en die ramshoring het geblaas - cum uitgewers13 en die ramshoring het geblaas doopgeleentheid hier...

21
Die roeping

Upload: others

Post on 17-Jan-2020

5 views

Category:

Documents


0 download

TRANSCRIPT

Page 1: En die Ramshoring het Geblaas - CUM Uitgewers13 En die ramshoring het geblaas doopgeleentheid hier was nie, maar begrafnisdienste is daar baie. Vir al wat hy weet, het die doopvont

Die roeping

En die Ramshoring het Geblaas.indd 9 5/27/04, 2:49:30 PM

Page 2: En die Ramshoring het Geblaas - CUM Uitgewers13 En die ramshoring het geblaas doopgeleentheid hier was nie, maar begrafnisdienste is daar baie. Vir al wat hy weet, het die doopvont

11

H O O F S T U K 1

1987

SAMUEL MASON sit oorkant Centerville Christelike Kerk in sy wit kar. Die ou plek is soos hy: albei van hulle het beter dae geken. Die klompie dakteëls

wat tydens die storm van ’84 afgewaai het, is nog nie vervang nie. Die verf is besig om af te dop sodat ’n mens die ou, grys planke kan sien. Een van die hoë boogvensters is gekraak. Die grasperk is halfdood, die rose kort ’n snoei en die berkeboom in die binnehof tussen die kerk, gemeenskapsaal en klein pastorie is besig om deur een of ander gogga opgevreet te word.

Samuel is bevrees as ’n besluit nie gou geneem word nie, gaan hy die dag beleef waarop daar ’n Te Koop-bordjie voor die kerk geplant word en ’n eiendomsagent se slot aan die voordeur gaan hang. Hy tel sy verslete, swart Bybel van die passasiersitplek op. Ek probeer moed hou, Here. Ek probeer vertrou.

“Samuel!” Hollis Sawyer kom aangehink met die sypaadjie langs. Hulle ontmoet by die trappies voor die kerk. Hollis hou aan die verroeste ysterreling vas, plant sy kierie en lig sy kunsbeen tot op die tweede trap. “Otis het gebel. Hy sê hy gaan laat wees.”

“Probleme?”“Hy’t niks gesê nie, maar ek het Mabel in die agtergrond met hom

hoor praat. Hy het taamlik gefrustreerd geklink.”Samuel sluit die voordeur oop en kyk na die eens ligpers, nou

sonverbleikte grys tapyt in die portaal. Hollis se gesig vertrek toe hy oor die drumpel hink. Samuel los die deur oop vir Otis.

Die portaal is na al die jare nog presies dieselfde. Verbleikte trak -taatjies is in netjiese hopies gestapel. Die uitgerafelde hoek van die mat is weggevou van die deur wat na die klein kantoortjie lei. Die

En die Ramshoring het Geblaas.indd 11 5/27/04, 2:49:32 PM

Page 3: En die Ramshoring het Geblaas - CUM Uitgewers13 En die ramshoring het geblaas doopgeleentheid hier was nie, maar begrafnisdienste is daar baie. Vir al wat hy weet, het die doopvont

12

FRANCINE RIVERS

stowwerige blare van die nagemaakte boompie in die hoek is steeds ’n spinnekop se woning. Daar is nog ’n spinnerak in die hoek van ’n hoë venster; iemand sal die leer moet gaan haal en dit afvee. Maar wie sal dit waag om teen ’n leer op te klim as ’n ongeluk jou in ’n versorgingsoord kan laat beland? Om professionele skoonmakers in te roep sal ook nie deug nie. Daar is nie geld nie.

Hollis kom in die paadjie afgeskuifel. “Dis soos ’n yskas hier binne.”

Die kerk ruik muwwerig, soos ’n huis wat lank toe gestaan het. “Ek kan die verhitting aanskakel.”

“Los dit, wat. Teen die tyd dat die plek warm word, is ons verga-dering verby.” Hollis skuif by die tweede kerkbank in, hang sy kierie oor die rugleuning van die bank voor hom en gaan sit. “So, wie preek hierdie Sondag?”

Samuel gaan sit in die bank oorkant hom en sit sy Bybel langs hom neer. “Sondag is op die oomblik die minste van ons probleme, Hollis.” Hy rus met sy gewrigte op die rugleuning van die voorste bank en kyk op. Ten minste is die bronskruis en twee kandelare op die altaar blinkgevryf. Dit lyk of hulle die enigste voorwerpe is wat bietjie aandag gekry het. Die mat moet skoongemaak word, die kansel geverf word, die orrel herstel word. Ongelukkig word die werkers elke jaar minder en sien die fi nansiële gawes ook maar effentjies daar uit, ondanks die opregtheid van die gemeentelede wat almal hoofsaaklik op pensioen is.

Here … Samuel se gedagtes verstil terwyl hy teen die trane baklei. Hy sluk aan die knop in sy keel en kyk na die leë koorgalery. Hy onthou ’n tyd toe dit vol sangers was, almal in rooi en goud geklee. Nou is dit net Abby, sy vrou, wat elke paar Sondae sing en deur Susanna Porter op die klavier begelei word. Hoe lief hy ook al vir haar is, moet hy erken dat Abby se stem nie meer is wat dit eens was nie.

Een vir een het die kerkaksies doodgeloop. Kinders het grootgeword en weggetrek. Die middeljariges het bejaard geword en die bejaardes het gesterf. Die leraar se stem het deur die leë kerk geëggo met geen lewende liggaam om sy wyse woorde te hoor nie.

Ag, Here, moenie dat ek lank genoeg lewe om te sien hoe hierdie kerk se deure Sondagoggende toe is nie.

Hy en Abby was vir veertig jaar lank deel van hierdie kerk. Hulle kinders het hier Sondagskool toe gegaan en is hier gedoop. Pastoor Hank het hulle dogter, Nancy, se huweliksplegtigheid waargeneem en het die begrafnisdiens gelei toe hulle seun, Donny, se liggaam van Viëtnam af teruggebring is. Hy kan nie onthou wanneer laas daar ’n

En die Ramshoring het Geblaas.indd 12 5/27/04, 2:49:33 PM

Page 4: En die Ramshoring het Geblaas - CUM Uitgewers13 En die ramshoring het geblaas doopgeleentheid hier was nie, maar begrafnisdienste is daar baie. Vir al wat hy weet, het die doopvont

13

En die ramshoring het geblaas

doopgeleentheid hier was nie, maar begrafnisdienste is daar baie. Vir al wat hy weet, het die doopvont al opgedroog.

Samuel voel soos ’n hoop ou, droë bene. Hy is moeg, depressief, verslaan. En boonop nou hierdie nuwe tragedie . Hy weet nie wat hulle gaan doen om die kerk aan die gang te hou nie. Wat gaan van die klein groepie gelowiges word wat nog elke Sondag getrou kerk toe kom as hulle nie ’n uitweg kry nie? Die meeste is te oud om te bestuur, ander te sku om die sowat twee-en-dertig kilometer na ’n ander kerk te ry om saam met vreemdelinge te aanbid.

Sal ons na televisie-evangeliste moet kyk wat driekwart van die tyd geld vra? God, help ons.

Die voordeur van die kerk klap toe en die vloerplanke kraak onder naderende voetstappe. “Jammer ek’s laat!” Otis Harrison kom in die paadjie af en gaan sit in die voorste bank.

Samuel staan op om hom te groet. “Hoe gaan dit met Mabel?”“Nie te lekker nie. Die dokter het haar terug op die suurstof en sy

raak doodeenvoudig moeilik as sy daardie tenk in die huis agter haar aan moet sleep. ’n Mens sou dink sy sal bietjie sit vir ’n rukkie. Maar nee. Ek moet haar fyn dophou. Het haar gister in die kombuis gekry. Ek’s seker die bure kon ons hoor stry. Ek het vir haar gesê sy gaan nog een of ander tyd die gas oopdraai, ’n vuurhoutjie trek en ons al twee die lug inblaas. Sy sê sy weier om nog een mikrogolfete te eet.”

