg. (Markus 1) 

Versoeking is ’n nare ding. Ons almal lei elke dag daaronder. En die ideaal is om dit te weerstaan. Sonder moeite. Net soos Jesus. Maar heel dikwels val ek onder die druk en die las van die versoeking. Die gras lyk immers altyd groener aan die anderkant van die draad. En as ek dan die grens oorgesteek het kom ek agter dit is eintlik tog maar beter waar ek vandaan kom. Baie beter. Telkens. Altyd spyt omdat ek toegegee het en nie sterk gestaan het nie. Maar toegee is in die hitte van die oomblik soveel makliker. En dan kom die woorde van Jesus by my op. Waak en bid, sodat julle nie in die versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak (Matteus 26:41). ’n Verskoning wat ek dikwels met ’n sug gebruik. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak. 

Versoeking is ’n moeilike ding. Selfs Jesus moes daaronder ly. Plaas jouself vir ’n oomblik aan sy sy. Hy is nou net in die Jordaan gedoop en vol van die warm, energie van die Asem van God. Saam stap julle in die skemer weg. Skielik verskyn die einste Gees in sy volle glorie. Jesus wink en saam word jy die woestyn in gelei. Hy plaas jou sagkens agter ’n klip en wys met sy heilige vinger. Jy moet waarneem. In stilte. Nie inmeng nie! Jy hoor ’n magtige, aaklige gebrul en loer beangs agter die klip uit. Daar buk ’n verskriklike aakligheid oor Jesus. In ’n rasperstem daag hy uit: “As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.” Hy weet maar te goed dat Jesus bitter honger is. Stilweg moedig ek Jesus aan om tog te maak soos hy sê. Dalk kan ek ’n stukkie brood aas… My maag skreeu al vir drie dae lank! Maar Jesus verras my én die aakligheid met sy heilige woorde: “Daar is 

geskrywe: ’n Mens leef nie net van brood nie.”  

’n Paar dae later lê ek steeds lusteloos en swak agter die klip. Ek hoor ’n harde geskree. Met groot fanfare maak die naarheid weer sy verskyning. Hierdie keer sleep hy die Heiligheid na ’n duiselingwekkende afgrond en hel gevaarlik oor. Melodramaties roep hy beelde van al die wêreldkoninkryke in rook op en rasper: “Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. Dit sal alles aan U behoort aan U maar net voor my buig en my aanbid.” Ek wonder swak wat die antwoord sal wees. Hierdie episode moet nou agter die rug kom. Ek verlang huis toe! Maar Jesus staan sterk: “Daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” Die duiwel verkas met ’n woedende brul. 

Veertig dae gaan verby. Sonder kos. In die woestyn. Maar wonder bo wonder bly ons lewe. Die engele sorg. Ek slaap die meeste van die tyd in die klip se skadu. My lippe gebars en my maag anderkant kramp. Weer die aardskuddende brul. Hy ken geen einde nie! Hy sleep Jesus na Jerusalem. Ek agterna op die engel se vlerk. Hy maak Hom staan op die hoogste deel van die tempel en daag met genoegdoening uit: “As U die Seun van God is, spring hier af! Daar staan mos geskrywe: Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm, en ook: op hulle hande sal hulle jou dra sodat jy nie jou voet teen ’n klip stamp nie.” Die laelak se kennis van die Bybel verbaas my! Maar Jesus steur Hom nie aan geveinsde wysheid nie. “Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.” 

Net die volgende dag kom versoek hy my. Daar in my eie huis. Ek is eintlik verbaas om die vent so gou weer te sien. Net in ’n ander jas. Maar ek dink aan Jesus se woorde en stuur hom na sy peetjie!  

  Dinsdag  10 September VERSOEKING: LEER BY JESUS CHRISTUS 

Versoeking is ’n nare ding waarmee elkeen van ons elke dag sukkel. Lees saam Lukas 4:1-13. Hoe kan ons by Jesus leer hoe om versoeking te weerstaan? Bid nou saam Matteus 6:9-13, met die klem op vers 13.

 

 

 Het jy al ooit die krag van gebed gevoel? ’n Vriendin wat vir jou bid. Sommer net. Of dalk ’n hele gemeenskap wat bid in krisistye. ’n Wonderlike tinteling en rustigheid wat hier oor jou hele lyf kom lê as jy hoor hoe iemand vir jou pleit by God. Pleit vir krag en wysheid. Vir genesing of hoop. Dalk vir heilige antwoorde op jou vrae. Of dalk vir berusting en vrede. Wat alle verstand te bowe gaan.  3 ’n Ander engel het toe gekom en by die altaar gaan staan met ’n goue wierookbak. Daar is baie wierook aan hom gegee om dit saam met die gebede van al die gelowiges op die goue altaar voor die troon te offer. 4 

Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God. 5 Toe het die engel die wierookbak geneem, dit met die vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde uitgegooi. Daar het donderslae, dreunings, weerligstrale en ’n aardbewing gekom. (Openbaring 8) 

As God soveel waarde aan die gebede van gelowiges heg, hoeveel waarde dan nie aan die gebede van sy geliefde Seun nie?  31 “Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. 32Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.” (Lukas 22) En ook sy gebed in Johannes 17: 11… “Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U My gegee het, sodat hulle net soos Ons een kan wees… 15Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar… 20“Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom… 22Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees 

net soos Ons een is: 23Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet. 