“Hoekom bel jy nie Meals on Wheels nie?” vra Hollis.“Ek het. Dis hoekom ek laat is.”“Het hulle nie opgedaag nie?”“Hulle was heeltemal betyds, anders sou julle nog vir my gewag

het. Ek moes daar wees om die deur oop te maak, want Mabel weier eenvoudig om dit te doen.” Die bank kraak toe Otis effens verskuif.

Deur die jare het Samuel en Abby dikwels gesellige aande by die Harrison-woning deurgebring. Mabel het altyd ’n feesmaal voorberei: hoender, heerlike nageregte en geroosterde of gestoomde groente uit Mabel se agterplaas. Otis se vrou is lief vir kook. Dis nie ’n stokperdjie nie; dis ’n roeping. Mabel en Otis het nuwe intrekkers in die gemeente altyd met ’n ete-uitnodiging verwelkom. Italiaanse, Duitse, Franse en selfs Chinese disse: sy sou enigiets probeer, tot groot waardering van almal wat by hulle tafel aangesit het. Die mense het mekaar as ’t ware vertrap om te sien watter gereg of pastei Mabel voorberei het. Sy het vir Donny koekies gestuur toe hy in Hue, Viëtnam, diens gedoen het. Otis het altyd gekla dat hy nooit weet wat om saans vir ete te verwag nie, maar niemand het hom ooit jammer gekry nie.

“Sy kyk nog steeds na daardie kosmaakprogramme en skryf resepte

En die Ramshoring het Geblaas.indd 13 5/27/04, 2:49:33 PM

Page 5: En die Ramshoring het Geblaas - CUM Uitgewers13 En die ramshoring het geblaas doopgeleentheid hier was nie, maar begrafnisdienste is daar baie. Vir al wat hy weet, het die doopvont

14

FRANCINE RIVERS

neer. Dryf haarself teen die mure uit van frustrasie! En sy is besig om my ook die mure uit te dryf. Ek het voorgestel dat sy borduurwerk doen. Of begin verf. Of blokkiesraaisels invul. Iets. Enigiets! Ek sal eerder nie herhaal wat sy gesê het nie.”

“Wat van ’n elektriese stoof?” vra Hollis. “Of ’n mikrogolf?”“Mabel wil niks met ’n elektriese stoof te doen hê nie. En ons seun

het ’n paar Kersfeeste gelede vir ons ’n mikrogolf gegee. Nie een van ons verstaan hoe die ding werk nie, behalwe om dit vir ’n minuut te stel om koffi e warm te maak.” Otis skud sy kop. “Ek mis die goeie ou dae toe ek nooit geweet het wat sy op die tafel sou hê wanneer ek van die werk af kom nie. Deesdae kan sy nie eens lank genoeg staan om ’n slaai te maak nie. Ek het probeer om die kosmakery oor te neem, maar dit was ’n totale mislukking.” Hy glimlag wrang en maak ’n ongeduldige gebaar. “Maar dis genoeg van my probleme. Ons het ander goed om oor te praat, verstaan ek. Wat hoor julle van Hank?”

“Dit lyk nie goed nie,” sê Samuel. “Ek en Abby was gisteraand saam met Susanna by die hospitaal. Sy wil hê Hank moet aftree.”

Hollis strek sy seer been voor hom uit. “Ons moet wag en hoor wat Hank sê.”

Samuel weet dat hulle nie die waarheid wil hoor nie. “Hy het ’n hartaanval gehad, Hollis. Hy kan niks sê met ’n pyp in sy keel nie.” Dink hulle regtig dat Hank Porter vir altyd so kan aangaan?

Otis frons. “Is dit só sleg?”“Hy was gister besig met hospitaalbesoeke toe hy in die gang net

buitekant ongevalle inmekaargesak het. As dit êrens anders was, was ons nou besig om sy begrafnisdiens te beplan.”

“God het hom bewaar,” sê Hollis. “Nes altyd.”“Dis tyd dat óns ook na sy belange omsien.”Otis verstyf. “Wat’s dit veronderstel om te beteken?”“Samuel het net ’n lang nag agter die rug.” Hollis klink hoopvol.“Dis waar,” gee Samuel toe. ’n Lang nag waarin hy mooi oor die

toekoms moes dink. “Net nóg ’n krisis wat ons die hoof moes bied. Ek wil nie sien dat dié een ons onderkry nie. Ons moet ’n paar besluite neem.”

Hollis vroetel ongemaklik. “Hoe laat het jy en Abby by die hospitaal aangekom?”

Hollis het nog altyd die manier gehad om die onderwerp te probeer verander wanneer ’n gesprek ’n onaangename wending neem. “’n Halfuur nadat Susanna ons gebel het. Dis al ’n geruime tyd dat Hank nie lekker voel nie.”

Otis frons. “Hy het nooit enigiets gesê nie.”

En die Ramshoring het Geblaas.indd 14 5/27/04, 2:49:33 PM

Page 6: En die Ramshoring het Geblaas - CUM Uitgewers13 En die ramshoring het geblaas doopgeleentheid hier was nie, maar begrafnisdienste is daar baie. Vir al wat hy weet, het die doopvont

15

En die ramshoring het geblaas

“Hy het die afgelope twee jaar spierwit geword. Het jy nie agtergekom nie?”

“Ek ook,” sê Hollis.“En hy het gewig verloor.”“Wens ek kon,” sê Otis met ’n laggie.Samuel bid om geduld. As hy nie oppas nie, gaan hierdie vergade -

ring in net nog ’n kla-sessie oor die ellendige toestand van die wêreld en die land ontaard. “So ’n week terug het Hank my van een van sy universiteitsvriende vertel wat ’n dekaan aan ’n Christelike universiteit in die Midde-Weste is. Hy was vol lof oor hom en die skool.” Samuel kyk na sy twee oudste vriende. “Ek dink hy het vir my probeer sê waar ons na sy opvolger moet begin soek.”

“Wag eers ’n bietjie!” sê Hollis. “Dis nie nou die tyd om hom af te dank nie, Samuel. Wat vir ’n hou is dit vir ’n man wat reeds op die naat van sy rug lê?” Hy snork. “Hoe sal jy daarvan hou as iemand by jou hospitaalkamer inkom, langs jou kom staan en sê: ‘Jammer oor jou hartaanval, ou vriend, maar ons kan jou nie meer gebruik nie’?”

Otis se gesig is rooi en strak. “Hank was die afgelope veertig jaar die dryfkrag van hierdie kerk. Hy het bestendigheid gegee. Ons sal dit nie sonder hom maak nie.”

Samuel het geweet dit gaan nie maklik wees nie. Daar is ’n tyd om sagkens te werk en ’n tyd om reguit te wees. “Ek sê julle nou, Hank gaan nie terugkom nie. En as ons wil hê dat hierdie kerk moet oorleef, sal ons iets moet doen om iemand te kry om aan die stuur te staan. Anders sal die kerk te gronde gaan.”

Hollis wuif met sy hand. “Hank was vyf jaar gelede in die hospitaal vir ’n hartomleiding. Hy het teruggekom. Ons kan mos maar ’n paar gassprekers nooi totdat hy weer op die been is. Soos ons laas gedoen het. Die Gideons, die Heilsleër, iemand van daardie sopkombuis aan die ander kant van die dorp. Vra hulle om oor hulle bedienings te kom praat. Dit sal die kansel vir ’n paar Sondae vol hou.” Hy gee ’n senuweeagtige laggie. “As dit nie anders kan nie, kan ons altyd vir Otis vra om weer sy skyfi es van die Heilige Land te wys.”