Die gedagte aan Jesus wat vir mý bid, is hartroerend! Dit sit my op ’n plek waar ek veilig voel. Dit gee my nuwe moed. En hoop. Dit laat my geliefd voel. So of ek wel saak maak. Al is ek hoe nietig en my wêreld hoe klein. Al sondig ek en is ek soms liggelowig. Al stel ek Hom hoeveel maal bitter teleur. Al laat ek my soms deur versoeking van die pad af lei. Jesus pleit en bid vir my. Daar waar Hy op die troon langs sy Vader die wag hou. 

En die Heilige Gees het Jesus se gebed kom voortsit. Nou al meer as 2 000 jaar volhard Hy. Sonder om moed op te gee. Al gee ek Hom dikwels rede. Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. (Romeine 8:26)  

Ek het al baie gewonder hoe hierdie versugting klink. Dalk soos ’n ou woudreus wat liggies kraak in die wind? Of miskien die geluid wat ’n orkaan maak. ’n Harde, bonatuurlike skreeu? … Dalk soos ’n kaggelvuur wat in die skoorsteen opfluit … Ek hoop dat die hemel eendag vol sal wees van hierdie wonderlike versugting! 

Gebed is een van die mees effektiewe wapens in die heilige oorlog. Oorwin die kwaad deur die goeie. Oorwin die kwaad deur gebed. Want daar kan net een ding uit ’n opregte, gelowige gebed voortkom, en dit is die goeie. En hoe anders kan ek keer dat die kwaad my nie sal oorwin nie? Deur gebed. Deur gesprek met my Here.  

Woensdag  11 September    BID 

Gesels oor wat presies van julle ’n gesin maak. Hoekom noem ons mense wat soos julle saam is ’n gesin?

Waarom, dink julle, is dit belangrik dat gesinslede vir mekaar moet bid? Nie net die pa en die ma vir die kinders nie, maar ook die kinders vir die ouers en vir mekaar. Wat, sou julle sê, gebeur as gesinslede vir mekaar bid?

Bid nou vir mekaar. Ernstig.

 

 

 Alweer voor die spieël. So kaal soos die dag toe ek gebore is. Eintlik kaler. So kaal en skoon soos die dag toe ek wedergebore is. Die voorgeboortelike skandswart weggewas. Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol. (Jesaja 1:18) Eintlik so weerloos voor God en die spieël. Maar net ’n mens. Onseker en blootgestel. Al die dinge wat vroeër so gemaklik en gerusstellend was nou skielik aan die boom van verbode vrugte. En soos die slang van ouds, hou Satan aan om te verlei. Te wink. Te oorreed. 

Om ’n Christen te wees, is nie maklik nie! Dit is werklik die nou, moeilike bergpaadjie wat na die wonderlike ewigheid lei. Die hoofweg doer onder op die gelykte… So aanloklik. Dit raak nie makliker nie. En die drang na God en heiligheid raak ook nie versadig nie, aan die ander kant. Ons is immers gemaak om Hom te soek. Om rond te tas na Hom. 

Op ’n manier moet die naaktheid bedek word. Die weerloosheid en onsekerheid oorkom word. My nag is dan nou verby. En met die wedergeboorte het die dag gekom. Maar ook die oorlog. Soveel om te leer, soveel om te leer. Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem. (Romeine 13:12) 

Bedek die sagte teikens. Maak toe. Eers die borsharnas om die brose hart te beskerm. Hy hét my vrygespreek. Geen twyfel daaroor nie. Dan die stewige heupgordel. Trek hom lekker gemaklik vas. Erken die Satan in sy wonderlike kleed vir die leuen wat hy is. Nou die skoene. Gereed om die pad te vat. Die helm om my verstand te beskerm. My gedagtes en denke. My wese. Ek wéét mos Hy het verlossing gebring. Die skild in die regterhand. Met hom moet ek 

keer. Die brandpyle van ongeloof. Stewig met die familiewapen aan die voorkant gegiet. ’n Gloeiende kruis voor ’n oop graf. Nou my aanvalswapen. Die swaard gemaklik in my regterhand. Kort, breed, tweesnydend en vlymskerp. Kom, jou lae luis, kom! Ek is reg vir jou! Ek met my Here aan die sy! 

Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. (Efesiërs 6:11) 

Maar, helaas, dit is weereens nie so maklik nie! Waarom kan ek dan steeds soms nie die nodige weerstand bied nie? Want ek het nie die wapenrusting aan nie! Of ek staan met die swaard in die hand, maar weet nie hoe om die ding te gebruik nie! Of ek onderskat steeds die inherente boosheid en slinksheid van die opposisie! GROOT fout!  