Samuel se been wip-wip op en af soos altyd wanneer hy gespanne is. Wat gaan dit kos om tot sy ou vriende deur te dring? Moet die Here self op ’n ramshoring blaas om hulle te oortuig? “Susanna sê hulle oudste kleindogter verwag ’n baba hierdie lente. Sy sê dit sal lekker wees om Hank met ’n agterkleinkind op die knie te sien. Sy sê dit sal lekker wees om weer deel van hulle kinders se lewe te wees, om saam in dieselfde kerk, in dieselfde bank, te sit. Wie van julle wil vir Hank sê hy het nie die reg verdien om daardie dinge te geniet nie? Wie van

En die Ramshoring het Geblaas.indd 15 5/27/04, 2:49:33 PM

Page 7: En die Ramshoring het Geblaas - CUM Uitgewers13 En die ramshoring het geblaas doopgeleentheid hier was nie, maar begrafnisdienste is daar baie. Vir al wat hy weet, het die doopvont

16

FRANCINE RIVERS

julle wil vir hom sê dat ons van hom verwag om op daardie preekstoel te staan totdat hy die dag dood neerslaan?” Sy stem breek.

Hollis frons en kyk weg, maar Samuel het reeds die blinkigheid in sy oë gesien.

Samuel leun met sy arm op die bank. “Hank moet weet dat ons verstaan. Hy verdien ons dank vir al sy jare van getroue diens aan hierdie gemeente. Hy het nodig dat ons hom seën. En hy het die geld in die pensioenfonds nodig wat ons jare gelede gestig het sodat hy en Susanna iets meer het om van te leef as net ’n maandelikse tjek van die regering en die liefdadigheid van hulle kinders!” Deur sy trane is die ander twee skaars sigbaar.

Otis staan op en loop op en af in die paadjie, sy een hand in sy broeksak terwyl hy met die ander oor sy voorkop vryf. “Die mark is swak, Samuel. Daardie fonds is vandag omtrent die helfte soveel werd as wat dit ’n jaar gelede was.”

“Helfte is beter as niks.”“As ek miskien vroeër van die tech-aandele verkoop het … Soos

dit nou is, gaan hy omtrent twee honderd-en-vyftig ’n maand kry vir veertig jaar se diens.”

Samuel sluit sy oë. “Ten minste kon ons hulle mediese fonds be -hou.”

“Dis ’n goeie ding dat hy in sy dertigerjare al aansoek gedoen het, anders het ons nie genoeg vir die premies gehad nie.” Otis gaan sit op die punt van ’n bank. Hy kyk reguit na Samuel. Samuel knik, wetend dat hy en Abby met die geld vorendag sal moet kom, soos in die verlede as daar nie genoeg in die kollektebordjies was om die uitgawes te dek nie.

Hollis sug. “Vyf jaar gelede het ons ses ouderlinge gehad. Eers is Frank Bunker aan prostaatkanker oorlede. Toe raak Jim Popoff op sy gemakstoel aan die slaap en word nooit weer wakker nie. Verlede jaar het Ed Frost ’n beroerte gehad. Toe ons ons oë uitvee, het sy kinders eenvoudig met ’n treklorrie hier opgedaag, ’n Te Koop-bordjie in hulle voortuin geplant en Ed-hulle na een of ander ouetehuis iewers in die Suide geneem. En nou Hank … ” Hollis se stem breek. Hy druk-druk aan sy heup.

“So,” kom dit stadig van Otis. “Wat maak ons sonder ’n pas -toor?”

“Gee op!” sê Hollis.“Of begin oor.”Albei mans staar Samuel aan. Otis snork. “Jy’s ’n dromer, Samuel. Jy

was nog altyd ’n dromer. Hierdie kerk is al vir die afgelope tien jaar op

En die Ramshoring het Geblaas.indd 16 5/27/04, 2:49:34 PM

Page 8: En die Ramshoring het Geblaas - CUM Uitgewers13 En die ramshoring het geblaas doopgeleentheid hier was nie, maar begrafnisdienste is daar baie. Vir al wat hy weet, het die doopvont

17

En die ramshoring het geblaas

die afdraand. As Hank nie meer hier is nie, sal dit die einde wees.”“Wil julle regtig die deure toemaak, die kerk sluit en wegloop?”“Dis nie wat ons wil hê nie! Dis wat moet gebeur!”“Ek stem nie saam nie,” sê Samuel vasbeslote. “Hoekom bid ons

nie hieroor nie?”Otis lyk stroef. “Wat gaan dit in hierdie stadium help om te bid?”Hollis staan op. “My been is besig om my op te keil. Ek moet aan

die beweeg kom.” Hy vat sy kierie en hink tot voor in die kerk. “Ek weet nie wat deesdae in ons land aangaan nie.” Hy stamp met sy kierie op die vloer. “Ek het al vier my kinders as Christene grootgemaak, en nie een van hulle gaan meer kerk toe nie. Al wanneer hulle ooit daar kom, is met Kersfees en paasfees.”

“Hulle pendel waarskynlik die hele week werk toe en terug,” sê Otis. “Deesdae moet albei ouers werk om die huis af te betaal, en dan moet hulle elke paar jaar die kar vervang omdat hulle so baie ry. My seun moet elke dag, vyf dae ’n week, twee honderd-en-dertig kilometer afl ê en sy vrou omtrent helfte soveel. En dan kos dit hulle duisende ’n maand vir die kinders. Plus versekering, en … ”

Samuel het dit alles al voorheen gehoor. Die wêreld stink. Die nuwe geslag het geen respek vir ou mense nie. Die omgewingsbewustes is almal blommekinders uit die sestigerjare en die politici almal skurke, owerspelers en bedrieërs. “Ons weet wat die probleme is. Kom ons werk aan die oplossings.”

“Oplossings!” Otis skud sy kop. “Watter oplossings? Kyk, Samuel. Dis oor. Ons gemeente bestaan uit … Hoeveel?”

“Nege-en-vyftig lidmate,” kom dit stroef van Hollis. “Op papier. Drie-en-dertig het verlede Sondag kerk toe gekom.”

Otis kyk na Samuel. “Daar het jy dit. Ons het nie die geld om die rekeninge te betaal nie. Ons het nie ’n leraar om te preek nie. Die enigste kind wat ons in die gemeente het, is Brady en Frieda se kleinseun, en hy kuier net hier. Tensy jy wil oorneem, Samuel, stel ek voor dat ons die aftog met waardigheid blaas.”

“Met waardigheid? Hoe word ’n kerk met waardigheid gesluit?”Otis word rooi. “Dis verby. Wanneer gaan dit eendag deurdring,

my vriend? Ons het goeie tye gehad, maar dis nou verby.”Samuel voel die hitte diep binne-in hom opwel asof iemand saggies

oor die sterwende kole in sy hart geblaas het. “Wat het van die vuur geword wat in ons almal gebrand het toe ons tot bekering gekom het?”

“Ons is oud,” sê Hollis.“En moeg,” sê Otis. “Dis altyd dieselfde mense wat die werk doen

En die Ramshoring het Geblaas.indd 17 5/27/04, 2:49:34 PM

Page 9: En die Ramshoring het Geblaas - CUM Uitgewers13 En die ramshoring het geblaas doopgeleentheid hier was nie, maar begrafnisdienste is daar baie. Vir al wat hy weet, het die doopvont

18

FRANCINE RIVERS

terwyl die res maar net in die banke sit.”Samuel staan op. “Abraham was honderd toe hy Isak se pa geword

het! Moses was tagtig toe God hom uit die woestyn geroep het! Kaleb was vyf-en-tagtig toe hy die heuwellandskap rondom Hebron ingeneem het!”

Otis gee ’n snork. “Tagtig was seker baie jonger in die Bybelse tye as wat dit vandag is.”

“Hierdie kerk het ontstaan omdat ons in Jesus Christus glo, nie waar nie?” klou Samuel hardkoppig vas aan sy geloof. “Het dit ver-ander?”

“Hoegenaamd glad nie,” sê Hollis.“Ons praat van die kerk toemaak, nie ons geloof afsweer nie,” sê

Otis ergerlik.Samuel kyk na hom. “Die een is so goed soos die ander.”Otis bol sy wange en krap sy kop. Sy gesig is weer besig om rooi

te word. Nooit ’n goeie teken nie.“Ons is nog hier,” sê Samuel. “Hierdie kerk is nog nie dood nie.” Hy

gaan nie bes gee nie, maak nie saak hoeveel Otis hom opwerk nie.“Daar was een honderd-en-vyftig dollar en vyf-en-sestig sent in die

kollektebordjie hierdie Sondag,” sê Otis fronsend. “Nie eens genoeg om die munisipaliteitsrekening te betaal nie. Terloops, dis agterstallig.”

“Die Here sal voorsien,” sê Samuel.“Die Here, my voet. Dis óns wat heeltyd moet betaal. Gaan jy weer

die eiendomsbelasting betaal, Samuel?” vra Otis. “Hoe lank gaan dit nog so moet aanhou? Daar’s nie ’n manier hoe ons hierdie kerk aan die gang kan hou nie, veral nie sonder ’n leraar nie.”

“Presies.”“En waar gaan jy een kry?” kom dit amper dreigend van Otis. “Toe

ek laas gekyk het, het hulle nie aan bome gegroei nie.”“Selfs met ’n nuwe leraar het ons nie geld om die rekeninge te betaal

nie. Ons het mense nodig.” Hollis gaan sit om sy been uit te strek en masseer dit met artritiese vingers. “Ek kan nie meer ’n bus bestuur nie en ek sien nie kans daarvoor om van deur tot deur te gaan soos in die ou dae nie.”

Otis deurboor hom byna met ’n kyk. “Ons hét nie ’n bus nie, Hollis. En noudat ons nie ’n leraar het nie, het ons ook nie ’n diens waarnatoe ons hulle kan nooi nie.” Hy wuif met sy arm. “Al wat ons nou het, is hierdie gebou. En ’n aardbewing sal dit tien teen een bo-op ons laat instort.”

Hollis gee ’n fl ou laggie. “Ten minste sal ons dan genoeg geld van die versekering kry om Hank in styl te laat gaan.”

En die Ramshoring het Geblaas.indd 18 5/27/04, 2:49:34 PM

Page 10: En die Ramshoring het Geblaas - CUM Uitgewers13 En die ramshoring het geblaas doopgeleentheid hier was nie, maar begrafnisdienste is daar baie. Vir al wat hy weet, het die doopvont

19

En die ramshoring het geblaas

“Ek het ’n idee.” Otis se stem drup van sarkasme. “Hoekom verander ons hierdie ou plek nie in ’n spookhuis vir Halloween nie? Ons vra tien dollar ’n kop. Ons kan al ons rekeninge betaal en genoeg hê om vir Hank ’n ietsie ekstra te gee.”

“Baie snaaks,” sê Samuel droog.Otis frons. “Ek’s eintlik ernstig.”Samuel kyk ernstig na die twee mans. “Ons het nog drie-en-dertig

mense wat ’n kerk nodig het.”Hollis se skouers hang. “’n Paar ou mense met een voet in die

graf en die ander op ’n piesangskil.”Samuel gee nie bes nie. “Ek stem dat ons daardie dekaan bel.”“Nou goed.” Otis lig sy hande. “Nou goed! As dit is wat jy wil

hê, het jy my stem. Bel die dekaan. Kyk wat hy vir ons kan doen. Nie veel nie, dit wed ek jou. Bel net wie jy wil. Bel God, as Hy nog die moeite doen om te luister. Bel die president van Amerika vir al wat ek omgee. Ek gaan nou huis toe om te kyk of my vrou nie die kombuis of haarself aan die brand gesteek het nie.” Otis se skouers hang toe hy in die paadjie afstap.

Ondanks al Otis se lawaai en besware, weet Samuel dat sy ou vriend net so onwillig soos hy is om op te gee. “Dankie, Otis.”

“Moet net nie een of ander windlawaai kry wat met tromme en ’n elektriese kitaar hier gaan aankom nie!” roep Otis terug oor sy skouer.

Samuel lag. “Dis dalk net wat ons nodig het, ou vriend.”“Oor my dooie liggaam!” Die kerk se voordeur slaan toe.Hollis hys homself op, neem sy kierie en sug diep. Hy kyk ’n oomblik

om hom rond. “Jy weet … ” Sy oë blink. Hy pers sy bewende lippe opmekaar en skud sy kop. Dan lig hy sy kierie in ’n fl ou groet en hink in die paadjie op.

“Hou moed, my broer.”“Nag,” sê Hollis skor. Die deur gaan weer oop en word ferm toe -

gemaak.Dan is dit stil in die kerk.Samuel plaas sy hand op sy Bybel, maar tel dit nie op nie. Hy bid

terwyl trane oor sy wange loop.

~

Samuel ry in die smal oprit op, onderdeur die afdak en parkeer in sy motorhuis. Die agterdeur van sy huis gaan oop en Abby staan in die lig vir hom en wag.

En die Ramshoring het Geblaas.indd 19 5/27/04, 2:49:34 PM

Page 11: En die Ramshoring het Geblaas - CUM Uitgewers13 En die ramshoring het geblaas doopgeleentheid hier was nie, maar begrafnisdienste is daar baie. Vir al wat hy weet, het die doopvont

20

FRANCINE RIVERS

Sy soen hom toe hy oor die drumpel tree. “Hoe het dit gegaan?”Hy raak teer aan haar wang. “Ek gaan Hank se vriend môre bel.”“Dank die Here.” Sy loop deur die kombuis. “Sit, my skat. Ek’s net

gou besig om jou kos warm te maak.”Samuel sit sy Bybel op die wit tafel neer, trek ’n stoel uit en gaan

sit op die rooi vinielsitplek. “Ons gaan ons hande vol hê met hierdie ding.”

“Ten minste luister hulle na jou.”“Dis net omdat hulle te oud raak om te argumenteer.”Abby glimlag oor haar skouer. “Moenie in hierdie laat stadium

begin sinies raak nie. So iets kan ons weer jonk laat voel.” Sy stel die mikrogolf.

“Otis sê ek is ’n dromer.” Hy kyk hoe Abby messegoed en ’n servet op die tafel voor hom neersit. Op vier-en-sewentig is sy vir hom nog net so mooi soos die agtienjarige met wie hy getrou het. Hy neem haar hand. “Ek’s nog net so lief vir jou, jy weet.”

“Jy het nie ’n keuse nie; jy’s opgeskeep met my.” Die mikrogolf pieng. “Jou kos is gereed.”

“Otis was briesend toe hy by die kerk opdaag. Mabel is moeilik –sy’s terug op suurstof.”

“Ek het so gehoor.” Sy sit die bord voor hom neer. Vleis, kapok -aartappels, groenbone. “Ek het haar vroeër vanaand gebel. Ons het lank gesels.” Sy gaan sit oorkant hom.

Hy tel sy vurk op. “Het sy haar gedra?”Abby lag. “Ek het iemand oor slaaie hoor praat in die agtergrond

voordat Mabel die televisie afgeskakel het.”“Arme ou siel.”“Ag, dis sommer pure bog. Helfte van haar pret is om Otis te frustreer.