Hy vang my keer op keer met my spreekwoordelike broek op my voete. Ek is telkemale doodeenvoudig nie gereed nie. Of ek verwag een ding en staar ’n heel ander in die gesig. Waar is die brullende monster dan nou heen? Skielik doem ’n wonderlikheid voor my op. ’n Engel van die lig… En die aakligheid lag al die pad huis toe. 

Leer om die wapens te gebruik. Wees paraat. Plaas jou vertroue op en vind jou krag in God. Dit klink na ’n mondvol. Is dit nie makliker om net te laat gaan nie?… Soos ’n bootjie in ’n rowwe see rond te dobber sonder enige reisplan en bestemming in sig nie? Die goeie nuus is dat dit met oefening en volharding ’n lewenswyse raak. Die wapenrusting groei aan ’n volhardende gelowige vas en word deel van sy lyf. 

En dan die belangrikste skakel in die ketting: 18 Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges. (Efesiërs 6)  

Donderdag  12 September BEWAPENING 

Lees Efesiërs 6:10-17 saam. Dink na oor elke vers en gesels oor hoe ons die wapens kan gebruik teen die aanslae van die duiwel en sy wêreldse vriende.

Hou aan om elke dag vir mekaar te bid vir krag en beskerming teen die duiwel.

 

 

’n Ander engel het toe gekom en by die altaar gaan staan met ’n goue wierookbak. Daar is baie wierook aan hom gegee om dit saam met die gebede van al die gelowiges op die goue altaar voor die troon te offer. 4 

Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God. 5 Toe het die engel die wierookbak geneem, dit met die vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde uitgegooi. Daar het donderslae, dreunings, weerligstrale en ’n aardbewing gekom. (Openbaring 8) 

Ek kan net nie ophou om hierdie vers te lees en aan te haal nie! Die wonderlike beeld van gebede wat soos wierook opstyg. Dwing my na trane. ’n Gedruis in my ore. Hartklopping. Dit laat my voel ek lewe. Régtig. Dit laat my voel of ek saak maak. Of ek behoort. Dit laat my groot voel, al is ek klein en nietig.  

Die goue wierookbak. Edel en lig. Duisende jare oud. Deur Jesus self gelouter. Toe liefderyk gegiet en gepoets tot verblindende blink. Suiwer goud. 

Liefderyk en paraat kom die engel met die bak na die altaar gestap. ’n Soldaat van die lig. So ernstig oor die groot voorreg. ’n Ander gee wierook aan. Van mirre gemaak. Lekker baie. O, die geur… Essens. Dit is ’n spesiale geleentheid dié. En nou die tweede bestanddeel van die heerlikheid. Gebede. Van gelowiges wat bid. ’n Sagte, silwer poeier. Elke korrel 

’n smeking. ’n Danksegging. ’n Woord van lof. En die verootmoediging tussenin skitterwit soos sneeu. 

Die vuur kom nader en die offer vat vlam. ’n Silwer rook draai op in ’n perfekte spiraal. Op die troon sit my God en wag. Adem diep. Sug tevrede. En blaas stadig uit. Nog ’n teug. Die asem van die Heilige. ’n Knik na die engel. 

Hy tel die vuur op en sit dit in die bak. Stap na die rand van die hemel en giet dit uit. Oor die aarde.  

Gebed het ’n kragtige werking. Donderslae. Dreunings. Weerligstrale. Aardbewings. En die wonderlike wapenrusting beteken niks sonder gebed nie.  18 Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges. 19 Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak. 

Biddend. Smeek. Deur die gees. Waaksaam. Gedurig. Vir al die ander gelowiges.  

Bid, broer, bid. Vir my ook, asseblief. 

Nou is ons ongelukkig by die einde van die reeks. Dit is jammer, maar nou kan ons steeds op die Romeine 12-Roete 12 stap in Jesus se spore. Ons hoef nie nou weer van hierdie pad af te klim nie!

Lees nou Josua 24:15 saam. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.

Gesels saam of julle gesin ook bereid is om hierdie woorde te sê en uit te leef. Om die Here as ’n gesin te dien, is ’n gewigtige besluit. Dit beteken dat elkeen van die gesinslede hom of haar aan God sal verbind. Dit beteken ook dat die gesinslede sekere beloftes aan mekaar moet maak. Byvoorbeeld om mekaar te ondersteun en vir mekaar te bid. Gesels oor so ’n besluit.

Bid nou saam. Maar nie vir die laaste maal nie! Hou aan om elke dag die Here saam as ’n gesin aan te roep.

 Vrydag  13 September     HAMER OP GEBED 

 

 

I have been driven many times to my knees by the overwhelming conviction that I had nowhere  

else to go. My wisdom, and that of all about me,  seemed insufficient for the day. 

 ‐ Abraham Lincoln