Sy weet presies watter knoppies om te druk om hom te laat spring.”“Mis sy dit nie om te kook nie?”“Nie soveel as wat hy wens sy wou nie.”“Vroumense. ’n Mens kan nie saam met hulle lewe nie en jy kan

ook nie sonder hulle klaarkom nie.”Sy staan op en loop na die yskas toe. Sy skink ’n lang glas melk

en kom sit dit voor hom neer. Dan gaan sit sy weer. Sy kon nog nooit lank stilsit nie. Dis teen haar aard. Sy druk met haar vingerpunte teen mekaar en kyk na hom. Ten spyte daarvan dat hy nie honger is nie, begin hy tog stadig eet sodat sy haar nie moet bekommer nie. “Susanna sal verlig wees, Samuel. Dis al sedert sy hartomleiding dat sy wil hê Hank moet aftree.”

“Hulle sal nie juis veel hê om van te leef nie. Dis nie eers of hulle

En die Ramshoring het Geblaas.indd 20 5/27/04, 2:49:35 PM

Page 12: En die Ramshoring het Geblaas - CUM Uitgewers13 En die ramshoring het geblaas doopgeleentheid hier was nie, maar begrafnisdienste is daar baie. Vir al wat hy weet, het die doopvont

21

En die ramshoring het geblaas

’n huis het wat hulle sal kan verkoop nie.”“Ek dink Susanna gaan daardie ou pastorie mis. Sy het my vertel

dat hulle omtrent tien duisend dollar gespaar het. Dank die Here dat ons ’n pensioenfonds het om vir hulle te gee. Anders was hulle van hulle kinders afhanklik.”

Samuel deel die slegte nuus met haar. Abby laat sak haar kop en sê niks nie. Hy sit sy vurk neer en wag, wetend dat sy besig is om een van haar desperate gebede te bid. Toe sy haar kop oplig, is sy bleek, haar oë blink. Hy wens hy kon haar troos. “Ek wens ek was eerder ryk as aantreklik.” Die ou grappie werk nie dié keer nie. Abby steek haar hand uit en lê dit in syne. Hy skud sy kop, magteloos om te praat.

“Ek wonder wat die Here hierdie keer doen,” sê sy peinsend.“Jy’s nie die enigste een nie.”

~

Toe Paul Hudson die voordeur van sy huurhuis oopmaak, hoor hy dadelik die kabaal vanuit die kombuis. Hy trek sy baadjie uit en hang dit in die gangkas op. Hy lag toe hy Timothy, sy driejarige seun, op die kombuisvloer sien sit. Hy slaan die bodem van ’n kastrol met ’n houtlepel terwyl Eunice sing: “Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri … ”

Paul leun met ’n glimlag teen die deurkosyn. Dan sien Timothy hom. “Pappa!” Hy los die lepel en spring op. Paul tel hom op, soen hom en swaai hom op sy skouers.

Eunice glimlag toe sy ’n hand vol messegoed in die droograk sit en na ’n vadoek reik. “Hoe was jou dag?”

“Wonderlik! Dit het goed gegaan by die klas. Baie vrae. Goeie besprekings. Dis lekker om te sien hoe opgewonde die mense kan raak.” Hy loop nader en soen haar. “Mmmm. Mamma ruik lekker.”

“Ons het vandag koekies gebak.”“Kan ek perdjie ry, Pappa?”“Solank jy nie te woes is met jou pa nie.” Paul gaan staan hande-

viervoet sodat Timmy kan opklim en sy beentjies om Paul se ribbekas slaan. Paul runnik kamma en maak of hy Timmy wil afgooi. Timmy hou vas terwyl hy skreeu van die lag. Hy skop Paul twee maal in die sye. “Ho-nou, cowboy!” Paul kyk op na Eunice wat vir hulle staan en lag en voel hoe sy hart swel. Hoe kan ’n mens so geseënd wees? “Dis ’n goeie ding dat hy nie stewels het nie!” Hy laat Timmy drie rondtes deur die woonkamer op hom ry voordat hy omrol en Timmy op die mat te lande kom. Die seuntjie klouter vinnig op Paul se maag en wip

En die Ramshoring het Geblaas.indd 21 5/27/04, 2:49:35 PM

Page 13: En die Ramshoring het Geblaas - CUM Uitgewers13 En die ramshoring het geblaas doopgeleentheid hier was nie, maar begrafnisdienste is daar baie. Vir al wat hy weet, het die doopvont

22

FRANCINE RIVERS

uitgelate op en af. “Oef! Oef!” kreun Paul.“Daar is ’n boodskap van dekaan Whittier op die antwoordma-

sjien,” sê Eunice.“Ek het eintlik lanklaas met hom gepraat. Hoe laat is dit?”“Halfvyf.”“Vliegtuig ry, Pappa. Asseblief!”Paul hou hom aan sy een been en arm vas en swaai hom in die

rondte terwyl Timmy soos ’n klein vliegtuigie raas. “Hy’s gewoonlik nog tot sesuur op kantoor.” Hy sit sy seun saggies op die bank neer. “Kom ons gaan speel sokker, Timmy.” Hy soen Eunice voordat hy na die agterplaas toe gaan. “Kom roep my wanneer dit halfses is. Ek wil die dekaan nie laat wag nie.”

Buitekant skop Timmy die bal vir hom en dan skop hy dit saggies terug. Toe Timmy moeg gespeel is, stoot Paul hom ’n rukkie op die swaai. Wanneer Eunice later in die deur verskyn, tel hy Timmy op sy skouers en gaan binnetoe. Sy neem hom by Paul. “Tyd om hande te was vir ete, mannetjie.”

Paul loop na die telefoon toe. Hy druk die knoppie op die ant-woordmasjien. “Dis dekaan Whittier. Ek het ’n oproep ontvang en ek dink dit raak jou.”

Die kriptiese boodskap laat Paul kriewelrig voel. Hy maak sy adresboekie oop en skakel die nommer. Dekaan Whittier het hom tydens sy studentejare aangemoedig. Paul het probeer om kontak te hou, maar dis nou ses maande sedert hy laas met hom gesels het. Hy het die dekaan se ondersteuning by Midwest waardeer, veral toe almal se verwagtinge so swaar op hom gedruk het. Omdat hy die seun van ’n bekende leraar is, het sommige mense gemeen dat hy een of ander spesiale gawe geërf het. Almal sou geskok gewees het om te weet dat hy nooit geweet het wat agter die skerms by sy pa se kerk gebeur het nie. Hy het net geweet dat sy pa die leisels vashou. Paul het gehoor en gesien hoeveel ontsag die gemeentelede vir David Hudson het en hoe hulle spring om hom te behaag.

Paul het hard gewerk om in elke klas eerste te staan. Dit was nie maklik nie, maar sy pa het dit van kleins af by hom ingeprent dat net die beste goed genoeg was. Enigiets minder het sy pa se minagting uitgelok. Sy pa het net die beste verwag. “Enigiets minder as jou beste is ’n klap in God se gesig.” Paul het gesukkel om aan sy pa se standaard te voldoen en het sy pa dikwels teleurgestel.

Dekaan Whittier het Paul aanbeveel as hulppastoor by Bergspits, een van die grootste kerke in die land. Soms voel Paul verlore tussen die massas by die kerk, maar sodra hy hom in ’n klaskamer bevind,

En die Ramshoring het Geblaas.indd 22 5/27/04, 2:49:35 PM

Page 14: En die Ramshoring het Geblaas - CUM Uitgewers13 En die ramshoring het geblaas doopgeleentheid hier was nie, maar begrafnisdienste is daar baie. Vir al wat hy weet, het die doopvont

23

En die ramshoring het geblaas

voel hy tuis. Hy is mal daaroor om klas te gee, veral vir kleiner groepe waar mense regtig kan oopmaak en oor hulle lewe gesels en bemoedig kan word.

“Dekaan Whittier se kantoor. Mevrou MacPherson hier. Hoe kan ek u help?”

“Haai, Evelyn. Hoe gaan dit?”“Paul! Hoe gaan dit met jou? En met Eunice?”“Nog net so pragtig soos altyd.” Hy knipoog vir Eunice.“En Timmy?”Hy lag. “Hy het nou net tromme gespeel in die kombuis. Dit lyk

of hy in sy ma se voetspore volg.”Evelyn lag. “Wel, met Eunice as ma is dit glad nie ’n verrassing nie.

Daar is iemand by die dekaan in sy kantoor, maar ek weet hy wil graag met jou praat. Kan jy ’n bietjie aanhou? Ek sal hom gou laat weet.”

“Dankie, Evelyn.” Terwyl hy wag, gaan hy deur die pos. Eunice het alreeds die rekeninge oopgemaak. Eina. Die elektrisiteitsrekening het opgegaan. So ook die telefoon en die water. Hy sit dit eenkant neer en blaai deur die pos van verskeie liefdadigheidsorganisasies wat geld vra.

“Paul,” sê dekaan Whittier, “jammer om jou te laat wag.” Hulle groet en gesels bietjie oor kleinighede. “Ek het anderdag met pastoor Riley gesels. Hy het met groot lof van jou vordering gepraat. Hy sê jou klasse is altyd vol en daar is waglyste.”

Die lof laat Paul ongemaklik voel. “Daar is baie mense wat honger is vir die Woord.”

“En areas wat wegkwyn as gevolg van ’n gebrek aan goeie lering. Dit bring my by die rede vir my oproep. ’n Ouderling van ’n klein kerkie in Centerville, Kalifornië, het my vanoggend geskakel. Hulle leraar is ’n ou vriend van my. Hy het ’n hartaanval gehad en kan nie teruggaan nie. Die ouderling sê die kerk gaan dit nie maak sonder iemand op die kansel nie. Die gemeente bestaan op die oomblik uit vyftig lede waarvan die meeste ouer as vyf-en-sestig is. Hulle het ’n paar bates. Hulle besit ’n honderd jaar oue kerkgebou, ’n kerksaal wat iewers in die sestigs gebou is en ’n klein pastorie waar die leraar verniet kan bly. Die Here het my onmiddellik aan jou laat dink.”

Paul weet nie wat om te sê nie.“Die dorpie lê iewers in Central Valley tussen Sacramento en

Bakersfi eld. Jy sal nader aan jou ouers wees.”Central Valley. Paul ken die omgewing. Hy het in Suid-Kalifornië

grootgeword, en hy en sy ma het elke somer opgery om by sy oom en tante in Modesto te gaan kuier. Sommige van sy wonderlikste

En die Ramshoring het Geblaas.indd 23 5/27/04, 2:49:36 PM

Page 15: En die Ramshoring het Geblaas - CUM Uitgewers13 En die ramshoring het geblaas doopgeleentheid hier was nie, maar begrafnisdienste is daar baie. Vir al wat hy weet, het die doopvont

24

FRANCINE RIVERS

herinneringe uit sy kinderjare kom uit daardie weke saam met sy niggies en nefi es. Sy pa het nooit saamgegaan nie, altyd te besig met werk by die kerk wat sy aandag vereis het. Toe Paul eendag die moed bymekaarskraap om hom te vra hoekom hy sy oom en tante vermy, het sy pa gesê: “Hulle is gawe mense, Paul, as ’n mens net wil speel. Ek het egter nie tyd vir mense wat nie daarin belangstel om die koninkryk uit te bou nie.”

Die volgende somer het Paul se ma alleen by haar familie gaan kuier terwyl Paul ’n Christelike kamp op Catalina-eiland bygewoon het.

Soms wonder Paul oor daardie niggies en nefi es wat almal lankal grootgeword en weggetrek het. Hulle is die enigste familie wat hy aan moederskant het. Sy pa was ’n enigste kind. Ouma Hudson het lank voor Paul se geboorte gesterf en Paul onthou baie min van oupa Ezra wat sy laaste paar jaar in ’n versorgingsoord deurgebring het. Paul was agt toe hy dood is. Paul onthou hoe verlig hy was dat hy nooit weer na daardie plek met die aaklige reuk sou moes teruggaan of sy ma se trane sou moes sien elke keer wanneer hulle die neerdrukkende plek verlaat nie.

Snaaks hoe die verwysing na ’n deel van die land so ’n stortvloed herinneringe binne ’n paar sekondes oor hom kan laat spoel. Hy kan amper die warm sand, wingerde en boorde ruik en sy nefi es se uitgelate stemme hoor terwyl hulle hulle volgende kattekwaad beplan.

“Jy sal die enigste leraar wees,” sê dekaan Whittier. “En jy sal die plek inneem van ’n man wat die afgelope veertig jaar daar leraar was.”

“Veertig jaar is ’n lang tyd.” Paul weet dat so ’n verlies ’n storm in ’n kerk tot gevolg kan hê, een wat die gemeente kan vernietig selfs nog voordat hy daar opdaag. Of hom kan verdelg as hy geroepe voel om te gaan.

“Ek weet, ek weet. Om ’n leraar te verloor wat so lank by ’n kerk was, kan ’n gemeente vinniger doodmaak as enigiets anders. Maar ek dink jy is dalk die man wat die Here soontoe geroep het. Jy het al die kwalifi kasies.”

“Ek sal daaroor moet bid, dekaan Whittier. Dalk soek hulle iemand heelwat ouer en baie meer ervare as ek.”

“Ouderdom het nie ter sprake gekom nie. En dis nie nou tyd om kleinmoedig te wees nie. Die ouderling was nie op soek na enigiets spesifi eks nie. Hy het eintlik meer gebel om raad te vra as enigiets anders. Maar nadat ek so tien minute met die man gesels het, het ek besef dat hy meer wil doen as om net die kerkdeure oop te hou.”

Paul wil sommer dadelik ja sê, maar hou hom in. “U weet dat ek nog altyd daarvan gedroom het om ’n gemeente te lei, dekaan Whittier,

En die Ramshoring het Geblaas.indd 24 5/27/04, 2:49:36 PM

Page 16: En die Ramshoring het Geblaas - CUM Uitgewers13 En die ramshoring het geblaas doopgeleentheid hier was nie, maar begrafnisdienste is daar baie. Vir al wat hy weet, het die doopvont

25

En die ramshoring het geblaas

maar ek sal eers ernstig moet bid daaroor. Ek wil nie sommer iets doen as dit nie is wat die Here wil hê ek moet doen nie.” Hy weet emosies kan misleidend wees.

“Neem gerus jou tyd. Maar laat Samuel Mason weet dat jy dit oorweeg. Hier is sy nommer sodat jy met hom kan gesels daaroor.” Hy rammel die nommer vinnig af, maar Paul is gereed met ’n pen en papier. “Gesels daaroor met pastoor Riley en Eunice en enigiemand anders wat jy vertrou.”

“Ek sal.”“En laat my weet wat gebeur.”“Ek neem u uit vir ete wanneer alles afgehandel is.”“Maak so. God seën jou, Paul. En stuur groete vir daardie mooi

vrou van jou.” Hy lui af.Euny en Timmy verskyn in die kombuisdeur.“Dekaan Whittier stuur groete.”“Jy lyk opgewonde oor iets.”“Jy kan so sê.” Hy neem Timmy en sit hom in sy stoeltjie terwyl

Eunice hul aandete uit die oond haal. “Hy het ’n oproep ontvang van die hoofouderling van ’n klein kerkie in Kalifornië. Hulle soek ’n leraar.”

Sy kom orent, haar oë helder. “En jy word beroep!”“Miskien. Miskien nie. Ons moet op die Here wag, Euny. Ons sal

daaroor moet bid.”“Ons bid elke oggend en aand dat die Here ons moet lei waar Hy

ons wil hê, Paul.”“Ek weet. Ek dink nie dekaan Whittier se oproep is toevallig nie.

Niks gebeur per toeval nie. Ek wens ek kon net oë toeknyp en ja sê, Euny. Jy weet hoe graag ek my eie kerk wil hê. Maar ek is besig om twee kursusse aan te bied. Ek kan nie net bedank nie.”

“As dit die Here se wil is, sal dit baie duidelik wees.”“Dekaan Whittier het my die naam van die ouderling gegee wat

gebel het. Samuel Mason van Centerville Christelike Kerk.”“Miskien moet jy hom bel. Oor minder as ’n maand is die termyn

verby.”“’n Maand kan te lank wees. Hulle leraar het ’n hartaanval gehad.

Hulle soek so gou moontlik iemand in sy plek.”“Het hulle ’n waarnemende leraar?”“Ek weet nie. Hulle leraar het veertig jaar lank in die gemeente

gedien, Euny.” Dit is hoe lank sy eie pa sy Suid-Kaliforniese kerk al lei. “Dit sal moeilik wees om daardie leraar se plek in te neem.”

“Dit sal.”

En die Ramshoring het Geblaas.indd 25 5/27/04, 2:49:36 PM

Page 17: En die Ramshoring het Geblaas - CUM Uitgewers13 En die ramshoring het geblaas doopgeleentheid hier was nie, maar begrafnisdienste is daar baie. Vir al wat hy weet, het die doopvont

26

FRANCINE RIVERS

“Dekaan Whittier stel voor dat ek meneer Mason bel. Dit kan seker nie skade doen nie. Ons kan my agtergrond en ervaring bespreek, en ek sal my verantwoordelikhede hier verduidelik. As meneer Mason sê dat hulle nie kan wag nie, sal dit die Here se antwoord wees. Dan bly ons.”

“Wanneer dink jy gaan jy hom bel?”“Eers oor ’n paar dae. Ek wil eers hieroor vas en bid.”

~Samuel dut ’n bietjie toe die telefoon lui. Abby sit haar blokkiesraaisel neer en gaan antwoord dit. Samuel word nie wakker nie. Sy is al gewoond daaraan dat die televisie se gedreun hom aan die slaap sus. Hy begin na die sportkanaal kyk, raak aan die slaap, en word dan voor ’n klassieke fl iek wakker, die afstandbeheer veilig in Abby se besit.

“Net ’n oomblik, asseblief. Samuel. Psst. Samuel!”Samuel lig sy kop op.“Paul Hudson wil met jou praat,” sê Abby.“Wie’s Paul Hudson?”“’n Leraar van Bergspits in Illinois. Hy bel in verband met jou

gesprek met dekaan Whittier.”Nou is Samuel wawyd wakker. “Ek sal dit in die kombuis neem.”

Hy stel sy gemakstoel regop en kom orent terwyl hy vlugtig na die televisie loer. Hy frons vir haar. “Jy laat al weer nie op jou wag nie, nè? Aangesien die wedstryd in elk geval nou al verby sal wees, kan jy The Sound of Music maar in vrede klaar kyk.”

Sy trek speels vir hom gesig toe sy die gehoorstuk na haar oor lig. “Hou net ’n oomblik aan, pastoor Hudson.”

Samuel tel die telefoon in die kombuis op. “Dankie, Abigail.” Sy vrou sit neer. “Dis Samuel Mason wat praat.”

“My naam is Paul Hudson, meneer Mason. Dekaan Whittier het my verlede week geskakel en gesê dat u op soek is na ’n leraar. Hy het gedink dit sal goed wees as ek u bel.”

Samuel vryf oor sy ken. Hoe hanteer ’n mens so iets? “Wat dink jy moet ons van jou af weet?”

“Waarna is julle op soek?”“Iemand soos Jesus.”“Wel … ek kan u sommer dadelik sê dat ek nog ver van daar af is,

Meneer.”Paul Hudson klink jonk. Samuel trek ’n pen en papier nader.

“Kom ons begin by jou kwalifi kasies.”

En die Ramshoring het Geblaas.indd 26 5/27/04, 2:49:37 PM

Page 18: En die Ramshoring het Geblaas - CUM Uitgewers13 En die ramshoring het geblaas doopgeleentheid hier was nie, maar begrafnisdienste is daar baie. Vir al wat hy weet, het die doopvont

27

En die ramshoring het geblaas

“Ek het aan Midwest studeer.” Hy aarsel. “Miskien sal dit goed wees as u met dekaan Whittier oor my werk daar gesels. Sedert ek gegradueer het, is ek deel van die personeel by Bergspits.”

“Jeugwerk?”“Nuwe Christene. Van alle ouderdomme.”Klink goed. “Hoe lank is jy al daar?”“Vyf jaar. Ek het sopas my meestersgraad in gesinsberading vol -

tooi.”Geweldige kennis. “Is jy getroud?”“Ja, Meneer.” Samuel hoor die glimlag in Hudson se stem. “My

vrou se naam is Eunice. Ek het haar op kollege ontmoet en ons is twee weke na my gradeplegtigheid getroud. Sy het musiek geswot. Sy speel klavier en sing. Dis nie dat ek wil spog nie, maar Eunice is baie begaafd.”

Twee leraars vir die prys van een. “Enige kinders?”“Ja, Meneer. Ons het ’n baie aktiewe driejarige seuntjie, Timothy.”“Kinders is ’n geskenk van die Here.” Samuel is op die punt om

van sy seun en dogter te begin vertel, maar keer homself toe die pyn van Donny se dood opnuut deur hom skroei. Hy maak keel skoon. “Vertel my van jou verhouding met die Here.”

Hy leun terug teen die kombuistoonbank terwyl Paul sy persoonlike getuienis met entoesiasme deel. Hy is in ’n Christelike huis gebore. Sy pa is ’n leraar van ’n kerk in Suid-Kalifornië. Hudson? Die naam lui iewers ’n klokkie, maar Samuel is nie seker of dit ’n brandalarm of kerkklokke is nie.

Paul gesels verder. Hy was tien toe hy Jesus aangeneem het, ’n berader by kerkkampe en betrokke by jeugaksies. Op kollege het hy as vrywilliger by ’n sentrum vir senior burgers naby die kollege gewerk. Hy het ook met minderbevoorregte jongmense gewerk en leesklasse by ’n hoërskool in die stad aangebied.

Paul Hudson klink soos ’n geskenk uit die hemel.Daar is ’n lang stilte.“Meneer Mason?”“Ek is nog hier.” Net omgeboul deur soveel jeugdige energie.“Moet ek my CV vir julle e-pos?” Paul klink verleë.Samuel voel aangetrokke tot sy jeugdige vuur. “Ons het nie ’n re -

ke naar nie.”“Faksmasjien?”“Ook nie.” Samuel vryf weer oor sy ken. “Sê jou wat. Stuur jou CV

met FedEx.” Aangesien daar nie enige personeel by die kerk is nie, gee Samuel sy huisadres vir Paul. “Hoe lyk jou sake? Ek neem aan jy

En die Ramshoring het Geblaas.indd 27 5/27/04, 2:49:37 PM

Page 19: En die Ramshoring het Geblaas - CUM Uitgewers13 En die ramshoring het geblaas doopgeleentheid hier was nie, maar begrafnisdienste is daar baie. Vir al wat hy weet, het die doopvont

28

FRANCINE RIVERS

het verantwoordelikhede by Bergspits?”“Ek het ’n hele klompie verantwoordelikhede hier, maar my

primêre verantwoordelikheid op die oomblik is die aanbieding van twee klasse.”

“Hoe lank is die kursus?”“Albei klasse sal oor drie weke klaarmaak. Die week daarna het ons

’n seremonie vir diegene wat besluit het om Christus aan te neem.”“Jy sal dus eers oor so vier, vyf weke beskikbaar wees.”“Dis reg, Meneer. En as ek beroep word, sal ek tyd nodig hê om te

pak en te trek en daar te vestig.”“Dit sal nie ’n probleem wees nie. Maar ons wil nie oorhaastig

wees nie. Ek sal met die ander ouderlinge hieroor praat. Ons sal almal hieroor moet bid. Met al jou kwalifi kasies is ek nie seker of dit die beste plek vir jou is nie. Ons is ’n klein kerkie. Hier is nie eens sestig lidmate nie.”

“Die gemeente kan groei.”Hulle sal moet groei as hulle ’n nuwe leraar wil bekostig. “Stuur

jou CV. Ek sal met dekaan Whittier gesels.” Samuel wil seker maak of Paul Hudson die jong man is waarvan die dekaan gepraat het. “Ek sal oor ’n week of wat na jou toe terugkom. Hoe klink dit?”

“Wys, Meneer.”“Ek sou jou sommer nou aanstel, Paul, maar ek dink ons moet eers

stadig oor die klippe en kyk of dit is waar die Here jou wil hê.”“Ek hoop nie ek het oorentoesiasties geklink nie, meneer Mason.

Ek bid al lank dat die Here my sal roep om ’n kerk te lei.”Samuel hou van die jong man se stem. “Niks wat jy gesê het, sal

teen jou tel nie.”Hulle gesels nog ’n rukkie en dan lui Samuel af. Hy gaan terug na

die woonkamer toe. “Doe, a deer, ’n female deer,” sing Julie Andrews op die skerm.

“Jy ken hierdie fl iek omtrent al uit jou kop uit, Abby,” sê Samuel. “Hoeveel keer het jy dit al gekyk?”

“Omtrent net soveel keer soos wat jy voor ’n voetbalwedstryd aan die slaap geraak het.” Sy tel die afstandbeheer op om die klank sagter te stel en sit dit op die tafeltjie langs haar neer.

Hy gaan sit in sy leunstoel, kantel dit terug en wag. Hy weet dit gaan nie lank wees nie.

“En … ?”“Gee die afstandbeheer vir my, dan vertel ek jou.”“Jy weet ek sal dit in elk geval net terugvat wanneer jy aan die

slaap raak,” sê sy en gee dit vir hom.

En die Ramshoring het Geblaas.indd 28 5/27/04, 2:49:38 PM

Page 20: En die Ramshoring het Geblaas - CUM Uitgewers13 En die ramshoring het geblaas doopgeleentheid hier was nie, maar begrafnisdienste is daar baie. Vir al wat hy weet, het die doopvont

29

En die ramshoring het geblaas

“Hy’s agt-en-twintig, gelukkig getroud en het ’n driejarige seun -tjie.”

“Is dat al wat jy in dertig minute oor hom kon uitvind?”“Hy het ’n meestersgraad en hy is vol geesdrif.”“Dis wonderlik.” Sy wag terwyl hy ’n oomblik nadink. “Of wat?”“Dit hang af.” Vuur uit die hemel kan ’n kerk uit die as laat opstaan.

Misplaaste ywer kan dit afbrand.“Jy kan vir hom ’n mentor wees.”Hy kyk oor sy brilraam na haar.“Wel, wie anders sal jy aanbeveel? Otis? Hollis?”Samuel leun verder terug in sy stoel. “Ons kan altyd kyk of ons

iemand kan kry wat ouer en meer ervare is.”“Jy is nie so fl ouhartig nie, Samuel.”“Ek is ook nie meer die jong man wat dinge kon laat gebeur nie,

my skat.”“Jy weet wat hulle sê: ‘Jeug en kundigheid kom nie naby ouderdom

en ondervinding nie.’”“’n Skeppie roomys sal nou vorentoe smaak.”Sy sug en staan op. Samuel gryp haar hand toe sy verby hom wil

loop. “Gee my ’n soen, ou vrou.”“Jy verdien nie ’n soen nie.”Hy glimlag op na haar. “Maar jy gaan in elk geval vir my een

gee.”Sy leun oor en plant ’n soen op sy mond. “Jy’s ’n regte ou knoeier.”

Haar oë glinster.“Jy kan die afstandbeheer kry as jy terugkom.”Toe Abby kombuis toe gaan, begin hy dadelik oor Paul Hudson bid.

Hy bid terwyl hy die roomys eet. Hy bid terwyl sy vrou The Sound of Music kyk. Toe hulle bed toe gaan, bid hy saam met haar, en lank nadat sy aan die slaap geraak het, lê hy steeds en bid. Hy bid die volgende dag terwyl hy gras sny en die motorhuisdeure olie. En hy bid terwyl hy sy kar se olie nagaan, ’n paar goggas in die motor se rooster afvee en uitgaan om die heining te snoei.

Abby kom met ’n FedEx-koevert uit na die motorhuis toe. Paul Hudson se CV. Die man laat nie op hom wag nie. Samuel maak die koevert oop, lees dit, neem dit binnetoe en sit dit op die tafel neer. “Kyk wat jy dink.” Hy mik na die deur.

“Wat van middagete?”Hy neem ’n piesang uit die bak op die hoektafel en gaan weer

buitentoe om verder met die Here te praat. Hy kom eers weer in toe sy hom later vir aandete roep. Die CV lê op die tafel. “Wel?”

En die Ramshoring het Geblaas.indd 29 5/27/04, 2:49:38 PM

Page 21: En die Ramshoring het Geblaas - CUM Uitgewers13 En die ramshoring het geblaas doopgeleentheid hier was nie, maar begrafnisdienste is daar baie. Vir al wat hy weet, het die doopvont

30

FRANCINE RIVERS

Abby fl uit saggies.“Presies.”Later die aand bel hy dekaan Whittier. “Hy moes hard werk om

homself te bewys toe hy hiernatoe gekom het.”Samuel frons. “Hoekom was dit nodig?”“Sy pa is David Hudson. Dit sou vir enigiemand moeilik wees om

in daardie soort voetspore te volg.”Voordat Samuel hom kan vra wie David Hudson is, stuur Whittier

die gesprek na die verskeie projekte wat Paul begin en voltooi het toe hy op kollege was. Die dekaan se sekretaresse praat in die agtergrond. “Ek’s jammer, Samuel, maar ek het ’n ander oproep. Laat ek jou net dit sê: Paul Hudson het die potensiaal om ’n gróót leraar te word, miskien selfs groter as sy pa. Moet hom nie deur julle vingers laat glip nie.”

Samuel gaan soek na sy vrou. “Het jy al ooit van David Hudson gehoor?”

“Hy’s leraar by een van daardie makrokerke onder in die Suide. Sy dienste word oor die televisie uitgesaai. Pat Sawyer is mal oor hom.” Haar oë rek. “O my hene! Wil jy vir my sê Paul Hudson is familie van hom?”

“’n Mens kan so sê. Hy is David Hudson se seun.”“O, dis meer as waarvoor ons ooit gedroom het … ”“Moenie nou al te opgewonde raak nie, Abby.” Hy mik na die

deur.“Waarheen gaan jy nou, Samuel?”“’n Entjie stap.” Hy het tyd alleen nodig om te bid en te dink voor-

dat hy die ander twee ouderlinge bel.

En die Ramshoring het Geblaas.indd 30 5/27/04, 2:49:38 PM